top of page

Storietyd: Die regte tyd, Elana Brand


Katinka staan voor die venster en kyk uit oor die berge wat haar omring. Die son verhelder die hele wêreld rondom haar. Behalwe die skadu binne haar. Haar woonstel is vol van dinge wat sy nie nodig het nie. Haar tyd word opgeneem deur mense van wie sy nie hou nie. In die bou van die lewe wat sy gedink het haar gelukkig sal maak, het sy iets verloor. Iets belangriks. Haarself.

Sy vat nog 'n sluk uit die bottel wyn in haar hand.

Die dag wat sy haar kop daarop gesit het om in die wêreld van advertensiewese betrokke te raak, het sy geweet sy wil by Pinacle Marketing werk. En toe kry sy ses maande terug die werk. Sy het trots ingestap by die kantore van Pinacle Marketing. Alles, van die buitekant van die gebou tot die interieur, het haar energie opgestoot. Die kleur wat die mure geverf was, die kunswerke wat in die gange gehang het. Haar nuwe baas. 'n Man vir wie sy die grootste respek gehad het as gevolg van sy reputasie in die industrie. Alles wat perfek. Sy was presies waar sy moes wees.

Soos tyd verloop, het dit duidelik geraak dat haar nuwe baas resultate bo enigiets anders najaag. Insluitend die moraal van sy werkers. Almal was oorlaai. Haar werksomstandighede is pal oorskadu deur vrees. Haar dae was gevul met meer vergaderinge as wat sy kon tel en meer koffie as wat sy kon hanteer. Haar kreatiwiteit was ingeboks. Haar bydraes het nie meer betekenisvol gevoel nie. Sy het haar greep verloor op hoekom sy doen wat sy doen.

Katinka trek die gordyne toe. Sy is moeg. Sy is elke dag 'n bietjie moeër as die vorige dag.

Sy is 'n assistent belowe. En soos 'n dwaas het sy al haar hoop op die persoon gesit. Chad. Haar eie assistent. Hy het dié week begin werk. 'n Totale teleurstelling. In plaas daarvan dat hy druk van haar moet afneem, voeg hy net daartoe by met sy vreemde idees. Op sy eerste dag het hy vir haar 'n skildery geskenk gegee. Lelike ding. Helfte van die son en helfte van die maan vloei in mekaar met abstrakte letters wat in die middel ronddryf. Sy het gevra wat die letters beteken - bloot omdat sy nie geweet het wat anders om te sê nie.

“Die letters spel die woord ‘Kairos’, wat in Grieks ‘die regte tyd’ beteken. Ek sien visioene en dan gebruik ek dit as inspirasie om te verf.”

Hy het nog 'n paar goed kwyt geraak, maar sy het ophou luister. Regtig, wie het tyd vir sulke snert?

Katinka maak haar oë vir 'n oomblik toe. Hoe het sy tot hier gekom? En hoekom? As dit was om iemand te beïndruk, het sy daarin ook gefaal, want sy het almal die laaste ses maande vervreem. Sy is alleen.

Haar kop spin. Sy moet lê.

Die ritmiese klank van die horlosie teen die muur se sekondewyser laat haar gedagtes saamsmelt in 'n pikswart newel.

 

Die son se strale is warm teen haar ooglede. Sy probeer, maar die krag om haar oë oop te maak ontbreek. Haar kop pyn. Dit is die stem wat haar laat regop sit.

“Hallo slaapkous.”

Waar is sy? Gedisoriënteerd soek sy haar kamerjas waar sy dit altyd langs die bed los. Dis nie daar nie. En sy is nie in haar kamer nie.

'n Man in 'n los, wit rok sonder moue sit kruisbeen op die mat 'n paar meter van haar af. Hy is kaalvoet en het 'n tulband om sy kop. Skielik bewus daarvan dat sy kaal is, trek sy die bont kombers waaronder sy lê tot styf teen haar ken.

“Wie is jy?”

Sy oë trek toe en sy mond gaan oop. Hy lag uit sy maag uit. Hy is sexy. Maar dis nie nou ter sprake nie.

“Wie is jy?”

“Katinka, my skat, ek dink jy droom nog. Ek maak vir jou 'n koppie tee.”

Die man staan op. Die lig wat op hom val, is helder. Katinka kan sy gespierde boude deur die dun lap uitmaak. Hy is jonk. Jonger as sy. Sy kyk soekend om haar rond. Waar is sy? Die plek is nie groot nie, maar daar is die illusie van spasie omdat daar so min meubels is. Slegs die klein kombuisie in die hoek, waar die vreemde man nou die ketel aangesit het, en die bed. Die deure waar die son inkom is oop en loop uit op 'n terras waar daar 'n magdom verskillende plante groei. Daar is nog 'n deur wat toe is. Seker die badkamer.

“Waar is ons?” vra sy versigtig.

“Katinka, het jy gisteraand van my spesiale kruie gerook?” Hy knipoog vir haar.

“Waar is my klere?”

“Waar dit altyd is. In ons tasse onder die bed.”

Daar vorm 'n diep keep tussen die man se wenkbroue. “Is jy okei?”

Katinka staan stadig op en trek die kombers saam met haar. Sy buk af tot op haar knieë. Sy trek die tas uit. Daar is 'n paar soortgelyke rokke in soos dié wat die man dra. Haastig haal sy een uit en trek dit oor haar kop.

Die man stap uit by die oop deur, twee koppies in sy hande.

Sy volg hom. Wat anders kan sy doen? Sy moet uitvind hoe sy hier gekom het.

Buite is twee riempiestoele met 'n klein tafeltjie. Die koue van die stoel slaan reg deur die dun lap van haar rok. Sy neem die koppie in haar hand en bring dit na haar mond. Dit ruik snaaks.

“Wat is dit?”

“Salie,” sê hy terwyl hy haar vraend aankyk. “Is jy seker jy voel okei?”

“Kyk, ek gaan met jou eerlik wees. Ek weet nie wie jy is nie en ek het geen idee waar ek is nie.”

Hy kyk haar geamuseerd aan. “Ek is George.” Hy lag weer sag en drink sy tee.

“Hoe het ek hier gekom, George?”

“Jy bly hier, Katinka. Ons bly saam hier.”

“Watter dag van die week is dit?”

“Dit is Saterdag.”

“George, wat is hier aan die gang? Asseblief, ek het nodig dat jy met my eerlik is.” Sy weet sy droom nie. Het die man haar dalk ontvoer?

Met groot geduld antwoord hy: “Katinka, ek weet nie wat met jou aangaan nie. Dalk moet jy iets eet.”

Sy sluk stadig aan die onsmaaklike tee.

Toe sy klaar is en die koppie op die tafeltjie neersit, hou hy sy hand uit. “Kom ons gaan kry ontbyt.”

Die kafee waarheen hulle stap is in 'n straat wat sy nie herken nie. Moet sy weghardloop? Maar waarheen?

Die plek is nie bekend nie. En niks op die spyskaart lyk hoegenaamd na iets wat sy ooit sal eet nie.

George sien haar ongemak en vra die kelner om vir hulle die spinasiebrood  met eiers te bring.

“Katinka, wat is fout met jou vanoggend?”

Sy vertel hom wat sy onthou van die vorige aand. Hy luister aandagtig. Dink so rukkie.

“Daar is geen logiese verduideliking vir wat jy my vertel nie, maar dan glo ek nie dat alles in die lewe altyd 'n verduideliking nodig het nie. Kom ons spandeer net 'n rustige dag saam en kyk wat gebeur.”

Watter ander keuse het sy?

Die kos kom en die spinasiebrood is glad nie wat sy verwag het dit gaan wees nie. Dit is heel lekker.

“George, kan jy my asseblief neem na waar ek werk?”

“Jy bedoel waar óns werk?”

“Ons werk nie saam nie.” Daarvan is sy seker.

“Karinka, ons besit 'n holistiese gesondheidswinkel.”

“Huh?”

“Ons het ook ons eie kruiepille onder die etiket, Ouvroustories.”

“Nee.” Sy slaan haar hand oor haar gesig en begin histeries lag. Iemand is besig om die gek met haar te skeer.

George lag egter nie saam met haar nie.

“Maak ons geld met hierdie besigheid?” vra sy vir geen spesifieke rede nie.

“Ons maak genoeg om ons huur en kos te betaal. Maar ons doen dit nie vir die geld nie. Ons deel 'n passie vir 'n organiese bestaan.”

Organiese bestaan. Wat beteken dit?

“Hoe pas hierdie organiese bestaan in by ons langtermyn planne?”

“Ons wil die wêreld in 'n beter toestand los as wat ons dit gekry het.”

“George, dit klink net nie soos ek nie. Jy praat van iemand wat ek nie ken nie ... en ook geen behoefte het om te raak nie.”

Teleurgesteld knik George stadig sy kop. “Ek sien.”

“Ek is jammer, George. Ek weet nie watse wreed poets die heelal op my en jou speel nie, maar iets groots is verkeerd.”

George sug. “Elke siel in die heelal het spesifieke lesse om te leer, Katinka. Dalk is hierdie net 'n tydelike situasie waaruit ons bedoel is om iets te leer.”

“Dalk.”

George se hele “go with the flow” gesindheid irriteer haar. Hulle praat glad nie dieselfde taal nie.

“Is jy reg om te gaan?”

“Waarheen?”

Sy het nie krag vir iets volksvreemds nie.

“Ons gaan stap gewoonlik Saterdae in die berg.”

Hy sien haar huiwering. “Net as jy kans sien?”

Ag wat, dalk val sy erns af en stamp haar kop en dan word sy weer wakker in haar eie lewe.

 

George stap voor en Katinka volg letterlik in sy voetspore. Die reuk van nat grond omvou haar onmiddellik toe hulle met die paadjie langs die berg begin oploop. Sy haal diep asem en verwelkom die aangename geur van vars lug. Soveel anders as die gasse wat haar longe elke dag in die stad oorweldig. Die geluid van die stokkies en blare onder haar voete word 'n sussende deuntjie in haar ore. Sy het vergeet watter goeie vorm van terapie natuur kan wees.

“Doen ons dit elke week?”

“As die weer dit toelaat,” sê George oor sy skouer.

Sy pas is vinnig. Sy kom nie meer so gereeld in die gimnasium nie: sy sukkel om by te hou. Maar sy sê niks nie. Sy wil nie omdraai nie. George trek haar aan haar hand soos hulle die laaste steilte uitklim. Uiteindelik gaan sit hulle op 'n rots. Dit voel asof daar net blou lug oral om haar is. Asof sy in die hemel self sit.

Vir 'n lang ruk sit hulle in stilte. Sy kyk na George. Watter draaie het sy lewe geneem? Hy is so ... aards, so geanker.

“Hoe oud is jy, George?”

“Twee en twintig.”

“Wat?” Sy is nege en twintig. Mense sal haar uitlag as hulle moet weet sy is saam met so 'n jong man.

“Hoe het ons ontmoet?”

“Daar is 'n sentrum in die stad wat elke aand meditasieklasse aanbied. Ek het jou gereeld daar gesien en een aand die moed bymekaar geskraap om met jou te praat.”

Sy weet van watter plek hy praat. Sy het dit al gesien. Hulle bied ook jogaklasse aan.

“Hoekom ek? Hoekom wou jy juis met my praat?”

Toe die woorde by haar mond uit is, besef sy hoe kinderagtig dit klink.

George is egter nie gepla nie. Hy oordink dit vir 'n oomblik voor hy  antwoord. “Jy het 'n innerlike vreugde aan jou. Dit is soos 'n trekkrag. Ek het eenvoudig geweet jy is die een vir my.”

Vir iemand so jonk, is George baie gemaklik met wie hy is.

“George, jy is werklik een van die vriendelikste ouens wat ek al ontmoet het. Maar 'n verhouding tussen ons sal vir my voel soos 'n eksperiment tussen twee teenoorgesteldes.”

“Hoekom wil jy gesprekke altyd in so 'n swaar rigting in stuur?”

Sy vraag vang haar onkant. “Dis al manier wat ek ken,” sê sy aanvallend.

Hy glimlag vir haar en verander dan die onderwerp. “Sal ons terugdraai?”

Sy knik.

Hy help haar af teen die steilte en neem dan weer sy plek voor haar in. Die terugtog is makliker.


“Eet jy roerbraai?” vra George toe hulle terug by die piepklein woonstelletjie is. “Ek maak net seker, want jy het my al 'n paar keer vandag laat wonder of enigiets omtrent jou nog dieselfde is.”

“Die vreugde ... waarvan jy gepraat het vroeër. Dit wat jou na my toe aangetrek het. Is dit nog dieselfde?”

Hy draai heeltemal na haar toe. “Dit is sterker.”

Hulle oë ontmoet en iets wissel tussen hulle wat sy nie in woorde kan beskryf nie.

Oor ete vra hy haar uit oor die ander lewe waarna sy heeltyd verwys. “Maak jou manier van lewe jou gelukkig?”

“Mens kan nie jou vertroue in geluk sit nie.”

“Waarin sit jy dan jou vertroue?”

Sy trek haar skouers op. “Seker in die feit dat die lewe moeilik is. En as ek altyd gereed en verantwoordelik optree, ek dit sal oorleef.”

George rol sy oë.

“Ons deel nie dieselfde sieninge nie en daar is niks daarmee verkeerd nie.”

“Ja.” Hy kies sy woorde baie versigtig. “Dit wil net vir my voorkom jy skep baie van jou eie probleme.”

Die wind is uit haar seile. Sy hap vir 'n paar oomblikke lug voor sy haar woorde vind. “Jy weet niks van my af nie. My lewe het uitdagings wat jy nie eers sal kan begin om te verstaan nie.”

“Ek probeer jou regtig nie ontstel nie.”

“Tog is dit al wat jy doen,” mompel sy vir haarself.

“Ek is moeg. Ek wil nou gaan slaap.”

Hy staan op en begin die leë borde na die wasbak dra.

Sy kyk na die bed. “Waar gaan jy slaap?”

“In die bed.”

“Ek weet nie of ek gemaklik daarmee is nie.”

“Wat as ons ons klere aanhou.”

“Hoe nou?”

“Ons slaap gewoonlik kaal.”

Nog nooit nie.

Maar dit sal seker nie reg wees dat hy op die vloer slaap nie.

“Okei, maar jy bly aan jou kant van die bed.”

George se sagte laggie laat haar sowaar bloos.

 

Die son kielie haar ooglede.

Sy maak haar oë oop. En sien vir George.

Wat as sy nooit weer in haar eie bed wakker word nie? Ja, haar werkomstandighede is sleg, maar sy wil nie dit opgee voordat sy nie eers probeer het om dit te verbeter nie. Enigiets moet beter wees as om kruie moeties te maak vir 'n lewe. Hoekom is sy hier? Waar is haar regte huis? Haar gedagtes raak 'n vyand wat daarop uit is om haar te vernietig.

Haar asemhaling raak vinniger en vinniger. Sy sukkel om lug in haar longe te kry. Wat as sy hier doodgaan?

Paniekerig slaan sy aan George.

Sy gaan versmoor! Sy gaan hier doodgaan en nooit weer haar regte lewe kry nie.

George se oë vlieg oop. Hy sit regop en reageer onmiddellik. “Haal saam met my asem, Katinka! Asem in en asem uit! Asem in en asem uit!”

Sy kan nie.

Hy gryp haar hande in syne. “Katinka, kyk in my oë! Asem in en asem uit.”

Asof deur sy wilskrag alleen lig die drukking op haar longe. Sy stem is strelend en rustig. Sy haal asem. Eers met moeite, maar geleidelik raak dit makliker, raak sy rustiger. Hy hou nog lank daarna haar hande vas terwyl hulle soos gesinkroniseerde swemmers saam asemhaal.

“Is jy nou okei?”

“Ek weet nie wat gebeur het nie.”

“Angsaanval.”

“Dit het nog nooit met my gebeur nie.”

Hy trek haar terug en sy val gemaklik in die holte van sy arm in. Sy voel veilig.

“Ek gaan vir Miriam bel en sê ons gaan nie vandag vir Donovan kom haal nie.”

Sy lig haar kop op. “Wie is Miriam en Donovan?”

“Miriam is die maatskaplike werker by die weeshuis en Donovan is die seuntjie wat ons elke Sondag uitneem vir die dag.”

“Nee, jy moet gaan.”

“Katinka, ek gaan jou nie hier los en die risiko loop dat jy weer 'n angsaanval kry nie.”

“Ek gaan op iets anders as my huidige omstandighede moet fokus as ek nog 'n aanval wil vermy. Kom ek vat 'n lang bad en dan gaan haal ons die kind waarvan jy praat.”

“Is jy seker jy sien kans?” vra hy besorg.

“Ja.”

Hy staan op. “Ek maak vir ons tee.”

“George?”

Hy kyk terug na haar.

“Het ons miskien koffie?”

Lagkepe verskyn in sy wange. Nog nooit het sy iemand gesien wat so 'n sterk manlike gesig het en dan nog met dimpels ook spog nie.

“Ons het koffie.”

 

'n Seun van so sewe kom aangehardloop na hulle toe. Hy duik haar amper om.

“Tannie Katinka!”

Sy hou nie van kinders nie.

Hy los haar uiteindelik en hardloop na George toe. Daar gee hy dieselfde versmorende druk en dan voer die twee een of ander handgebaar uit wat sy nog nooit gesien het nie.

“Is jy reg vir Go Karts, Donovan?”

Donovan bars amper haar oordromme toe hy van opwinding begin skree.

In die motor hou die twee nie op met gesels nie. Sy verwonder haar weer aan hoe volwasse George vir sy ouderdom is. Sy warmte is so moeiteloos.

“Gaan Tannie saam ry?”

“Tannie Katinka voel nie so lekker vandag nie. Dit gaan net ek en jy wees, Buddy.”

“Ag nee!”

“Toemaar, Tannie Katinka sal vir ons skree van die kant af.”

Sy probeer haar bes om gerusstellend vir die kind te glimlag.

Donovan en George jaag om en om die baan. Die een net so kompeterend soos die ander. Hulle laat dit so lekker lyk. 'n Buitestaander sou dink hulle is regtig pa en seun. Die arme kind. Hy kan nou waarlik niks doen oor sy omstandighede nie, tog vertel hy van drome wat die een groter as die ander is. Snaaks hoe verskillende mense presies dieselfde omstandighede op totaal verskillende maniere kan beleef.

Katinka geniet die geskerts tussen George en Donovan. Die spanning in haar lyf gee skiet. Toe dit tyd raak om Donovan af te laai nadat hulle by die Spur geëet het, is sy vreemd teleurgesteld.

“Was daar oomblikke vandag wat jy weer gevoel het dat jou angs hoër was?” vra George terwyl hulle terugry woonstel toe.

“Nee, maar ek dink dis omdat jy en Donovan die atmosfeer so lig laat voel het. Ek wou nog vir jou sê hoe ongelooflik dit is wat jy vir Donovan doen.”

“Jy weet dat jy die een was wat my die eerste keer saam met jou gesleep het, né?”

“No ways!”

“Ja. Jy praat die heeltyd van jou passie vir kreatief wees, maar ek dink jou eerste passie is mense.”

“Dalk is my werk nie so belangrik soos die mense nie,” sê sy meer vir haarself as vir hom. As sy minder op die projekte gefokus het, meer op die mense agter dit ... “George, jy het in twee dae vir my meer dinge oopgebreek as wat ek in die laaste twintig jaar op my eie reggekry het.”

“When the student is ready, the teacher wil come.”

Vir die res van die rit sit hulle in stilte. By die woonstel gooi George vir hulle die laaste van die wyn in en hulle gaan sit op hulle riempiestoele buite.

“Kan ek jou vanaand vashou?”

Sy vraag vang haar omkant. Maar haar antwoord skok haar nog meer. “Dit sal lekker wees.”

“Kaal?”

“Don’t push it!”

 

Katinka word wakker van die skril geluid van die wekker. Sy strek haarself uit en voel-voel na George se lyf langs haar. Haar oë vlieg oop. Sy is in haar eie bed.

Sy maak haar oë weer toe. Sy is so dankbaar sy het haar ou lewe terug. So hoekom voel sy so hartseer? Asof sy iets kosbaar verloor het? Sy sug. Haal stadig asem soos hy haar geleer het. Ten minste weet sy wat sy moet doen as sy by die werk kom.

 

Katinka huiwer 'n oomblik voor die gebou. Druk haar jogamat stywer onder haar arm en loop dan in.

Haar oë deursoek die vertrek waar die meditasieklas vanaand aangebied word. Sy skrik toe sy 'n hand op haar skouer voel.

Haar assistent het 'n wit frokkie aan met 'n lospassende beige katoen broek. 'n Groot kontras met die netjiese werksklere waarin sy hom tot dusver gesien het.

“Ek het nie geweet jy kom na hierdie klas toe nie?”

“Hallo, Chad. Ek kom nie gewoonlik nie, vandag is my eerste keer. Wat maak jy hier?”

“O, ek kom elke dag.”

Dit verbaas haar nie.

“Katinka?”

“Hm?”

Na al die maande maak dit haar steeds vrek ongemaklik wanneer Chad so diep – en te lank – in haar oë kyk.

“Daar is iets wat ek jou graag sal wil wys.”

“Okei.” Sy is effe onseker. Sy sukkel om Chad te plaas.

“Sal jy dalk na die klas saam met my na my woonstel toe kom? Dis nie ver van hier af nie.”

As hy haar drie maande terug, toe hy begin werk het as haar assistent, haar dit moes vra sou sy beslis 'n verskoning uit gedink het.

“Solank dit nie te lank vat nie, sal dit seker okei wees. Ek wil nog later deur more se voorlegging gaan.”

Meditasie is toe nie vir haar nie. Dit het soos 'n totale mors van haar tyd gevoel.

“Dit is iets wat op mens groei.” Chad sê dit asof hy haar gedagtes lees toe hulle uitstap.

Sy woonstel is toe werklik net 'n blok of twee van die studio af. Hy sluit die deur oop en verdwyn in een van die kamers. Katinka bestudeer die oopplan kombuis en leefarea. Dit is presies wat sy van 'n jong volwassene verwag; nie noodwendig vuil nie, maar baie deurmekaar.

“’Skuus, ek moes dit nou eers soek.” Hy gee 'n skildery vir haar aan.

Katinka kyk op. “Ek ... ek verstaan nie.”

“Dit was een van my visioene.”

“Maar ... wanneer?”

Hy wys na die onderkant van die skildery.

“Dit is amper meer as 'n jaar gelede geskilder. Jy het my nie toe geken nie?”

“My visioene is feitlik nooit van dinge of mense of plekke wat ek al vantevore gesien het nie.”

Katinka kyk weer af na die beeld voor haar. Die vrou is duidelik sy. Die man is George. En die kind is Donovan.

“Maar lyk my die keer was dit van werklike mense,” hoor sy Chad sê. “Want dit is jy. En my broer.”

 

 

74 views0 comments

Comments


bottom of page