top of page

Storietyd: Adoons, jou doring! Marinda Roos

Updated: Jan 19

Kamp is nie vir sissies nie.


Bananas

Maryke neem die noodhulpkassie en sug hard toe sy die kampeerwa se trappie afklim. Hulle is nog nie eers 'n volle dag op die kampterrein nie en die eerste pleister moet geplak word. Sy sluk hard aan die irritasie wat opstoot in haar keel. Dit was Johan se beurt om 'n bestemming te kies vir hulle Desember-vakansie. Die totale teleurstelling het van dag een af soos 'n aambei op haar kom kleef. Haar keuse van verlede jaar gaan nie maklik oortref word nie. Die luukse selfsorgeenheid naby die Krugerhek het vir baie opwinding gesorg. Daardie kampeerplek het alles wat nodig was gehad en nog meer. Hier moet sy 'n ablusieblok met ander kampeerders deel en teen die tyd wat sy met haar vuil skottelgoed by die half-voltooide kombuis aankom, is die warm water reeds opgebruik.

“Kom Boeta, laat Mamma gou die pleister op plak,” beveel sy saggies. “Toe, nou kan jy weer gaan speel. Waar is jou boetie?” vra sy besorgd.

“Hy is saam met Pappa langs die dam. Pappa sê die vis loop vandag.” 

Hy gee haar 'n soentjie op die wang en trek soos die spoed van lig met die paadjie af. Klaar vergeet van sy seer toon.

Sy gaan sit met 'n sug op die kampeerstoel en trek haar boek nader. Net eers weer die plek vind waar sy laas opgehou lees het. 'n Helse slag laat haar onmiddellik in 'n verdedigingsposisie opspring.

“Wie is daar?”

Dit is doodstil.

Die geluid het vanuit die karavaan gekom. Maryke gryp die braaitang en sluip voetjie vir voetjie nader na die karavaan toe. Met swaaiende arms hardloop sy bulderend met die trappie op. Daar is niemand nie. Net piesangskille wat oorgebly het van 'n skelm feesmaal. 'n Beweging aan die buitekant trek haar aandag.

“Nou toe nou.”

Op elke bord in die kampterrein staan in hoofletters: Moenie die diere voer nie. Niemand het iets gesê van selfhelp nie. Die dief sit in die groot Kareeboom, heerlik en kou aan hulle vrugte. Die bobbejaanmannetjie geniet natuurlik die verbode vrugte.

Vies maak sy die venstertjie toe en tel die skille op.

“Mamma, ons is honger,” kla haar jongste skielik hier langs haar.

“Ek sal gou toebroodjies maak,” troos sy.

“Pappa sê hy is lus vir iets lekkers.”

“Toebroodjies is mos lekker,” verdedig sy.

“Hy vra of daar roomys is.”

Natuurlik, roomys is immers kos wat volmaak. Sy sug, haal vir hulle elkeen 'n stokkieroomys uit en soos blits verdwyn die kind weer.

Sy hou nie van kamp nie. Sy haat dit. Wie wil in elk geval jou hele huis saam piekel om soos hawelose mense te ontspan? Vies stap sy tent toe, neem haar beursie en trek die ritssluiter toe. Geen bobbejaan, klouterdier of piesangvreter sal weer sy voete tuismaak in hulle karavaan nie. Adoons kan maar gaan aas in die naaste asblik.

 

Maryke vee die sweetdruppels van haar voorkop af en rek haar tree verby die nuuskierige kampeerders. Die klomp agies lyk soos 'n spul meerkatte op die Discovery-kanaal. Almal groet haar vriendelik. Daar is niks verkeerd met goeie maniere nie. Sy stoei innerlik met haarself. Haar ouers het haar nie só groot gemaak nie. Maar dit is so flippen moeilik. Veilig in haar karavaan sug sy diep.

Opgewonde stemme kom al nader en sy glimlag. Johan en die seuns het uiteindelik klaar vis gevang. 'n Reuk slaan haar tussen die oë.

“Wat ruik so?” vra sy vies.

“Ons het vyf grotes gevang,” sê Johan opgewonde.

“En waar is dit nou?” vra sy agterdogtig.

“Ek het dit op die tafel in die tent gesit.”

“Wat?”

“Ons sal dit nou skoonmaak,” verdedig hy.

“Johan, die tent ruik soos 'n afvalfabriek. Julle stink só, selfs 'n roofdier sal vlug. Gaan maak die visse by die dam skoon. En gaan skrop julself skoon op pad terug.”

“Maar dít is ons aandete.”

Die rooi gloed styg teen haar nek op. Sy pers haar lippe op mekaar. “Gaan maak dit asseblief net op 'n ander plek skoon.”

Sy het issues. Sy weet dit goed. Maar die lig in sy oë laat haar hart verkrummel. Hy is soos ‘n klein seuntjie as dit by kamp en visvang kom. Hy is nie sonder foute nie. Inteendeel, dit was juis sy lewenslus wat haar na hom toe aangetrek het.

 

Maryke staan besluiteloos by die tent se opening. Badkamersake is 'n baie privaat ding. Sy wil nie hê iemand moet haar hoor, sien of ruik nie. Een mens kan net só lank knyp. Sy het gewag dat dit stikdonker word. Die meeste mense het hopelik hulle draaie klaar geloop. Sy druk die toiletpapierrol onder haar arm in en begin ablusieblok toe stap. Daar is een klein, flou liggie wat brand, maar al het die insekte dit vol geplak. Teen Afrika-spoed stap sy die paadjie af badkamers toe.

Sy loer eers links en dan regs, stap die ablusieblok binne en maak seker sy is alleen. Vinnig sluit sy die deur agter haar toe en draai om. Sy moes die bottel Jik en Domestos saamgebring het. Watter kieme sit nie alles op die toiletbak vas nie? Sy gril. Nou moet sy vinnig besluit. Of sy gaan sit en haar ding doen óf sy gaan terug loop en die naaste boom kies.

Vinnig word die toiletsitplek afgevee met 'n stuk toiletpapier. Sy gaan sit saggies. Die natuur moet sy gang gaan. Daar is nie meer knyp in haar spiere oor nie. Maar die vinnige sit word dadelik verander na 'n langer sit. Sy besef nou sy moes glad nie van die Atcharsous op haar broodjie gesit het nie. Eers kom daar 'n knorgeluid uit wat dadelik vervang word met 'n dubbele sis geluid.

Die sweet vorm op haar voorkop en sy vee dit met die agterkant van haar hand af. Hierdie gaan 'n lang sit word. Haar maag maak allerhande draaie en sy voel naar. Dit kom van te veel vreemde souse eet. Die reuk wat opdam in die lug sal enige olifant vir sewe ure onder narkose sit.

Sy moes van tyd vergeet het of tyd het gaan stilstaan. Vir nou is dit veilig om die kuiertjie af te sluit in die ablusieblok. Die toilet word vier keer na mekaar gespoel. Sy sluit die deur oop en kyk vas in 'n onbekende gesig. Die vrou groet vriendelik en verdwyn by die deur uit. Maryke wil haar kop êrens gaan indruk. Sy was haar hande vyf keer. Kamp is nie vir sissies nie.

 

Net na ontbyt die volgende oggend neem Johan die laaste wind uit haar seile.

“Jy het wát gedoen?” Die woede maak haar skoon benoud.

“Jy sit elke dag alleen in die karavaan. Ek het my Ma genooi om by ons aan te sluit. Die geselskap sal jou goed doen.”

“Ek is heeltemal gelukkig op my eie, dankie. Ons vlug juis van die familie af. Ek kan nooit iets reg doen in jou ma se oë nie. Hier is oorgenoeg boeke om te lees en die stilte doen my goed. Sê vir haar dit is nie nodig om te kom nie.”

“Ek is jammer, sy is reeds op pad.”

Sy woorde was skaars koud, toe stop die bekende karretjie voor hulle staanplek. Sy gooi 'n kyk in Johan se rigting en verdwyn die tent in.

“Koe-ie, vir wat staan julle daar? Kom help my goed uitdra. Waar slaap ek? ”

Maryke krimp ineen. Sy moet seker gaan groet.

“Hallo, Ma,” groet sy en neem die sak by haar.

“Genade Maryke, jy het gewig opgetel. Waar trek die skaal al?”

Johan gooi 'n kyk na sy ma wat skree: los-my-vrou-uit-of-daar-is-moeilikheid. Nadat al die bagasie en kos, wat genoeg is om vyf maande in die oerwoud te oorleef, ingedra is, sak hulle op die kampsoele neer.

“Kry ek nie bietjie tee nie? Dit voel of ons in die woestyn is,” kla Skoonma.

Maryke vlieg op, trek haar kuite styf en stap om te gaan tee maak. “Flippen ondankbaar,” brom sy onderlangs en maak of sy die volgende opmerking nie hoor nie.

“Is dit al wat julle kan bekostig, Johan?”

“Dit is 'n geleende karavaan, Ma. ‘n Mens haal nie sommer onnodige geld uit nie. Ek wou net eers kyk of ons regkom met die karavaan.”

“Dit is nie baie groot en luuks nie,” kap Skoonma terug.

Maryke sit die teekoppie voor haar neer en wonder wat hierdie keer fout gaan wees met haar tee.

“Het jy nie suurlemoen nie?”

“Nee, Ma.”

“Dan sal ek dit maar só moet drink.”

Sy loer na Johan en sien die fyn lagplooitjies raak. Hy het nog altyd geglo hy was met sy geboorte omgeruil in die hospitaal.

“Waar is my kamer?”

“Ma kan hier in die tent slaap. Daar is net een bed in die karavaan. Ek en Maryka slaap daar.”

“Oor my dooie liggaam. Julle kan oorskuif tent toe. Ek slaap nie hier nie.”

 

Drie dae saam met Skoonma. Daar is fout met alles. Die kampstoel is té hard. Die matras is té sag. Die tee is té flou. Die stort water is té koud. Die kos het té min sout. Die naggeluide raas té veel. Die son is té warm.

Maryka het die laaste drie dae uit die tent uit gevlug. Haar geduld is op. Sy was skottelgoed. 'n Glimlag kruip oor haar lippe toe sy die figuur in die boom sien hang.

'n Plan flits deur haar gedagtes.

Sy weet dit is amper tweeuur. Tyd vir 'n middagslapie. Vinnig maak sy die kamervenster oop. Sy sit die tros piesangs op die tafeltjie neer. Aanloklik. Goudgeel en wag om geëet te word. Dit is 'n ope uitnodiging vir enige piesangvreter.


Snorkgeluide bevestig dat Skoonma uiteindelik slaap. Dit neem ook nie lank vir die honger Adoons om die lokaas te gaan ondersoek nie.

Maryke spring vinnig op toe sy 'n geluid in die kamertjie hoor. Hy het stilletjies verby Skoonma geklim en homself tuisgemaak op die tafeltjie. Natuurlik hoog in sy skik met die heerlike ontdekking voor hom. Saggies beweeg sy agteruit en gaan sit gemaklik op die kampstoel. Nou is dit net 'n kwessie van tyd.

Die volgende oomblik is daar 'n gil in die slaapkamer. Hard en lelik. Angstig. Die gil klink soos 'n Karoovlermuis wie se sonar gekalf het. Met die eerste paar tree trap Skoonma die grond mis, daarna trap sy in die lug. Lugspoed en grondspoed is min of meer dieselfde. Dit is egter net opwarming.

Alles sou goed gegaan het as die kinders se visstokke nie die hele wêreld vol gelê het nie. Dit is teen die eenmantent staan gemaak, met hoeke en lyne wat nog los hang. Skoonma tref die visstokke eerste en kom daarna te lande op die stretcher.

Maryke moet haar inhou om nie hardop te lag nie. Sy gaan haal die bottel whiskey, skink 'n stywe dop en druk die vol glas whiskey in Skoonma se hand vir skok. Met die tweezer in haar ander hand beduie sy na die vishoek in Skoonma se boud.

 

Die son het sy laaste strale oor die berg gegooi en kleure van oranje en rooi speel op die horison. 'n Dag wat tot einde kom was lanklaas só mooi. Maryke het haar glas vol wyn gegooi en sug tevrede. Haar hart is vrolik en vry. Daar rus 'n kalmte in haar gemoed.

“Waar is my Ma? Haar kar is nie meer onder die koelteboom nie” vra Johan skielik hier agter haar.

“Sy is huis toe.”

“Dit kan nie wees nie. Sy het nie eers gegroet nie.”

“Sy het haar goed gepak en gery,” sê sy so kalm as moontlik.

“Hoekom?” Hy plak homself op die stoel langs haar neer.

“Sy het haarself vererg vir Adoons.”

“Wie is Adoons?”

“'n Bobbejaanmannetjie.”   

“Ek verstaan nou nie mooi nie,” sê Johan. Die bier se prop maak stjie toe hy dit oopmaak.

“Sy het blykbaar groot geskrik.”

“Waarvoor het sy geskrik?” vra hy en neem 'n sluk van die koue bier.

“Ek het net 'n harde gil gehoor.”

“Kon jy iets sien?” vra hy, maar sy kan sien hy begin hond se gedagtes kry. Die lag dreig om sy maagspiere saam te trek.

“Adoons het homself gehelp aan die piesangs in die kamer. Dit was blykbaar met die uitklimslag dat 'n piesangskil op jou ma se gesig geval het.”

“Was hy groot?”

 “Volgens haar was dit 'n vleisetende roofdier met bloedbelope rooi oë wat oor die vier meter hoog was.”

“Waar is hy nou?”

“Ek dink hy lê iewers getraumatiseerd in 'n boom. Hy het natuurlik die grootste geskrik.”

Johan plak onverwags 'n soen op haar voorkop en klink sy bierbottel teen haar wynglas.

“Adoons, jou doring!”

“Op Adoons,” lag sy en krul haarself gemaklik teen sy bors. Hierdie plek sal sy nooit vergeet nie. En natuurlik het sy 'n nuwe kameraad bygekry. Al is hy oor die vier meter hoog met rooi oë!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

124 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page