top of page

Storietyd: Die huis, Elana Brand

Dit voel soos 'n ewigheid om by die voordeur uit te kom. Sy loop die donker binne. Sy was nog nooit hier nie. Sy ken nie die huis nie, maar sy kan nie vir Johan hier los nie.


As die nag op sy donkerste is, is die dagbreek naby. Of so sê hulle. Die laaste agtien maande was donker. Van die oomblik wat hulle woord gekry het dat Johan se vark van 'n pa dood is, was dit nog net die een uitdaging op die ander. Die man het die mees verregaande vereistes in sy testament gestel, om nie eers te praat van die reëlings rondom sy begrafnis nie. Alles was in die fynste besonderhede uiteengesit.

Die laaste skok, meer vir Johan as vir haarself, was dat sy pa slegs die een eiendom aan hom agter gelaat het. Niks van sy pa se besigheidbelange of ander bates het na Johan toe gekom nie. Koos het natuurlik die hele ding so saam met sy prokureur beplan sodat Johan behoorlik soos die swart skaap moes lyk. As enigiemand skuldig moes voel oor die gebrek aan 'n gesonde verhouding wat daar tussen hulle was, was dit Koos.

Ieder geval, hier is hulle nou. Oor een of twee dae op die meeste sal hulle vry wees van al Koos se skelmstreke. Dis al waaraan sy haarself troos terwyl Johan die ysterhekke oopsluit wat na die eiendom lei wat nou syne is.

“Ons hoef nie daar te bly nie. Ons sal dit in die mark sit sodra ons die nodige verbeteringe aangebring het.”

Karin weet nie of hy dit geglo het die eerste keer wat hy dit vir haar gesê het nie, maar met tyd het hy beslis die boodskap gekry dat sy nie 'n enkele ding in haar lewe soek wat haar aan Koos sal laat dink nie. Sy wil nie eers die geld hê wat hulle vir die huis gaan kry nie, maar daarvan wil Johan niks weet nie. Hy voel dat hulle dit kan wegsit vir iets in die toekoms of ten minste vir een of ander goeie doel aanwend.

“Ek weet jy voel jy respekteer jou pa deur eers self hierheen te kom voor ons die huis in die mark sit, maar ek dink dis onnodig. Waarmee hy ook al besig was deur die jare of in watter toestand hy die plek gelos het, ek dink nie dit moet jou onder enige verpligting plaas om sy skelmstreke te kom verberg nie.”

“Ek kom verberg niks nie, Karin.”

Hy kan sê wat hy wil, sy het nog altyd vermoed Koos is met onderduimse dinge besig.

Hulle sou al vanmiddag hier gewees het, maar toe duik daar 'n vergadering by Johan se werk op en kon hulle eers heelwat later as beplan ry. Dit gaan nou onvermydelik wees om vanaand hier oor te bly, maar sy wou dit ook nie 'n dag langer uitstel nie.

Sy maak haar deur oop en klim uit. Die koue wind slaan haar bloes teen haar lyf vas. Sy loop na waar Johan gebuk oor die slot staan. “Wat vat so lank? Is dit ooit die regte sleutel?”

“Die sleutel is gemerk: hek. Dit moet die regte een wees.”

Sy vou haar arms styf om haar skouers, maar dit help nie teen die koue nie. Dit sal haar nie verbaas as Koos die sleutels nog aspris verkeerd gemerk het nie. “Probeer asseblief van die ander sleutels ook.”

Johan skyn die liggie van sy selfoon oor die bos sleutels voor hom. “Geen van die ander sleutels lyk of hulle sal pas nie. Dit moet hierdie een wees.”

Hy wroeg voort.

“Wel, ek wag in die motor.” As hierdie sleutel nie werk nie, sien die plek haar nooit weer nie.

Selfs met die motor ligte aan, kan sy niks in die donker sien nie behalwe Johan en die twee hekke wat in die middel bymekaarkom. Uiteindelik gaan die een groot hek oop. Sy sien hoe hy die ander hek ook in 'n halfsirkel oopmaak. Dan hardloop hy haastig in haar rigting.

Die motordeur gaan oop en sy voel hoe die yskoue lug die motor vul. “Ek het die hek oopgekry, die sleutel was net lanklaas gebruik.”

Hy skakel die motor aan en begin die donker in ry. Al wat sigbaar is, is die meter of twee voor hulle, danksy die motor se ligte.

“Wanneer laas was jy hier?”

“Jare terug. Pa het my en Stefan laat kom om dokumente te teken.”

Karin sien hoe Johan alweer in die denk proses verval waar hy verantwoordelikheid neem vir iets wat nie sy skuld is nie. “Jou verhouding met jou pa was niks anders as wat hy wou gehad het dit moes wees nie. Hy wou die shots call en jy moes in lyn val. Selfs na sy dood is dit nog steeds die geval.”

Of dit was ten minste hoe dit gewerk het totdat sy in die prentjie gekom het. Toe Johan haar vra om te trou, wou sy pa haar vanselfsprekend ontmoet. Sy het hom met gasvryheid en hartlikheid ontvang, ten spyte daarvan dat hy nie twee woorde met haar gepraat het nie. Heeltyd na Johan gekyk en dan gesê wat hy wou.

“Dit is 'n mooi huis, Johan.” Wetend dat sy 'n binnehuisversierder is en die huis mooi is as gevolg van haar insette.

“Dankie, Pa.”

“Wanneer eet ons?”

“Karin maak net gou die slaai klaar, Pa.”

Gelukkig het Johan haar gedeeltelik voorberei op sy pa se botheid, so sy het probeer om haarself nie daaraan te steur nie: sy sou hom uiteindelik kry om van haar te hou.

Toe die naweek tot 'n einde kom het Koos gevra om alleen met Johan te praat. Al het sy geweet sy moes nie, het sy by die deur van die studeer kamer staan en luister.

“Johan, hierdie is nie die vrou vir jou nie.”

Sy het haarself koud geskrik. Van alles wat sy verwag het om te hoor was dit nou wragtig nie dít nie.

“Pa, jy kan nie na net een naweek so 'n stelling maak nie.”

“Ek het genoeg gesien. As jy aandring om met hierdie vrou te trou, sal ek sorg dat daar verstellings gemaak word aan my testament. Verstellings wat jou daar uitsluit.”

“Pa, jy blaas hierdie ding nou heeltemal buite proporsie.”

“Dis my besluit, Johan, en ek gaan daarby hou.”

Karin het so stil as moontlik in die gang afgehardloop terug kombuis toe waar sy haarself besig gehou het met die ketel. Wat na dit gesê is weet sy nie, maar die ou man is daar weg en sy het hom nie weer met 'n oog gesien nie. Hulle is reeds vyf jaar getroud. Alles in sy pa se boedel het dus aan die ander broer, Stefan, gegaan. Die seun wat wel elke bevel van sy pa gehoorsaam het. Sy hoop hy is gelukkig, want sy is seker hy moes oor die jare sy siel verkoop om dit reg te kon kry. Hulle ry met die lang oprit na die huis. Toe die huis in sig kom kan sy sien daar trek rook uit by die skoorsteen.

Sy kyk na Johan. “Is iemand hier?”

“Daar is nie van onderstel om te wees nie.”

“Johan, ek weet daar is nie veel wat ons sal kan doen in die donker nie, maar asseblief, kan ons sodra dit lig raak die lys maak van alles wat gedoen moet word en dan huis toe gaan? Ek wil nie langer hier bly as wat nodig is nie. Iets omtrent hierdie plek voel nie reg nie.”

“Ek wil ook nie hier wees nie, Karin.”

Hy is geïrriteerd met haar. Sy kyk na hom. Sy is lus om te vra hoekom hulle dan nie omdraai en huis toe gaan nie, maar besluit daarteen.

Hy skakel die motor af, maar los die ligte aan. “Ek gaan kyk of ek van die buite ligte kan aanskakel voor jy uitklim.”

“Jy los my nie hier nie. Ek sal saamkom.” Haastig maak sy haar deur oop en klim uit.

“Ek dink daar is 'n flits in die voorste kompartement. Kry dit, asseblief?”

Karin maak die kompartement oop en sien die flits langs 'n klomp papiere lê. Sy neem dit en klim uit. Die geluid wat die gruis onder haar skoene maak en die suising van die wind laat al die hare op haar voorarm opstaan. Sy skyn die lig voor hulle voete en hulle loop na die voordeur. Twee groot houtdeure verwelkom hulle. Sy kyk om haar rond. Hou iemand hulle dop? In die donker is dit onmoontlik om enigiets te sien. Sy kan vaagweg sien hoe die bome in die wind waai, maar andersins niks nie.

“Hou die flits hier sodat ek kan sien watter sleutel die deur oopmaak.”

Dis 'n ander bos sleutels sien sy, hierdie een is nie gemerk nie.

“Ek dink dis dalk hierdie een.” Hy steek die sleutel in die deur en draai dit, sit sy hand op die lang brons handvatsel en druk dit af onder toe.

Niks gebeur nie. Hy skop die deur met sy voet. Dit gaan met 'n ruk oop. Onmiddellik hoor hulle 'n deur wat êrens in die huis toeklap.

Sy kyk na hom.

“Dis net die wind, Karin.”

Sy weet nie, maar sy is nie oortuig hy is so gemaklik soos wat hy wil voorgee nie. Hy vat die flits by haar en loop voor.

“Soek die ligte.”

Sy kyk rond vir iets om voor die deur te plaas sodat sy dit nie agter hulle hoef toe te maak nie. Die motor se ligte is vir haar 'n versekering dat sy darem weet waarheen om te hardloop as hier nou iets verkeerd gaan. Sy gryp die hout kapstok en skuif dit met moeite tot voor die deur. Dit is oud, maar solied genoeg om die deur oop te hou.

“Ek het die ligte.”

Die verligting spoel deur haar toe die lig in die voorportaal skyn. Dis van korte duur, want binne sekondes is dit weer donker.

“Wat het gebeur?”

“Seker maar foutiewe bedrading.”

Foutiewe bedrading se moer. Dis die ou man wat dinge tot na sy dood vir hulle kom omkrap.

“Wat nou?”

“Die kragboks is in die motorhuis. Kom ek kyk of ek die krag weer kan aankry.”

Sy is kort op sy hakke toe hy weer by die voordeur uitloop.

Die motorhuis is apart van die huis. Johan stap na die sydeur toe. Na links is daar 'n beweging tussen die bome.

“Wat was dit?”

“Dis seker een of ander wilde dier.”

Johan kyk af na die bos sleutels. “Dêmmit.”

“Wat?”

“Die sleutel vir die garage is weer op die ander bos. Bly hier dan gaan haal ek dit.”

“Jy is seker laf.”

Sy gee vir hom die flits en voor hy kan protesteer hardloop sy na die motor. Sy maak die bestuurderdeur oop en kry die bos sleutels.

Wanneer Karin opkyk, sien sy dit raak. Iets op die kapstok voor die deur hang. Dis snaaks, sy kan nie onthou dat die kapstok vroeër enigiets op gehad het nie. Wat meer is, die kledingstuk lyk bekend. Is dit haar baadjie? Vrees maak 'n kol in haar maag. Sy kyk vinnig na die agtersitplekke, maar haar baadjie is nie meer daar nie.

Sy spring by die motordeur uit en begin hardloop sonder om dit toe te maak. “Johan!”

Hy antwoord nie. Sy kan ook nie die lig van sy flits sien nie.

Karin staan in die donker. Haar hart klop vinnig, haar asemhaling kom onreëlmatig. Terug kar toe is die veiligste, sy kan daar wag vir Johan. Maar wat as iemand reeds in die motor is? Nee. Dit kan nie wees nie, sy het mos al gekyk. Sy hardloop terug motor toe leun oor die sitplek na waar haar handsak op die vloer aan die passasiers kant lê. Sy krap en vind haar selfoon.

Geen opvangs nie.

Haar hande bewe wanneer sy die flits op die foon aansit. Sy kyk kort-kort na die deur waar die kapstok staan. Dan hardloop sy na die motorhuis toe. Die deur is oop, maar hoe? Sy het die sleutels nog by haar? Sy hou haar selfoon sodat sy kan sien wat binne aangaan.

“Johan” fluister sy sag. “Is jy daar?”

Niks.

Sy draai in die rondte en kyk terug na die huis. Hoekom kan sy nie die motor se ligte sien nie? Paniek oorrompel haar. Sy is nie veilig hier waar sy staan nie. Maar waarheen moet sy gaan?

Karin hardloop weer terug na die huis. Sy hou die selfoon hoog in die lig om so ver moontlik voor haar te kan sien, maar haar voet haak vas en sy struikel vorentoe. Haar knie tref iets skerp teen die grond. Die selfoon val en skuif weg van haar.

Sy gryp eerste na haar regterknie, die een wat nou klop van die pyn. Druk haarself regop en probeer kruip tot waar die selfoon lê sonder om teveel gewig op die regterknie te sit. Wanneer sy die foon optel en lig om te sien waaroor sy geval het, sien sy 'n skoen. 'n Bruin, leerskoen soos wat Johan aangehad het.

Sy skyn die lig in allerhande rigtings, maar sy sien hom nêrens. Net die een skoen.

“Johan!”

Net die stilte van die nag antwoord.

Sy sukkel regop en hinkepink voordeur toe. Gelukkig het sy darem nog die lig van die foon.

Dit voel soos 'n ewigheid om by die voordeur uit te kom. Sy loop die donker binne. Sy was nog nooit hier nie. Sy ken nie die huis nie, maar sy kan nie vir Johan hier los nie. Hulle moet hier wegkom.

Aan haar linkerkant spiraal trappe na bo. Sy stap dieper die huis in na wat soos 'n leefarea lyk. In die kaggel gloei die laaste kole nog rooi. Wie is nóg hier?

'n Harde geluid laat haar spring.

Die voordeur het toegewaai. Maar waar is die kapstok dan?

“Hallo! Is enigiemand hier?”

Sy waai haar foon wild in die vertrek rond en weet nie of sy verlig of teleurgesteld is toe niemand antwoord nie. Sy moet iets kry om haarself mee te verdedig. Haar oë gly die banke, die tafel met stoele, die mat. Al wat miskien kan werk, is 'n sambreel wat in 'n mandjie staan. Sy kan dit ook sommer as 'n kierie gebruik.

'n Bekende geluid breek deur die stilte. Hulle motor! Iemand het die motor aangeskakel. Johan. Dit moet hy wees. Sy strompel om die tafel, die sambreel vergete. Sy moet by die voordeur kom! Die wiele knars op die gruis.

“Johan! Johan, wag! Ek is binne!”

By die voordeur druk sy die handvatsel af. Sy onthou die deur wat moeilik oopgemaak het toe hulle hier gekom het. Sy sit haar selfoon neer en ruk en ruk aan die deur. Maar die deur beweeg nie. Is dit gesluit?

Karin buk af en tel weer die selfoon op. In dieselfde moment begin sy na die trappe hink. Sy moet bo uitkom. Sy trek haarself teen die reling op. Vinniger! Sy moet vinniger beweeg.

Waar is die vensters? Daar! Sy ruk die gordyn oop, sien die motor se agterliggies. Sy hamer teen die ruit. “Wag!”

Dit is kouer hier bo, haar knie hou nie van die koue nie. Iewers agter haar hoor sy 'n beweging.

“Wie is daar?”

Verbeel sy haar of is dit Johan? Daar is dit weer!

“Johan?”

'n Sagte kreun klink regs van haar op. Huiwerig beweeg sy nader. “Johan?”

“Karin.” Dis baie sag maar sy het haar naam gehoor.

Sy beweeg haar selfoon in die rigting van die stem. Die lig val op twee voete, een sonder 'n skoen.

“Johan!”

Sy buk langs hom op die vloer en is bewus van die ysterreuk voor sy die bloed deur haar broek voel. Johan lê in 'n poel bloed.

“Johan! Wat het gebeur?”

“Karin.”

Haar naam is byna onhoorbaar. Sy bring haar oor nader aan sy mond.

“Jy moet hier ... weg kom.”

“Nie sonder jou nie. Kom.”

Sy probeer hom optrek, maar hy beweeg nie. Praat ook nie weer nie.

“Kom nou!” Sy ruk hardhandig aan sy skouer. “Johan!”

Is hy dood? Het hy net bewussyn verloor? Sy gaan hom nie teen die trappe af kan dra nie.

“Johan!”

Sy mors tyd. Sy moet eers 'n manier uit kry. Sy tel die selfoon op en kyk rond vir iets waarmee sy die venster kan breek. Die lig val op 'n biljarttafel. Hier moet stokke wees. Sy strompel tot by die tafel en voel langs die rante. Haar vingers vat die bekende vorm vas. Sy kan haar geluk nie glo nie.

Karin hink tot by die venster, lig die stok op en slaan. Die eerste hou is nie hard genoeg nie, maar die tweede een laat die glas in skerwe spat. Sy hou aan om met die agterkant van die stok te stamp totdat daar 'n groot genoeg opening is vir haar om deur te leun.

In die verte is die motor se ligte klein en staties. Die motor moet seker voor die hek staan.

“Help! Help!”

Sy sien 'n donker figuur uit die motor klim.

“Wag! Help ons!”

Die persoon kyk op. Loop dan na die hek, sluit dit en klim dan weer in die motor.

“Nee! Wag! Help ons.” Moedeloosheid spoel oor haar.

Die agterliggies verdwyn in die nag. Asof dit nooit daar was nie. Die stilte lê versmorend oor die nag. Wat gaan sy doen? Karin draai stadig om. Sy moet hier uit. Sy moet hulp kry. Dalk is daar 'n agterdeur of kan sy onder nog 'n venster breek. Sy beur vorentoe tot by die trappe. Met die eerste tree af skiet die pyn in haar been op. Sy byt op haar tande en gee nog 'n tree. Met die derde tree sit sy net 'n bietjie teveel druk op haar regterbeen en die knie gee heeltemal mee onder haar. Sy gryp na die reëling, maar dis net buite haar bereik.

Karin tuimel die trappe af.

Sy voel 'n skerp lig op haar ooglede. Haar oë knipper oop en toe. Haar kop pyn. Sy knip weer haar oë, loer dan deur skrefies. Sy lê aan die onderpunt van die trap. Die ligte is aan. Die voordeur staan oop, die kapstok op presies die plek waar sy dit voor die deur geskuif het. Geen baadjie op die stok nie.

“Karin!”

Johan se stem is skerp. Sy kyk op, sien twee voete aangehardloop kom, albei met bruin leerskoene aan.

“Waar wás jy? Ek het geroep en geroep toe jy nie terugkom met die sleutels nie. Wat het met jou gebeur? Hoekom bloei jou been?” Hy buk langs haar.

“Johan?”

Hy help haar regop. “Wag, ek kry gou die noodhulpkissie in die motor.”

Sy gryp sy arm so hard dat hy in pyn uitroep.

“Wat gaan aan met jou?”

“Die huis, Johan. Die huis.”

Johan kyk om hom rond. Die lig baai alles in 'n goue gloed. By die kaggel staan twee groot Chesterfield banke presies haaks op 'n lieflike persiese mat. Die hout van die koffietafel gloei warm. Teen die mure word skildery smaakvol deur klein liggies belig.

“Ja, ek weet. Dit is nogal indrukwekkend noudat ek dit na al die jare weer sien.” Hy trek haar op. “Ek wonder of ons dit nie tog, maar moet hou en hier kom bly nie.”

Karin se oë gly oor die weelde voor haar. “Oor my dooie liggaam.”

53 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page