Ink in my pen se lewensafrigter, Elizma Badenhorst, skryf oor die grootste saboteurs in ons denkpatrone en hoe om hulle te tem.
As skrywers worstel ons dikwels met innerlike hindernisse wat ons kreatiwiteit en produktiwiteit belemmer. Hierdie saboteurs is niks anders as denkpatrone wat ons vloei ontwrig en selftwyfel aanwakker nie. Maar as jy hierdie saboteurs kan identifiseer, by die naam noem en aanspreek, kan jy nie net die wind uit hulle seile haal nie, maar ook jou skyfproses meer vaartbelyn maak.
Met watter een van die volgende saboteurs het jy ’n appeltjie (of twee) te skil?
1. Perfeksionistiese Petra
Perfeksionis Petra eis foutlose sinne en vlekkelose grammatika van die eerste konsep af. Al is dit bewonderenswaardig om na uitnemendheid te streef, stuit hierdie saboteur kreatiwiteit deur jou elke woord wat jy skryf te laat bevraagteken.
Tem-wenk: Laat jouself toe om onvolmaak te wees en te skryf. Omhels die deurmekaar eerste konsep en herinner jouself dat perfeksie deur hersiening kom. Stel ’n alarm vir vry-skryfsessies waar die fokus slegs daarop is om woorde op die bladsy te kry.
2. Plot-paniek Pieter
Plot-paniek Pieter bekommer hom gedurig oor dinge soos gate in sy plot, karakterboë en tempo. Hierdie saboteur kan lei tot verlamming; te veel ontleding, die vrees om ’n plotfout te maak, kan veroorsaak dat jy uiteindelik glad nie skryf nie.
Tem-wenk: Skets jou storie, maar moenie toelaat dat dit ’n dwangbuis word nie. Verstaan dat die plot kan ontwikkel soos die skryfproses ontwikkel. Vertrou die hersieningsproses – dit is die plek waar jy inkonsekwenthede en gapings regstel.
3. Woorde-tel Willem
Woorde-tel Willem hou obsessief boek van daaglikse woorde en maak skryf ’n syferspel. Dit kan lei tot uitbranding; kort voor lank is jy die vreugde van storievertelling kwyt.
Tem-wenk: Fokus op kwaliteit bo kwantiteit. Stel realistiese woordtellingdoelwitte wat gesonde vordering prioritiseer bo daaglikse pieke. Vier klein oorwinnings, soos om ’n hoofstuk of ’n toneel klaar te maak.
4. Rigiede Reghardt
Rigiede Reghardt dring daarop aan om by konvensies te hou en ontmoedig eksperimentering. Hierdie saboteur beperk kreatiwiteit deur jou rigid aan reëls en verwagtinge te laat voldoen.
Tem-wenk: Gee jouself toestemming om die reëls te breek en nuwe storievertellingstegnieke te verken. Onthou dat sommige van die mees geliefde boeke tradisionele riglyne oorskry.
5. Tevrede-stel Stella
Stella wil alle lesers tevrede stel. Sy is bekommerd oor hoe lesers en kritici die boek sal ontvang en skryf wat sy dink almal wil lees. Hierdie saboteur kan lei tot selfsensuur en ’n verlies aan ’n outentieke stem.
Tem-wenk: Skryf eerstens vir jouself. Skryf omdat jy dit geniet om stories te vertel en vertrou jou unieke perspektief. Terugvoer en hersiening kan later jou werk vorm, maar die aanvanklike konsep moet getrou aan jou visie wees.
6. Sperdatum Sarel
Sperdatum Sarel is oorweldig deur dreigende sperdatums en die druk om ’n goeie manuskrip te lewer. Hierdie saboteur lei dikwels tot uitstel en veroorsaak bykomende druk wanneer jy als tot op die laaste oomblikke los.
Tem-wenk: Breek jou projek in hanteerbare stukke op en stel mini sperdatums vir elke deel. Gebruik toepe soos kalenders en projekbestuursprogramme om georganiseerd te bly en stres te verminder.
7. Vergelyking Vicky
Vergelyking Vicky laat jou konstant jou vordering en sukses teenoor ander skrywers meet. Hierdie saboteur kweek afguns en ontmoediging, wat dit moeilik maak om jou unieke reis te waardeer.
Tem-wenk: Fokus op jou eie pad en prestasies. Vier jou mylpale en vordering, ongeag hoe dit met ander vergelyk. Onthou dat elke skrywer se reis anders is.
8. Oorsensitiewe Olga
Oorsensitiewe Olga fokus op vorige verwerpings en kritiek. Hierdie saboteur kan lei tot ’n huiwering om werk in te dien of publiseringsgeleenthede aan te gryp.
Tem-wenk: Herformuleer verwerping as deel van die skryfproses – dit bring jou ’n stappie nader aan jou gewensde boek. Hou ’n rekord van positiewe terugvoer en prestasies om jouself aan jou vordering te herinner.
Omhels jou Wyse Willem/Willemina
Saboteurs het ’n inpak op ons skryfproses. Hulle kan formidabel wees, maar is hulle nie onoorkomelik nie. Jy het reeds die eerste stap tot oorwinning geneem: Deur hierdie saboteurs te herken en te benoem, verstaan jy hulle aanvalstegniek beter. Jy weet nou wat om te verwag.
Jy het jou eie teenmiddel, ’n magtige kryger, wat kalm, nuuskierig en kreatief is, en jou help om hierdie negatiewe invloede teë te werk. Wyse Willem/Willemina. Vertrou jou innerlike skrywerstem. Ondersoek bewustheidspraktyke, kontak ’n lewensafrigter wat jou kan help om gefokus te bly, soek ondersteuning van medeskrywers (hetsy op whatsapp-groepe of ’n skrywersgemeenskap soos die Ink in my pen-klub) en herinner jouself aan jou passie vir skryf. Jy is sterker as jou saboteurs.
Omhels jou skrywersreis met deernis en volharding, wetende dat elke woord wat jy skryf jou nader aan jou doelwitte bring.
Elizma Badenhorst is ’n lewensafrigter wat fokus daarop om skrywers te ondersteun. Met ’n diepgaande begrip van die Enneagram en ’n lewenslange liefde vir die kunste, bied sy ’n unieke benadering tot die ondersteuning van mense se geestesgesondheid gedurende hul kreatiewe prosesse. Kontak haar gerus via haar praktyk, Connect Coaching.
Comments