Dis my geheim, hoor jy. Niemand weet nie. Nou weet jy. Asseblief, jy vertel nie. Ek vra mooi.
Johnny parkeer die huurmotor naby een van die Waterfront se sydeure. Sy is soms so bietjie laat, maar vandag het hy skaars sy sit gekry of miss Thea kom uit, uitgevat in haar Jenny Button en Jimmy Choo’s en gewapen met haar toksak. Hy’t eenmaal saam met Rosie en die kids bietjie rondgeloop in die Waterfront. Dis Rosalyn, die oudste meisiekind, wat hom van Jenny Button en die Choo-ou vertel het. Daai skoene kos meer as wat hy sommige maande huis toe vat. Nie dat miss Thea upstairs is nie. Aan die begin het hy nog ge-Madam en Mevrou, maar sy het hom vinnig kortgeknip: “Sê Thea of praat in die wind. Hier is ek om vadersnaam net nie Mevrou nie.” Hy kon waaragtig nie sommerso in die wind “Thea” nie. So toe “miss” hy maar.
Hy sien uit na elke maand se oproep. Al weet hy dis eintlik nie iets om oor joyfull te wees nie. Johnny issie stupid nie. Vandag, so sien hy, kos daai stap van haar ekstra inspanning. Dit moes ’n slegte een gewees het.
Sy klim versigtig in, sit vinnig haar hand op sy arm. “Dankie, Johnny. Gaan dit goed met Rosie en die kinders?”
“Nee wat, g’n klagtes nie. Klein-Johnny het vir die eerste keer ’n A vir Ingels gekry en smaak nou ons moet hom betaal daarvoor. Waar hy daaraan kom, weet ekkie.”
Sy is klaar besig om in haar sak te grawe vir die grimering en antwoord kop onderstebo. “Jy sal maar moet uithaal en wys; een van die dae staan daai laaitie van jou eerste in sy klas.”
“Nee miss Thea, die klong sal hom wat verbeel. Life gooi g’n pay vir elke A wat jy kry nie.”
Haar hande raak ’n oomblik stil. “Ons doen vandag Tygerberg.”
Johnny loer weer in die truspieëltjie na haar. Sy het haar alledaagse grimering afgehaal en is klaar besig om die dik, wit onderlaag aan te smeer. Die eerste keer wat hy haar so gestroop gesien het, het hom skoon van sy balans af gehad. Miss Thea lyk dan weerloos en broos, sommer nog soos ’n meisietjie. Nie een wat hierdie dinge moet doen nie.
Na die wit onderlaag verf sy behendig die swart om haar oë, die lang strepe regaf oor elke oog en maak die wimpers nog langer. En blou. Hy het vir haar ’n strêppie agter sy kopstuk gesit sodat sy haar handspieël daarin kan druk. Want dit lyk vir hom ingewikkeld, die geverwery. Na die oë kom die groot, donker mond. Op, altyd op in ‘n glimlag. Breed en happy. Die korset het sy altyd klaar onder haar bloes of trui aan. Jissie, die eerste keer wat hy daai korset gesien het, het hy gedink aan sy jong Rosie. Vandag sal sy ou Blom beslis nie meer in so iets pas nie. Ma ’n man kan droom. Net, oor miss Thea droom hy nie. Da’s iets heiligs aan daai vrou. As jy oor ha wil droom, droom jy net van beter dae. Sonder die pyn.
“Tygerberg? Ek wetie mooi nie, Miss Thea. Sal ons nie maar Vlakte toe ry nie? Of na daai kliniek in Khayelitsha wa ons laas maand was. Daai kids het jou erg gelaaik.”
“Nee Johnny, vandag gaan ons Tygerberg toe.” Haar mond trek verbete onder die geverfde happiness.
Johnny voel dit aan sy binnegoed: vandag is ’n groot ene. Dit was al duidelik met haar stap. En as hy haar nou so in die truspieël loer, kan hy sien sy sukkel met daai groot Doc Martins oor haar gestreepte kouse. Dit smaak hom daai valletjiesromp met die meters en meters net is al in die pad.
Sy stoot die romp vererg weg, knyp haar oë toe. Die kreun is sag, maar hy’t goeie ore.
Hy kyk om na haar. “Los die boots, ek sal jou help voor ons uitklim.”
Sy haal diep asem, druk op haar ribbekas. Klink skoon uitasem toe sy antwoord: “Dankie, Johnny. Goed voel vandag of dit ’n ton weeg. Ek raak oud. Netnou moet jy help verf ook.”
Haar grappie is flou vandag. Ma hy wat Johnny is sê niks. Issie sy plek nie. Hy help maar net waar hy kan.
Die eerste keer wat sy hom gebel het, was hy oortuig dis ’n joke. Veral toe hy haar sien. Eers dog hy dis die verkeerde deur waarby hy moet wag. Wie kies nou ’n sydeur, so half weggesteek, as jy ’n huurmotor bestel? Die vrou moes van lotjie getik wees, dog hy. Kom sit in sy taxi en trek haar soos ’n nar aan – met pienk kroeshare en ’n rooi neus, die hele toetie. En sê hom hy vertel nie vir ’n siel van haar nie.
“Dis my geheim, hoor jy. Niemand weet nie. Nie my ma of ’n goeie vriendin nie.” Om die “goeie” maak sy aanhalingstekens in die lug. “En veral nie my man nie. Nou weet jy. Asseblief, jy vertel nie. Ek vra mooi.”
Haar oë daai dag spook nou nog by hom. En die Here hoor hom, hy’t nog nie eers vir Rosie vertel nie. Dis net hy en miss Thea wat van hierdie nar-ding weet. Sy bel hom so een maal ’n maand. En dan laat sy hóm gewoonlik ’n hospitaal of kliniek kies. Hoe verder weg van die suburbs, hoe beter.
En nou wil sy Tygerberg kinderhospitaal toe. Hy skud sy kop.
“Nou toe, Johnny, sit voet in die hoek.”
Jirre, dat dit met so ’n mooi vrou moet gebeur.
“Miss Thea, kom ons ry eerder Athlone toe. Of wat van Malmesbury? Lekker trippie uit na die platteland.”
“Tygerberg, Johnny.” Sy rus haar kop op die agterste kopstut en maak haar swart streep-oë toe. Met die mond wat heeltyd so happy glimlag.
Dit gee hom vandag die ritteltits.
Johnny sug. Miss Thea is alles behalwe ’n push over.
Hy vat sy tyd met die ry.
Toe hy aan die agterkant by die hospitaal stilhou, sit sy haar rooi neus op en knipoog vir hom in die spieëltjie. Hy klim uit en buk by haar deur, sukkel met die boots se rits, maar kry uiteindelik dit opgetrek. Sy klim net so versigtig uit soos sy ingeklim het, buk terug in die motor om die sak met ballonne en lekkergoed op die sitplek te vat. Selfs deur die gestreepte kouse sien Johnny die dieppers kol agter op haar bo-been. Groot. Groter as ‘n man se hand.
“Jissie, miss Thea …”
Hy bly staar na haar lyf, selfs al het sy lankal omgedraai.
“Dis nie so erg nie, Johnny.” Haar oë is sag. Sy kyk na hom asof sy hóm jammer kry.
“Miss Thea, dit kan nie so aangaan nie. Regtig, ek issie ‘n man wat inmeng nie, ma – ”
Sy maak hom met ’n ongeduldige waai van haar hand stil. “Sjuut, Johnny. Moenie so kerm nie. Ek het by die trap afgeval. Moet nou nie ’n ding daarvan maak nie. Kom jy?”
Hy loop befoeterd saam, moet sy treë rek om by haar vasberade pas te hou.
Wat miss Thea altyd vir die nurses sê, weet hy nie, ma niemand pla haar ooit nie. Wie kan in elk geval iemand keer wat siek kinders gelukkig maak?
En vandag loop miss Thea asof die plek aan haar behoort. Sy kies sommer self die saal.
Miss Thea het so manier van inloop by ’n saal of kliniek. Die kids wil-wil nog verbouereerd lyk, dan begin sy al met haar manewales. Lyk kastig vreeslik verbaas dat hulle daar is, so asof húlle op die verkeerde plek is. Dan begin haar magic. Sy toor met hulle. Vryf bewonderend oor die kaal koppies en pluk gefrustreerd aan haar eie pienk krulle wat pal oor haar oë val. Kyk met groot oë na die instrumente, die beddens, die klere. En worstel kamstig met haar eie uitklok romp. Sy luister na hartkloppe, voel spiere en meet lengte. Vandag laat sy hulle so af en toe die pers kol op haar been sien. Kastig baie trots daarop. Sy knyp haar oë toe as sy aan haar ribbes vat. Sy kreun oordrewe. Sy huil en lag en tussen alles deur vergeet daai kinders van alles om hulle.
Miss Thea, so het Johnny agtergekom, wys hulle elke keer die seer aan haar lyf. Vandag haal sy die groot guns uit.
En daar stap hý in. Dokter Wieber.
O jirre, Johnny het geweet hier is groot moeilikheid vandag. Sy binnegoed maak ’n onheilige draai.
Sê nou die man herken haar?
Maar as miss Thea geskrik het, is dit nie duidelik deur haar spel nie. Sy kyk grootoog na die dokter, beduie na die stetoskoop om sy nek, spring om en kruip kastig weg. Die kinders gil van plesier. Dan stap sy swaarvoet en vasberade op hom af en moker hom met die vuis teen sy bo-arm.
Die man vererg hom, dit kan Johnny sien, maar herstel gou. Dit lyk darem nie of hy haar herken nie.
Sy tree terug, mik-mik weer, hardloop na die naaste kind om agter die kleintjie weg te kruip.
Die man glimlag.
Johnny voel hoe sy maag so bietjie ontspan. Miss Thea kruip weer uit, voetjie vir voetjie nader aan haar dokter. Voel vinnig aan sy armspiere en knik grootoog vir die kinders. Loop om hom, bekyk hom op en af. Vat hier en voel daar. En die man lag sowaar. Sy mimiek die medisyne wat sy moet drink, ’n pil wat sy met groot vermaak afsluk, amper weer uitspoeg en dan grootoog finaal insluk. Sy voel in sy sakke, trek stokkielekkers vir die kinders uit.
En voor Johnny sien, glip sy die saal uit.
In die motor is haar oë koorsagtig blink.
Maar Johnny is kwaad. So kwaad soos hy lanklaas was. “Jissie miss Thea, is jy mal?”
Daai man slaan haar elke maand stukkend en nou kom karring sy vanoggend al om hom. Wat kon hy wat Johnny is doen as die man haar herken het? Wat?!
“Hy sal mos vir jou donner. Kyk hoe lyk jy al klaar! Elke maand bel jy só vir my. Waarom ga jy nie weg nie? Nee jissie miss Thea, ’n man makie so en kom weg daarmee nie. Nie met ’n vrou soos jy nie.”
Maar miss Thea val eufories terug op haar sitplek, haar lag totaal uit plek met sy kwaad.
“Johnny, jy is lief en goed vir my. My eerlikste vriend. Maar jy verstaan nie.” Sy druk weer met ‘n kreun op haar ribbes en staar verby hom. “Ons het almal nodig om iewers ’n uitlaatklep te hê vir al die spanning en seer en,” sy huiwer voor sy die woord uitkry, “stront van hierdie wêreld.”
Pleks sy vloek eerder en kry klaar. Johnny klim vies by die bestuurskant in en moker sy deur toe.
Sy leuen vorentoe, sit haar hand op sy bo-arm.
“Moenie kwaad wees nie. Toe? Almal van ons het ’n geheim. Sommige s’n is net groter as ander.”
Sy sit weer terug en praat so sag dat Johnny sy kop na agter moet draai.
“Het jy gesien hoe kyk hy na daai kinders? Het jy gesien hoe sag raak sy oë toe hy agterkom wie ek is?”
“Nee, die man het niks geweet nie, ek het gesien.”
Sy gee ’n kortaf laggie. “Hoe sal hy my nie herken nie, Johnny? Na twintig jaar getroude lewe ken hy my lyf se bloed en been. Ek dink hy weet lankal.” Sy streel haar weerbarstige romp plat, haal die rooi neus af. “Maar ons twee is goed daarmee om mekaar se geheime te bewaar.”
’n Maand later sien Johnny die berig in die middel van die koerant, so half weggesteek tussen die ander: “Bekende kinderspesialis sterf aan hartaanval.”
Daarna bel miss Thea hom al minder. Met elke optrede is sy meer futloos. Totdat sy op ’n dag sommerso, in die middel van haar show ophou, omdraai en uitstap. Hy laai haar nie soos gewoonlik by die Waterfront af nie, maar vat haar direk huis toe. Teen die tyd dat hy haar uit die motor die huis inhelp, is sy slap en willoos soos ’n pop. Met swart grimeringtrane wat loop deur haar happy, happy mond.
Comments