top of page

Só herlaai jy jou batterye wanneer jy kreatief kapoet is

Teen hierdie tyd van die jaar is die meeste van ons kapoet en maak geen geheim daarvan dat ons 'n vakansie nodig het nie. Indien jy egter sukkel om te skryf, oorweldig voel deur jou storie of moedeloos raak by die blote gedagte daaraan dat jy iets moet lees, ly jy waarskynlik aan kreatiewe uitbranding. Eenvoudig gestel: Jy is kreatief kapoet.



My werk is om skrywers leiding en ondersteuning te gee sodat hulle skryf en aanhou skryf. Ek wil jou help om jou storie te voltooi en te verbeter sodat jy jou skryfdroom verwesenlik. Maar ek weet alte goed dat skrywers ook rus en kreatiewe voeding nodig het; jy kan nie skeppend werk wanneer jy uitgeput en uitgebrand is nie.


Creative burnout is real. And unlike regular burnout, we can’t just “push through” and suck it up. Creative work draws from a different well, and when that's dry … well, no wonder you're having a hard time writing. (Nancy Stohlman)

Ly jy aan kreatiewe uitbranding?


Skrywer Nancy Stohlman het 'n handige vraelys ontwikkel vir skrywers wat kapoet voel.

  • Het jy pas 'n groot kreatiewe projek of 'n manuskrip voltooi?

  • Het jy onlangs 'n groot verandering of trauma in jou lewe beleef?

  • Sit jy ure met navorsing en leeswerk in plaas daarvan om te skryf?

  • Geniet jy dit nog om te lees, of sukkel jy om iets te kry wat jou opgewonde maak? Voel lees na werk?

  • Werk jou skryfroetine of sukkel jy om bv. soos gewoonlik vroegoggend / laataand te skryf?

  • Het jy meer suiker of koffie nodig om jou 'n hupstoot te gee?

  • Is jy nog aktief of het jy ophou stap / draf / fietsry / joga doen?

  • Het jy die begeerte om te onttrek van sosiale media en te isoleer?

  • Het jou eet- of slaapgewoontes verander? (Eet jy meer as gewoonlik, slaap jy later soggens of sukkel jy om te slaap?)

  • Is jy gedurig moeg?

  • Voel dit asof alles wat jy skryf dieselfde is en jy vashaak by 'n tema?

  • Het jy meer eksterne motivering (soos sperdatums of skryfuitdagings) nodig om te skryf?

  • Voel jy meer jaloers as gewoonlik oor ander skrywers se sukses en nuwe boeke? ('n Tikkie jaloesie is heel normaal.)

  • Is jy meer fyngevoelig en verdedigend oor jou eie skryfwerk?

  • Verveel jou storie en kreatiewe projekte jou?

Ek het vyf maande gelede emigreer, ek probeer my voete vind in 'n nuwe kultuur, ek het 'n nuwe webwerf gebou en werk aan groot projekte, ek stap minder (omdat dit pas begin sneeu het hier in die Noorde), eet meer (want koue beteken mos ryk bredies en gebakte poeding, of hoe?) en slaap sleg. Ek weet ek het nodig om my kreatiewe batterye te herlaai.


Jy het waarskynlik ook “ja” op baie van die vrae geantwoord. Spanning, sperdatums, lang werksdae, min verlof, trauma, groot lewensveranderinge kan alles bydra tot jou kreatiewe uitbranding.


Because the body knows when it's depleted. And it's nearly impossible to find (or sustain) your brilliance when your instrument is not functioning optimally. (Nancy Stohlman)

So, wat nou? Wat maak jy wanneer jy kreatief kapoet is?


“Kreatiewe uitbranding” klink na 'n vreeslike groot ding, 'n slegte tyding, maar dit beteken bloot jou lyf het rus nodig. En daarmee is niks fout nie. Rus is net so belangrik as produktiwiteit. Dit is dag en nag. Jin en Jang. Rus en herstel is deel van jou kreatiewe siklus.


Jy hoef nie ingrypende veranderinge te maak nie; elke klein verstellinkie help. Klein verstellinkies bemagtig jou en het 'n groter impak as wat jy besef. Begin by jou basiese behoeftes: slaap, eet, beweeg. Dit is die fondament waarop jy bou.


Hier is 'n paar klein veranderinge wat jy kan probeer:

  • Gaan slaap 'n halfuur vroeër.

  • Sit 'n halfuur voor slaaptyd jou foon weg en luister eerder na musiek.

  • Geniet 'n middagslapie.

  • Kyk na wat en wanneer jy eet; probeer gereeld eet.

  • Drink meer water.

  • Eet 'n vrug of neute wanneer jy na sjokolade of tjips gryp.

  • Probeer 'n klein bietjie minder suiker gebruik – al beteken dit een teelepel minder in jou koffie.

  • Vervang een van jou koppies koffie per dag met rooibostee.

  • Gaan stap om die huis voordat jy begin skryf.

  • Stop verder van die winkel / skool / werk af sodat jy 'n paar ekstra treë inkry.

  • Dans (een liedjie met die gordyne toegetrek – niemand hoef te sien nie).


Om te skryf of nie te skryf nie


Wanneer jy kreatief kapoet is, is dit heeltemal in orde om nie te skryf nie. (Ingeval jy skuldig voel, skryf elke oggend drie goed neer waarvoor jy dankbaar is. Jy kan jouself daarmee troos dat jy wel iets geskryf het.) Haal die druk van jouself af om te presteer en elke dag te skryf.


Dieselfde geld vir lees. Moenie lees indien dit soos werk voel nie. Speel 'n bordspeletjie saam met die kinders. Kyk 'n fliek. Wat van jou gunsteling kinderboeke? Of luister (let wel) na 'n boek wat heeltemal buite jou gewone keuse van genre val. Tydens een van my kreatiewe rustye het ek twee boeke op Audible ontdek: Carrots van Colleen Helme en Magical Midlife Madness van K.F. Breene. Albei dié boeke, en die opvolgende boeke in die reeks, het my ontvlugting geraak wanneer ek kreatief kapoet is – juis omdat dit my nie herinner aan enigiets in Afrikaans, my eie werk as manuskripontwikkelaar of my eie stories nie.


Skrywers vergeet dinkwels: Wanneer jy skeppend is, het jy rus en kreatiewe voeding nodig. Dit is niks om oor skuldig of skaam te voel nie. Rus. Herstel. Herlaai jou batterye. Dan begin jy daarna weer met hernude energie en inspirasie skryf en skep.





Recent Posts

See All
bottom of page