top of page

Hoe Ink in my pen my weer laat skryf het

Michelle Obama sê in Becoming: "You don’t really know how attached you are until you move away, until you’ve experienced what it means to be dislodged, a cork floating on the ocean of another place." Ek moes weggaan van Afrikaans om te besef hoe 'n groot deel dit van my is.


Enkel bootjie wat dobber op die oseaan

Boeke en stories is my liefde en my loopbaan – een waaraan ek baie hard gewerk het. As enigste kind was boeke meer as 'n toevlug; karakters het soos familie gevoel, boeke het huis geraak. Dit was my veilige ruimte. Ek het gedroom daarvan om uitgewer te word. Of 'n letterkundedosent. Ek kon my nie 'n lewe sonder boeke indink nie. En ek het dit alles reggekry. Ek het die skryfkuns bestudeer en Afrikaanse fiksie gelees soos dit verskyn het sodat ek op hoogte kon bly van skrywers en hul werk. Ek het 'n pos as junior redakteur gekry. Ek het klasgegee in letterkunde. Ek het gevorder, geleer, gelees, en myself heeltemal onderdompel in die boekbedryf.


Teen die tyd dat ek in 2022 as Besturende Redakteur by Penguin Random House bedank het, was ek reg om my rug op my loopbaan in die boekbedryf en my liefde vir boeke te draai.

Ons was op pad Kanada toe. Permanent. Ek het al my boeke verkoop of weggegee. Duisende boeke. Ek het skrywersvriende gegroet. Heimlik het ek gedink dat ek in Kanada myself sal herontdek en iemand heeltemal nuut word. Iemand met 'n beroep wat niks met boeke te doen het nie. Want ek was uitgebrand. Ontnugter deur die uitgewersbedryf en die meedoënloosheid van die boek-as-besigheid. Ek kon nie 'n ordentlike sin skryf nie. Ek wou nie meer 'n Afrikaanse boek lees nie. Op 'n vreemde manier het ek verraai gevoel. Vir die eerste keer in my lewe het die boekwêreld nie meer vir my soos 'n veilige ruimte gevoel nie.


Ek het op die vliegtuig geklim en in Kanada geland. En baie gou het ek presies geweet waarvan Michelle Obama praat. Hier is Afrikaans soos 'n klein eiland in 'n geweldige groot see van Engels waarheen ek telkens terugvaar. Dis 'n rusplek. Die bekendheid daarvan maak dit huis. Engels neem my na nuwe, opwindende plekke. Engels is 'n avontuur, 'n reis, wat my tegelyk bang en opgewonde maak. Maar Afrikaans is waar ek terugkeer na myself en my huis. Hier, in Kanada, het ek besef hoe groot die invloed van taal, en die wêreld van boeke en stories in daardie taal, op my identiteit is. Ek voel ankerloos sonder dit. Alles wat ek van die wêreld om my weet, weet ek deur taal. My landskap, my ruimte in Suid-Afrika, alles wat ek van myself en die wêreld om my weet, is van kleins af werklik gemaak deur dit te benoem, deur 'n woord daaraan te koppel. En dít is waarom ek Ink in my pen, 'n gemeenskap vir gewone mense wat wil skryf en lees en leer, begin het.


In Kanada, ver weg van Afrikaans en die Afrikaanse boekbedryf, het ek 6 dinge geleer:

  • Stories kan troos en heelmaak. Ek is vertroetel en opgelig deur stories.

  • My gevoel van verwerping het niks te doen gehad met die boekbedryf nie; ek het my eie kreatiewe behoeftes geïgnoreer en nooit myself kreatief gevoed nie.

  • Die politiek en besigheidsbesluite agter die boek is vir my nie so belangrik soos die storie self nie. Sonder die uitgewersbedryf, sonder die meedoënlose besigheidsbesluite, sal ons nooit boeke kan koop nie. Maar ek voel nie tuis binne daardie deel van boeke maak nie.

  • My passie vir stories en boeke is onlosmakend deel van my identiteit. Dit anker my.

  • Ons het mekaar nodig. Ons het gemeenskap nodig. Skrywers is my mense, my "tribe".

  • Stories praat op meer as een vlak met my. Ek weet instinktief wat werk en wat werk nie. En ek wíl my kennis en liefde met ander deel. Dit is my talent.

Ink in my pen is 'n huis van stories en boeke en mense wat die passie daarvoor deel.

As deelnemer van die Ink in my pen-groep het ek self begin skryf. Ek het weer op praktiese vlak van skryf en die towerkrag daarvan geleer. Om deel te wees van iemand anders se skryfproses en -ontwikkeling, het my gevoed. Die stories wat skrywers gedeel het, het my vertroetel - nie net fiktiewe stories nie, maar dag-tot-dag stories. Dit het my herinner waar my huis is.


Welkom in my huis.

34 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page