top of page

Waar kry skrywers ’n storie-idee?

Die een vraag waarop jy kan reken in enige onderhoud of boekpraatjie met ’n skrywer is: Waar het jy die idee vir jou storie gekry. Ek lees nou die dag Neil Gaiman se wonderlike blog oor idees waarin hy wil weet: Hoe vat mens vas presies waar ’n storie begin? En is die skryfproses nie belangriker as die idee nie? Nietemin, ons is nuuskierig. Waar kry skrywers ’n storie-idee? Gaiman antwoord deesdae bloot: “I make them up. Out of my head. Ek het by ’n paar skrywers gaan aanklop om te hoor waar hulle storie-idees kry.



Werklike gebeure


Karakters en gebeure in ’n storie het dikwels hulle begin in die werklikheid, by regte mense en werklike gebeure. Vir Martelize Faber was ’n doktersbesoek die vonk vir een van haar kinderboeke: “Ek het siek geword en toe ons by die dokter is, het hy gesê ek sal hospitaal toe moet gaan vir ’n week. My kinders was nog baie klein en ek het geweet hulle sou dit dalk nie goed kan hanteer, omdat hulle nog nooit so lank sonder my was nie. Ons het Mr Price Home toe gegaan en daar het ek die mooiste, sagte eenhoring speelding gesien. Ons het dit gekoop en op pad terug huis toe het ek die idee gekry om vir hulle ’n troosstorie te skryf om hulle te belowe ek kom terug na die week. Die aand voor ek moes hospitaal toe gaan, het ek vir hulle die eerste weergawe van Daar’s 'n Towerponie in my bed gelees en toe ’n geskenksakkie met die eenhoring en die ander items wat ook in die boek genoem word gegee.”

 

Alledaagse gebeure sorg dikwels vir die begin van ’n storie. Maar skrywers is bewus daarvan dat dit ook kan voel asof stories op ’n magiese manier die werklikheid tot stand bring. Christelle van Rooyen-Wessels het een karakter in haar nuwe roman, Wegkruiper, wat Julie verskyn, om ’n jarelange vuurvreter vriendin gebou: “In die storie word haar hond gif ingegee, maar oorleef. Ek het haar nie van die storielyn vertel nie. 'n Paar weke later bel sy my, in trane: Iemand wat by haar huis probeer inbreek het, het haar hond gif gegee. Die regte hond het gelukkig ook vinnig genoeg hulp gekry.” Daar is ’n betowerende wisselwerking, ’n sinkronisme tussen verdigsel en die werklikheid. Met die skryf van Salemstraat het Erla-Mari Diedericks uit die bloute kraaie by haar huis gehad. En eers nadat sy ’n nagklub moes optower vir Die bewonderaar het sy foto’s van ’n werklike Ophelia klub ontdek – kompleet met meisies wat op rakke uitgestal word.

 

Nuuskierigheid: Hoekom, wat sou gebeur indien...


Vir Analize Viljoen lei werklike gebeure of ’n storie wat iemand haar oorvertel dikwels tot die vraag: wat as? “Dis gewoonlik die ‘what if's’ wat in die verhaal opeindig. Soms besluit ek doelbewus om ’n jakkals in die hoenderhok te gooi, om dinge bietjie om te krap. Sparks, in Oor en weer was só ’n karakter. Wat toe ’n naam moet kry.

Ek ry verby ’n ouetehuis hier in Somerset Wes met die naam Huis Vonke en ek dink: Sparks! Ag nee man, Sparks is nie ’n naam nie. Maar so is dit in die boek in.

Sparks stel homself aan Billie voor en sy sê vir hom: ‘Stront man, Sparks is nie ’n naam nie.’”

 

Hoe? Hoekom? Wat sou gebeur indien...? Vrae soos hierdie is die draers van idees, die vonk wat ’n storievuur kan aanblaas. Dit was met die opspit van haar agterplaas in die toe-nog Triomf, (nou Sophiatown — ’n voorstad in Johannesburg) dat die storie van Treppie en Kie vir Malene van Niekerk gebore is. “Triomf het hom aangemeld via die pitgraaf waarmee ek gespit het in die groentetuintjie wat ek aangelê het. Al die rubble en albasters, porselein, geroeste rioolpype wat daaruit gekom het, het my gedwing om daarby te gaan sit. Dit was ’n stoflike en fisiese konfrontasie met die geskiedenis wat daar afgespeel het. Ek het gewonder hoe het die mense van Triomf so gekom. Watter effekte het sosiologies ingespeel? Hoe meer ek geskryf het, hoe meer het ek gevra: Hoe het dit gekom soos dit gekom het? Hoe het ander tye gekom soos dit gekom het? En daarna: Hoe het ek gekom soos ek is? En die groot vraag: Hoeveel van wat ons is, is deur ons eie keuse bepaal en hoeveel is deur omstandighede ingegee?”

 

Plekke, ruimte en landskappe


“Plekke of foto's van plekke inspireer my en 'n storie idee of die karakters kom klop dan asof vanself aan,” vertel Ciska Olivier. Vir Helena Gunter is dit ook so; die meeste van haar kortverhale speel af in die Overberg, die ruimte van haar kinderjare. “Die omgewing inspireer my. Vandat ek kan onthou was dit so – die begeerte om myself op ’n afstand te plaas en gebeure dan kommentariërend te rapporteer, nie veel anders as wat ’n eiewys skinderbek maak nie.”

 

Die joernalistiek


Om te rapporteer of verslag te gee, het sy voordeel, want oud-joernaliste het klaarblyklik geen tekort aan interessante storiemateriaal nie. Christelle van Rooyen-Wessels se drie krimi’s het almal hul oorsprong in berigte wat sy as misdaadjoernalis gedoen het: “My nuwe een, Wegkruiper, wat Julie verskyn, is ook op ware misdaad gegrond. Van die karakters is gevorm rondom die wrede Koos Strydom-bende wat ’n hele paar mense – meestal vroue – in die Rustenburg- en Britsomgewing vermoor het. Strydom het gemoor vir wins; as hy ’n stuk grond wou hê, en die eienaars wou nie verkoop nie, het hy en sy handlangers – wat sy vrou ingesluit het – hul genadeloos doodgemartel.”

 

Elize Parker was vir sewe jaar Huisgenoot se troostante met haar Liewe Elize-kolom. Vir jare het “die vervreemding in gesinne en die trauma daarvan” haar in briewe opgeval. Dit het gelei tot Stil vloei die Komati, die eerste boek in haar Laeveldtrilogie. “Die tema van selfverwyt en selfblaam, en hoe om daarvan weg te kom, dryf die storielyn en karakters. Die storie se ontknopingspunt, ’n dwaalkoeël, het hom weer tydens my verslaggewing oor wildmisdaad aangemeld.

“Sonder my loopbaan as joernalis sou ek bes moontlik ’n heel vervelige skrywer en mens gewees het.”

 

Ander boeke en stories


Jy hoef nie self verslaggewer of joernalis te wees nie. Elsa Winckler vind dikwels inspirasie in ander se artikels en niefiksie boeke, soos die geval met die ultramarathonatleet, Ryan Sandes (Trail Blazer) waarop haar held in Bewustelik joune geskoei is. “Vir een wat nooit sportief was nie, vind ek mense wat so iets doen fassinerend. Dis uiteindelik ’n kop-ding – eindeloos fassinerend vir my.”

 

Sosiale media en TV


Khaled Hosseini het blykbaar The Kite Runner geskryf nadat hy ’n dokumentêr gesien het oor die Taliban wat die vlieg van vlieërs verban het. Op dieselfde manier het ’n video op YouTube gelei tot Marion Erskine se boek oor kuberboelies, Vlerke vir almal. “Dit was asof Amanda Todd ná ek die video gesien het, by my gespook het om iets te doen oor kuberboelies en tienerselfdood,” vertel Marion.

“Sy was die eerste tiener in YouTube se geskiedenis wat haar eie selfdoodbrief met flitskaarte vertel het. Hoe alleen sy was en hoe gemeen die internet is. Sy het die video opgelaai en toe haar lewe geneem.”

Vlerke vir almal word steeds in skole voorgeskryf en Marion ontvang gereeld dankie sê-briefies van onderwysers en kinders.

 

Drome


Werklike gebeure, artikels en berigte, dokumentêre films, video’s en boeke – alles wonderlike plekke vir idees. Maar idees meld hulle net so sterk aan in die wasigheid van ons droomwêreld. Ek het een nag gedroom ’n vrou staan voor my en sê: “Ek het ’n geheim. Ek is ’n nar.” Haar storie het ek in die kortverhaal, “Die geheim”, vertel. Ilze Beukes sê haar karakters “daag ook net op, meestal in my slaap. Dan is ek wakker en tik vir myself Whatsapp boodskappe.” Ciska Olivier sê karakters kom klop gereeld in drome of in die nagtelike ure by haar aan. “Met tye droom ek baie vreemde drome, maar ek onthou dit vir ingeval. My man sê al hy is bang om langs my te slaap wanneer ek hom van my ‘far out’ drome vertel.” Hendie Grobbelaar se geliefde slaap waarskynlik ook lig: “My laaste radiodrama was net ’n stem in my droom wat vir my ‘Nols D'Amus’ gesê het. Toe maak ek opsluit die bedmaat wakker en sê hy moet dié naam onthou. Geen konteks nie. Ek het maar met die naam gewerk en toe het Nostradamus by die agterdeur ingeglip (en Louis Liebenberg se manewales was ook ’n invalshoek).”

 

Bloedsomer, Sidney Gilroy se nuutste roman, is in sy totaliteit in ’n droom aan hom gegee.

“Ek vermoed al lank dat alle skrywers maar ietwat mal in die kop is. Hoe anders ‘leef’ ons sulke baie lewens?”

Skrywers is oop vir insprake van alle kante. “Van kleins af ‘sien’ ek mense wat nie daar is vir ander om raak te sien nie,” vertel Sidney. “My karakters meld hulself dus aan. En dan luister ek na die stories wat hulle te vertel het. Baie keer is dit net ek en die kat wat hierdie mense kan sien.”

 

Stemme en opdragte


Karakters praat soms hard en duidelik. “Ek was een oggend besig om wasgoed op te hang,” vertel Christelle van Rooyen-Wessels. “Meteens praat ’n karakter uit my eerste boek hier langs my, kla oor hoe mens sukkel om fitted sheets op te hang. En net daar los ek alles en gaan skryf daai dialoog – wat ’n nuwe manuskrip geword het.” Elsa Winckler beaam dit: “Ek hoor al van kleins af stemme in my kop wat lang gesprekke met mekaar voer. Ek het gedink almal hoor dit tot ek besef het dis nie iets wat jy oorvertel nie – mense kyk jou vreemd aan.” Erla-Mari Diedericks vertel haar nuutste roman het ook begin as gevolg van ’n stem.

“Ek het heeltyd iemand hoor sê: Spring, jy weet jy wil. “En toe begin ek die storie met daardie reël.”

Vir Trisa Hugo kom stories ook as ’n stem wat opdrag gee. “Ek het jare gelede so ’n opdrag gekry terwyl ek staan en stryk,” vertel sy. “‘Jy moet verhale bymekaarsit vir liefdadigheid.’ O ja? ‘Ja! En die titel moet wees My kort vir jou sop. En jy moet dit self doen.’ Ek het dit gedoen, eers net 200 eksemplare laat druk, en toe weer en weer. Ons het ons vrek gewerk aan verpakking en versending, maar die kortverhaalbundel het baie blootstelling gekry op radio en in koerante. Ek kon baie, baie mense kosgee daarmee. Die e-boek verkoop steeds op Amazon en ek kan steeds nou en dan iets oorbetaal aan die projek wat vir minder gegoede mense maaltye kook.”

 

’n Kaleidoskoop van interessanthede


Margarethie Bredenkamp som dit soos volg op: “Om te skryf is vir my baie soos mosaïek maak. Oor tyd hoor en lees mens verskillende stukkies wat jy iewers aanteken of onthou. Al die stukkies saam vorm dan uiteindelik ’n storie.” Stukkies van mense, gesprekke, drome, stemme – die idee vir ’n verhaal kan op ’n magdom maniere na die skrywer toe kom. Dit help om al hierdie interessanthede neer te skryf; sommige idees neem jare om uit te broei. Roald Dahl het eers in sy sestiger jare storie gemaak van ’n idee wat hy as kind neergeskryf het: Die GSR (groot, sagmoedige reus).

 

Genereer aanlyn idees


Deesdae kan jy aanlyn ook idees vir stories genereer. Reedsy spog met ’n miljoen plot kombinasies om jou te inspireer. Op Squibler kan jy ’n idee genereer en vir jou ’n stophorlosie stel. Kies jy hulle moeiliker opsie, verdwyn jou woorde soos jy tik. Jy skryf sonder om te redigeer – en skryf in die proses hopelik jou storie los.

 

Storiekaarte en ander hulpmiddels


In die Ink in my pen-klub skryf ons elke twee weke ’n vinnige, twintig minute storie en gebruik verskillende hulpmiddels om idees te genereer: ’n sin in jou gunsteling tydskrif waarmee jy ’n storie begin, musiek, ’n gedig of gesegde. Natalie Goldberg se Writing Down the Bones Deck het interessante opdragte wat idees laat vonk. Onlangs het ons in die klub storiekaarte of myrioramas gebruik. Dié kaarte kan op verskeie maniere geskommel word om ’n storie te vertel. Elkeen se storie, al is dit deur ’n enkele kaart geïnspireer, is natuurlik uitlopend; lees gerus klublede se verskillende verhale hier.



 

Uiteindelik is dit die skryfproses, die storie maak, wat belangriker is as die idee self. “Elke mens het ’n storie om te vertel,” sê Sidney Gilroy. “Of dit nou een van skok, walging of trauma is – agter dit alles skuil die basiese menslike behoefte van aanvaarding, veiligheid, emosionele verbintenis en herberg. Jy moet egter kan onderskeid tref: Nie almal se verhaal is ’n roman of selfs ’n kortverhaal werd nie. Die karakter en die storie moet iewers heen gaan. Anders skryf ek net nog ’n koerantberig.”


Daarin lê die betowering: Skrywers raap ’n idee op en maak daarvan méér, ’n storie. ’n Storie, woorde op papier, wat vir die tyd wat ons dit lees, meer eg as die werklikheid self voel.

bottom of page