top of page

Storietyd: Die Valentynbal, Marinda Roos

Haar hare skitter, haar rok beklemtoon elke kurwe. Saam beweeg hulle oor die dansvloer . . .



Marli hou haar asem op toe Brendan sy hand in die hoed steek. Hy hou die wit papiertjie in die lug.  Die opwinding is aansteeklik. Haar maag maak allerhande draaie. Sy is vanjaar een van die hooforganiseerders van die Valentynbal. Dit is al 'n jaarlikse tradisie tussen die ouditeursfirmas om die besonderse geleentheid te reël. Sy wou eers niks daarvan weet nie. Maar die geld word ingesamel vir liefdadigheid en sy kan help kies watter instansie hierdie jaar voordeel daaruit gaan trek.

“Ons laaste organiseerder is . . . Arno Nel! Marli, hy is van Schoeman en Nel Ouditeure. Sal jy met hom kontak maak vir die reëlings?”

“Ek sal,” antwoord sy, neem die lêer by hom en stap na haar kantoor toe voordat iemand die blos op haar wange sien.

Die lawwe gevoel op haar maag wanneer sy die naam “Arno” hoor, het gelukkig geleidelik verdwyn. Hoekom sy só op die simpel mansmens reageer, verstaan sy ook nie. Hy praat nie veel nie, bly nie lank by funksies nie en glimlag nooit nie. Al die vrouens by Schoeman en Nel Ouditeure is verlief op hom. Hoe dan anders? Hy is donker, aantreklik en sy gespierde lyf behoort eerder op 'n kalender as in 'n pak klere.

“Jou gelukkige blikskottel,” sê Elanie en sit die twee koffiebekers op haar lessenaar neer.

Hulle gaan sit by haar lessenaar en Marli neem 'n slukkie van die koffie. “Dankie, net soos ek daarvan hou.”

“Wanneer is julle eerste vergadering?”

“Vanaand, by die kantore van Schoeman en Nel,” antwoord Marli.

“Wat gaan jy aantrek?”

“Ek gaan niks spesiaals aantrek nie. En ry na werk soontoe.”

“Trek 'n mini aan en sy oë sal net fokus op jou mooi bene,” lag Elanie.

“Arno sien geen vrou raak nie. Sit 'n ouditeursverslag voor hom neer en jy het dadelik al sy aandag. Syfers maak hom opgewonde, nie vrouens in kort rompies nie.”

“Ek wil môre al die detail hoor,” lag Elanie en stap uit die kantoor uit.

 

Marli is amper by die hysbak en die deure is besig om toe te gaan. Sy versnel haar pas om betyds te wees en sien dat nog 'n persoon na die hysbak beweeg. Sy glip vinnig in, groet en druk die knoppie van die hysbak.

“Hallo Marli.”

Sy kyk op in die bekende donker oë. Arno Nel. Verdomp. Sy is alleen saam met hom in die hysbak. Haar hart gaan op 'n wilde galop. Hy maak haar hormone deurmekaar en die endorfiene in haar brein het sopas hulle limiet vir die dag behaal. En hy onthou wraggies haar naam!

“Hallo Arno,” groet sy en skeur haar blik weg van syne.

Die stilte omvou hulle. Sy word bewus van die muskus geur in die hysbak en die kleur van sy oë. Sjokolade bruin. Die hysbak ruk tot stilstand.

In die raadsaal groet sy die ander lede en gaan sit sy op die stoel in die verste hoek. Arno kom sit oorkant haar.

Marli maak aantekeninge soos wat die vergadering vorder. Sy sug innerlik, sy sukkel om te fokus met Arno so naby. Oom Ettienne, Arno se pa, gee 'n kuggie en sy kyk op. Die donkerkop oorkant haar is heel gemaklik. Sy oë speel oor haar gesig.

“Ons moet nog net besluit op vanjaar se tema. Enige voorstelle?” vra oom Ettienne.

“Verlede jaar was 'n groot sukses. Ek dink ons hou by die Gatsby-tema,” sê een van die senior dames.

“Dit was boring. Ons soek iets anders hierdie jaar. Die dames wil uithang in hulle aandrokke,” sê Lucy.

“Ek stem saam. Die tema was pret vir een aand. Maar my vrou gaan weier om weer vere op haar kop te dra,” lag oom Ettienne.

“Enige ander voorstelle?” vra Arno maar sy oë rus op Marli.

Nou ja, as hy 'n voorstel wil hê, sal sy vir hom een gee. “Wat van die Grammys as tema? Die Amerikaanse toekennings vind juis plaas in Februarie. Die mans kan hulle mooi aandpakke dra en die dames kan uithang in hulle mooi aandrokke. Ons kan die ingangsportaal opmaak soos die gesogte geleentheid en 'n fotograaf huur wat elke paartjie afneem soos wat hulle arriveer.”

“Dit is 'n fantastiese idee. Ons kan lekker speel met die dekor. Ek dink verlede jaar se Grammy-kleure was swart en goud.” Lucy se stem is vol entoesiasme.

“Ons kan ook deur die verloop van die aand een of twee trofees uitdeel. Beste geklede paartjie of so iets,” sê Marli en haar oë daag hom uit.

“Wil julle stem daaroor of aanvaar ons hierdie voorstel van Marli?” vra Arno.

“Grammys,” antwoord almal omtrent gelyk.

“Ons klompie manne sal die borge reël. Hier is genoeg dames wat die dekor, blomme, uitnodigings en  fotograaf  kan reël. Ek sal vanaand 'n WhatsApp-groepie stig dan kan ons verder daarop kommunikeer. Skryf net asseblief julle kontaknommers vir my neer op die lys,” sê Arno en sit die lys voor Marli neer.

Almal skryf hul nommers neer en verdaag een-een.

Toe Marli buite kom, sien sy Anro staan nog in die parkeerterrein. By haar motor. Sy krap in haar handsak rond vir haar motorsleutel.

“Dankie vir jou insette vanaand. Ek was bang tannie Lena gaan by die Sixties vashak.”

Sy stem forseer haar om op te kyk. Donkerbruin oë hou haar gevange. Stadig blaas sy haar asem uit. Haar hart het vir ‘n oomblik gaan stilstaan. Sy tree soos 'n verliefde skooldogter op!

“Ek is bly ek kon help.” Daar is 'n krapperigheid in haar stem.

“Het jy al 'n maat vir die geleentheid?”

“Nee, ja . . . ek bedoel nee, nog nie,” stotter sy.

“Sal jy my asseblief vergesel vir die aand?”

“Ekskuus?” Dit is uit voor sy mooi kan dink. Helder kan dink. Hy vra háár uit.

“Sal jy my date wees vir die aand?” Sy glimlag is wit, sy oë vonkel.

Hy haal die wind uit haar seile. Haar mond val oop. Hy is verdomp ernstig. Vir 'n oomblik het sy gedink hy trek net haar siel uit.

“Dankie, ek sal jou graag vergesel.” Sy glimlag terug. Vlinders raak los in haar binneste.

Hy neem die sleutel by haar en sluit haar motor oop. Ewe galant maak hy die deur vir haar oop en sy klim in.

“Veilig ry en lekker slaap, Marli.”

 

 

Vir oulaas kyk Marli in die spieël. Sy lig haar ken en sug tevrede. Die swart rok val met sagte voue perfek om haar bruin gebrande lyf. Lank en elegant. Haar lang bruin hare hang los oor haar skouers en die silwer sandale rond die prentjie mooi af.

Haar hart tamboer toe sy 'n motor se dreuning hoor. Saggies trek sy haar asem in. Sy weet vanaand gaan haar hart nooit stil raak nie.

Haar hand gly oor die deurknop. Met krag wat sy iewers vandaan gekry het, trek sy die deur oop. En daar staan hy voor haar. Tall, dark en handsome. Hy lyk beter in 'n pak klere as enige Hugo Boss model. Hy glimlag. Daar is kuiltjies op sy wange. Sy wens hy wil meer glimlag. Sy verdrink daarin.

“Goeie naand, Marli, jy lyk ongelooflik mooi.” Hy hou 'n bloedrooi roos te na haar uit. “Vir my pragtige metgesel.”

Vir maande, dertien om presies te wees, het sy gedroom oor 'n aand soos vanaand. Waar hierdie man voor haar gaan staan en oorweldig met sy aantreklikheid, diep stem en mooi maniere.

“Kan ons maar ry?”

Sy knik, neem haar handsakkie en stap tot by sy motor.

Die rit tot by die hotel verloop in stilte. Elkeen besig met sy eie gedagtes. Arno stop by een van die parkerings wat spesiaal vir hulle gaste bespreek is. Hy klim uit en die koue briesie wat inwaai laat hoendervleis op haar arms uitslaan. Die tinteling wat deur haar lyf vloei, ignoreer sy vir eers.

Hy hak saggies by haar in en soos twee Hollywood sterre stap hulle na die ontvangslokaal. Ligte flits soos die kameras werk. Sy kan haar glimlag nie keer nie. Haar wange voel warm.

Later, ná ete en al die toesprake, met dansmusiek wat die ruimte vul, trek Arno haar saggies op en beweeg na die dansbaan toe. Haar lyf pas perfek in sy sterk arms.

Sy hoop die aand hou nooit op nie; sy wil vir ewig in sy arms wees. Dit is heerlik om so verlief te wees. Om só spesiaal te voel.

Haar kop rus gemaklik op sy breë skouers. Marli maak haar oë toe en gee haarself oor aan elke sensasie in haar lyf. Sy sweef. Hierdie kosbare oomblik sal sy vir ewig in haar hart bewaar. Vir lank was hy net 'n ouditeur wat sy terloops raakloop by werksgeleenthede. Daar was nooit lang gesprekke nie. Van 'n afstand het sy na hom gehunker. Gehoop daar sal 'n dag kom wat sy hom beter sal leer ken. Hier is sy nou in sy arms. Gelukkig, gemaklik en dit is hemels.

“Dankie dat jy vanaand saam met my deel,” fluister hy in haar nek.

Rillings hardloop teen haar rug af. “Geniet jy dit sover?”

“Elke oomblik,” erken hy.

“Ek is bly. Jy verlaat die funksies altyd heel eerste. Is daar 'n rede?” waag sy dit.

“Jy is baie oplettend.” Hy glimlag en tree nader. “Ek het gewag vir die regte persoon.”

“Ek sien.”

“Jy moet jou hare meer male los dra.” Met 'n teer gebaar vee hy die haarlok agter haar oor in.

“En jy moet meer glimlag.” 

Sy is bewus van elke sensasie, hartklop en prikkeling.

“Hoekom?” Sy hande gly saggies teen haar rug af.

“Want dit laat jou gesig lewe,” antwoord sy skaars hoorbaar.

Albei sy hande vou om haar gesig. Haar oë val toe en voel sy lippe op hare. Saggies en strelend. Haar hande glip om sy nek en die soen verdiep. Sy word meegesleur deur die aantrekkingskrag tussen hulle. Sy klou vas aan elke stukkie hemelse warmte wat haar hart nog vinniger laat klop. Hy is in haar kop, haar drome en nou in haar hart.

 

 

“More Tannie, hoe gaan dit vanoggend hier?”

Arno se blik rus op Marli wat buite op die stoep staan. Die son se strale gooi goue spatsels op haar bruin hare.

“More Arno, elke dag 'n bietjie beter.”

Hy staar 'n oomblik na haar. “Ek is amper te bang om te vra, onthou sy al iets?”

Vir maande vra hy die vraag. Elf maande, om presies te wees, en hoop die antwoord sal anders wees.

“Sy het blykbaar gister vir Elanie iets gesê van die Valentynbal. Sy wil help met die reëlings.”

Die hoop vlam op in hom. Arno kyk weer na Marli.

“Ai, Tannie. Ek is regtig jammer ons het verlede jaar weggeloop om te gaan trou sonder julle toestemming. Die ongeluk . . . Die verwyt vreet elke dag aan my.”

“Arno! Jy het jouself al genoeg gestraf. En meer as genoeg male om verskoning gevra. Dit is tyd dat jy jouself vergewe daarvoor. Julle al twee leef, en dit is al wat nou belangrik is.”

“Die neuroloog het gesê die geheueverlies sal tydelik wees. My pa wou nie hierdie jaar 'n bal hou nie. Die herinnering van daardie aand wil almal eerder net vergeet.”

“Daar is tye wat bekende dinge deur haar geheue flits. Soos die bal waarvan sy gister gepraat het. Miskien moet ons juis daardie aand herroep in al sy glorie?”

Hy onthou sy teleurstelling die volgende dag in die hospitaal. Marli het niks van die bal, hulle spesiale aand saam, of die ongeluk onthou nie. As hulle net nie die bal vroeg verlaat het om soos twee stout, verliefde tieners êrens te gaan afhak nie!

“Ek glo my pa sal toestemming daarvoor gee.”

“Jy het die laaste jaar getrou elke dag kom kuier. Elke keer het ek die hoop op jou gesig gesien. Die seer en teleurstelling daarna. Ek verstaan nou: Ons dogter het verlief geraak op 'n man met die mooiste hart. Jy het met jou liefde en geduld diep in ons harte ingekruip. Ons wil Marli weer sien lewe, Arno.”

 

Arno trek sy asem rukkerig in. Vanaand het hy die kans om alles reg te maak. Om uit sy foute te leer. Hy neem Marli se hand in syne. Sy is lyk net so beeldskoon soos 'n jaar gelede. Haar hare skitter, haar rok beklemtoon elke kurwe. Saam beweeg hulle oor die dansvloer en elke sel in sy liggaam reageer wanneer hy haar sagte vel onder sy hande voel. Hy ervaar dieselfde vuur as 'n jaar gelede. Elke hartklop, elke gevoel wat deur sy are spoel, is bekend.

Om hulle lag en dans mense. Sy glimlag vir hom.

Hy slaak 'n sug van verligting. Sy kop is deurmekaar, hy het geen idee wat om vir haar te sê nie. Hy kan – en wil – vir haar wys wat hy wil sê. 'n Kreun ontsnap oor sy lippe en hy trek haar stywer teen hom vas. Vir 'n oomblik sweef hy deur die wolke.

“Arno?”

“Ja, my lief?” Hy kyk af na die vrou in sy arms.

“Jy moet weer glimlag.”

“Hoekom?”

“Want dit laat jou gesig lewe.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

91 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page