top of page

Wie is Madri?

Manuskripontwikkelaar en skryfkonsultant

Onthou jy hoe Sarel Seemonster altyd gesê het: "Stories is my leeewe?" Ek het as kind al presies geweet hoe hy voel. Boeke is betowerend. As ek towerkragte gehad het, sou my spesiale magte binne stories en die skep daarvan lê. My lewe draai om boeke, die skep van stories en die boekbedryf. 

 

In 'n neutedop strek my loopbaan in die boekbedryf só: Ek het Afrikaanse letterkunde studeer en my M.A. graad daarin ontvang. Ek het skoolgehou, tutoriale op universiteit aangebied, by LitNet gewerk, artikels vir huistydskrifte geskryf, my eie kortverhale geskryf (en hier en daar gepubliseer) en uiteindelik in 2007 'n pos as Junior Redakteur by NB-Uitgewers gekry. My droomwerk.

 

As redakteur het ek gesien watter foute onervare skrywers maak. Buiten enkele skryfkursusse was daar toe min hulp vir skrywers. Dus het ek 2010 begin om vryskut manuskripontwikkeling te doen. Ek het die voorreg gehad om aan Juliana Coetzer se Bloedvreemd, Anemari Jansen se Glipstroom en Nadia de Kock se roman, Die wolkversamelaars, te werk. Tussendeur was ek koördineerder van die Toyota US Woordfees se Skrywersfees waar ek die jaarlikse kortverhaalkompetisie en -bundel van stapel gestuur het. Ek het skryfkursusse ontwikkel en aangebied, resensies en artikels geskryf, boekgesprekke gelei en na tien jaar van vryskutwerk uiteindelik weer 'n pos as redakteur by Lapa aanvaar. 

 

Lapa het deel van Penguin Random House geword. En ná meer as vyftien jaar in die boekbedryf was ek uiteindelik bo: Besturende Redakteur van Fiksie by 'n internasionale uitgewershuis. Ek was ook uitgebrand. So erg dat ek nie wou lees nie – terwyl boeke voorheen altyd my ontvlugting en troos was.

 

Uit my laagtepunt het ek egter geleer om my eie kreatiwiteit te voed. Ek het gemeenskap en ondersteuning nodig. Hoe meer ek met skrywersvriende gesels het, hoe meer het hulle dieselfde behoeftes uitgespreek. En dit is waar Ink in my pen gebore is.

 

Met Ink in my pen wil ek vir skrywers 'n ruimte skep waar jy jou kreatiewe self kan voed. 'n Ruimte waarbinne jy kan leer en ontwikkel, en terugvoer op jou werk kry. Ek wil jou hier ook op ander maniere ondersteun sodat jy kan fokus op selfsorg, jou interne dialoog en geestesgesondheid. Dit is alles nodig en deel van die skryfproses. 

 

Dink aan Ink in my pen as jou huis. Skop jou skoene uit, gesels met jou mense. Hier word jy vertroetel, aangemoedig, aangepraat, getroos en geprys. Want as jy hier lees, is jy 'n boekemens, soos ek. Stories is jou lewe.

​

Madri Victor
bottom of page