top of page

7 Voordele van en redes waarom jy diep perspektief moet gebruik

Updated: Feb 10, 2024

Wil jy hê mense moet jou boek kies bo 'n TV-reeks of fliek? Diep perspektief is 'n handige verteltegniek wat jou storie kan laat uitstaan bo die res. Indien jy genrefiksie skryf, is dít hoe jy jou lesers se aandag hou.



Volgens Joshua Gowin maak jou brein geen onderskeid tussen storie en werklikheid nie – mits die storie goed oorgedra word, glo lesers dat die interaksie tussen karakters werklik is. Boonop is daar bewys dat jy deur jou storie iemand as ’t ware kan herbedraad om dieselfde emosies as jy te ervaar.

For as long as you've got your audience's attention, they are in your mind. When you hear a good story, you develop empathy with the teller because you experience the events for yourself. This makes sense. Stories should be powerful. They helped us share information long ago, before we had a written language and Wikipedia. (Joshua Gowin, "Why Sharing Stories Brings People Together", Psychology Today)

Nie alle stories kry dit reg om jou op dieselfde emosionele vlak te betrek nie. Suksesvolle stories laat jou 'n “willing suspension of disbelief” ervaar. Jy vergeet dat daar 'n outeur agter die storie is. Die beste stories is dié wat jou nie net van die outeur laat vergeet nie, maar só deelmaak van die verhaal dat dit voel asof jy dit self beleef. Dít is die stories wat jou herbedraad sodat jy presies dieselfde emosies as die karakter voel. En een van die beste narratiewe tegnieke wat jy as skrywer kan gebruik om dit reg te kry, is diep perspektief.


Wat is diep perspektief en waarom moet jy dit gebruik?

Diep perspektief is 'n redelik nuwe stylverskynsel wat in die laaste twintig tot dertig jaar gewild geraak het. Dit help jou leser om die storie te ervaar asof hy/sy die perspektiefkarakter (gewoonlik ook die hoofkarakter) is. Die karakter se ervaring word ook die leser se ervaring.


Diep perspektief het baie voordele vir die leser sowel as die skrywer:


1. Dit skep 'n sterk konneksie en emosionele band tussen die leser en die karakter.

Diep perspektief sorg dat daar geen afstand tussen die leser en die perspektiefkarakter is nie; hulle word as ’t ware een persoon. Die leser sien die wêreld deur die oë van die karakter, voel dieselfde emosies as die karakter; die leser belê emosioneel by die karakter.


2. Dit gee die storie lewe en maak dit eg.

Alles wat die leser van die intrige, die omgewing en ander karakters weet, word deur die karakter se ervaring geskep. Die leser sien, voel, ruik, proe en hoor saam met die karakter. Wanneer jy só ingetrek word by 'n storie maak jou brein geen onderskeid tussen die werklikheid die storiewêreld nie. Vir die tyd wat jy lees, is die storiewêreld eg en lewend.


3. Dit anker die storie in die hede en die karakter se ervaring daarvan.

Hierdie verteltegniek maak bitter min van terugflitse gebruik; net in uitsonderlike gevalle, soos wanneer die karakter voorheen trauma ervaar het en nou deur spesifieke klanke, reuke of plekke teruggeruk word na dié ervaring. Terugflitse veroorsaak maklik ontwrigting en verwarring – perfek indien jy wil wys hoe trauma die dag-tot-dag van jou karakter beïnvloed. Maar in die meeste ander gevalle verbreek terugflitse die spanning. Diep perspektief sorg dat die leser die hele tyd geanker bly in die hede en jou karakter se ervaring daarvan.


4. Dit help die skrywer met karakterontwikkeling.

Die geheim van diep perspektief is om jouself heeltemal in die skoene van die karakter te plaas, om te dink wat hy/sy dink, te voel wat hy/sy voel, en die storie dan só te skryf asof dit alles besig is om met jou te gebeur. Jy vergeet van jouself as skrywer; jy word die karakter.


5. Dit is ’n bondige manier van skryf wat sorg dat jou storie helder en duidelik (filmies) is.

Deur dialoogmerkers en onnodige beskrywende woorde weg te laat, word jou skryfwerk bondiger en duideliker. Jy skryf helderder. (Maar diep perspektief beteken nie dat jy minder woorde gebruik nie. Soms vra dit juis vir meer woorde om 'n toneel duidelik te wys.)


6. Dit los 90% van probleme rondom wys teenoor vertel op.

Omdat jy dialoogmerkers weglaat, beskrywende woorde beperk en probeer om jou leser in die lyf en gedagtes van die karakter te hou, wys jy outomaties meer en vertel minder. Vergelyk bv. die volgende voorbeeld: 


Marie wonder verbouereerd of sy haar pille gedrink het en haal die pilhouertjie uit haar handsak om seker te maak. Gelukkig sien sy daar is drie pille oor, nie vier nie.


Teenoor:


Het sy haar pille gedrink? Marie haal die pilhouertjie uit haar handsak. Haar hande bewe. Daar is drie pille oor. Dankie tog. Sy het dus al een gedrink.


7. Dit beklemtoon die stem van die perspektiefkarakter en help die skrywer om karaktergroei te wys.

Aangesien jy skryf asof jy die karakter is en in die gedagtes en ervarings van die karakter bly, verdwyn die neutrale derdepersoonverteller. Die stem van die perspektiefkarakter kom natuurlik deur; ons hoor immers sy/haar gedagtes. En wanneer jy voortdurend in die stem van die karakter skryf, is dit makliker om ‘n goeie greep op jou karakter se motiverings en uitdagings te kry. Dit word makliker om jou leser betrokke te hou by die karakter se groei en ontwikkeling.


Diep perspektief probeer om heeltemal van die skrywer en die neutrale verteller ontslae te raak. Dit is 'n narratiewe truuk wat jy nie regdeur jou storie hoef vol te hou nie; gebruik diep perspektief in tonele wat emosioneel gelaai is of nuwe wendings in die storie bring.


“Have you ever read a book that melded your mind with the main character’s psyche? No vague sensation of an invisible narrator insterted itself between you and the point-of-view character. Line by line, scene by scene you lived in the central character’s head. Even if the story was not written in the first person, the hero or heroin’s every experience became yours, and your reading pleasure intesived.” (Jill Elizabeth Nelson, Rivet Your Readers with Deep Point of View).

Hoe kan jy diep perspektief gebruik?


1.      Haal die dialoogmerkers (bv. "wonder hy", "dink die meisie", "sê sy", "skree Helena") uit.

2.      Wys emosie deur die fisiese effek daarvan op jou karakter, sy/haar gedagtes en optrede wat strook met die emosie. Laat jou leser self die afleiding maak oor wat die karakter voel. (The Emotion Thesaurus van Angela Ackerman en Becca Puglici is hier 'n wonderlike hulpmiddel.)

3.      Kyk na sinsnedes met voorsetsels in; is dit werklik nodig? (Gebruik bv. eerder “haar keel trek toe” i.p.v. “haar keel trek toe van spanning”.)

4.      Gebruik vrae vir afwisseling wanneer jy 'n toneel skep.

5.      Probeer om nie agtergrondinligting vir jou leser te vertel nie, maar in gedagtes of dialoog oor te dra. (Diep perspektief is nie bloot lang gedeeltes gedagtegang nie; ons wil die karakter se emosies en ervaring van ruimte en gebeure sien. Breek jou gedagtegang op met handeling.)

6.      Gebruik die aktiewe (bedrywende) vorm en nie die passiewe (lydende) vorm nie.

7.      Skryf sintuiglik. Wys wat jou karakter hoor, ruik, voel.


Kyk na die volgende toneel as voorbeeld:


Samantha kyk na haar foon en wonder of sy haar suster, Bianca, moet bel. Want haar vriendin Cassy word nou die hele tyd deur Bianca gebel. Cassy moet dan middelmannetjie speel. Uiteindelik besluit Samantha om tog maar te bel.

Dit is nie Bianca wat die foon antwoord nie, maar Sam se vorige kêrel, Herman. 

“Hemel, Samantha, ons was mal van bekommernis oor jou! Jy vat sommer die pad oorsee en laat weet nie eers of jy veilig is nie. En jy antwoord nie jou whatsapps nie,” raas Herman.

“Ek het my pa laat weet, Herman,” sê Sam. “Hierdie is in elk geval Bianca se nommer. Ek het gebel om met haar te praat, nie met jou nie,” vervolg Sam kwaad.

“Bianca is in die stort,” antwoord hy.

Sam onthou weer die dag wat sy op haar suster en Herman afgekom het. Die twee het in háár woonstel sit en vry. Toe hulle haar sien, het Herman begin om verskonings te maak. Hy het haar vertel dat hy haar nooit wou seermaak nie, dat hy en Bianca regtig lief is vir mekaar.  Sam was woedend. Hy kon haar mos maar net gesê het dit werk nie eerder as om haar te verneuk met haar suster. 


In diep perspektief sou jy die toneel só kon skryf:


Samantha sit en staar lank na haar foon. Sal sy vir Bianca bel? Dis so tipies van haar suster. Sy bel nie self nie, nee, sy gebruik eerder vir Cassy as middelmannetjie. Sam se vingers is lam. Miskien moet sy maar die minste wees. Sy haal diep asem en druk dan die groen knoppie.

Dit is nie Bianca wat antwoord nie, maar Herman.

“Hemel, Samantha, ons was mal van bekommernis oor jou! Jy vat sommer die pad oorsee en laat weet nie eers of jy veilig is nie. En jy antwoord nie jou whatsapps nie.”

Asof hy omgee. “Ek het my pa laat weet, Herman. En hierdie is in elk geval Bianca se nommer. Ek het gebel om met haar te praat, nie met jou nie.”

“Bianca is in die stort.”

Haar keel trek toe. So ewe. Hulle laat nie juis op hulle wag nie. Dat haar suster dít aan haar kon doen! In haar eie woonstel. Hulle het nie eers die ordentlikheid gehad om op 'n ander plek te vry nie. Wat het Bianca in elk geval in haar woonstel gesoek? Sou Herman haar laat kom het?

Sam sluk. Sy sal nie nou huil nie!

As hy net nie toe probeer verduidelik het nie. Hulle het nooit bedoel sy moet seerkry nie, hulle het lief geraak vir mekaar, hulle kan dit nie help nie. Bla, bla viskoekies. Gmf! Nou is sy liefie in die stort.

Kon hy nie maar vroeër vir haar gesê die verhouding werk nie?


In die tweede voorbeeld word die leser ingetrek in Sam se gedagtes. Dieselfde inligting word steeds oorgedra, maar op 'n ander manier: dialoogmerkers en voorsetsels is weggelaat, emosies is gewys en nie vertel nie, en die aktiewe vorm is gebruik. Ons hoor duidelik die stem van Sam, die perspektiefkarakter. As gevolg hiervan is jy nou emosioneel betrokke by die toneel.


Indien jy genrefiksie skryf, is diep perspektief een van die belangrikste truuks in jou agtersak.

Comments


Kontak ons

Het jy vra oor die Ink in my pen-klub, behoefte aan afrigtingsessies by Elizma of stel jy belangstel in manuskripontwikkeling by Madri? Stuur vir ons 'n boodskap. 

Dankie vir jou boodskap; ons antwoord so gou moontlik.

bottom of page