'n Mens onderskat nooit 'n mollige meermin nie.
Dit is Marelize en Bernard se instelling om elke Oktober te begin werk aan hulle Desember-lywe. Wat Bernard nie weet nie is dat Marelize elke Januarie vir presies dieselfde rede ook 'n instelling met hulle huisdokter, dokter Smit, het.
“Marelize, vir jou gesondheid moet jy asseblief hierdie jaar 20kg verloor.”
Daardie plaat is nou al só oud.
“Ek belowe, Dokter. Ek het Weight Watchers vooruit betaal dié jaar. Hulle verseker my as ek by die program hou sal ek twee kilogram elke maand kan verloor. Dan is ek al teen einde Oktober op my teikengewig.”
“Ek onthou dat jy my iets soortgelyk vertel het verlede jaar.”
Soos dokter Smith aangaan sou mens dink sy wil nie gewig verloor nie.
“Hierdie jaar gaan anders wees. Dokter sal sien.”
Dit was die gesprek wat Marelize elf maande terug met dokter Smit gehad het. Sy weet nie wat verkeerd gegaan het nie, maar sy het intussen vyf kilogram opgetel. Daar moet iets fout wees met die Weight Watchers program. Sy het dit 50% van die tyd gevolg en het regtig beter resultate verwag. Sy pas darem nog in dieselfde klere, so Bernard behoort dit nie op te merk nie.
Bernard het by hulle plan gehou en het twee kilogram spiermassa vermeerder. Dit laat die spiere op sy skouers en arms net nog meer bult. Sy kan haar sterre dank dat hy van vrouens hou wat bietjie meer lyf het om aan te vat.
“My skat, het jy die Tabard ingepak?”
“Ek het dit vanoggend in die karavaan gesit.”
Marelize het wragtig van die Tabard vergeet. Sy het gelukkig nog tyd. Hulle ry eers more. As haar vaardigheid om goed te beplan net helfte so goed soos Bernard sin was, was haar gewig ook nie so 'n groot probleem nie. Hy beplan sy maaltye elke week en hou daarby. Sy dink net aan kos wanneer sy honger raak en dan is dit heeltemal te laat om van haarself te verwag om goeie besluite te neem. Dit herinner haar, haar skoonma het vroeër 'n blik soetkoekies kom aflaai. Na al die gepakkery verdien sy 'n blaaskans.
“Ek gaan tee maak, soek jy?”
“Nee, dankie. Ek wil by die gimnasium uitkom.”
Hy gee haar 'n vinnige soen op haar wang en sy bewonder sy sterk bobene wat span teen die materiaal van sy oefenbroek soos hy by die deur uit stap.
Sy gaan sit by die kombuistafel en maak die blik oop. Sy sal net sewe koekies eet. Sewe is haar gelukkige nommer.
Die volgende oggend vroeg hak hulle die karavaan en val in die pad. Marelize blaai deur die tydskrif wat sy saamgebring het, maar sy is te opgewonde om te konsentreer.
“Wat sal ons eerste doen as ons daar stop? Nadat ons afgepak het natuurlik.”
“Swem.” Bernard se hele gesig helder op soos die van 'n kind.
“Goed. En more?”
“Ek sal graag wil gaan visvang.”
Marelize sug in haar binneste. Bernard het nog nie een jaar 'n vis van sy eie gevang nie. Hulle braai vars vis, maar dis omdat daar ander, meer gesoute vissermanne by die hawe is wat hulle visse verkoop.
Na wat voel soos 'n ewigheid kan Marelize uiteindelik skree: “Ons is hier!”
Albei spring uit en dit lyk kompleet of iemand die fast forward knoppie druk. Binne twee ure is hulle klaar afgepak en stap hulle hand aan hand af see toe. Hulle gooi hulle handdoeke neer en Marelize trek haar rok uit. Bewus van Bernard se oë op haar kyk Marelize vir hom.
“Jy lyk mooi,” sê hy bewonderend. “Is die swembroek nuut?”
“Dit is, ja.” Dit het 'n fortuin gekos, maar die verkoopsdame het haar verseker dit laat haar maag platter vertoon.
Marelize hardloop 'n ent voor uit. Sy kyk geheimsinnig oor haar skouer. “Vang my.”
Dan hardloop sy en duik soos 'n mollige meermin die branders in. Bernard sit haar agterna en Marelize skatter van die lag as hy met haar opvang.
Met sy hande op haar heupe draai Bernard Marelize se lyf sodat sy vir hom kyk. “As ek sê, spring dan spring ons.”
Marelize knik.
“Spring!”
Saam spring hulle met hulle sye wat deur die branders sny. Weer en weer doen hulle dit totdat hulle maagspiere pyn van die lag. Uitasem loop hulle na waar hulle die handdoeke gelos het.
“Sal ons aandete by die stalletjies koop voor hulle toemaak?”
Hierdie keer is dit Marelize se gesig wat lyk soos dié van 'n kind. Sy droog net eers haar bene behoorlik af. Nat bene wat teen mekaar skuur het haar al teveel keer van 'n lelike uitslag verseker.
Terug by die karavaan sien hulle dat daar mense langs hulle begin opslaan het. Hulle loop oor om te hoor of hulle kan help voor dit donker raak.
“Hallo, my naam is Bernard.”
'n Heelwat jonger man steek sy hand uit. “Ek is Jacques, aangename kennis.”
Marelize steek haar hand uit. “Lekker om te ontmoet, Jacques, ek is Marelize.”
As Marelize Jacques se lyf so bekyk kan sy sien dat hy en Bernard sommer baie gaan hê om oor te praat.
Jacques druk sy kop by die karavaan in. “Bokkie, kom ontmoet ons bure.”
Die volgende oomblik klim daar 'n sprinkaanvroutjie by die karavaan uit.
“Hierdie is my vrou, Roelien.”
Vrou? Marelize het verwag dat Jacques gaan sê "dogter". Jacques bedank hulle vir die aanbod om te help, maar verseker hulle dat dit nie sal nodig wees nie.
Toe Marelize omdraai hoor sy Bernard weer praat. “Eet julle graag vis, Jacques?”
“Dis ons gunsteling vleis. Hoekom vra jy?”
“Ek gaan more bietjie visvang en ons sal nooit alleen als kan op eet nie. Kom braai saam.”
“Dit sal heerlik wees.”
“Nou maar goed, ons gaan julle nie verder uit die werk hou nie, ons sien uit om julle more bietjie beter te leer ken.”
Die volgende oggend help Marelize Bernard om sy rugsak te pak. Hoekom moes hy nou juis vir die mense gesê het hy gaan die vis vang? Sy ego is al klaar so broos.
Sy laat niks blyk nie. “Vang vir ons 'n lekker grootte,” knipoog sy vir hom.
Die ure sloer verby. Marelize het net mooi moed opgegee om vir die twintigste keer dieselfde bladsy te probeer lees toe Bernard daar opdaag. Sy weet die pakkie wat in koerant papier toegedraai is verklap slegte nuus.
Sy staan op en neem dit by hom. “Moenie bekommer nie, my man. Niemand hoef te weet jy het dit nie self gevang nie.”
Later daai middag kom Jacques en Roelien oorgestap.
“Weereens dankie vir die uitnodiging. Ek en Roelien kan nogal gou moeg raak vir mekaar se geselskap. Ons sien baie daarna uit om hopelik in die nabye toekoms met 'n gesin te kan begin.”
Marelize het nie nodig om na Bernard se gesig te kyk om te weet hoe Jacques se stelling hom affekteer nie. Na jare van probeer het sy aanvaar dat dit nie vir hulle beskore is nie, maar Bernard sukkel nog.
“Sit. Bernard sal vir julle ietsie ingooi om te drink. Ek wil net gou die deeg afknie vir die roosterkoeke.”
“O, ons eet nie brood nie.” Roelien druk 'n bak in Marelize se hande. “Ek het bykos gebring.”
Marelize kyk af na die bak in haar hand. Dis dan net seldery. Nietemin bedank sy haar.
Watter tipe mens bring seldery en noem dit 'n bykos?
“Seldery help om jou vinniger vol te laat voel, dan eet mens minder.” Dan voeg Roelien geniepsig by: “Dis 'n waardevolle wenk. Use it, don’t use it.”
Die volgende oggend kry Marelize vir Roelien voor hulle tent waar sy staan en strek soos iemand wat in die sirkus werk.
“Stap jy saam, Marelize?”
Roelien bedoel seker hulle gaan stalletjies toe stap. Sy stem in. Maar Roelien stap vinnig en ver en sonder padkos.
Na die eerste oggend het Marelize probeer verskonings uitdink hoekom sy nie weer kan stap nie. “Ek is té moeg. Stap jy vanoggend alleen.”
“Nonsens, as mens moeg is, is dit juis wanneer jy moet oefening doen.” Roelien dring eenvoudig aan daarop dat Marelize saam stap.
En so gaan dit elke oggend. Die stappery put Marelize so uit dat sy die res van die dag moet rus om krag op te bou vir die volgende oggend. Saans nooi Roelien haarself vir ete en daag nie een keer op sonder seldery nie. Asof dit nie genoeg is nie, gee Roelien al meer aandag aan Bernard.
“Bernard, ek dink Roelien lê aan by jou.”
“Wat laat jou so dink?”
“Die feit dat sy nou al oor die laaste paar dae meer aan jou arm gevat het as wat ek in ons hele huwelik het.”
“Ag, sy is net baie vriendelik.”
Marelize weet nie hoekom dit haar pla nie, sy is glad nie die jaloerse tipe nie, maar almal het hulle perke. Toe hulle een aand oor die brakwater in die badkamers gesels, weet sy Roelien gaan te ver.
“Voel net aan my hare, Bernard.” Roelien gryp Bernard se hand en vleg sy vingers deur haar hare. “Die water maak dit so droog.”
Al wat die geskokte Bernard uitkry is: “Regtig?”
Roelien leun oor na Bernard toe, vryf haar hand deur sy hare en sê spotterig: “Almal kan nou nie so gelukkig wees soos jy om net uit die stort te klim en te lyk asof jy in 'n tydskrif hoort nie.”
Dit is dit. Haar bewyse: Roelien is 'n flerrie.
“Dis net haar aard, Liefie,” paai Bernard toe hulle gaste weg is.
“Ek gaan daai klein gewriggie van haar afbreek as sy nog eenkeer haar hand deur jou hare vryf.”
“Ontspan, Skat, jy werk jou op oor niks.”
Maar Marelize is vasbeslote. 'n Mens onderskat nooit 'n mollige meermin nie.
Van toe af flankeer Marelize net so hard met Bernard. Sy begin die een stuk seldery na die ander suggestief in haar mond druk. Dan hap en eet sy daai seldery dat die sap spat. Terwyl arme Roelien net ongemaklik op haar sitplek rondskuif en wegkyk.
Wat Marelize die meeste verbaas is Bernard se reaksie op haar aandag. Haar plan het gevolge waarop sy glad nie gereken het nie. Baie positiewe gevolge. Die soort wat hulle baie meer tyd in die karavaan laat spandeer. Selfs die stappery word voordelig, want die oomblik wat sy kla oor haar moeë lyf wil Bernard weet: “Kan ek my hulp aanbied om daai spiere so bietjie te masseer?”
Wie is sy om so 'n aanbod van die hand te wys? Al weet sy al te goed wat sy motiewe is.
Toe Marelize in Januarie by dokter Smit opdaag, is die skok duidelik sigbaar op die man se gesig.
“Marelize! My aarde, Meisiekind, jy kwyn weg. Was dit die Weight Watchers?”
“Eintlik nie, ek het 10kg oor die vakansie verloor.”
“Dis baie ongehoord om so vinnig gewig te verloor. Ek gaan net vir ingeval 'n paar bloedtoetse doen. Iets is dalk fout met jou skildklier.”
Gewoonlik ontstel dokter Smit haar omdat sy oorgewig is, nou het hy haar ontstel omdat sy maer is. Sy weet nie hoekom nie, maar sy is sommer lus en huil.
“Hoe bedoel jy die dokter dink jy is siek?” vra Bernard toe sy hom vertel toe hy van die werk afkom.
“Hy sê dis iets om oor bekommerd te wees dat ek so vinnig gewig verloor.”
“Het jy hom vertel hoe baie kalorieë ons deesdae tussen die lakens verbrand?” vra Bernard stout.
Marelize bloos. “Ons sekslewe is nou nie iets wat ek graag met ons bejaarde huisdokter wil bespreek nie.”
“Jammer, al wat ek in daai sin gehoor het was seks. Waaroor het ons nou weer gepraat?”
Marelize raak aan die lag. “Jy is 'n lawwe man.”
“En jy is my seksgodin.”
“Bernard! Wees ernstig. Ek is regtig bekommerd.”
“Ek verstaan, my skat, maar dit help nie ons laat ons gedagtes nou met ons weghol nie. Wanneer het die dokter gesê sal hy die resultate kry?”
“Seker eers more.”
“Nou kom ek vat die dag af en dan spandeer ons dit saam sodat ek by jou is wanneer die dokter bel.”
Die kelner het net hulle ontbyt bestelling geneem toe Marelize se selfoon lui. Bernard gee haar hand 'n stywe druk.
“Hallo, Dokter.” Marelize luister aandag. “Ek verstaan, Dokter. Ek sal die afspraak more maak.” Sy lui af.
“Wat sê die man?”
“Dis 'n gewigtige saak, Bernard.”
“Wat is dit?” Bernard is sigbaar bekommerd.
“Ons gaan dalk nie volgende jaar kan gaan kamp nie.”
Bernard verbleek.
Marelize kan die lag nie meer keer nie. “Jy beter daai kelner terugroep sodat ons 'n ekstra porsie kan bestel. Blykbaar eet ek tans vir twee.”
Comments