top of page

Storiekaarte: 6 kort stories van klublede

Updated: Mar 14

Storiekaarte of myrioramas dateer uit die vroeg 19e eeu en is as speletjie gebruik. Die twinting kaarte in die pak kan op enige manier rangskik word om ’n prentjie te vorm. Oor hierdie prentjie moet jy dan ’n storie vertel. Die opsies is eindeloos. Kaarte kan een-een of in groepe getrek word. Jy kan die storie begin deur ’n kaart trek waarop die volgende persoon dan moet uitbrei deur ’n nuwe kaart te trek. Al die kaarte kan op verskillende maniere langs mekaar uitgepak word vir ’n langer verhaal.



Maak nie saak hoe dit gerangskik word nie, die kaarte maak altyd ’n eenvormige prent. (Daar is gewoonlik ’n lyn, hetsy op die horison of in die gebou, wat regdeur die kaarte loop sodat dit op enige manier met mekaar verbind kan word.)


Die Ink in my pen-klublede het tydens ons werkswinkel drie kaarte uit The Mystery Mansion pak storiekaarte getrek. Almal het ’n kort storie geskryf wat deur een of al drie van dié kaarte ingegee is. Almal is uiteenlopend, soos jy sal sien.



Gebore, getrou, gedood

Carla Pattison

 

Stefaans staar na die Zepplin ballon wat stadig oor die landgoed aangesweef kom. Hy moes saam met al die opgewonde mense op daardie lugballon gewees het. Hierdie eerste lugvaart is een van die grootste gebeure van sy tyd en Gerhardus, sy vriend van juig af, het belowe dat hy vir hom ’n kaartjie sou kry. Maar dié simpel pel van hom is soos altyd net meer bek as binnegoed. Van al die gespog en gepraat het daar net mooi niks gekom nie. Nou is Gerhardus op die vlug, wat in die geskiedenisboeke gaan beland, en al wat hy kan doen is om te staan en staar hoe die ballon die hele wêreld van daar bo beskou.

Die galop van perde pote trek vir ’n oomblik sy aandag. Hy voel nog meer depressief met die aanhoor van al die lawaai. Susan het seker besluit om tog te kom jakkalse jag saam met hom. Hy het nie gedink sy sou kom toe hy dit vir haar genoem het nie. Hy tel sy geweer op en gee een laaste kyk na die ballon wat in die verte verdwyn. Elke dag wens hy dat hy eenvoudig kan verdwyn uit dié vaal bestaan van hom. Maar hy is vas. Sy pa het besluit dat hy en Susan binnekort sal trou en só verseker die twee families se skatte nog groter word. Gebore, getrou, gedood. Dit is wat eendag op sy grafsteen gaan staan. En absoluut niks tussenin nie.

Hy hoor Susan se geroep bo die oorverdowende geblaf van haar honde. Vandag skiet hy sweerlik ’n brak. Hoekom kan sy nie net van katte hou soos al die ander vroue in die omgewing nie? Selfs die gemmerkat in hulle huis is al ’n beter opsie as daai raasmasjiene van haar. Die wrewel wriemel teen sy ruggraat uit. Gebore, getrou, gevrek, gedood. Dalk is dit meer gepas vir sy grafsteen.

Hy draai om sodat hy sy jas in die stoepkamer kan gaan kry. Dit gaan ’n ongemaklike affêre afgee as Susan hom met daai reuse jas van haar moet warm hou. Die arme perd kan skaars asemhaal. Hy ruk die jas van die bank af en met dié beweging val daar ’n koevert op die vloer. Vreemd, die pos word nooit in hierdie vertrek gelos nie. Hy buk af om dit op te tel, maar net voor hy dit oopmaak, hoor hy ’n harde slag.  ’n Magtige ontploffing wat deur die hele huis ruk, die ruite bo hom breek. Die honde verloor hulle verstand en Susan se perd vat die hasepad.

O bliksem. Kan dit wees? Het daai ballon nou net ontplof? Hy staar weer by die venster uit en sien die swart wolk in die verte. Hy kyk na die koevert in sy hand en stadig kom die toegangskaartjie te voorskyn. Hy sak op die bank neer. Die malle storm van lawaai om hom hoor hy nie eers nie. Gerhardus se bek het toe hand gegee. Gebore, getrou, ... gered. Stefaans maak sy oë ’n oomblik toe. Vandag is sy grafsteen nie geskryf nie. Maar eendag sal daar staan: Gebore, getrou, gered, geleef.


 

Een nag, soos kristal

Heske Meijer

 

Die Swart Arabier tel haar hoog op bo die grond sodat sy oor die heuwels van die land kan sien.

Dis ’n ander land as wat sy uit haar jeug onthou. Die Sipresse het verander in Seders. Die groen oorklede heuwels van das wald in skaars bedekte deininge rondom die kibutz.

Sy verlang om haar storie te vertel. Vir haar pa en ma, vir haar oupa en ouma. Dis net Yoni met wie sy kan praat. Maar daar is dele van haar storie wat hy nie weet nie, nie ken nie, nie sal verstaan nie. Dis ook al jare terug se storie.

“Moenie terugkyk nie, Ester,” sal hy sê wanneer sy wil vertel, “daar is niks in die verlede nie. Net toekoms.”

“Maar ek wil nie vergeet nie. Mag nie vergeet nie. Die storie moet vertel word vir geslagte wat gaan kom. Dit sal gedra word en oorvertel word tot mense dink dis net legendes en mites.”

“Doen wat jy wil. Skryf ’n storie daaroor. Dan kan dié wat dit wil weet self besluit of hulle dit wil lees.”

 

***

 

Waar sal ek my verhaal begin? Hoe sal ek kan vertel? My ma was die storieverteller in die huis. Sy het dit van oupa oorgeërf, het sy gesê.

“Begin by die begin, dat die wat luister kan verstaan,” het sy my geleer.

Haar stories het ek geken. Van Avrahim en Moshé. En koning Dawid wat moes vlug vir Saul se tirannie en wreedheid. Van die tempel wat verwoes is. Keer op keer. Van Yerushalayim wat opgebou is na die Perse ons mense laat terugkeer het na die land, net om eeue later, weer deur die Romeine verwoes te word. Nou al duisende jare terug. Ons heimat nie meer ’n tuiste nie.

My oupa het horlosies en klokke gemaak. Sy klein winkel – dit was meer ’n werkplek as winkel – in die stad het net ’n deur en een venster gehad. Bo sy werkbank het ’n groot lamp gehang sodat hy die klein ratjies van die tyd kan instel. Sy lang baard het hy onder sy hemp ingedruk sodat daar nie miskien ’n haar in die uurwerk sal val en die tyd versteur nie.

Ma het die plek skoon gehou, so tussen al die fyn gereedskap en onderdele.

“Hoe moet ek hier skoonmaak, Ava, as jy alles so laat rondlê?” sou sy vra. En hy sou dan met ’n onskuldige glimlag vir haar antwoord: “Ek weet waar alles is. Los dit net.”

Saam het hulle buite op die straat, teen die venster, in die oggendson koffie gedrink nadat sy my by die skool afgelaai het. Hulle was dik met mekaar. Ma en oupa. Soos ek en my pa, my ava.

Pa was ’n dokter. Nie een wat pronk nie. In nederigheid sy naaste gedien. Sy geld wat oor was nadat hy vir ons gesorg het, het hy aan die armes uitgedeel. Dis wat Hashem vra, het hy verduidelik en nie verder daaroor gepraat nie.

Sy spreekkamers was net ’n paar deure af in dieselfde straat waar oupa en ma koffie gedrink het. Ouma het in pa se spreekkamer agter ’n tafel gesit en die pasiënte gegroet soos ou bekendes. Hulle stories aangehoor en leed versag met haar opbeurende woorde.

Pa en ouma was ook dik met mekaar, al was sy nie sy eie ma nie.

 

Dit was goeie tye. Ons was gelukkig. Het hard gewerk en geleer. Vriende en familie gehad. Shabbat gevier en groot uitbundige feeste gehou. Soos die fees na ’n suksesvolle jag, wanneer pa met die geweer oor sy skouer uit die bosse kom loop het. ’n Glimlag op sy lippe, en ’n groot swyn op die karretjie agter hom.

Die spit het stadig oor rooi gloeiende kole gedraai. Af en toe het die vuur opgevlam na ’n kortstondige sis, soos die gesmelte vet afdrup van die vleis.

Dit was in die jare voordat die wêreld se geldsake ons land lam gelê het en ene Adolf soos ’n verlosser opgestaan het en met sy lang toesprake die volk oortuig het hy sal hulle red. Maar sy redding het net ’n swaar drukkende atmosfeer in ons huis gebring. My oupa se baard het geswiep soos hy sy kop skud. Ma het, nes ouma, haar oop mond met ’n hand bedek. Haar gedagtes en woorde verbied om uit te kom. Pa het die radio halfpad in die toespraak afgeskakel, tot oupa se  ontsteltenis wat alles wil hoor.

“Ons gaan nie ons lewe laat vergal nie,” het pa beslis.

En ons lewe het aangegaan asof daar nie spanning was nie. Nie in die huis nie, nie in die straat waar pa en oupa omtrent langs mekaar gewerk het nie. Nie op die stad se strate waar woorde soos stene na ons gegooi word nie.

 

Eendag kom Yoni huis toe van die universiteit af. Sy kop rooi van bloed. Dit was nie net woorde wat hom geraak het nie. Ma het gekloek soos ’n hen wat oor haar kuiken besorg is. Pa het die wond skoongemaak met ’n afstandigheid van ’n dokter. Oupa en ouma het wyslik geswyg.

En ek het alles in my opgeneem sodat ek later kan vertel hoe dit was in dié dae.

Yoni het vertrek, saam met ’n groep vriende. Ma het gehuil, oupa en ouma stilswyend hulle koppe geknik of hulle verstaan. Pa was eers kwaad, wou Yoni verbied om te gaan. Hulle baklei. Tot ma haar versoening oor hulle uitgegooi het.

Ek het van hom afskeid geneem aan die einde van die oprylaan voor ons huis. Gewonder hoe ver die land is waarheen hy gaan. Wat hy daar sal doen, waar hy gaan slaap, of daar kos sal wees vir sy honger. Of ek hom ooit weer sal sien.

 

Sy eerste brief het aangeland op die dag dat die eerste steen ons venster in die voorhuis gebreek het. Pa en ma was opgewonde. Ma oor die brief, pa oor die steen wat tussen die glassplinters gelê het.

Die redder van die volk se toesprake het langer geword. Sy oë vuriger, sy woorde harder sodat speeksel in die mondhoek gedruppel het soos die vet van die swyn wat oor gloeiende kole braai.

Dit het die vuur laat oplek in die land.

Ek het, soos ek jare en maande ouer geword het, meer begin verstaan van wat aangaan. Hoekom Yoni weggegaan het en hoekom oupa se stories opgedroog het. Oupa en ma het nie meer in die straat hulle koffie gedrink nie, en pa se pasiënte het minder geword. Net ons eie mense het sy hulp kom vra. Die feeste by ons huis was vae herinneringe.

 

En toe was daar die dag in November. Die tiende dag, ’n Donderdag.

Soos elke dag het ons saam die pad gevat. Die grootmense om te gaan werk, ek om skool toe te gaan. Oor die stad het ’n grys wolk gehang, maar daar het nie reën geval nie. Die nag was helder soos kristal weet ek nog, want die maan het haar lig deur my slaapkamer se venster laat val.

Die strate het geblink of daar poele water gelê het na ’n swaar reën. Maar hierdie poele het gekraak toe ons daardeur loop.

Oupa se werkplek en winkelraam was gebreek, sy klokke en horlosies, uitgestal op die straat. Hy het stil geween by die sien van sy lewenswerk. Vir ouma in sy arms toegevou en hulle liggame beweeg in ’n stil gebed.

Pa het my opgeraap, ma se hand gegryp en teruggehardloop huis toe. In my slaapkamer, met my pop en hoofkussing teen my aangedruk, het ek geluister na die geluide in die huis. Pa en Ma het woorde. Maar nie soos baklei met mekaar nie. Hulle stemme is verhef asof hulle nie kan ooreenkom wat hulle moet doen nie. Na ure hoor ek ook Oupa en Ouma wat saampraat.

Die aand daal oor die huis en druk op die harde stemme wat tussen die kombuis en voorhuis heen en weer skuif. Die sagte praat en fluister los op in die nag. Ek gaan slaap sonder kos. Ek verstaan. Nie alles nie, maar genoeg. So het ek toe nog gedink.

 

***


“Hoekom moet ek saam met die meneer gaan?”

Ek sit my voete uiteen soos ek my pa baie keer sien doen het as hy standvastig sy besluit geneem het.

“Ek ken hom nie eers nie. En julle het altyd – ”

“Ek gaan nie met jou ’n diskussie voer nie, Ester,” het pa my in die rede geval. Hy het my tassie vir die man aangegee, wat dit agter in die vragwa se bak tussen ander kinders ingegooi het. “Ek ken hom en ek vertrou hom. Hy sal sorg dat jy by Yoni kom. As sake hier weer rustig is, kan jy, of julle, terugkom.”

“Maar hoekom gaan julle nie saam nie?”

“Ons kan dalk later kom. Maar vir eers moet ons hier wees om ander mense te help. Ek kan mos nie my pasiënte net los nie?”

“Maar Ma en Oupa en Ouma kan mos saamkom.”

“En vir my alleen agterlaat?”

Ek het vir ’n oomblik gedink hy het ’n punt, toe val dit my by dat ek die een sal wees wat alleen weggaan. “Jy is nie alleen nie,” wys my pa, “kyk, daar’s Mirjam en Efraim. Jy ken hulle mos. Julle sal saam wees.”

Hy tel my in die wa se bak, druk my agteroor sodat ek val en nie kan regop kom voordat die wa spoed optel en my wegvat nie.

 

Dae lank het ons gery. Die kos was min en water nog minder. Net gestop langs die pad as ons moet bene strek en privaat goed doen. Oor die berge het ons gery. Die landskap het verander. Die pad het afgesak tot ons in die verte die blink van die see kon sien. Italië, het die man wat ons gevat het, gesê. Italië.

In die hawe het ’n groot skip gelê en wag. Oorvol met oumense en kinders wat stil op die dek sit en wag om te vaar na ’n land waarvan ek nie geweet het hoe ver weg dit is nie. Of ek daar ’n plek sal hê om my kop neer te lê vir die nag. Waar ek kos sal vind vir my honger en water vir my dors. Wanneer en of ek vir Pa en Ma, en Oupa en Ouma weer sal sien. Wanneer ek, en Yoni, as ek hom kan vind, weer huis toe kan gaan.

Die boot vat ons na ’n groot stad. Haifa.

Op die kade sien ek in die menigte vir Yoni staan.

Pa was reg om die man te vertrou.

 

Dit het baie jare gevat voordat ek verstaan het ek sal pa en ma en oupa en ouma nooit weer sien nie, en dat hierdie heuwelland wat ek van die Arabier se rug af oorsien, skaars bedek met Sederbome, my nuwe tuis is.

My Eretz.


 

Kaartspel

Petro van Deventer

 

Is dit ’n slag wat sy hoor?

Seker die posman wat die oggendpos deur die koper posgleuf in die deur gooi. Sarah is seker hy loer soms daardeur. Dink dalk sy sal nog dié tyd van die oggend in haar nagrok rondloop!

Sy trek haar lang kasjmier trui stywer om haar vas. Die reëndruppels traan teen die venster af en maak Sarah nostalgies na ’n onbekende tyd en plek. En na Andrew. Gelukkig vir die meesleurende snaarklanke op die radio. Dit streel haar, vul haar, soos net sy liefkosings kan.

Sy sal ’n groot pot roos- en framboos tee maak en in die erker gaan sit en skryf. Terwyl die water kook, skraap sy haar dankbaarheidsdagboek, pen en intensies bymekaar.

“Dankie vir die musiek, geurige tee, sagte skaapvel kussings in die erker,” begin sy al op voorhand hardop formuleer aan haar dagboekblaaie.

Die snaarklanke is van Led Zeppelin, “Stairway to Heaven”, dring dit tot haar deur. Die baskitaar kom by. Sy sit die radio harder.

“Ek wens jou ouma kon jou sien Sarah,” sê Ma altyd. “Jy lyk soos ’n druppel water op haar in die skildery. En die musiek – kleintyd het ek gedink hulle sing dit vir haar.” Haar ouma het vermis geraak in die Eerste Wêreldoorlog; ’n misterie wat tot vandag toe nie opgelos is nie. Nou is sy net ’n gedagte teen haar sitkamermuur; ’n skoonheid op ’n swart hings.

 

Pastis, haar kat, miaau ontevrede. Hy skuur en spin nie soos gewoonlik nie, maar hardloop met ’n gekromde rug terug na die sitkamer. Sarah vat haar koppie tee en skryfgoed en stap agterna.

Sy steek dood in haar wolsokkies vas, knip haar oë weer ’n keer. ’n Baksteen lê tussen die splinters van die sitkamervenster op die marmervloer. Die teekoppie glip byna uit haar hand. Sy gee versigtig ’n tree vorentoe. Pastis huiwer nie, maar hardloop oor die splinters en spring in die erker waar 'n rooi koevert op die kussings lê. Sy bloederige pootafdrukke ’n rooi spoor tot by die koevert.

Sarah trap huiwerend met haar sokkies oor die splinters na die erker toe. Haar hand bewe wanneer sy die rooi koevert optel. In die koevert is twee foto's. Die eerste een is effens onduidelik. ’n Vrou op 'n perd en twee jaghonde. Dit herinner aan die skildery van Ouma. Maar haar gesig lyk soos ’n skedel. ’n Voorbode? ’n Rilling loop agter haar rug af.

“’n Kat loop oor jou graf,” sou Ma met ’n besorgde gesig sê.

“Jou ouma,” lees Sarah agterop die foto, “soos jy, soos die Zeppelin, ’n gevaarlike kombinasie van vorm en vurigheid.” ’n Vroulike handskrif wat agteroor leun.

Die tweede foto is van ’n man met ’n jaggeweer en ’n Zeppelin in die agtergrond.

Sarah draai dit huiwerig om.

“Zeppelins word afgeskiet!”


 

Die Brief

Elana Brand

 

My liefste Alexander.

Nee.

Dierbare Alexander.

Nee.

Alexander.

Wat ons deel was die rede vir my bestaan die laaste jaar. Maar jy het net so goed soos ek geweet daar kon niks van kom nie. En daarom moet ek jou aanbod van die hand wys.

Elizabeth

 

Nog ’n papier frommel in haar hande. Sy gooi dit na die drommetjie toe. Dit land soos baie van die vorige langs die drom. Hoekom wil die woorde nie kom nie?

Sy onthou die gesprek met haar Ma op haar troudag.

“Mamma, was jy van die begin af lief vir Pappa?”

“Hoekom vra jy so iets, Elizabeth?”

“Dis net ... dit voel nie vir my soos liefde nie.”

“My kind, die liefde kom later. Wat nou saak maak is dat Johannes ’n man van goeie afkoms is, met uitstekende vooruitsigte en iemand wat sy pligte as man en pa baie ernstig sal opneem.”

Die woord ‘passie’ was nie deel van Elizabeth se verwysingsraamwerk nie, so hoe moes sy verwoord dat dit juis die een ding was wat ontbreek het?  Niks van Johannes se goeie kwaliteite kon egter opmaak vir sy swak hart nie. Hy is vroeg in hulle huwelik skielik dood aan ’n hartaanval. Roetine en die verantwoordelikheid van die grootmaak van hulle dogter, Rebecca, het haar lewe oorgeneem.

Tot Alexander op die toneel verskyn het.

 

Die ding tussen hulle het stadig begin, maar soos ’n veldbrand weggehardloop met hulle voor enigeen dit kon keer.

Gisteraand moes hulle afskeid neem. Afgespreek om plaas te vind by die dam. Hy was reeds daar toe sy aangestap kom.

“Naand, Elizabeth.”

Haar oë vasgenael op sy mond. “Naand, Alexander.”

Hy het sy hand uitgesteek en met sy vingers teen haar wang gestreel. Haar lyf weerloos teen die geringste aanraking.

“Alexander, vanaand moet die laaste keer wees wat ons alleen is.”

Hy gooi ’n kombers op die klam gras. Hy sit. Sy gaan sit langs hom.

“Is dit regtig wat jy wil hê? Ons kan aanhou mekaar sien ten spyte van – ”

“Nee, Alexander, ons kan nie. Na vanaand bêre ek jou briewe, jou liefde en jou lyf in ’n boks wat ek nooit weer sal oopmaak nie.”

“Dis nie regverdig nie.”

“Die lewe is nie regverdig nie.”

Alexander neem haar hand en hulle albei staar voor hulle uit. Die herfsbriesie speel met die blare. Die whoo-whoo van ’n uil in die verte die agtergrond musiek.

“Kan ek jou soen?”

Elizabeth kyk in Alexander se groot oë. Sy moet nee sê.

Alexander draai sy lyf na haar en sy lippe raak versigtig aan hare. ’n Koors van begeerte breek los en haar voornemens verdamp. Haar tjalie val van haar skouers af en haar hande gryp na sy lyf. Sy hand druk haar lang rok op totdat sy hand haar kaal been bereik. Die koue lug doen niks om die area te verkoel waar sy hand raak nie. Bewuswording laat haar sy hand wegdruk. Die oomblik breek.

“Alexander, om nog een keer liefde te maak gaan nie more makliker maak vir enigeen van ons nie.”

Hy lê terug en beduie dat sy haar plekkie in die vou van sy arm moet inneem. Sy ontspan gemaklik  in die holte. Asof haar lyf geskape in om by syne in te pas. Sy dink vlugtig aan hoe perfek hy ook binne haar pas.

Die sterre flikker helder in die hemelruim.

“Hoeveel aande dink jy het ons hier spandeer?”

“Te  veel,” lag sy.

“Ek weet nie of ek jou kan opgee nie.”

“Jy het nie 'n keuse nie.”

“Wat as – ”

“Daar is geen, ‘wat as’ vir ons nie, Alexander.”

“Luister tog net, asseblief. Ek en jy kan hier weggaan. Ek het kontak gemaak met ’n vriend en ons kan daar gaan bly totdat ons op iets meer permanent besluit het. Met tyd sal almal verstaan.”

“Wat jy voorstel vra meer van my as wat ek bereid is om te gee.”

Alexander druk homself tot op sy elmboog. “Elizabeth, ek smeek jou. Slaap daaroor. Jy voel dalk anders more oggend. Ek sal wag vir jou brief.”

Sy wil nie terugdink aan hulle laaste ontmoeting en onthou hoe hulle baklei het nie. Sy stem in. Sy sal dink deur die nag. Dink aan die mooiste manier moontlik om sy hart te breek. Vir nou wil sy net hier lê en dink aan dit wat was.

 

Sy is vroeg wakker. Aangetrek vir die groot dag. Sy stap in die lang gang af tot by Rebecca se kamer. Sy stop voor die deur. Haal diep asem en dan maak sy die deur oop en loop in.

“Is jy reg vir vandag, Liefling?”

Antoinette herken ’n bekende kyk.

“Mamma, hoe het mamma geweet Pappa was die regte man vir jou?”

Haar hart is swaar. Is vandag nie miskien haar geleentheid om geskiedenis te verander nie? Is dit nie haar kans om dit wat sy weet met haar dogter te deel in plaas van die leuens wat generasies na generasie vir vrouens vertel word nie?

Dit sou nie reg wees nie. Sy kan nie met sekerheid sê dat haar motiewe opreg sal wees nie. Nee, dit sal anders vir Rebecca uitspeel as vir haar. Sy moet dit glo.

“My kind, Mamma wil nie hê jy moet vandag van alle dae jouself kwel oor sulke vrae nie. Dis jou troudag en al wat jy moet doen is om dit te geniet.”

Teen nou sou Alexander al die brief gekry het wat sy vir hom gelos het.

 

Alexander

Jy gaan ’n baie goeie man vir Rebecca maak. Mag julle ’n lang en gelukkige huwelik saam hê.

Elizabeth 


 

Die jag

Madri Victor

 

Die sitkamervenster versplinter in ’n ontploffing langs haar. Catherine ruk haar kop op, die gil tuimel vanself oor haar lippe. Haar hart klop in haar keel. Op die mat voor haar lê ’n baksteen, ’n rooi papiertjie daarom gedraai. Sy kyk vinnig na die venster, maar daar is niemand in sig nie. Die wete kom lê soos ’n swaar hand op haar: Hierdie keer het Charles te ver gegaan.

               Sy hoor aan die voetstappe dat dit Charles is en oomblikke later stap hy met doelgerigte hale op die baksteen af. Hy staar vies daarna, trek dan die papier af en vou dit oop. Sy gesig verraai geen emosie terwyl hy die nota lees nie.

               “Charles?”

               Hy vou die papiertjie op, druk dit in sy sak en stap na die venster toe.

               “Wat is dit?” Sy het vir ’n oomblik die onseker skrif gesien. Maar sy wil hoor dat hy dit sê.

               Die stilte rek.

“Charles, moet ons nie maar – ”

               “Moenie oorreageer nie, Catherine!”

               Sy stem is ’n sweepslag deur die vertrek.

               “Gaan vra die personeel om jou perd op te saal. Gaan drink tee by Mathilde. Dit sal jou kalmeer.”

               “Maar ek kan tog nie – ”

               “Jy maak hopeloos te veel hiervan.” Hy sug oordrewe.

               Te veel? Sy het nog skaars iets gesê. Hy is die een wat haar wegstuur sonder verduideliking. Wie van hulle oorreageer? Sy sê egter niks nie, staan bloot op, vee die kreukels uit haar romp en stap by hom verby.

               Charles volg sy eie kop. Hy was nog altyd ’n man wat meer planne gehad het as wat goed is. Donker planne. Sy moes dit destyds dit as waarskuwing beskou het, maar nee, toe het sy soos al die ander mense gedink hy is ’n visioenêr. En hy hét al baie reggekry. Maar hierdie keer ... sy moes hom gekeer het.

               Sy hoor Charles bevele roep, versnel haar pas en is net betyds by die kombuis om deur die agterdeur te sien hoe hy oor die werf met sy geweer stalle toe. Vir die jag. Dit is immers waarin hy uitblink. Wat hy wil vervolmaak. Die jag.

               Haar hart fladder. Sy sluk, maak haar oë vir ’n oomblik toe.

               Vandag sal geen gebed help nie. Nie teen die monster wat Charles geskep het nie.

               “Mevrou?”

               Sy skrik toe Sarah langs haar praat.

               “Laat weet vir Jeoffrey hy moet my perd opsaal. En gaan maak die glas in die sitkamer skoon.”

               “Mevrou, verskoon my, maar Mevrou kan nie uitgaan nie. Meneer Charles het moord in sy oë. En met ... daai ding in die woud.”

               Daar daal ’n kilte oor haar, ’n krag wat soos yskoue water van bo van haar kop af oor haar spoel. Sy voel hoe dit om haar arms en bene draai, hoe dit haar lyf regop trek.

               Sy draai na Sarah toe en haar woorde is yskoud, gevaarlik: “Daardie ... ‘ding’ waarna jy verwys, is my seun. Charles mag dalk dink hy kan god speel in sy laboratorium, maar vandag kom die wraak mý toe.”

               Catherine draai om, stap doelgerig na die geweerkluis. Sy sal haar seun gaan haal. Hierdie keer sal sy nie sy hulpkreet ignoreer nie.

 


 

Victoria se Van Gogh

Marinda Roos


Victoria kyk weer na die skildery teen die muur en sug. Sy weet nie hoekom ouma Willemien dit aan haar bemaak het nie. Dit pas glad nie by haar minimalistiese en moderne dekor in haar woonstel nie.

Haar ma staan skielik langs haar en ’n frons verskyn op haar voorkop. “Hierdie skildery dateer uit die 1800’s uit. Die skilder was nog onbekend daardie tyd. Eers honderd en vyftig jaar later na sy dood het hy bekendheid verwerf.”

“Wil Mamma nie eerder die skildery hê nie?”

“Ouma het dit aan jou bemaak. Ek glo daar was ’n rede daarvoor.”

Victoria staan nader met haar neus amper teen die skildery. “Wat moes deur die skilder se kop gegaan het?”

Sy streel met haar een vinger oor die verf en blaas haar asem uit. ’n Vrou sit weerloos op ’n perd se rug en die twee honde by haar geniet die uitstappie. Weet sy nie van die gewapende soldaat in die huis nie? Al wat heel ontspanne lyk, is die kat op die bank. Haar oë gly verder oor die prent en vries toe sy die rooi koevert sien.

Ouma het een dag lank, lank gelede ook so ’n rooi koevert vir haar gegee. Sy het genoem dat dit belangrike inligting bevat; sy mag die brief eers oopmaak na haar begrafnis. Sy het heeltemal daarvan vergeet!

Victoria hardloop die trappe op. Haar hande bewe toe sy die ou koffieblik oopmaak. Niemand sal mos hier na kosbare artikels kom soek nie.

Opwinding bruis deur haar are toe sy die verbleikte rooi koevert uithaal. Die papier kraak toe sy dit oopmaak. Haar hart klop woes in haar borskas. Netjies in Ouma se handskrif staan die volgende woorde:


Victoria, my pragtige kleinkind.

Ouma bêre hierdie skildery net vir jou. Ek weet jy verstaan nie nou alles nie. Onthou jy Ouma se storie? Die een wat ek jou altyd vertel het met slaaptyd. Geniet jou bederf. Jy verdien dit.

Liefde

Ouma Catherine


Victoria glimlag en val agteroor op haar bed.


 ***


Sewe jaar later


“Mamma, is hierdie die bekende Louvre Museum?” vra Cathy en hou haar ma se hand nog stywer vas.

“Dit is, en dit is vol duursame skilderye en waardevolle kuns artikels.”

“Ek het by een van die professors van die Universiteit van Kaapstad gehoor hier hang ’n skildery wat vir miljoene verkoop is. Iemand in Suid-Afrika het dit blykbaar geëerf en later op ’n veiling verkoop in Londen. Die koper het oor die twee honderd miljoen rand daarvoor betaal. Op voorwaarde dat dit hier uitgestal moet word. Verbeel jou, jy koop ’n skildery wat deur Van Gogh geskilder is, maar jy kan dit nie eers in jou eie woning hang nie,” babbel Thomas aanmekaar.

Victoria kyk haar man ondersoekend aan. Sy het gewonder of hy die beroemde skildery sou navors.

Thomas en haar twee kinders was omtrent in die wolke toe sy hulle ingelig het van hulle vakansie in Parys. Die skuldgevoel vreet aan haar oor al haar leuens. Hulle vakansie is gewen deur ’n kompetisie waarvoor sy ingeskryf het. Dit was die enigste verskoning wat sy kon uitdink. Haar kierankies gaan nog braai.

Hulle beweeg deur die museum en bekyk die een skildery na die ander.

En dan gaan staan sy skielik stil. Ja, dit is hy. Nog steeds in sy oorspronklike raam soos sy hom onthou. Dieselfde vrou wat weerloos op die perd se rug sit. Die honde wat haar al blaffend volg. Die gewapende soldaat in die huis en al wie tevrede is, is die kat op die bank.

Sy glimlag van oor tot oor. “Dit is pragtig,” sug sy en trek Thomas nader. “Dit is hierdie skildery.”

“Is dit die een wat Van Gogh geskilder het?”

“Ja, die skildery het eers beroemd geword na sy dood.”

“Wel, die persoon wat hom verkoop het aan die biljoenêr lag nou al die pad bank toe.”

Hy stap na die volgende skildery toe en Victoria volg hom in stilte. “Ek het ook gehoor daardie persoon wat die skildery verkoop het, het ’n hospitaal, skool, naskoolsentrum en ’n kliniek geskenk.”

“Regtig?” vra sy en die glimlag rek tot by haar kuiltjies.

“Ja, professor de Lange het gesê dieselfde persoon borg elke jaar studente se studiegeld vir hulle.”

Hulle loop in stilte deur die museum en die kinders is opgewonde toe daar kaartjies gekoop word vir ’n bootrit op die gewilde Seine rivier.

“Wag, ek koop gou vir ons roomys,” lag Victoria en stap na die stalletjie toe.

“Hierdie is die beste vakansie van my lewe. Ek is so dankbaar jy het ingeskryf vir daardie kompetisie. Anders sou ek nooit in Parys gekom het nie,” sê Thomas en gooi sy arm om haar middel. “Die klomp proffies was omtrent jaloers toe ek hulle vertel het van ons vakansie waarop ons gaan.”

Haar oë speel oor sy gesig en sy kan net glimlag. Hy is so opgewonde soos ’n skoolkind.

“Kom, daar kom die boot nou,” sê Thomas en neem Cathy en Theo aan hulle handjies. “Versigtig, moenie julle roomys laat val nie.”

 

Victoria het ’n lekker warm skuimbad geneem en skuif gemaklik op die stoel. Die uitsig oor die Eiffeltoring was die beste besluit van die reisagent. Hy het haar belowe die kamer kom met ’n uitsig oor die stad en die beroemde toring.

Thomas plons langs haar neer met sy gesig op sy selfoon. “Volgens Google het die eienaar van die skildery se ouma dit aan haar bemaak sewe jaar gelede. Dit was weer ’n erfstuk van haar Oumagrootjie. Elizabeth Catherine de Neyssen. Jy het ook mos ’n ouma gehad met daardie name.”

Sy tuur in die verte in en haal saggies asem. “My ouma het ook daardie name gehad. Haar van was Swanepoel.”

“Hmm, vreemd dat jy sewe jaar gelede ’n motor gewen het. En daarna het iemand jou studiegeld vir jou betaal. Jy het ook ’n wasmasjien, stoof, mikrogolfoond, televisie en ’n yskas gewen.”

“Dit is baie vreemd, ja.”

“Inderdaad.”

Hy tuur in die verte en sug gelate. “En toe wen jy die vakansie.”

“Is ek nie gelukkig met kompetisies nie?”

“Vreemd sou ek eerder sê. Baie vreemd.”

 

 


 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page