top of page

Van uitstel kom afstel: hoe 15 minute jou lewe kan verander

Dit is November en ek was gek genoeg om National Novel Writing Month (NaNoWriMo) se uitdaging te aanvaar om 50 000 woorde in een maand te skryf. Ek sukkel. Ek is elfduisend woorde agter my mikpunt vir vandag. Hierdie uitdaging is egter vir my meer as bloot 'n woordtelling. Dit is my oproep tot aksie.


November is 'n besige maand. Werk en skool, almal het funksies, prysuitdelings en afsluitings. Ons sosiale kalender bars uit sy nate. Almal jaag om die laaste projekte by die werk af te handel, en almal wil dinge gister gedoen hê. Dit is die moeilikste maand om te skryf.

Die probleem is: Elke maand het uitdagings wat dit moeilik maak om te skryf. In Desember hou almal vakansie en kuier saam met familie. Januarie skop werk en skool af met nuwe projekte, sperdatums, funksies en vergaderings. Februarie kom ons goed op dreef, maar kort voor lank is dit weer skoolvakansie. Tussendeur is daar 'n honderd en tien persoonlike krisisse wat ons energie tap. Baie min van ons het die luuksheid om tyd vir onsself te neem en in isolasie iewers te gaan sit en skryf – en selfs indien ons dit kan doen, is daar 'n klomp vrese en ons eie negatiewe praatjies waarteen ons moet veg. Ons kan altyd bly uitstel.


Van uitstel kom afstel. Dit is so 'n geykte sê-ding dat mens skaars aandag skenk daaraan. Afstel gebeur egter nie doelbewus nie. Ons besluit nie eendag om nooit weer te skryf nie. Nee, ons vertel onsself dat ons volgende week / maand sal skryf. Tyd tik verby en voor jy jou oë uitvee is nóg ‘n jaar verby waarin jy nie geskryf het nie. Dan staan jy eendag op en besef jy droom al vir twintig jaar daaroor om te skryf. Twintig jaar! Elke jaar wat jy nie skryf nie is 'n jaar verder weg van jou droom.


Procrastination is one of the most common and deadliest of diseases and it’s toll on success and happiness is heavy. (Wayne Gretzky)

Hoe beweeg jy verby uitstel?


Jy skryf. Jy skryf ten spyte van al die verskonings en die vrese. Alles goed en wel, jy het waarskynlik al begin skryf. Maar meestal duik jy na 'n week of twee in die hek. Omdat jy na die groot finale, die eindproduk mik. Jy wil die storie, die voltooide boek hê.


Vergeet van die perfekte storie, die publikasiedroom, die vrees vir mislukking. Vergeet van die eindproduk. Skryf slegs 15 minute elke dag. Twee paragrawe. Stel vir jouself 'n baie klein mikpunt vir elke dag. 15 minute.


15 minute is haalbaar, of hoe? Jy kan skryf terwyl jy vir die kinders by die skool wag, in jou middagete, voor jy gaan slaap. Daardie 15 minute is die bewys dat jy jou kreatiewe self na waarde ag. Dat jou storie en jou droom om te skryf vir jou belangrik is. Dit is jou oproep tot aksie.


Hoe graag wil jy skryf? Hoe sal jy daaroor voel indien jy sterf sonder dat jy iets geskryf het? As jy nie nou skryf nie, skryf jy dalk nooit nie.

Begin eenvoudig klein. Dit maak nie saak of die storie daar is nie. Dit sal kom. 15 minute elke dag sal jou selfvertroue ‘n hupstoot gee. 15 minute, een paragraaf, een bladsy – elkeen is 'n klein stappie vorentoe. Elke dag is jy verder as wat jy gister was. Die storie sal opdaag, die vloei sal kom. Jy sal dae kry wat jy baie langer skryf. En ander dae wat dit voel asof skryf die moeilikste ding op aarde is. Wanneer jy elke dag 15 minute skryf, respekteer jy jouself as skrywer.


NaNoWriMo is my poging om elke dag te skryf. Die sperdatum en mikpunt help, ja, maar ek staar my nie blind teen die eindproduk, die 50 000 woorde nie. Elke dag wat ek skryf – al is dit slegs 15 minute – is ek verder as wat ek die vorige dag was. Dit is 'n dag waarin ek wel geskryf het. Ek gaan nie meer vir twinting jaar droom daarvan om te skryf nie; ek skryf nou. Jy kan ook.


43 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page