top of page

Storietyd: Te veel van 'n goeie ding, Elana Brand


 Kevin steek sy hand uit en tik die vyf syfers in die klein interkomboksie aan die bestuurderkant. Die hekke maak stadig oop. Gesonke ligte verlig die massiewe huis soos die verhoog van 'n teater. Duur motors staan langs mekaar parkeer. Dankie tog vir Kevin se vrygewige gebaar om vanmiddag vir haar 'n rok te koop. Sy is gewoond daaraan dat Kevin altyd netjies aantrek terwyl sy haar eie vaal voorkoms toeskryf aan 'n gebrek aan finansies eerder as keuse.

“Om jou te sien soos jy vanaand lyk, gee my oneindig baie plesier.”

“Wel, solank jy net nie verwag dat ek altyd so optof nie.”

As haar wisselvallige agtergrond as weeskind haar enigiets geleer het, is dit klere maak nie die mens nie. Maar sy kan nie stry nie, om vanaand in hierdie deftige swart rok rond te paradeer, is lekkerder as wat sy gedink het.

Kevin is een van die lektore by die kollege waar sy aandklasse loop. In die verbystap het hulle mekaar se gesigte leer ken. Toe hy haar die eerste keer vir koffie vra, het sy ‘nee’ geantwoord. Met sy tweede probeer slag het hy aangedring op 'n rede.

“Want jy is 'n lektor hier.”

“Ek is nie jou lektor nie.”

“Okei, dan is my rede dat jy te oud is.”

Sy mond val oop in onoortuigende skok. “Daar is nie so groot verskil tussen ons nie.”

Sy lag. “Jy weet nie hoe oud ek is nie.”

“Twee en twintig.”

“Lucky guess?”

“Jy het so ruk terug jou studentekaart laat val. Ek het dit opgetel, maar toe ek jou soek het jy weggeraak in 'n bondel mense.”

Sy hét haar kaart verloor. Maar dit verduidelik nie hoe hy haar ouderdom weet nie.

Hy beantwoord haar vraag sonder dat sy hoef te vra. “Ek het toegang tot die studente databasis ... jou ouderdom is nie al wat ek van jou weet nie.”

Creepy.

Dit was ses maande gelede. Ses maande waarin hulle mekaar elke aand, behalwe Saterdae gesien het. Saterdae kom een of ander komitee waarby Kevin betrokke is, bymekaar. Niemand van die publiek mag dit bywoon sonder dat daar vooraf goedkeuring verkry is nie. Volgens hom is die groep baie eksklusief. Wat hy moes doen om haar vanaand hier te kry, weet sy nie. Maar hy het die moeite gedoen om vir haar 'n rok te koop. So hier is sy.

By die deur ontmoet die gasvrou hulle en stel haarself voor as Gloria. “Lekker om jou te ontmoet Veronica. Kom saam met my, die ander is reeds hier.”

Veronica kyk terug. Kevin bly staan en blaas vir haar 'n soen. Sy en Gloria stap 'n vertrek in waar tien ander vroue sit. Elkeen van hulle 'n brunette soos sy. Elkeen in 'n swart rok. Elkeen met perfek gemanikuurde hande en porselein velle. Winkelpoppe, dis waaraan hulle haar herinner.

Gloria stop 'n glas sjampanje in haar hand en sê sy moet sit.

“Vanaand het ek gedink ons moet praat oor hoe 'n groot rol vrouens speel in die atmosfeer van haar huis. 'n Huis waarheen 'n man graag sal wil kom.”

Sy kyk om haar rond. Al die vrouens hang aan Gloria se lippe.

“Dit is baie belangrik dat die kos klaar is teen die tyd dat jou man by die huis instap. En onthou, kos wat met liefde voor berei is, proe altyd lekkerder.”

Almal stem saam. Die vrouens begin praat oor hulle gunsteling resepte.

Gloria maak hulle stil. “Resepte is belangrik, maar dames, dit is net een deel van die groot prentjie.”

Weer is almal se aandag hare.

“Ek deel graag een van my eie geheime.” Haar stem is vermakerig. “Frank hou daarvan dat ek nagereg bedien voor hoofgereg.”

Dit neem 'n rukkie voor al die vrouens tussen die lyne lees.

“Geen man wil altyd seks op dieselfde manier, plek of tyd hê nie. Maak seker julle mans weet dis iets waaraan julle dink en waarmee julle moeite maak,” gaan sy voort.

Na vyf en veertig minute eindig Gloria af met die rol wat hulle voorkoms speel. “Ons is 'n verteenwoordiger van ons mans waar ook al ons gaan. Dit beteken geen sweetpakke nie, dames.”

Die stelling laat almal in onderdrukte histeriese laggies uitbars.

“Reg, die manne behoort seker nou ook klaar te wees met hulle besigheid. Beweeg vir my deur na die eetsaal.”

Veronica is so verlig toe sy vir Kevin sien. Hy skuif langs haar by die tafel in.

Sy fluister sag in sy oor. “Watse plek is dit?”

Hy kyk haar vraend aan.

“Die vrouens is almal koekoes.”

Kelners verskyn en 'n bord met die pienkste salm wat sy al ooit gesien het, word voor haar neergesit. Haar maag grom. Maar niemand eet nie.

Die gasheer, wat aan die hoof van die tafel sit, begin praat. “Welkom almal. Soos altyd is dit 'n voorreg om tyd met al julle wonderlike mense te kan spandeer. Ons is dalk nie bloedverwant nie, maar ek sien julle almal as my familie. Wat ons hier saam bou, is 'n heilsame lewe. Een wat ons terugneem na al die regte beginsels, een waarvan die fondasie sterk staan.”

Almal behalwe sy staan op en klap hande.

Frank kyk na haar. Vinnig staan sy ook op.

“Welkom, Veronica, ons hoop om jou in die toekoms weer te sien.”

Frank gaan sit eerste, dan sit die res.

Sy kyk na Kevin. Hy glimlag van oor tot oor.

“Hy aanvaar jou.”

Wat beteken dit?

Sy hou die paartjies dop. Sy hoop sy kry iewers 'n beter idee van wat hierdie groep behels, want Kevin help nie juis nie. Op die oog af is dit net gewone mense. Mense wat wel gelukkiger lyk as die tipe paartjies waarmee sy al te doen gehad het, moet sy erken. Dalk weet hulle iets wat die res nie weet nie?

“Van die goed waaroor Gloria vanaand met die vroue gepraat het, was 'n bietjie verregaande. Verwag jy dat jou vrou eendag ook so moet optree?” vra sy toe Kevin haar huis toe neem.

“Gehoorsaamheid en onderdanigheid is Bybelse beginsels.”

“Maar ons leef lank al nie meer in daai tye nie.”

“En dink jy nie dit is juis die grootste probleem in ons samelewing nie?”

Sy kan sien dit is iets waaroor Kevin sterk voel, sy laat vaar die onderwerp.

 

Die volgende Saterdag is daar weer 'n swart rok. Hierdie een kon sy nie self kies nie, maar dit pas perfek.

“Kevin, jy beplan tog nie om elke week vir my 'n nuwe rok te koop nie?”

“Net tot jy genoeg het om te kan afwissel.”

“Dit voel nie reg dat jy my klere koop nie.”

“'n Man moet vir sy vrou voorsien.”

“Maar ek is nie jou vrou nie.”

“Dit is waar, maar ek sal graag wil dink dat dit dalk êrens in die toekoms kan verander,” sê hy en soen haar hand liggies.

Sy sjarme maak dit moeilik om met hom te redeneer.

Sy sien nie trou as deel van haar toekomsplanne nie. Maar is dit werklik so 'n waansinnig vooruitsig?

By Gloria en Frank se huis word die mans en vrouens weer van mekaar geskei. Die onderwerp van die aand vir die vrouens is die belangrikheid van 'n netjiese huis.

“Hou 'n boekie sodat jy nie vergeet wanneer laas jy venster gewas het of al die kaste reggepak het nie. Dis die ekstra dingetjies wat ons doen wat vir ons mans wys ons respekteer hulle.”

“Wat as die mans dit nooit raak sien nie?” vra een van die vrouens duidelik uit haar beurt uit.

“Ons doen nie wat ons doen vir erkenning nie, Charmaine,” sê Gloria vies.

Voor Gloria hulle laat verdaag, lui haar selfoon.

“Ek sien.” Dit is al wat sy sê.

“Charmaine, jy word benodig in Frank se kantoor.”

Die ander vrouens trek gelyktydig hulle asems hoorbaar in. Charmaine is so bleek soos 'n spook. Dit kan nie goed wees nie.

Daar gaan ongeveer vyftien minute verby waarin die vrouens almal in stilte sit nadat Charmaine die vertrek verlaat het. Gloria se foon lui weer en nadat sy bloot geluister het, verdaag sy die vrouens eetsaal toe.

“Waar is Charmaine?” vra sy vir Kevin.

“Sjuut.”

Die ander mans trek hulle vrouens se stoele uit en skink vir hulle wyn.

Daar word soos die vorige keer geëet en gesels, maar die atmosfeer is anders. Veronica ken aangeplakte glimlagte. En die vrouens se glimlagte is almal vals.

“Wat het met Charmaine gebeur vanaand?” wil sy weet toe Kevin haar huis toe neem.

“Sy het oortree.”

“Oortree? Wat beteken dit.”

“Net dat sy oortree het.”

“Verduidelik wat dit beteken, dêmmit!”

“Dit sal nog nie vir jou sin maak nie. Los dit nou.”

Terug by haar eenslaapkamer woonstel maak sy verskoning toe Kevin wil inkom. Sy is moeg.


Daardie week word daar elke dag blomme afgelewer. Saterdagaand se swart rok is oorbodig luuks. Een met 'n ontwerpersetiket. Met skoene en 'n handsak. Toe sy eers die rok oor haar kop laat gly, is die onaangenaamheid van die vorige week vergete.

Veronica is haastig om Charmaine te sien. Sy hoop om 'n oomblik alleen te kry met haar.

Sy kyk die vertrek deur. Charmaine is nêrens te sien nie. Veronica vra die vrou langs haar of sy enigiets weet, maar dié staar net voor haar uit.

“Dames, vanaand raak ons seker een van die belangrikste onderwerpe aan.” Sy bly lank stil vir effek. “Kinders.”

Die vrouens juig haar toe.

“Hoeveel kinders is genoeg? Dis 'n vraag wat ek baie hoor.”

Belaglik.

“My antwoord is: soveel as wat die liewe Here jou mee seën.”

Die vrouens knik almal hul koppe instemmend. Niemand durf enigiets wat Gloria sê, teëgaan nie.

“Dis normaal om bekommerd te wees oor die geboorte, maar julle weet ek is 'n opgeleide vroedvrou. Julle het niks om voor bang te wees nie, ek is daar saam met julle, al die pad.”

Nee, dankie. Sy het al te veel stories gehoor oor huisgeboortes wat skeefloop.

“Kinders kan niks anders as 'n vreugde wees nie. My en Frank se twee is die rede vir ons bestaan.”

Wat? Sy sukkel om Gloria as 'n ma voor te stel.

“Enigiemand wat nie daardie verantwoordelikheid ernstig opneem nie, is ongelukkig nie belyn met ons nie en kan dus nie deel wees van wat ons bou nie.” Gloria praat nou baie gedetermineerd.

“Charmaine se optrede was oneerbiedig teenoor haar man en teenoor God.” Gloria haal diep asem en dan spoeg sy haar volgende sin uit. “Charmaine was op voorbehoeding!”

Die vrouens se hande vlieg almal na hul mond terwyl hulle met groot oë in ongeloof na mekaar kyk.

Arme Charmaine.

Na ete kondig Frank aan dat die mans almal saamgewerk het aan 'n verrassing. Die vrouens loer vir mekaar oor die tafel, maar dis duidelik geen van die mans het vir hulle vrouens enigiets van 'n verrassing gesê nie. Elf kelners kom ingestap met elk 'n bos langsteelrose in hul hande. Dit word aan elk van die vrouens oorhandig. Veronica gee vir Kevin 'n liefdevolle kyk.

“Kyk in die koevert.”

'n Koopbewys vir 'n gesigsbehandeling en massering by 'n luukse spa. Sy neem aan almal het dit gekry, want die waardering van die vrouens straal uit hul oë. Sy sit haar blomme neer en gryp Kevin om sy nek.

“Dis nie al nie,” fluister hy in haar oor.

Al die mans staan op en vergesel hul vrou na 'n onthaal area waar daar 'n orkes gereed is. Voor sy mooi weet wat aangaan, trek die orkes weg en swaai Kevin haar rond oor die vloer. Sy voel soos aspoestertjie. Die enigste verskil is dat sy  lank na middernag eers huis toe gaan.

 

In die weke wat volg, skok Gloria se onderwerpe Veronica al hoe minder. Haar empatie laat haar bande vorm met die vrouens. En sy vind haarself ook nou een van dié wat beaam wat Gloria voorskryf.

Uit die bloute vra Kevin haar om te trou. Die verlowingspartytjie vind plaas by Gloria en Frank se huis. Die sjampanje vloei 'n bietjie te veel.  Veronica se kop draai, maar sy gedra haar. Tot aan tafel. “Wie se dom idee was dit dat die vrouens slegs swart rokke op Saterdae aande mag dra?”

'n Oorverdowende stilte sak toe.

Kevin trek haar aan haar arm op. Hulle verlaat die eetkamer sonder om te groet.

“Wat gaan aan? Het ek iets verkeerd gedoen? Kevin?”

Weer is daar geen verduideliking nie.

 

Daardie week hoor sy nie 'n woord van Kevin nie. Sy is verbaas toe hy Saterdagaand by haar woonstel opdaag.

“Jy is nie reg om te ry nie,” groet hy kortaf.

“Want ek het heel week niks van jou gehoor nie. Hoe moes ek weet ons sou vanaand gaan?”

“Maak jou reg, asseblief. Ek wag in die kar.”

In die kar pleit sy dat hy net vir haar sê wat so erg was aan haar vraag.

“Dit grief my dat jy na al hierdie weke nie besef dat jy 'n kans het om deel te wees van iets groots nie.”

Hy sê dit sag en met soveel teleurstelling dat Veronica nie weet hoe om te reageer nie, en vir die res van die rit praat nie een van hulle nie.

By Frank en Gloria hanteer al die vrouens haar normaal. Sy ontspan. Gloria begin, soos oudergewoonte, die aand en dan lui haar foon.

“Ek sien.” Sy beëindig die oproep. Dan kyk sy vir Veronica. “Frank vra dat jy deurgaan na die kantoor toe.”

“Maar hoekom? Sê asseblief vir my wat gebeur in die kantoor?”

“Veronica, moet asseblief nie dat die mans wag nie.”

Twee mans vergesel haar na die kantoor.

Sy klop aan die deur. Kevin maak oop. Sy oë verklap niks van wat sy nodig het om haar gerus te stel nie.

Die vertrek ruik na sigaarrook en whisky. 'n Swaar hout lessenaar staan voor die venster. Frank leun daarteen met sy arms gevou. Die ander mans sit op Chesterfield banke waarvan die bruin leer 'n growwe tekstuur het. Hier en daar brand 'n dowwe lamp, maar sy het nie nodig om behoorlik te kan sien om te weet al die oë is op haar nie.

“Kom binne, Veronica. Dan sluit jy hier voor by my aan.” Frank se stem is neutraal.

Met elke tree voel dit of sy nader aan 'n afgrond beweeg.

“Ons het jou oortreding bespreek en saam op 'n straf besluit.”

Sy weet instinktief die onderwerp is nie oop vir bespreking nie.

“Ons het in ag geneem dat jy nog nie met al ons gebruike bekend is nie en dat jy nie opsetlik my posisie as leier van die beweging ondermyn het nie. Normaalweg sal die vrou se man haar straf toedien, maar omdat jy en Kevin nog net verloof is, val die verantwoordelikheid vanaand op my.”

Frank maak sy gordel los. Sy hoor die geluid van die leer teen die materiaal van sy broek gly totdat die gordel slap in sy hand hang. Hy beduie sy moet nader aan die lessenaar beweeg.

Is dit 'n grap? Niemand lag nie.

“Buk asseblief oor die lessenaar.”

Sy kyk oor haar skouer en haar oë soek Kevin. Hy staan net daar. Gaan hy dit net toelaat?

Weer hoor sy: “Buk oor die lessenaar, Veronica.”

Sy kan nie dink nie. Haar liggaam gehoorsaam.

“Lig jou rok asseblief op.”

Sy kom orent. “Hierdie is nie reg nie! Julle is almal siek!”

“Kevin.” Frank is nou minder in beheer van sy humeur.

Kevin stap nader. Forseer haar lyf plat teen die lessenaar.

Frank lig haar rok oor haar boude.

“Nee! Stop!” Maar sy is heeltemal uitgelewer.

Frank vou die belt dubbel, lig sy arm hoog bo sy kop en bring die leer met 'n harde knal op die sagte vleis neer.

Vir elk een van die vyf houe, skeur Veronica se gille deur die stilte. Toe die houe stop, is haar oë nat. Haar vel brand soos vuur. Sy trek haar rok af.

“Ons sal jou ‘n rukkie alleen gee met haar, Kevin, en dan sluit jy by ons aan in die eetsaal.”

Die manne volg Frank uit die vertrek.

Kevin neem Veronica se hand.

Sy ruk dit weg.

“Jy het vanaand onnodig moeilik gemaak vir jouself.”

Sy sal nie met hom praat nie.

“Vyf houe, dit is die minste wat nog ooit gegee is.”

Wie dink Frank is hy? Watse houvas het hy op hierdie mense?

“Die vrouens mag nie ná hulle gestraf is eetsaal toe kom nie.”

Sy kyk op. “Ek wil nie hier eet nie. Ek wil huis toe gaan.”

“Dis nie moontlik nie. Jy moet hier wag totdat ons klaar is.”

“En as ek weier?”

“Ek hoop regtig nie jy doen dit nie. Dit sal baie negatiewe gevolge hê vir ons toekoms.”

Watse toekoms? Dink hy sy sal ná vanaand nog by hom bly.

“Jy kan vir Frank sê hy, en wat hy ook al dink hy hier opbou, kan in sy moer vlieg. Ek het geen behoefte om deel daarvan te wees nie.”

“Ek wens jy sal heroorweeg.”

“Vergeet dit!”

Kevin maak die deur oop en praat sag met dieselfde twee mans van vroeër. Die laaste ding wat sy onthou, is een wat haar vashou terwyl die ander haar inspuit. Toe is dit donker.

 

Sy registreer die klopping in haar lae lyf. Sy knip stadig haar oë. Dis donker om haar.

“Hallo?” 'n Paniekerige stem. “Veronica? Dis Charmaine.”

“Charmaine?”

“Kruip in die rigting van my stem. Ek kan jou sien,” sê sy, haar stem hees.

Sy wil beweeg, maar haar hele lyf voel lam.

“Charmaine? Hoe lank is jy al hier?”

“Van die aand wat ek ingeroep is.”

“Is jy okei?”

“Nie regtig nie.”

“Wanneer gaan hulle jou uitlaat?”

“Ek dink nie ek gaan vrygelaat word nie.”

“Hoekom sal jy so iets sê?”

“Hier is 'n tou ...”

Charmaine sê niks verder nie en Veronica sluimer weer in.

Veronica kom by. Besef waar sy is.

“Charmaine!”

Niks.

Veronica se kop is nog te swaar om dit op te lig. Haar oë soek verwilderd rond.

Sy sien twee voete wat hang.

Dit raak weer donker.

Dit neem 'n rukkie voor sy die gesig wat voor haar op die bank sit, herken.

“Kevin!”

“Wakker word, slaapkous. Die ete is klaar.”

Veronica kyk om haar rond. Sy is op een van die banke in die kantoor. Sy het nie vroeër hier gelê nie, sy was op 'n koue vloer.

“Kevin, waar is Charmaine?”

“My skat, waarvan praat jy? Niemand weet waar Charmaine is nie, sy het nie eers die ordentlikheid gehad om vir haar arme man 'n briefie te los voor sy weg is nie.”

“Nee, Kevin, sy was hier. Sy het gesê sy word aangehou.”

“Aangehou?” Kevin gooi sy kop agteroor en lag uit sy maag uit. “Veronica, ons hou nie mense aan nie. Ons is nie monsters nie.”

Veronica skud haar kop. “Ek het haar hoor praat,” sê sy vir haarself. “Haar voete ...” Dit voel of sy nie kan asem kry nie.

“Jy is oorweldig. Die verloop van die aand was iets heeltemal nuut vir jou. Ek weet wat jou beter sal laat voel. Net more koop ek vir jou 'n nuwe halssnoer.”

Kevin help haar om van die bank af op te staan, haar kop nog dronk.

“Frank se visie is om ons lewens beter te maak, Veronica. Die respek wat hy, wat ons, verwag is sodat daar orde kan wees. Kan ek aanvaar dat ons na vanaand nie weer probleme met jou gaan hê nie?”

Die paniek en vrees in Charmaine se stem wil haar nie los nie.

Sy skud haar kop heen en weer.

“Mooi.”

Kevin hou haar 'n rukkie styf vas, sê dan in haar oor: “Niemand sal jou ooit liefhê soos ek nie. Saam gaan ons 'n wonderlike toekoms bou.”

 

 

186 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page