top of page

Everybody was kung fu fighting: 5 vrae om konflik te skep in jou verhaal

Die sleutel tot ’n suksesvolle verhaal is konflik. Konflik gee jou verhaal rigting, dryf die verhaal vorentoe en dwing jou karakters om te ontwikkel. Jy is ’n skrywer; beskou jouself as die god van chaos en konflik.



’n Konfliksituasie is gewoonlik verantwoordelik vir daardie eerste insident wat jou karakter dwing om op te tree, wat die gewone status quo omver gooi, wat jou karakter ’n nuwe mikpunt of doelwit gee. Deur konflik te skep, betrek jy jou leser by die verhaal. Lesers is nuuskierige goed. Ons hou van drama. Ons lees agter die oplossing aan, die verligting teen die einde van die verhaal wanneer die konflik op ’n bevredigende manier opgelos word. Sonder genoeg konflik val jou verhaal plat. Dit maak nie saak watter tipe verhaal jy skryf nie – selfs binne memoires en outobiografieë word die spanning opgebou deur konflikmomente uit te lig.

 

Konflik skep spanning, maar dit dryf ook jou verhaal vorentoe. Dit voorkom dat jou verhaal insink in die middel; dit dwing karakters om op te tree en veroorsaak ’n domino-effek. Elke keer wanneer jy konflik in jou verhaal skep, lei dit tot gebeure, optrede of dialoog wat weer die fondasie vir nuwe konflik lê.

 

Konflik is ook ’n handige instrument vir karakterontwikkeling. Aan die hart van elke plot staan ’n onvergeetlike karakter wat ’n sterk doelwit het: jou karakter wil graag iets bekom of iemand verower, ’n gebeurtenis voorkom of juis laat gebeur, op reis gaan met ’n eindbestemming in sig. Suksesvolle stories trek ons emosioneel in omdat ons omgee wat met die karakter gebeur; ons wil sien dat sy in haar doelwit slaag. Die gebeure – en baie hiervan is juis konflikgedrewe – kan egter nie jou karakter onaangeraak laat nie. Konfliksituasies dwing jou karakter om haar ware kleure te wys, om ’n nuwe rigting in te slaan, om iets van waarde prys te gee of toe te gee. Konflik fasiliteer verandering. Karakters moet groei en ontwikkel gedurende die verhaal. Die transformasie waardeur jou karakter gaan, is die uiteindelike beloning vir jou leser.


Characters are interesting in their conflict, their misery, their unhappiness, and their confusion.  They are not, alas, interesting in their joy and security. The first gives them a pit out of which they climb during the course of a novel. The second robs them of a story. (Elizabeth George, Write Away)

1.        Watter tipe konflik het jou verhaal nodig?


Die genre en tipe verhaal wat jy skryf sal die konflik bepaal. Karaktergedrewe verhale (ongeag die genre) val in een van die volgende kategorieë:

·        karakter teenoor die self

·        karakter teenoor ‘n ander karakter

·        karakter teenoor die samelewing

·        karakter teenoor die bonatuurlike

·        karakter teenoor tegnologie

·        karakter teenoor die natuur

In ’n krimi waar karakters teenoor mekaar opgestel word (die protagonis probeer voorkom dat die antagonis nog ’n moord pleeg, byvoorbeeld) sal jy baie meer uiterlike konflik gebruik. Dink aksie: vuisgevegte, jaagtogte, vals leidrade. In ’n bildungsroman sal daar uiterlike konflik wees, maar hier kan jy ook baie meer innerlike konflik (vrese, selftwyfel, obsessies) verwag.

 

2.        Wat is jou hoofkarakter se doelwit?


Die belangrikste vraag vir jou storie is: Wat wil jou karakter bereik? Maak seker jy weet wat jou karakter dryf en hoe ver sy sal gaan om dit te bereik.

 

Plot clearly depends on basic values. What do your characters treasure most? Put it at stake. Let them fight for it. Let them fight for life, love, money, jobs. If your characters care about nothing, the actions around them might become random. […] And passion is why most people read novels. (Josip Novakovich, Fiction Writer’s Workshop)

 

Sodra jy verstaan wat jou karakter wil bereik, is dit jou werk om dit vir haar so moeilik moontlik te maak. Plaas ’n magdom struikelblokke in haar pad. Sodra dit lyk of sy haar doelwit gaan bereik, skep groter konflik wat sorg dat daardie doelwit net buite haar bereik is. Konflik skep drama. Hoe jou karakter konflik hanteer, wys die leser watter tipe persoon sy is. Konflik hoef egter nie altyd dramatiese gebeure te wees nie. Konflik word ook op subtiele maniere geskep deur bv. selftwyfel, selfsabotasie en misverstande.

 

3.        Wie is die ander karakters in die verhaal?


Jou hoofkarakter word omring deur ander karakters in die verhaal. Karakters wat, soos jou hoofkarakter, genuanseerd en driedimensioneel behoort te wees. Daar is meer aan hulle as wat die blote oog sien. Hulle het vrese, emosies wat optrede beïnvloed, drome en ideale, en ’n morele kompas – al is dit soms twyfelagtig. Niks hiervan is noodwendig dieselfde as of ondersteunend tot jou hoofkarakter se doelwit nie. Gebruik jou hoofkarakter se familie, vriende, werkskollegas en bure om konflik te skep. Onthou dit hoef nie groot dramatiese gebeure te wees nie; innerlike konflik lei ook tot optrede en verandering. En om konflik ten alle koste te probeer vermy, kan ook sorg vir innerlike sowel as uiterlike konflik!

 

4.        Wat dryf jou antagonis?


Die antagonis van ’n verhaal is die karakter, instansie, plek of ding wat jou protagonis verhoed om haar doelwit te bereik. Moenie aan hierdie karakter dink as “sleg” nie. G’n mens beskou homself as die skurk nie. Ons almal is die hoofkarakter van ons eie lewe. Ons optrede word bepaal deur ons drome, ideale, waardes, ons passies, ons morele kompas. In ons oë is ons optrede geregverdig. Probeer jou dus in die skoene van die antagonis plaas. Wat dryf hom/haar? In watter mate verskil of stem dit ooreen met die protagonis se drome en ideale? Teenstrydige waardes of doelwitte sorg outomaties vir konfliksituasies wat genuanseerd en kompleks is.

 

5.        Los jy jou leser met onbeantwoorde vrae na ’n konfliksituasie?


Elke keer wat jy ’n struikelblok in jou hoofkarakter se pad sit, veroorsaak dit konflik – innerlik of uiterlik. Maar konfliksituasies behoort jou leser ook met ’n vraag te los. Selfs al is dit bloot “wat gaan sy nou doen?” Dink mooi daaroor wanneer jy die argument, die geveg, die jaagtog, die selftwyfel, die onsekerheid opstel. Dit skep situasies wat die hoofkarakter dwing om ’n besluit te maak, dit lei tot ’n nuwe optrede, of nuwe vrese of insig. Konfliktonele behoort jou leser met vrae te laat. Vrae dwing jou leser om aan te hou lees.

 

Skilled writers know that what you’re supposed to do is continually open up your story. You do this by creating scenes in which you lay down – but do not answer! – dramatic questions. You do this by making sure that if you do answer a dramatic question in a scene as the novel progresses, you’ve already laid down another. You do this by making partial disclosures instead of giving out all the information you possess. Most important, you do this by creating suspense. (Elizabeth George).

As skrywer moet jy bewustelik konflik skep. Jy is die die bose diktator, die moeilikheidmaker, die een wat altyd ’n moersleutel in die wiel gooi. (*bose kekkellag*) Jy trek die toutjies, veroorsaak met opset choas. Jou karakters gaan jou haat daarvoor, maar jou leser sal jou ewig dankbaar bly.

 



83 views0 comments

Comments


bottom of page