top of page

Storietyd: Die geheime van Lady X, Marinda Roos

Hy het haar met 'n doel ontmoet. Die eerste aand het honderde rooi ligte geflikker. Maar sy wou saamspeel.



Samantha sit gespanne in die motor en kyk hoe die wolke voor die maan in beweeg. 'n Rukkie gelede het dit saggies begin reën en haar asem vorm klein wolkies teen die ruit. Dit is al net ná twaalf en Alex is nog nie terug nie. Sy hou die horlosie dop en tel elke sekonde saam met die wyser af.

Die plaashuis waarheen hy gestap het, is net oor die bult. Hulle het die ligte tussen die bome gesien toe Alex die verkeerde afrit geneem het. Dit help nie om nou gal te braak nie. Hy het na alkohol geruik toe hy haar vroeër opgelaai het. Sy het geweet sy moes nie saam met hom gery het nie. Hier sit sy nou, vrou alleen in die motor en die naggeluide bring ook nie kalmte nie.

Vrees stoot in haar op toe sy selfoon weereens oorskakel na stempos toe. Maar dan hoor sy die dreuning van 'n motor en verligting spoel oor haar. Die voertuig beweeg al nader en sy sluit die deur vinnig oop. Haar hele lyf bewe.

Samantha sien twee figure nader stap. “Goeienaand, ons het probleme met ons voertuig. My vriend het gaan hulp soek by die naaste plaashuis,” sê sy met 'n hees stem.

“Is jy alleen?” vra een.

Die ligte van hulle voertuig verblind haar, sy kan nie hulle gesigte sien nie. Hulle stap tot byna teen haar. Die volgende oomblik voel sy 'n brandpyn teen haar slape. Die wêreld draai om haar. Iemand gryp haar vas, ruk iets oor haar kop.

Samantha snak na haar asem. Dit is nou donker om haar. Sy is naar. Sy sluk, haar mond is droog en sy proe bloed. En haar kop is seer. Sy spartel beangs rond en voel hoe 'n sterk figuur haar optel. Hy druk haar hardhandig in 'n nou ruimte in. Die motor? Nee, die kattebak!

“Help! Help! Iemand help my!” Paniek gryp haar vas. Sy moet nou kalm bly. Nie huil nie. Sy voel om haar rond. Met bewende hande probeer sy die sak oor haar kop aftrek. Dis vasgeknoop. Sy wil versmoor. Dit is warm. Pyn skiet weer deur haar kop en sy voel saggies aan haar slape.

Die voertuig kom tot stilstand. Motordeure klap toe. Sy tel saggies tot tien. Haar liggaam ruk van die skok. Die kattebak word oopgemaak en iemand pluk haar uit.

“Eina! Los my uit!”

“Hou jou mond, Bitch” sê 'n man en trek haar by trappe op.

Sy struikel. Word dan vorentoe gestamp en hardhandig op 'n stoel geplak. Die sak word van haar kop afgetrek.

Sy snak na haar asem. Gulsig hap sy na suurstof en maak haar oë stadig oop. Haar hande en voete word vasgebind. Sy is iewers in ‘n vertrek, alleen. Die man wat haar vasgebind het, verdwyn en Samantha kyk om haar rond. Dit is vuil, die reuk van ou kos laat haar maag draai. Leë bierblikkies lê gestrooi en 'n muf reuk hang in die lug.

Sy wikkel die toue om haar polse bietjie losser en haal diep asem. Skielik verskyn daar drie mans in die vertrek. Die een stap tot by haar en klap haar hard deur die gesig. Sy kreun. Hy gryp haar aan haar hare, ruk haar uit die stoel en sleep haar tot teen die muur.

“Waar is my goed, Bitch?”

“Ek, ek, ek weet nie waarvan jy praat nie,” snik sy.

“Kom ek herinner jou 'n bietjie.” Hy sleep haar terug na die stoel toe en stap na die hoek van die vertrek.

Sy merk nou eers die tafel op. Skerp tange, drade en hamers lê uitgestal op die tafel. Daar lê bloed, op die tafel, langs die tafel, op die vloer.

“O hel, nee!” Sy knyp haar oë toe. Dit voel of sy gaan flouval. Sy is naar en haar hele lyf pyn.

“Waar is Alex?” vra sy hees.

“Hy wou nie saamwerk nie.” Die antwoord is kil, kortaf.

“Wat wil julle van my hê? As julle geld soek, sal ek help. Dit is net in my kluis, ek het tyd nodig,” pleit sy.

“Ek soek my honderd en twintig kilogram wit poeier!”

“So, dit is waaroor dit gaan. Dwelms?”

“Lyk my ons verstaan mekaar nou mooi,” sê hy koud.

“Ek weet nie waarmee jy en Alex besig was nie, maar ek is nie deel daarvan nie.”

“Jou trokke het dit oor die grens gesmokkel.”

“Dit kan nie wees nie, my permitte is in plek. Ek vervoer graan Mosambiek toe. My trokke kom leeg terug,” antwoord sy wrang.

Hy lag. “Sure. Daardie trokke vervoer lankal my produk. Maar nou het Alex 'n manier gevind om van dit te steel.”

“Nou vra hom dan waar die blerrie goed is.”

Hy kyk haar lank aan voordat hy sê: “Hy het weggekom voor ons kon uitvind.”

“Gaan deursoek dan die trok! Wat is so moeilik?”

“Ons het die trok ook verloor.”

“Ag hemel tog. Aktiveer die opsporingstelsel.” Solank hulle haar net los.

“Jou boyfriend moes dit opgespoor het, dit is af.” Hy lig een van die tange op en staan nader.

Sy moet nou vinnig dink. Hierdie een besluit kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Sy kan haarself dalk nog red, net vir 'n klein rukkie aan die lewe hou. Hulle gaan haar in elk geval dood maak. “Ek sal kan help,” sê sy, die paniek duidelik in haar stem.

“Ek vertrou nie bitches nie. Alex het ons klaar in die rug gesteek.”

“Wel, hier sit ek nou vasgemaak tussen drie skobbejakke wat my in elk geval nou-nou in 'n gat gaan gooi. Ek en Alex het net 'n paar keer uitgegaan. Wat hy regtig doen het hy nie met my gedeel nie. Neem my na my huis toe. Ek kan van daar af op my rekenaar die opspoorder aktiveer op die trok.” Sy pleit nou openlik.

“Ek het jou mos gesê dit is af! Fokken luister jy nie?”

“Die gewone opsporing stelsel is af, maar daar is 'n klein apparaat weggesteek wat ek kan aktiveer. Dit is juis vir gevalle waar hi-jackers die drade knip en wegry.”

Hy oordink dit vir 'n oomblik. “As jy speletjies met my speel, maak ek jou vrek.”

“Jy gaan dit in elk geval doen, ek het niks om te verloor nie. Jy het wel,” kap sy terug


Die pad na haar huis voel soos 'n ewigheid. Die kloppende hoofpyn het effens bedaar. Sy is dors en moerig. Haar vriendin het haar gewaarsku teen Alex. Sy was moeg vir veilig wees. Moeg vir die gewone mans met hulle vervelige praatjies. Noudat sy daaraan dink, hy het die aand van die geselligheid reguit na haar toe gestap. Sy het bekoor gevoel. Goed gevoel dat hy haar spesiaal uitgekies het tussen die ander vrouens. Maar dit was dus met 'n rede. Hy het haar met 'n doel ontmoet. Hy het eers grappies gemaak en sy sjarme gebruik om haar voete onder haar uit te slaan. Die eerste aand het honderde rooi ligte geflikker. Maar sy wou saamspeel. Daarna het hy haar weer uitgeneem. Bietjie vir bietjie het hy uitgevis oor haar besigheid. Hoe, waar en wanneer. Sy het vir hom en sy leuens geval. Hy het nooit regtig in haar belang gestel nie. Sy is bloot gebruik vir belangrike informasie. Nou is hy weg en sy sit met die gemors. Sy lek oor haar droë lippe. Alles maak nou vir haar sin.

“Kan ek 'n bietjie water kry?” vra sy uiteindelik.

“Shutup.” Hulle kyk nie eers na haar nie.

Byt vas, Samantha, julle is amper by jou huis. Daar is dit jou speelveld. Hulle ken dit nie so goed soos jy nie. Speel al jou kaarte. Die stemmetjie sê dit oor en oor vir haar.

Sy maak keelskoon. “Hier voor regs, dit is die huis op die hoek.”

Hy parkeer die motor in die straat voor haar huis en kyk stip na haar. “Try net iets en dit is tickets met jou.”

Sy knik en hy help haar om uit die motor te klim.

“Onder daardie klip is die sleutel,” sê sy en beduie met haar kop.

“Is die alarm aan?”

“Nee.”

Hy sluit die deur oop en trek haar aan die een arm die huis binne. “Waar is jou rekenaar? Move!”

“Links, by daardie deur in,” beduie sy.

Hy skakel die lig aan en loop tot voor die rekenaar. “Sit.” Hy druk haar in die stoel, maak haar hande los.

Sy vryf oor die rooi merke wat die toue gemaak het. Bewerig skakel sy die rekenaar aan en haar bloederige hand soek na die muis. Sy haal diep asem. Sy hou hom dop uit die hoek van haar oog. Sy kliek 'n paar keer met die muis en kyk stip voor haar.

“Na watter trok soek jy?” Sy sukkel om te praat, haar mond is só droog.

“Die een wat vanoggend oor die grens gekom het,” blaf hy.

Sy kliek weer met die muis en trek haar asem stadig in. “Dit gaan 'n minuut of twee neem. Ek het die opspoorder reeds geaktiveer.”

“Ek het die hele aand tyd.” Terwyl hy praat kyk hy in die vertrek rond.

“Kan ek asseblief ‘n glas water kry?”

“Jissis. Alweer jy en jou water. Gaan haal vir haar water,” skree hy vir een van die ander mans.

Sy vryf saggies oor haar slape en die pyn skiet opnuut deur haar kop. Sy kreun. “In die eerste kas van die kombuis is pynpille. My kop wil bars, asseblief,” smeek sy.

“Fok tog. Toe, gaan haal,” beveel hy die tweede een.

Net toe die man by die deur uit is, verskyn die trok op die rekenaar se skerm.

“Hier is die trok,” sê sy en staan effens terug.

Hy loop tot voor die skerm om beter te kan sien.

Samantha tel die klip beeldjie versigtig op.

Hy gaan sit op die stoel.

Sy lig haar hand hoog op. Moker hom oor die kop met die beeldjie. Met drie treë is sy uit die kantoor. Sy hardloop so vinnig as wat sy kan, motorhuis toe. Haar hande bewe toe sy die deur toe klap. Vinnig druk sy 'n knoppie langs die deur en al die deure in die huis sluit outomaties.

Die motorhuis se deur is nog halfpad aan die oopmaak, toe bars sy met haar vier vertrek daardeur. Stukke hout spat die oprit vol. Sy jaag vir wat sy werd is.

Sy skrik toe sy haarself in die truspieëltjie sien. Haar hare is deurmekaar en vol vloed. Die hou op haar kop het 'n groot, blou knop gemaak. Daar moet een van haar ribbes ook af wees, want die pyn skiet deur haar hele bors.

Haar selfoon lê nog in haar handsak in Alex se motor. Sy gaan in elk geval nie terugry soontoe nie. Daar het sopas 'n nuwe krisis ontstaan: Sy moet by daardie trok van haar uitkom.

Sy trap die pedaal dieper in en die voertuig skiet vorentoe.


Samantha het die veertig minute rit met gemak afgelê. Sy parkeer haar vier vertrek 'n entjie van die trok af. Sy bekyk die omgewing. Die vrag is reeds afgelaai. Dit is stil. Daar is geen beweging nie. Sy haal haar 9mm onder die sitplek uit en stap saggies na die stoor toe. Voetjie vir voetjie stap sy nader en maak die stoordeur saggies oop. Dit is donker binne. Sy beweeg dieper die gebou in en hoor stemme aan die agterkant.

Sy herken dadelik vir Alex. Daar is net een onbekende man by hom. Sy stap nader. Alex het seergekry. Sy een oog is byna toegeswel, daar is 'n sny oor sy wangbeen en 'n verband om sy een been.

Stadig beweeg sy agter hulle verby.

Dit is eers toe sy agter Alex staan en die 9mm in sy rug druk, dat albei mans besef hulle is nie alleen nie.

“Hallo Alex,” groet sy soet.

“Samantha, jy leef!”

“Waar is my trok se voorraad?”

“Alles is nog in die trok, niks is weg nie.”

“Die plastieksakkies, waar is dit?”

“Waarvan praat jy?” Hy hou hom onnosel.

“Jy is toe al die tyd die een wat steel,” bevestig sy.

“Ek het niks gesteel nie! Is jy mal?”

“Wat het jy gemaak met die heroïen?” vra sy kil.

“Hoe weet jy daar was heroïen op die trok?” Hy klink nou glad nie meer so seker van sy saak nie.

“Dit is my trokke, liewe Alex. Dink jy regtig ek weet nie wat met my eie vloot aangaan nie?” Sy druk die pistool dieper in sy rug.

Hy sluk. “Ek het net ... dit was net ... 'n bietjie,” stamel hy.

“Honderd en twintig kilogram in totaal,” bevestig sy. “Nie juis 'n bietjie nie, of hoe?”

“Hoe weet jy hoeveel daar weg is?” Die angs slaan hoog deur sy stem.

“Want jy het van my gesteel.” Sy skree nie. Inteendeel, sy voel baie kalm.

“Ek het nie van jou graan gesteel nie.”

Desperate pogings van 'n desperate man. Sy sug. “Ek praat van my heroïen, liewe Alex.”

Hy skud sy kop en draai effens om. “Genugtig, kyk hoe lyk jy!”

“Waar is my voorraad?” vra sy weer.

“Ek het net 'n bietjie vir myself gevat. Dit was nie baie nie. Dit is in elk geval Lady X se goed,” kap hy terug.

“Ek ís Lady X, jou onnosel gek,” spuug sy dit uit.

“Wat ... wat bedoel jy?” Hy skud sy kop.

“Ek het met die laaste vyf besendings agtergekom daar raak van die sakkies weg. Ek het vir De Santos gevra om ondersoek in te stel. Hy moes uitvind wie my goed steel. Een en een maak twee.”

Alex bly doodstil. Hy is bleek en lyk moeg.

“So, waar is my voorraad, Alex?”

“Ek is jammer, ek het nie geweet dit is jou goed nie. Ek sou nooit gesteel het as ek geweet het dit was joune nie,” sê hy hees.

Samantha lig die pistool, mik na die man wat langs Alex staan en trek die sneller. Die man val langs Alex se voete.

Alex is se oë is pierings. Geskok kyk hy na haar en sluit sy oë. “Ek is jammer,” prewel hy.

Sy staan en dink wat sy volgende moet doen. De Santos se trawante het Alex laat wegkom. In die proses het hulle haar amper doodgemaak. Hulle werk is slordig.

“Stap deur toe,” beveel sy.

Hy stap mank voor haar uit en gaan staan langs die trok.

“Jy het twee ure tyd,” sê sy hard.

“Wat moet ek doen?”

“De Santos se drie idiote is nog in my huis vasgekeer. Sorg dat jy van hulle ontslae raak. Ek wil geen spore van hulle vind nie. Teen môreoggend wil ek my honderd en twintig kilogram terug hê. Elke een van hulle.” Haar oë boor in syne. “En Alex, as jy my weer verraai of verdwyn met my pakkies, sal ék jou self opspoor. Ek sal persoonlik elke vinger, toon, arm en ledemaat van jou afsny voordat ek jou kop wegblaas. Verstaan jy my baie mooi?”

“Ek verstaan.” Hy huil byna.

“Ek soek nie los drade nie,” gil sy en stap tot by haar vier vertrek.


Samantha gooi die Franse vonkelwyn in twee glase en stap tot op die strand. Haar bruingebrand sexy lyf gloei in die son.

“Hier,” sê sy saggies en glimlag in sy oë.

“Dankie,” prewel hy en neem die glas by haar.

“Op ons nuwe vennootskap.” Sy klink sy glasie.

“Op ons.” Hy neem 'n klein slukkie.

“Ek is trots op jou, liewe Alex,” sê sy soet en trek sy kop nader. Sy lippe brand op hare. Sy kreun toe hy die bikini se bandjie losmaak en haar nek liefkoos met sy sagte soene. Haar asemhaling jaag, haar arms klou aan hom vas.

“Dankie Alex, jy laat my voel soos 'n godin,” prewel sy.

“Enige iets vir jou, Samantha,” sê hy saggies.

Alex staan op en gaan staan by die deur van die privaat villa.

Sy hou hom dop. Sy lyf is mooi gespierd. Die laaste paar weke wat verby is, het hy homself bewys aan haar. Hy het homself oortref met elke opdrag. Sy vertrou hom nog nie heeltemal nie. Daarvoor moet hulle eers 'n lang pad saamstap. Maar hy is die enigste persoon wat haar regte identiteit ken. Die res van haar trawante neem opdragte oor die foon. Almal dink Lady X is 'n man of 'n kartel. Dit pas haar goed. Vir meer as vyftien jaar soek die opposisie na haar. Elke keer onsuksesvol. Alex weet té veel van haar geheime. Sy oorlaai hom met geskenke, geld, duur motors, eksotiese vakansies. Sy is nog nie honderd persent oortuig van sy lojaliteit nie. Gelukkig is sy altyd een stappie voor die res. Haar pa het al sy lewenslesse met haar gedeel. Sy moet altyd 'n voet in die deur hê.

Sy tel haar selfoon op en gaan die boodskappe deur. Tevrede glimlag sy. Een van haar privaatspeurders het Alex se gewese vrou en kind opgespoor. Haar mense sal hulle volg. Indien Alex nie meer wil saamwerk nie, sal hy die gevolge moet dra. Sy moet haarself immers beskerm; haar vyande is gewetenloos. Maar sy sal met gemak die prys betaal vir haar geheime.

Alex stap die kamer binne en val langs haar neer. Sy hande gly oor haar sagte vel. Sy reageer op sy liefkosing. Hy is deeglik. Hy soen haar met oorgawe. Haar bloed bruis en haar asem jaag. Sy gee alles wat sy het. Met elke aanraking klop sensasie deur haar lyf.

“Ek het jou lief, Samantha.”

“Ek het jou ook lief, liewe Alex,” verseker sy hom.

























32 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page