top of page

Storietyd: Die liefde bedek 'n menigte sondes, Elana Brand

Dinge was nie altyd so nie. Maar dit help nie om te huil oor wat nie verander kan word nie.



Die bloed pomp onder haar kopvel. Sy vuis klem om haar hare.

“Ek is jammer Etienne. Ek het regtig nie gedink dit sal jou so ontstel as ek by Bronwin gaan tee drink nie.”

“As jy my gevra het sou jy geweet het.” Sy warm asem blaas in vinnig intervalle teen haar wang. “Dit lyk my ek gaan die leisels moet vastrek hier by die huis.”

Juanita verslap haar lyf.  Haar gedagtes raak weg. Haar wil verdamp.

“Etienne, ek was skaars vir 'n halfuur weg van die huis af. Ek het my selfoon die hele tyd by my gehad.”

“Bronwin hou daarvan om haar neus in ander mense se sake te steek en jy weet hoe ek daaroor voel.”

“Maar, ons het net – ”

“Ek soek nie jou verskonings nie, Juanita, ek vra bloot net dat jy my wense respekteer!” Hy stamp haar weg.

As sy maar 'n afskrif kon kry van al hierdie wense waarna Etienne verwys. Maak nie saak hoe hard sy probeer om hom gelukkig te hou nie, sy kry dit net nie reg nie.

“Gaan kam jou hare, ek kan nie na jou kyk as jy so verslons lyk nie. En daai rok is uitgebleik, trek asseblief iets anders aan.”

“Enigiets spesifiek wat jy graag sal wil hê ek moet aantrek?” Hy sien haar samewerking, maar heimlik rol sy haar oë.

“Jy kan darem seker so iets vir jouself besluit.”

Etienne mompel iets oor haar onbevoegdheid.

Dinge was nie altyd so nie. Eens op 'n tyd was hy tog lief vir haar. Of het sy besitlikheid misgis vir liefde? Dit help nie om te huil oor wat nie verander kan word nie. Daar is nog klein areas wat haar eie is. Sy mag nog oefen. Etienne laai haar by die gimnasium af op pad werk toe en sy loop terug.

Vroeër die week het sy hom nie betyds gebel toe sy by die huis gekom het nie. Sy het haar amper boeglam geskrik toe Etienne voor die deurskynende glas van die stortdeur staan.

“Etienne . . . wat maak jy hier?” Haastig het sy uitgeklim en die handdoek om haar lyf gedraai.

“Ek bel jou al die laaste twintig minute!”

“My selfoon lê seker nog onder op die kombuistafel.”

“Bly stil! Jy weet jy moet my bel sodra jy terug is.”

Haar hart het so vinnig geklop. “Wees tog redelik, Etienne. Ek het hierdie een keer vergeet.”

  Hy het hardhandig aan haar nat pols gegryp. “Ek moes uit 'n vergadering stap om hierheen te jaag!”

“Maar ek sou jou bel sodra ek gesien het jy soek my.”

“Ek is nie veronderstel om jou te moet soek nie, Juanita. Ons reël is dat jy my bel sodra jy terug is van die gimnasium af.”

“En ek sal nie weer vergeet nie, ek belowe, Etienne. Los nou asseblief my arm, jy maak my seer.”

“Vir die res van hierdie week kan jy vergeet van oefen!”

“Maar dis vandag Maandag, jy weet hoe baie . . . ”

Al wat sy kon doen was om die dae af te tel en sonder teëstribbel haar vonnis uitvoer.

 

Maandagoggend skraap sy moed bymekaar. “Sal dit reg wees as jy my vanoggend aflaai by die gimnasium?”

“Ja.”

Sy trek soos blits aan. Etienne hou nie van wag nie.

Die leviete word haar duidelik voorgelees: “Oefening kan nie langer as 'n uur neem nie, plus die vyftien minute om terug te stap. Ek verwag om oor presies 'n uur en 'n kwart van jou te hoor.”

“Ek sal nie vergeet nie.”

Elkeen van haar spiere skree vir hard oefen. Sy wil nog steeds haar smoothie na die tyd geniet. Dit knip haar oefentyd kort. Sy kan daarmee saamleef.

Vyf en veertig minute later, met al die endorfiene wat in haar lyf dans, plaas sy haar bestelling die kafeteria. “Een Berry Blaster, asseblief.”

“Maak dit twee. En ek sal daarvoor betaal.”

Goeiste, waar het die man vandaan gekom?

“Dis . . . regtig nie nodig nie.”

“Dis nooit nodig om iets mooi vir iemand anders te doen nie, maar dis altyd lekker. Ek is Marchand.”

Sy kyk om haar rond. “Juanita.”

Die vrou wat die smoothie maak gooi die een na die ander bestanddeel stadig in die menger. Die geraas toe sy dit aanskakel breek die ongemaklike stilte. Juanita kan die eindproduk nie vinnig genoeg gryp nie. Sy stap na haar tafel by die venster. Marchand volg haar.

“Gee jy om as ek sit?”

Die hare op Juanita se nek rys. Voor sy antwoord neem Marchand sy plek in by haar tafel.

“Ek het jou nie verlede week hier gesien nie.”

“Ekskuus?”

“Jy oefen elke oggend dieselfde tyd en dan drink jy na die tyd 'n Berry Blaster.”

Haar stoel se staalpote skuif oor die houtvloer en versteur tydelike die harmoniese atmosfeer in die vertrek.

Marchand is net so vinnig op. “Ek is jammer ek het nie bedoel om jou ongemaklik te maak nie. Asseblief sit.”

Juanita kyk weer om haar. “Ek is getroud.”

“Ek ook.” Marchand lig sy linkerhand op en beweeg sy ringvinger heen en weer.

Juanita sit.

Sy kyk kort-kort op haar horlosie terwyl Marchand aanhou praat oor homself.

“Is jy haastig?”

“Eintlik, ja.”

“Jammer ek het nie bedoel om jou op te hou nie.”

“Dankie vir die smoothie.”

  Sy hardloop al die pad tot by die huis. Wag totdat haar asemhaling weer normaal is en bel vir Etienne.

 

Die volgende dag sien Juanita vir Marchand by die tafel waar hulle gesit het. Hy wink haar nader. Twee Berry Blasters voor hom.

“Sit.”

Sy het vanoggend gekyk of sy hom sien, maar daar was geen teken van hom nie. Sy kan ook nie onthou dat sy hom al enige ander oggend in die gimnasium gesien het nie. Marchand is netjies aangetrek, sy gesig nie rooi soos hare nie. Sy kuif hang perfek oor sy voorkop. Bewus van haar natgeswete lyf vra sy: “Sit jy al lank hier?”

“Glad nie.”

Juanita drink haar smoothie en Marchand praat weer sonder ophou.

In die weke wat volg raak dit hulle instelling. Skuldgevoelens dreig in haar agterkop, maar sy is elke keer betyds by die huis om Etienne te bel. Plus Etienne het nooit gesê sy mag nie met mense by die gimnasium praat nie.

 

Vrydagmiddag lui haar foon.

“Pop, trek jou mooiste rok aan. Vanaand verf ons die dorp rooi.”

Juanita sit die telefoon neer en opwinding vlam in haar binneste op. Etienne is in 'n goeie bui. Dankie tog, hy was die laaste ruk meer omgekrap as normaalweg. Die vooruitsig van 'n heerlike aand saam met hom maak dat sy hom al die lelike dinge vergewe wat hy die afgelope weke gesê en gedoen het. Toe Juanita in die motor klim, lê daar 'n boksie op die passasiersitplek.

“Dis vir jou.”

Juanita maak die boksie oop. Die diamantoorbelle daarin is groot en blink.

“Sit dit aan.”

Juanita haal die goue paar hoepeloorbelle uit haar ore uit en sit die nuwe oorbelle aan. Sy bekyk haar ore in die spieëltjie. “Dis die mooiste present wat ek nog ooit gekry het. Dankie, Etienne!”

Sy gryp hom om sy nek en druk hom styf.

Niks kan hierdie aand bederf nie.

By die restaurant bestel Etienne vonkelwyn. Hulle koer soos twee verliefdes. Totdat sy nie langer kan uitstel om badkamer toe te gaan nie. Sy kry haarself daar weg, maar nie voor haar lippe syne vind in 'n soet soen nie.

“Juanita!” Toe sy haar naam hoor, draai sy terug na Etienne. Maar dit is nie hy wat haar roep nie. Sy hoor haar naam weer, dit kom uit die rigting van die kroeg.

Dis Marchand.

O, vrek. Marchand staan op en loop in haar rigting. Sy voel Etienne se ferm greep om haar arm voor sy hom agter haar sien.

“Wie is dit?”

Marchand steek sy hand uit na Etienne. “Naandsê, ek is Marchand. Ek en Juanita ken mekaar van die gimnasium af.”

Etienne wend geen poging aan om Marchand se hand te neem nie, maar sy greep om haar arm is aansienlik fermer.

Hoekom het Marchand nie sy trouring aan nie?

Juanita se stem bewe. “Ek sou nie sê ons ken mekaar regtig nie. Ons is net soms dieselfde tyd daar.”

“Tog ken hierdie man jou naam, ek sou sê dan ken julle mekaar!”

Hulle gesprek trek die aandag van mense rondom hulle.

“Gaan wag in die kar!”

“Maar, Etienne, ek – ”

“Ek sê gaan wag in die kar!”

Etienne los Juanita se arm en die bloed kry weer kans om tot by haar hand te vloei.

Sy vlug na buite.

Minute voel soos ure. Wat gaan sy sê? Wat kan sy sê?

Die motordeur gaan oop. Etienne klim in.

Juanita steek haar hand uit en raak sag aan sy arm. Maar Etienne stamp haar hand aggressief weg. Dit tref haar bors. Sy snik na haar asem.

Etienne skakel die motor aan en trek weg dat die bande raas. Haar lyf ruk van links tot regs soos hy bane verwissel. In die truspieëltjie flits ligte.

Asseblief, in hemelsnaam, moenie dat dit Marchand wees nie.

Die motor agter hulle druk sy toeter en hou aan sy ligte flits.

“Dis nou seker jou lover!” spoeg Etienne na haar.

Hy ruk die stuurwiel en die motor ry van die pad af. Dan trap hy hard op die rem en die veiligheidsgordel sny in Juanita se lyf in. Haar nek ruk vorentoe. Dit slaan die kopstuk agter haar teen 'n spoed wat haar duiselig laat.

Etienne leun oor na haar kant toe en maak die kompartement voor haar bene oop.

Nee, nie dit nie!

Oorlewinginstinkte skop in. Hulle hande kompeteer haastig vir die swart voorwerp. Etienne skree, maar sy hoor nie ‘n woord nie. Haar hand wen en sy gryp die bekende vorm van die pistool. Haar hande beweeg outomaties, Bronwin se stem in haar kop. Bronwin, haar buurvrou wat vir die Suid-Afrikaanse Polisie diens werk. Wat haar eie afleidings gemaak het en nie nee vir 'n antwoord wou neem toe sy 'n soortgelyke pistool die eerste keer in Juanita se hande gedruk het nie.

Daar is nie tyd vir dink nie.

Sy trek die sneller.

Etienne se wilde oë bly op haar.

Wat het sy gedoen? Die pistool val swaar uit haar hand.

Etienne se lyf lê teen die deur, sy oë steeds oop.

“Etienne?”

Sy skud aan hom. “Etienne!”

Wat het sy gedoen?

“Nee!” Die klank is rou in haar keel. Haar hande skarrel na die veiligheidsgordel. Sukkel met die gespe. Die gordel skiet los. Juanita gooi haar lyf bo-oor die van Etienne.

“Etienne! Ek is jammer! Ek is jammer. Vergewe my, Etienne?”

Sy naam word 'n histeriese dreunsang in haar lyf.

Haar deur gaan oop en iemand probeer haar lyf wegskeur van Etienne s'n.

“Nee! Los my!” Sy slaan na Marchand se hande om haarself daarvan te bevry. Skop teen die paneelbord.

“Sjuut, sjuut, meisie.”

Uitputting kry die oorhand. Haar lyf gee op. Sy kyk op in Marchand se oë.

Hy trek haar teen hom, fluister trooswoorde teen haar hare.

“Van die eerste dag wat ek jou gevolg het, het ek geweet ons sal eendag op een of ander manier saam wees.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

210 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Kontak ons

Het jy vra oor die Ink in my pen-klub, behoefte aan afrigtingsessies by Elizma of stel jy belangstel in manuskripontwikkeling by Madri? Stuur vir ons 'n boodskap. 

Dankie vir jou boodskap; ons antwoord so gou moontlik.

bottom of page