top of page

Storietyd: Plekkie by die see, Marinda Roos

Updated: May 5


Anika gluur die mansfiguur agterna terwyl hy wegstap.

“Wat soek daai mannetjie?” vra tannie Debbie terwyl sy die deur agter hom sluit. “Dit is die derde keer hierdie week wat hy jou lastig val.”

Haar mond is skielik droog. “Hy het ou wonde kom oopkrap.”

“Jy kan hom van teistering aankla. Jy ken die wet mos goed.”

Sy knik en neem die bakkie oorskietkos. “Dan groet ek solank. Ek wil die kos vir tannie Ralie gaan afgee. Haar been is nie lekker vandag nie.”

Sy stoot die koffiewinkel se deur oop. Die dreuning van die branders is nie vandag strelend vir haar gemoed nie. Vir drie jaar kruip sy op hierdie klein kusdorpie weg en vandag het die verlede haar weer kom opsoek. Het sy regtig gedink om hierheen te vlug sal die pynlike herinneringe agter laat? Die stukkies van haar lewe wat vir ’n ruk nie inmekaar wou pas nie, eis skielik haar aandag. Miskien het dit tyd geword om die spoke van die verlede eers weer op te soek en dan weer te begrawe. Finaal agter te los.

 

’n Muf reuk klou aan die grys mure vas. Rye en rye kamers staan ingeprop langs mekaar.  Klein. Kaal. Koud. Hekke wat toegeslaan word, laat haar elke keer ruk van skrik. ’n Tingerige figuur stap saam met die bewaarder na haar toe. Die skok is ’n vuishou op Anika se maag. Haar sussie het baie gewig verloor. Haar hare is vaal en langer. Die donker kringe onder haar oë staan uit teen haar bleek vel. Haar hande span styf toe die koue metaal van haar boeie op die tafel klingel.

“Hallo Leana.”

Sy knik net.

“Jou hare het lank geword.”

Leana staar net voor haar uit. Selfs die sprankel in haar oë is weg.

Anika kyk ongemaklik weg voor sy begin praat.“Ek het goeie nuus van ons prokureur af.”

Leana se hande is inmekaar gestrengel en sy sug diep.

“Jou aansoek om parool is uiteindelik goedgekeur. Jy kom een van die dae huis toe.”

Leana knik haar kop en kyk stip voor haar uit.

“As alles volgens plan verloop behoort jy vroeg in die nuwe jaar by die huis te wees.” Miskien dring dit nog nie tot haar deur nie “Verstaan jy wat dit beteken?”

Leana knik haar kop weer en haar onderste lip begin bewe.

“Een van die dae is jy by die huis. Daar naby Mamma se versorgingstehuis is ’n perdeplaas. Jy kan weer jou passie gaan uitleef.”

“Regtig? Is die perde mooi?” Uiteindelik glimlag sy.

“Hulle is mooi. En ek het klaar met die eienaar gereël. Hy sal jou inneem en behuising gee. Dit sal jou gemoed goed doen as jy weer met perde kan werk.”

“Mag ek daar gaan werk?” Leana se oë is skielik vol emosie. Blydskap gemeng met vrees.

“Natuurlik, dit is in jou paroolvoorwaardes.” Anika haal ’n bruin koevert te voorskyn en sit die dokumente voor Leana neer. “Teken net gou hierdie twee vorms, dan is jou werk en blyplek vasgemaak.”

“Ek kan nie glo dit gaan gebeur nie,” sug Leana opgewonde.

Toe Anika ’n halfuur later in haar motor klim, blaas sy haar asem stadig uit. Haar hart klop soos ’n verwilderd ding in haar borskas. Drie jaar was ’n lang tyd. Te lank.


“Tannie Debbie se Kersete wen vandag ’n Michelin ster. Die resep van hierdie skaapboud wil ek beslis hê,” lag Anika en skep nog ’n porsie in.

“Ek deel nie graag resepte uit nie, maar jy was die laaste drie jaar my regterhand. Die resepte kom saam met die koffiewinkel.” Sy neem ’n sluk van haar wyn en kyk Anika reguit in die oë. “Ek wil graag aftree. ’n Warm plek gaan soek tussen niks en nêrens. Waar ongeskikte kliënte nie my dag kan bederf met hulle klaery nie. Iewers waar ek rustig kan sit en al my hekelpatrone kan uitpak.”

“Het Tannie al ’n koper vir die koffiewinkel?”

“Genade kind, ek gaan dit aan niemand verkoop nie. Dit is joune.”

“Ek verstaan nie mooi nie.”

“Kyk, na oom Kallie se afsterwe het ek al die plase verkoop. Ons het nie kinders gehad nie. Die polisse het ook uitbetaal en ek het op aandring van die boedel se eksekuteur meeste van die geld belê. Vir my oudag natuurlik. Hierdie koffiewinkel en my huis het ek klaar oorgedra in jou naam.”

Anika sluk hard om die trane te keer. “Hoekom doen Tannie dit vir my?”

“Jy verdien dit, Anika. Die lewe het jou nie altyd goed behandel nie. Jy was die slimste maar ook die hardwerkendste. Jy het matriek geslaag met ses onderskeidings, jou LLB-graad was cum laude geslaag. Ná jou pa se dood het jy ingespring om na jou ma en stiefsussie te kyk. Jy het nie een keer gekla nie.”

“Maar ek was al een wat kon help, Tannie!  Leana was nog op skool en my ma se gesondheid het verswak.”

Tannie Debbie snork onvroulik. “Het jy al besluit waar sy gaan werk en bly?”

“Ek het reeds vir haar werk- en blyplek gekry. Sy gaan by die perdeplaas naby Ermelo werk. Die eienaar is bewus van haar verlede. Rocco se seun was ook ’n dwelmverslaafde. Hy sal nie oordeel nie. Daar tussen die perde sal sy weer heel word.”

“Oor ’n maand tree ek af dan moet jy alles onthou wat jy moes opoffer. Dit sluit jou stiefsussie in. Sy het jou een keer verloën soos Jacob sy broer Esau van sy eersgeboortereg wou kul. Hy was lief daarvoor om te wen en hy het sy eie pa bedrieg. Hy het later van sy eie medisyne gekry toe sy skoonpa hom bedrieg het. Hy het ontdek die bruid wat aan hom gegee is, was nie Lea nie, maar Ragel wat al ’n taamlike tyd op die rak gesit het.”

Anika sluk en byt haar onderlip vas. “Sy het haar straf uitgedien.”

Tannie Debbie maak die borde bymekaar en die frons op haar voorkop verdiep. “Wanneer kom jou sussie uit die tronk?”

Sy is seker tannie Debbie kan gedagtes lees. “Oor vyf dae.”

“Jy het jou werk verloor oor jou stiefsussie se skelmstreke,” sê tannie Debbie, trek haar kierie nader en staan op. “Wees maar versigtig.”

’n Rukkie later maak Anika die deur van die oond oop en glimlag. “Ek hoop die gebakte kaaskoek smaak soos wat hy lyk.”

Tannie Debbie loer oor haar skouer en klik haar tong. “Hoekom is jou baksels altyd mooier as myne?”

“Ek het by die beste geleer,” lag sy en haal die kaaskoek uit die oond.

“Nou ja, ek sê solank nag. My heup is vanaand bietjie seer. Ek gaan nou ’n lekker warm bad neem en in die bed klim.”

Anika loer na die horlosie teen die muur en trek haar asem rukkerig in. Dit is tyd. Vinnig knoop sy die voorskoot los en stap tot in die gang. Tannie Debbie is in die badkamer besig. Sy stap terug en sluit die kombuisdeur oop, en merk die figuur wat onder die skaduwee van die boom staan. Versigtig stap sy met die paadjie af en die gruis kners onder haar tekkies.

“Jy is laat.” Sy stem is kortaf.

“Tannie Debbie het soos gewoonlik aanmekaar gebabbel. Ek is mos nou hier.”

“Hoe lank nog?”

“Die dokumente is vanoggend ingegee. Die dametjie het gesê dit neem sewe werksdae.”

“Jy gaan my nie vir ’n fool hou nie, né?”

“Ons het ’n deal, ek gee jou my woord.”

“Tommy het sy hele lewe weg gesnuif. Daai verdomde uitdroogkliniek van hom maak my bankrot.”

“Ek is jammer, Rocco. Miskien hou hy hierdie keer sy woord.”

“Hy beter.” Vinnig haal hy ’n koevert uit sy sak uit. “Ek het die bevestiging van my bankrekening gebring.”

“Ek laat weet jou dadelik as die geld in my rekening is. En Rocco ... Leana mag nooit uitvind nie.”

“Jou geheim is veilig by my. Die een hand was die ander een.”

“Ek is bly jy verstaan.”

Sy stap vinnig terug, maak die kombuisdeur saggies oop en ruk soos sy skrik toe tannie Debbie skielik agter haar praat.

“Waar was jy?”

“Ek ... uhm ...” Sy sluk vinnig. “Hier was ’n geluid buite by die asblik. Ek dink dit was ’n rondloperkat.”

“Seker tant Ralie se gemmerkat wat weer oorskietkos kom soek het. Die kat is deesdae meer hier as by sy eie huis,” sug sy en stap weg.

 

“Kan ek vir Meneer nog iets bring om te drink?” Anika sit die bord met kaaskoek voor die kliënt neer.

“’n Cappuccino sal lekker wees, dankie,” antwoord hy met ’n glimlag.

Sy neem die vuil koppie en vlug kombuis toe. Hier agter die stoof is sy méér tuis en gemaklik. Sy loer by die kombuisvenster uit na die blou see, maak die koffie klaar en plaas dit in die skinkbordjie.

“En as jy so staan en dagdroom?” vra Tannie Debbie en haal die kaaskoek uit die yskas uit.

“Ek wonder maar net hoe dit met Leana gaan op die plaas.”

“No news is good news.”

“Dit is seker waar.”

“Wanneer ek weg is, kan jy gerus weer van die kaaskoek bak. Dit is vandag weereens ’n wenner.”

“Ek is bly dit word opgeraap. Mense soek so af en toe iets anders op die spyskaart.”

“Ek het jou mooi geleer,” knipoog haar tannie vir haar en stap weg.

Anika probeer haar asemhaling normaliseer toe sy die kliënt se cappuccino voor hom neersit. Hy bedank haar vriendelik en sy tree ’n paar tree weg. Sy tuur deur die venster. Nog net twee dae.

Sy stap na die leë tafel toe en neem die vuil eetgerei. Die verdomde ongeskikte vrou en haar dogter het nie eers ’n fooitjie gelos nie. Sy het hulle dopgehou tot waar hulle gestap het na die parkerings toe. Die duur Duitse motor was blik gepolitoer. Wanneer tannie Debbie die leisels oorgee aan die einde van die week gaan baie dinge verander.

Sy het reeds nuwe tafeldoeke bestel vir die tafels en sy beplan groot dinge aan die buitekant. Sambrele gaan die prentjie mooi afrond en ’n idilliese effek skep. Tannie Debbie is ’n goeie bakster en leermeester, maar die koffiewinkel lyk al vir dertig jaar dieselfde. Sy glo vas die mense kom vir die kos en die diens. Opgraderings kos net onnodig geld. Dit is tyd vir ’n verandering. Daar gaan ’n paar gesonde opsies wees en die pryse gaan ook aangepas word.

 

Anika glimlag toe sy die Labrador se leiband neem en met die paadjie afstap huis toe. “Kom Jessie, vanaand slaap jy lekker warm langs my bed.”

“En dié?” vra tannie Debbie verbaas en vryf Jessie agter die een oor.

“Dit is Jessie, my nuwe kameraad. Daar was ’n advertensie in die veearts se venster.”

“Sy is pragtig.”

“Haar gesin het na Australië geëmigreer en sy het ’n nuwe huis gesoek.”

“Sy kan daardie kat van tant Ralie bietjie in toom hou,” lag tannie Debbie en loer skuins na Anika. “Die meubelwa is reeds weg. Ek gaan ook maar in die pad val.”

Saam stap hulle tot by haar tannie se motor en sy gooi haar arms om Anika se skouers. “Ek gaan jou vreeslik mis, kind. Ek hoop jy vind vreugde in die koffiewinkel. Stuur maar af en toe ’n boodskappie.”

“Dankie vir alles, Tannie Debbie. Veilig ry en laat weet as Tannie daar aangekom het.”

Vir oulaas waai sy in die motor se rigting en sug heimlik. Uiteindelik.

Jessie blaf opgewonde toe hulle afstap na die see toe. Sy is intens bewus van haar hart wat wild klop. Sy het dit verdomp reggekry. Jessie gaan lê by haar voete toe sy op die sand neer plons. Sy druk haar tone onder die seesand in en staar na die see wat vandag ’n mengsel van blou en pers is. Hier naby haar voete breek die golwe en fyn wit spatsels vorm oor haar voete. Sy lek oor haar lippe en proe die sout van die see.

Snaaks hoe mense se denke verander as jy gereeld die regte dinge op die regte tyd sê. Oor en oor. Hulle later laat glo dat alles eintlik hulle idee is.

Sy was op die kruin van haar loopbaan toe haar stiefsussie tronk toe is vir diefstal. Sy was op die punt om junior vennoot te word. Die koerantberigte het gekreun van Danie Louw se twee dogters. Sy moes boet vir haar stiefsussie se sondes. Die senior vennoot het haar in die pad gesteek en geen prokureursfirma wou haar hê nie. Die skandaal was té groot.

Tannie Debbie het begin glo haar heup is elke aand seer. Sy wat Anika is, het haar elke aand aan haar heup herinner. Sy het orals pynpille laat rondlê. Die laaste ses maande het sy haar aangemoedig om iewers te gaan aftree waar dit warm is en sy haar hekelpatrone kan gaan uitpak. Anika grinnik. Die laaste hekkie waaroor sy moes oor spring, was hulle erfgeld in die trustrekening. Haar stiefsussie weet nie van die geld nie en haar ma het Alzheimersiekte. Sy moes haar stiefsussie se deel ook in die hande kry. Leana se handtekening is al wat nodig was. Die dag in die tronk was ’n gulde geleentheid. Leana was só bly om te hoor van haar parool, sy het geteken sonder om dit te lees. Rocco het vyfhonderd duisend rand ontvang om haar sussie ’n werk te gee op sy plaas. Sy is in die sewende hemel tussen die klomp perde.

Anika krap Jessie agter haar een oor en glimlag. “En ek en jy gaan vir die res van ons lewe net van rente leef. Ons gaan elke tweede Sondag die koffiewinkel sluit en ontspan op die strand. Fooitjies vir die kelners gaan by die rekening ingesluit word en melkskommels gaan deel uitmaak van die nuwe spyskaart. En Jessie, van vanaand af slaap jy langs my bed. Net vir ingeval.”

118 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page