Satynsagte hare val in lokke oor hul skouertjies. Glasogies is geraam is in lang swart wimpers. Pienk wangetjies blink soos kersies op 'n koek. Hulle is aangetrek in deftige rokkies wat oor onberispelike lyfies klok. Elkeen met 'n naam: Amanda, Porcha, Sophia en Dominique. Uitgestal op haar ma se spieëltafel.
Dorette se handjie gaan uit na hulle, maar word onmiddellik weggeslaan.
“Jy mag nie aan hulle vat nie, Ma se pop.”
“Hoekom mag ek nie met haar speel nie?”
“Dis ouma se porseleinpoppe en hulle is net daar om na gekyk te word. Eendag as ek nie meer daar is nie dan sal hulle joune wees.”
Tydens haar ma se roudiens was dit hierdie herinnering wat by Dorette opkom. Sy kon haar ma se hand so goed onthou. Haar streng vermaning. Om eerlik te wees die poppe spook al by haar vandat sy haar ma se huis opgepak het. Al die meubels en klere is geskenk aan instansies. Al wat Dorette gehou het is daardie een boks. Haar ma draai in haar graf om as sy moet weet die poppe is in 'n boks vervoer.
Dorette vou die flappe van die boks stadig oop. Haal een van die poppe uit en plaas dit netjies op die werksbank voor haar. Sy krap deur haar gereedskapkis. Vind die hamer. Sy neem die hamer in albei haar hande, spasieer haar bene sodat haar voete stewig geanker is op die grond. Dan lig sy die hamer stadig tot bo haar kop en slaan met al haar krag. Die pop se porselein kop versplinter voor haar. Sy ruil die hamer vir 'n skêr en versnipper die wynrooi fluweel rokkie totdat alles soos 'n moordtoneel voor haar lê.
Dan haal sy die volgende poppie uit en doen dieselfde.
Toe al elf van die poppies hulle lot teëgekom het, gooi sy wat oor is van hulle terug in die boks. Sy vee die kleiner stukkies met die besempie in 'n skoppie op en strooi dit soos as bo-oor die stukkende poppe. Dan vou sy die boks toe, seël dit met kleefband en gaan sit die boks buite langs die vullisdrom neer.
Poppe is daar om mee gespeel te word.
Dorette stap deur haar woonstel na die kombuis. Leë wegneemete bokse lê gestrooi oor die tafelblad. Dae se vuil skottelgoed staan opgestapel in die wasbak. Haar ma se stem weergalm in haar ore: “'n Vrou maak altyd seker haar kombuis is netjies; mens weet nooit wanneer gaste mag opdaag nie.”
Sy vee die bokse met haar arm van die tafel af totdat almal op die vloer val.
Sy loop na haar slaapkamer. Haal 'n swart broekpak uit haar kas en lê dit op die bed. Sy laat val haar kamerjas op die vloer en gaan staan voor die spieël. Haar smal hande, haar lang skraal arms, haar lang atletiese bene wat nog net so mooi en sterk is soos toe sy op skool in sport uitgeblink het – alles is nog dieselfde. Dit is net haar middel wat nie op die oomblik in proporsie met die res van haar lyf is nie.
Haar hand trek stadig die rooi lyn van haar lippe na. Maak dit voller, helderder met rooi lipstiffie. Spesiaal vir haar ouma wat altyd gesê het rooi lippe is net vir straatvrouens. Vandag sal almal weet wat sy al vir jare weet: sy is nie een van hulle dam se ganse nie.
In die parkeerarea van die kerk drip, drip die reën teen die motor se venster. Sy klim uit, maak haar sambreel oop en hardloop tot by die kerk se ingang. Sy neem 'n pamflet by die deur en neem haar plek in die eerste ry in. Die orrel speel, die predikant preek. Hier en daar vee mense aan hul gesigte met snesies. Sy sit geduldig en wag. Wanneer daar aangekondig word dat die huldeblyk en bedankings gedoen moet word staan sy pligsgetrou op en vertel van al haar ma se goeie karaktereienskappe. Dis tog wat almal wil hoor. Die dinge wat haar ma aanvaarbaar gemaak het in die gemeenskap. Dat sy 'n gelukkige en vervulde lewe gelei het omdat sy alles gedoen het wat van haar verwag was sonder om te kla. Sy sluit af met: “Sy was 'n goeie mens en ons sal haar almal baie mis.”
Vandag begrawe sy meer as net haar ma. Sy begrawe al die kondisionering waaraan sy onderhewig was. Generasies van onderdrukking wat 'n lewelose bestaan vir die vrouens in haar familie gekweek het. En vir wat? Sodat alles van buite kon mooi lyk? Dit terwyl sy voor haar siel weet dat dit nie die kanker was wat haar ma se lewe geneem het nie, maar depressie. Depressie, omdat sy nooit by ander se standaarde en voorskrifte kon uitkom nie, maar o, so hard probeer het.
Na afloop van die diens vergader almal, soos gewoonlik, in die kerksaal. Dorette trek haar swart baadjie uit. 'n Onrus begin onder die gaste kriewel. Hier en daar begin tannies agter hulle hande fluister. Twee ouderlinge en die predikant staan nader aan hul vrouens, gryp hul hande styf in hul eie. Sy geniet die paniek in hul oë, maar vandag gaan nie oor hulle geheime nie.
Haar broer stap nader.
“Ek sien gelukwensing is aan die orde van die dag.” Sy oë flits koud oor haar boepens. “Jy is 'n verleentheid vir hierdie familie, Dorette.”
Miskien is sy. Miskien is haar benadering in sommige opsigte gebrekkig. Maar al wat sy met sekerheid weet, is dat poppe is daar om mee gespeel te word.
Comments