Ek het onlangs eers geleer hoe belangrik die oorspronklike weergawe eintlik is. Dit is 'n manier om jou innerlike kritikus stil te maak en jou kreatiwiteit te vertrou. Dit help jou om onderskeid te tref tussen skryf en redigeer. Kortom, dit is waar die storie jou kan betower.
Wat is die oorspronklike weergawe?
Dit word ook weergawe zero, die bloudruk, die ontdekkingsweergawe of pre-weergawe genoem. Die oorspronklike weergawe is jou eerste poging om die storie neer te skryf. Nie die beplanning van jou verhaal nie. Beplanning is idees, 'n rowwe skets, 'n opsomming van die grootste bewegings of tonele in jou verhaal. Beplanning kan bloot 'n paar punte of 'n paragraaf wees wat die idee agter die storie opsom. Sommige skrywers het glad nie 'n beplanning nie en daarmee is ook niks fout nie.
Die eerste weergawe, daarenteen, bevat reeds die belangrike storie-elemente. In hierdie weergawe het jy oor dinge soos karakterontwikkeling en struktuur gedink, en probeer jy om 'n “goeie” storie te skryf. Jy het jou taal 'n bietjie skoongemaak, clichés uitgehaal en probeer om spanning in te werk.
Die oorspronklike weergawe lê iewers tussen jou beplanning en die eerste weergawe. Dit is 'n baie rowwe weergawe van die verhaal. Dit bevat tonele, miskien hoofstukke of onderafdelings, dalk dialoog en beskrywing. Die storie vloei van begin tot einde, al kan alles nog vorentoe verander. Vir die meeste skrywers is die oorspronklike weergawe vol tik- en spelfoute, clichés en anglisismes. Terwyl jy die storie skryf, weet jy dat jy later sal moet terugkom om foute reg te maak en dat baie dinge nog sal verander. Jy maak dalk notas in hakies, verander halfpad deur die storie jou karakter se naam of onderstreep dele waarop jy moet uitbrei. Dink daaraan as 'n baie rowwe weergawe van jou eerste weergawe. Kortom, dit is jou storie in sy rou vorm.
Waarom is die oorspronklike weergawe belangrik?
In die oorspronklike weergawe skryf jy bloot die storie, ongeag hoe goed of sleg dit is. Jy wil die storie in rowwe, rou vorm op papier kry sodat jy iets het waarmee jy kan werk. Dit vra vir 'n intuïtiewe skryf. Want die aanvanklike, intuïtiewe skryf is 'n baie belangrike deel van die skeppingsproses; dit dwing jou om jou innerlike kritikus en redigeerder stil te maak. Jy vertrou die storie. Jy is bloot gewillig om die geleier daarvan te wees.
I personally call it draft zero because it's a way that I trick my brain into believing that this stuff doesn't matter. I think that's one of the most crucial things about this initial draft of a book — just getting the words onto the page so you can then fix them. (S.J. Watson)
Stories is vreemde goed. Dink jy te veel aan die tegniese aspekte, die struktuur, die afsonderlike tonele, bewegings en tempo van die verhaal, verloor die storie heeltemal sy oemf. En jy as skrywer verloor jou dryfkrag. Die magiese deel van die storie word onderdruk en in sy plek ontstaan iets wat so goed deurdink is, dat daar geen opwinding, interessante wendings of verrassings in is nie. Wanneer jy te vroeg begin om jouself en dit wat jy skryf te redigeer, skryf jy teen 'n muur van vrees vas. Vrees om nie 'n goeie storie te skryf nie, om nie gepubliseer te word nie, vrees om te misluk. Die vrees en onsekerheid, en jou innerlike kritikus, word so groot dat dit jou storie heeltemal verdwerg. Jy kan die betowering, wat deel is van enige goeie storie, morsdood beplan, bedink en redigeer.
In die eerste uitskryf van die storie, die oorspronklike weergawe, kom jy in die vloei daarvan (“flow” in Engels) waar tyd stilstaan en jy van niks anders as die storie bewus is nie. Dit is waar die storie as 't ware deur jou vloei, jou verras en jy terugkeer na die vreugde van skryf. Sommige mense noem dit die muse. Die storie is eenvoudig daar; jy kan skaars vinnig genoeg tik. Karakters kry 'n lewe van hul eie. En wanneer jy die storie lees, is jy verbaas dat jý dit geskryf het. Ek dink die intuïtiewe skryf is een van die min plekke waar skrywers daardie toestand van vloei beleef. Jy skuif die analitiese deel van jou brein vir 'n oomblik opsy en vertrou die krag van die kreatiewe.
I think that's when we are really being creative. When I am in that state of flow, that's when I will find surprising things happening with the work. The brain will throw things up that I hadn't been anticipating. It's when I'm most likely to deviate from any plan that I've written. (S.J. Watson)
Met die oorspronklike weergawe gee jy jouself toestemming om sleg te skryf, om nie perfek te wees nie, om foute te maak en clichés te gebruik. Jy gee jouself toestemming om bloot te skryf en die storie op papier te kry. Geniet dit! Skryf omdat dit jou vreugde verskaf. Laat die storie deur jou vloei. Vertrou jou kreatiwiteit. Die oorspronklike weergawe is jou enigste kans hiervoor. Met die eerste weergawe sit jy weer jou analitiese hoed op. Dan werk jy aan struktuur, maak skoon en trek reg. Die eerste weergawe is die begin van boek-maak. Indien jy te vroeg met jou eerste weergawe begin, mis jy dalk die betowering van die storie neerskryf.
Laat jouself toe om deur jou storie en die skryfproses betower te word voordat jy inspring en begin werk. Om Ray Bradbury aan te haal: Jou intuïsie weet wat dit wil skryf, so moenie in die pad staan daarvan nie.
コメント