Maddie vlieg hoër en hoër, verby die reus, verby sy gesig wat gevul is met haat. Verby sy voorkop. Sy strek’n entjie verder. Vandag moet sy kyk of sy hoër kan vlieg, tot daar waar hy haar nie kan aanraak nie. Al spring hy, al spring hy hoog met klappende arms, hy sal haar nie kan aanraak nie. Sy maak draaie, eers na links en dan na regs. Speel kamma-kamma. Net om nie vir Ur kwaad te maak nie. Hy moet dink sy speel net rond vandag. Hy mag nie agterkom nie.
“Kom, Maddie, jou speeltyd is verby!” Sy stem is kwaai.
Vinnig klap sy haar armpies en kom land op sy breë skouer. Hy knip die ketting vas aan sy arm en loop met lang tree terug huis toe. Van daar bo het sy die rye en rye groen lande gesien.
Vandag het sy die eerste keer in jare vry gevoel. Verlos van Ur se kloue. Met elke tree wat hy gee, bons haar hartjie al hoe vinniger. Sy weet wat voorlê. Hy stap af met die klippaadjie, verby die geel huisies met hulle rooi teëldakke. Almal werk, besig met hulle dagtaak. Niemand is geïnteresseerd in haar nie. Hulle vra nie vrae nie.
Niemand staan op teen Ur nie. Dit sal jou dood beteken.
Skielik klap die deur agter hulle toe en sit hy haar in die hok. Die sleutel knars in die gat. Die mure is ’n grou kleur, die vloere swart. Dit laat haar dink aan die dood. Verskrik gaan sit sy in die hoekie van die groot hok. Vandag is dit honderd agt en twintig dae. Die vrees het soos ’n skaduwee oor haar kom lê. Haar vryheid is saam met haar in hierdie hok versteek.
Die laaste paar dae het sy darem sous saam met die stukkie brood gekry. Hard en gemuf. Maar met elke happie het die hongerpyne skiet gegee. Kos is kos.
“Moenie jou kos mors nie, Maddie. Daar is baie kindertjies wat honger gaan slaap.” Haar ma se woorde dreun deur haar.
“Eet. Vinnig.” Ur se stem weergalm deur die vertrek.
’n Bakkie met sop word voor haar neergesit. Gulsig drink sy die sop. Bekende smake soos tamatie en wortels speel met elke smaakklier in haar mond. Dit word vergesel deur een stukkie droë brood. Bietjie meer as gisteraand. Dit herinner haar aan die verhaal van Hansie en Grietjie. Ur duld ook nie stout kinders nie. Sy moet haar gedra.
Met verlange kyk sy deur die venster na buite. Die son het in die nag gaan lê. Dit is pikdonker buite. Duisende sterre verlig die hemelruim. Gooi spatsels van wit in die hok in. Sy gryp dit vas. Haar drome is nou net soos nuttelose woorde. Mens fluister dit oor en oor, maar dit waai weg. Hoe haal mens die seer uit die hart? Elke aand is daar ’n deel van haar wat in stukke breek.
Maddie vryf oor haar oë toe Ur die lap van die hok aftrek. Nog ’n dag. Nog ’n dag van aangehou word in die blerrie hok.
“Tyd vir opstaan.” Ur se stem klink soos altyd genadeloos en dood.
Die tellings bruis deur haar binneste toe hy die slot oopsluit, omdraai om die bakkie op te tel, deur die gat te druk en die deur weer toeklap. Tien tellings. Is dit genoeg? Honger trek sy die bakkie nader. Dit is pap. Bietjie melk daaroor gestrooi. Sy hou hom onderlangs dop. Met elke hartklop wat verwilderd in haar borskas rammel, tel die sekondes in haar kop af. Sy eet stadig. Toets hom. Sy skuif die bakkie vorentoe en trek haar asem diep in. Hy maak die hekkie oop, trek die bakkie nader en draai om.
“Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien ... Maddie, maak jou oë oop.”
Vir ’n oomblik weet sy nie waar sy is nie. Dan herken sy die sielkundige se kantoor. Die skildery teen die muur met die wit orgidees op. Ligte gordyne by die venster. Haar sagte stem.
Krampagtig klou sy die snesie vas. Trane rol oor haar wange. “Tot waar het ons vandag gekom?” Haar oë pen die sielkundige vas.
“Jy is vry, Maddie.” Die sielkundige se oë rus sag op haar. “Jy weet dit was nie jou skuld nie. Hy is nou in die tronk. Hy sal nooit weer naby jou kom nie. Glo dit.”
“Ek is bly.”
Natuurlik is jy bly, koggel die stemmetjie in haar binneste. Sy sluk en staan op, groet haar vinnig met ’n knik en stap tot by die deur.
Drie tree.
Sy kreun saggies. Sy stap tot by die hysbak.
Twintig tree.
Tyd het aangestap, maar sy het agtergebly. Vandag is sy gelukkig minder moeg. Meestal stoei sy nie meer verbete snags met haar verlede totdat die dag haar nagmerrie verjaag nie.
Drie en dertig. Sy tel die tree af tot by haar motor. Is dit hoe vryheid voel?
Sy vleg haar motortjie deur die verkeer. Ry in stilte tot by die groot, wit huis. Haar ouerhuis. Haar blik gly oor die tuin. Goed versorg met ’n magdom van kleure. Sy herken elke reuk. Rose, gesiggies, petunias en dan die jasmyn by die voordeur. Sag en soet. Sy konsentreer op elke tree wat sy gee. Hou die tellings terug. “Jy is vry, Maddie. Jy is vry.” Sy herhaal dit oor en oor in haar kop.
“Hallo, Ma,” groet sy en soen haar op die wang.
“Hallo my kind. Hoe was jou sessie by die sielkundige vandag?”
“Ons het vandag goeie vordering gemaak.”
Dis al. Sy hoef nie verder uit te brei nie. Sy bly vir aandete; dit is ook vordering.
Terug by haar huis tap sy ’n lekker diep bad water in. Dit is ’n eerste in maande. Nog vordering. Haar lyf ontspan in die warm borrels.
Snoesig toegedraai in haar slaapklere, stap sy kamer toe. Haar hand bewe toe sy die kinderboek optel. Moet sy? Sy blaai deur die boek. Onthou elke toneel. Elke gebeurtenis wat sy kloue vir soveel jare in haar ingeslaan het.
Sy is vry. Sy is waaragtig vry.
Moeg sak sy terug op die bed. Haar hartklop is rustig. Haar asemhaling egalig. Sy sluit haar oë.
“Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien ...”
Maddie klap haar armpies so hard as wat sy kan. Hoër en hoër vlieg sy. Verby Ur. Verby sy lenige lyf en stink asem. ’n Paar meter op, nog hoër. Tot daar waar hy haar nie kan bykom nie. Sy sien die rye en rye groen bome. Huisies vasgegom in die grond. Vry vlieg sy saam met die voëls. Nog hoër.
En alles is verby. Sy is vry.
Sy glo wat haar hart moet glo.
Comments