top of page

10 kenmerke van ’n blitsblaaier, met Sidney Gilroy se Bloedsomer as voorbeeld

Wil jy jou leser op die punt van sy stoel hou, ongeag van die genre waarin jy skryf? Ek bespreek tien aspekte van die blitsblaaier met Sidney Gilroy se Bloedsomer as voorbeeld.

“Die lewe gaan aan, Petunia,” sê sy vir haarself in Sesotho. Maar dis iets wat sy nie heeltemal glo nie. Veral nie noudat sy weer aan die dossier begin dink nie. Iets omtrent die jong weerlose vrou op die plato spook by haar. Wat is dit tog? Sy het al hoeveel lyke, hoeveel dossiere, hoeveel moordsake gehanteer.

Sy is besig om na die spieëlkas te slof toe haar selfoon begin lui.

“Is jy wakker, konstabel?”

“Hoe laat is dit, JP?”

“Dis kort na agtuur.”

“En my skof begin eers eenuur,” sê sy kwaai.

“Is jy wakker, vra ek?”

“Jy praat dan met my. Natuurlik is ek wakker, sersant!”

“Thank God for small miracles.”

“Wat soek jy, JP?” gaap sy.

“Trek aan. Ek is oor tien minute daar.”

“Wag! Waarheen gaan ons? My uniform is in die was.”

“Stasie toe. Trek sommer jou civvies aan, konstabel. Ek het slegte nuus. Daar is nog een gevind.”

Skielik is sy wawyd wakker. “Nog een wat?”

“Nog ʼn slagoffer is vanoggend gevind. Dit lyk na dieselfde modus operandi. Die slagoffer se binnegoed val uit. Hierdie keer in ʼn stegie in die onderdorp. Die moordenaar het haar agter ʼn klomp vullisdromme gelos.”

“Wie het haar gevind?”

“Moenie vra wie nie, vra eerder hoe…”

Sy is byna te bang om die vraag te stel, maar moet. “Hoe, JP? Hoe het ons van haar bewus geword?”

“Iemand het ʼn foto op Facebook geplaas. […]”

 

 

Daar is min dinge so lekker soos om met daardie angstige gejaagdheid te lees waarvoor blitsblaaiers so bekend is. As jy jou leser wil intrek by die verhaal en dwing om aan te hou lees, gee aandag aan die volgende aspekte van jou storie:


1.  ’n Ongelyke magspel met jou hoofkarakter as buiteperd

Sidney Gilroy kuier onlangs by die Ink in my pen-klub en vertel dat karakters gewoonlik vóór ’n storie by hom aanmeld. ’n Onvergeetlike karakter is die wegspringplek. Sodra sy karakter mooi uit die verf kom, gaan soek hy die storie wat by dié karakter pas.

Min dinge dryf ’n karakter na die voorgrond soos konflik as gevolg van ’n ongelyke magspel. Wanneer jou karakter op die agtervoet is, sien ons haar ware kleure. En lesers identifiseer makliker met die buiteperd as die ou wat altyd alles regkry en geen voet verkeerd sit nie. Ons maak immers self foute, is meestal onseker oor ons besluite en optrede. Ons vóél dus vir iemand soos Petunia Moraleng. Eens was sy stasiebestuurder op Parys, kaptein Moraleng. Nou is sy doodgewoon weer konstabel Moraleng wat in die koshuis loseer omdat sy nie ’n meenthuis op Mooibaai kan bekostig nie. Sy is ontnugter deur die lewe, verneder, skaam en op die agtervoet. Het ons almal nie al só gevoel nie?

 

2.  Die geheimsinnige insident in jou hoofkarakter se verlede

Wat het in die Vrystaat gebeur dat Petunia amper met ’n kriminele rekord opgeëindig het? “Sý was die een wat hoed in die hand by majoor Modise gaan smeek het vir ’n oorplasing en degradering in plaas van ’n permanente afdanking vir haar aandeel in die Parys-polisiestasie se Covid-19-PPE-skandaal.” Dit is net genoeg inligting om ons behoorlik nuuskierig te maak. Wat ook al gebeur het, was duidelik ’n groot storie. Iets wat Petunia steeds nagmerries gee, haar laat twyfel aan haar eie waarde. Was sy skuldig? Onskuldig? Met die eerste toneel waarin sy haar aanmeld, die meenthuis soektog, prikkel Petunia reeds my nuuskierigheid. Ek voel nogal vir haar. Gooi nou ’n geheimsinnige insident uit haar verlede in die pot en jy vang my in ’n wip. Hoe kan ek nie aanhou lees nie? Ek wag vir die oomblik wat ek ingelaat word op die geheim.

 

3.  Moenie dat agtergrondinligting jou storie terughou nie

’n Geheimsinnige verlede skep spanning en afwagting, ja, maar dit kan ook maklik die storie só swaar maak dat dit sleepvoet vorentoe sukkel. Petunia is nie die enigste karakter met geraamtes in die kas nie. Die skrywer kan egter nie toelaat dat agtergrondinligting belangriker raak as die gebeure wat in die hede afspeel nie. In Bloedsomer word die Heemstra-gesin se verlede op die plaas Moordenaarskuil as ’n alternatiewe verhaallyn aangebied. Dit kan nie anders nie; indien die inligting in terugflitse aangebied is, sou dit die spanning verbreek en die verhaal swaar en lomp maak. Deur dit as alternatiewe verhaallyn te gebruik, word dit as ‘t ware in die hede ingetrek. En wat Petunia betref: Ons lees net genoeg van Parys om ons nuuskierigheid te bevredig. Meer sou die storie versmoor.

 

4. Onderskat nie die krag van ’n naelbytereinde nie

Ons sien Petunia vir die eerste keer wanneer sy na ’n meenthuis kyk, die sewende eiendom wat meer negatiewe- as positiewe punte het. Daar is sprake van ’n skandelike insident in haar verlede, sy is gedegradeer en oorgeplaas na Mooibaai, en haar bevelvoerder is nie juis gelukkig oor die nuwe aanstelling nie. Die toneel handel ooglopend oor Petunia se soektog na blyplek, maar skep reeds vrae by die leser. Maar dit is nie genoeg nie. Die spanning word verder verhoog deur die hoofstuk se naelbytereinde:

“Sersant Hendriks?” groet sy vir JP, haar direkte bevelvoerder. “Ek het dan gevra of ek vanoggend na blyplekke kan gaan kyk.”

“Ja, net as daar niks dringends voorval nie, het ek gesê.” Speursersant JP Hendriks kug in haar oor. “Daar het. Kom asseblief dadelik stasie toe. Ek wag vir jou. Daar is ’n misdaadtoneel by die strand.”

Die Engelse praat van ’n cliffhanger, daardie spanningsvolle einde van ’n hoofstuk wat jou dwing om om te blaai. Naelbyters los die leser met ’n onbeantwoorde vraag; dit laat ons smag na meer.

 

5.  Die onbeantwoorde vrae hoop op

Dit is nie net naelbytereindes wat die leser los met onbeantwoorde vrae nie. O nee. Dit begin al op Bloedsomer se agterplatteks: Wat het Die Clowns, ’n Russiese skeepskaptein en die matriarg van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament gemeen? En waar kom die albaster in die eerste slagoffer se hand vandaan? Begin jy nou die boek lees, skep byna elke hoofstuk nóg ’n onbeantwoorde vraag of twee. Soms is dit so eenvoudig soos: Gaan arme Petunia darem ’n huis kry? Meestal is dit meer dringend: Wie het die tweede slagoffer se foto op Facebook geplaas? Is daar meer slagoffers waarvan ons nie weet nie? Hoe wyd kring hierdie ding uit? Vrae laat jou leser omblaai; ons is van nature nuuskierige agies.

  

6.  Die tyd is min en die druk is groot

Onthou jy die TV-reeks 24 wat jare gelede so gewild was? Elke episode het geopen met ’n horlosie wat die tyd aftik. Jy kon nie anders as om asem op te hou nie. Elke keer wat die horlosie tik, is jy bewus van hoe min tyd daar eintlik is. In Bloedsomer jaag Petunia en JP ook teen tyd. Hoe langer hulle draai, hoe meer lyke is daar dalk. Geleidelik kom hulle – en die leser – egter agter presies wat die dringendheid van die saak is, hoe min tyd daar is. As daar geen rede vir jou karakters is om dringend op te tree nie, is daar gewoonlik ook nie veel rede vir jou leser om vinnig om te blaai nie.

 

7.  Die leser weet iets wat die hoofkarakter nie weet nie

Petunia en JP ervaar druk van bo om die misdaad op te los. Die saak is ernstig en dringend. Die leser sien egter wat agter die skerms aangaan. Ek wéét wat dat hier bose planne gesmee word – en dat daar werklik ’n horlosie is wat die tyd aftik. Man, ek is so bewus van die dringendheid van die situasie dat ek kort-kort wil vuurmaak onder Petunia se alie. Want as Petunia en JP nie vinnig genoeg die saak oplos nie, is dit klaarpraat met ’n klomp mense. In blitsblaaiers soos Bloedsomer is die ondersoekbeamptes altyd ’n stappie agter die leser; ons weet meer as wat Petunia vermoed.

 

8.  Jou hoofkarakter kry die (storm)wind van voor

Die saak is ingewikkeld. Daar is verskeie rolspelers. En Petunia het dit waaragtig nie maklik nie: “Sy onthou nog die bitterheid van haar en JP Hendriks se eerste ontmoeting. ‘Ek het vir ’n assistent gevra,’ het hy gesê. ‘Iemand met ’n agtergrond in forensiese dienste en die bestuur van misdaadtonele. Nie ’n quitter van Parys in die Vrystaat nie.’” Arme Petunia. Sy is bloot konstabel; sy het geen bedingingsmag nie. Voetwerk, dis waartoe sy haar moet wend – met ’n knie haar opkeil. Soos die verhaal na sy einde spoed, neem haar teëspoed net toe. Petunia kom te staan voor groot uitdagings. Juis daarom staan ek bankvas agter haar; ek por haar aan met elke bladsy wat ek kafdraf.

 

9.  Die hoofkarakter verloor baie, maar wen ook

Petunia mag dalk die wind van voor kry, maar soms wen sy groot. Sy ontdek nuwe leidrade, sy vat die spoor. Sy gee nie op nie. Elke wen spoor haar aan om harder te soek. Dit is wat die verhaal vorentoe dryf. Die protagonis van jou verhaal moet swaarkry om in haar doelwit te slaag, maar sy moet ook oorwinnings hê wat haar – en jou leser – laat moedhou en aanhou.

 

10.  Die risiko’s is uiteindelik die moeite werd

Aanvanklik, wanneer die eerste misdaadtoneel aangemeld word, is dit bloot nog een van vele wat ondersoek moet word. Met die tweede slagoffer word die wêreld bietjie warmer om Petunia. Die foto van die slagoffer is op sosiale media. Soos Petunia se ondersoek vorder en sy nuwe inligting bekom, besef sy hoe groot hierdie ding eintlik is. Sy besef wat op die spel is. Wat sy kan verloor as sy nié die skuldiges vastrek nie. Sy neem juis groot risiko’s – en haar optrede is geloofwaardig, al is dit soms buitensporig – omdat daar so baie op die spel is.

 

Om af te sluit, ’n bonus wenk:

Die beste blitsblaaiers, soos Bloedsomer, laat jou wonder lank ná die storie klaar is.

Die einde is bevredigend, die groot vraagstukke word opgelos. Maar die laaste toneel los die leser met ’n suggestie, ’n oplossing – soms slegs ’n sin of twee – wat in jou agterkop bly spook. Nou hoop jy net die skrywer broei nie te lank op die volgende storie nie. Want jy kan nie wag om te sien wat volgende gaan gebeur met Petunia en JP nie; jy is immers saam met hulle deur diep water.


(Koop Bloedsomer hier.)






















74 views0 comments

Comments


bottom of page