Ek het daardie middag nou maar weer by ou Kuifie se graffetjie gaan staan, daar waar ek hom destyds onder die bloekoms langs my oorle vrou ter aarde gestel het. Snaaks, sekere dinge laat los nooit. Nie eens die dood van ’n hanshoender nie. Kyk, op ’n hoenderplaas is die slagpale maar altyd die eindpale ook. Maar Kuifie se lot, te danke aan die blêssitse airgun en die ou vingertjies wat ook al gaar is van die artritis, was veel erger as dit.
Elke boer het sy geweer. Sy trots — net so deel van sy manlikheid soos ander dinge maar. Die probleem was dat ek dié op ’n dag voor my geliefde Mariet moes afsweer of sy trou my nie. Sy het nou maar eenmaal elke soort passifiestiese haar op haar mooi, goue koppie gehad, en van gewere in ’n huis, gekluis of te not, wou sy niks weet nie. Toe ek nou begin kerm oor lastige rooikatte onder die hoenders en daai soort ding het sy ingestem op ’n airgun. Die aarde kon my nie insluk toe ek dié moes gaan staan en koop by die koperasie nie. Dit was soos ’n vlek op die van Buurens se goeie naam en ek het haar die dood voor die oë laat sweer niemand vind uit van die ding nie.
So nou, terug op ou Kuifie. Die hanshaan het besluit dat die buitelewe hom nie langer aanstaan nie en so het hy ’n paar jaar terug in die huis ingetrek. Niks kon hom daarvan laat afsien nie, en as daar net ’n oop venster of skrefiedeur was het hy ingekom en die plek so beskyt dat ek later dit net nie meer kon uithou nie. Kuifie sou moes tafel toe. Maar om daai haantjie te vang, is jongmanswerk en hierdie ou lyf kon nét nie. Uiteindelik het ek maar die airgun gaan uithaal.
Nou, ek het nie eintlik geweet hoe hard hy skiet nie, so ek loop toe maar so na aan Kuifie as wat ek kon. Maar toe ek lostrek tref die pêllet hom dwars teen die wang dat sy nekkie so skuins trek en die bloed spuit so ver hy gaan. Hy hol vir seker tien minute oor al wat ’n rusbank of opgemaakte bed in die huis is, skreeuend soos ’n ou trekker se fan belt. As dit maar die laaste was. Die tweede skoot haal toe die kop heel áf, en toe skree hy eers. ’n Rilling trek deur my stywe ledemate. Ek onthou nog daai geskrou in my slaap. Dit lê diep in my beenmurg en maal deur my kop in die oggenduurtjies.
Nou staan ek nog so en bepeins die storie vir die hóéveelste keer toe ou Louwtjie van langsaan met sy Isuzu langs my intrek — eintlik, hy gooi so ’n draai dat jy net stof sien staan.
“Goeiemôre, oom Ras.”
Hy klim uit, sy jong boerbene styf in sy khakibroekie ingeprop, en loop tot voor my en Kuifie se lêplek.
“Jou broek word al hoe kleiner man.”
“Dis maar my ma se kookkos, Oom weet mos. Maar wat van Oom, sorg ou Siena darem nog mooi vir Oom?”
“Siena, ga! Daai hekserasie wil my hier in die graf kom sit met die nonsens wat sy my ingee. Altyd ’n gegroent en ’n geslaai — haaskos, sê ek jou!”
“Oom Ras, maar dis seker mos al weer tyd dat Oom so ’n bietjie begin kuier, as Oom weet wat ek bedoel?”
Hy knipoog vir my soos ’n blerrie flerrie.
“Kuier?”
“By die tannies, of hoe?”
“Nee, nee wat. Ek is maar hier met my hoenders doenig. Daar is nie tyd vir kuier nie. Nee.”
“Oom kom darem seker na die Pluimveevereninging se eindjaarfunksie toe of hoe?”
Voor ek hom nog kan laat weet dat ek te oud is vir daai soort ding gaan haal hy ’n traktaatjie of sorts uit sy paneelkissie en kom sit dit hier in my hand.
“Daar is dit. Die uitnodiging. Ek kom laai Oom sommer op. Ek sal Oom se wingman wees!”
Die jong mannetjie staan daar en smile onder sulke waterige ogies dat ek myself nie kan bring om vir hom ‘nee’ te sê nie. En was ek nou spyt die oomblik toe hy weer daar wegspin en ek uiteindelik my bril aanhet en die pampier hier in my hand kan bekyk.
Die ding is swart en versier met die ene tarentaalkolle. Die eerste slegte teken, want die Tarentaalwaarderingskomittee, of die Tarries, ’n sub-sub-tak van die Pluimveevereniging, was nou eenmaal een te veel met hulle geskal oor wat die verveligste van die pluimvee is. As ek weer hulle leuse, die ‘ko, ko, ko-Tarries!’ moet hoor, vat ek daai airgun en skiet sommer ’n tarentaal en bring dit as metgesel saam na die bal toe.
Dis nou die tweede probleem. Dis ’n bal! Dans kan ek dans met ’n lang arm en ’n huppel in my stap, maar van ’n gewals en ’n ge-two-steppery weet ek net mooi niks!
Derde probleem. Daar is ’n tema. Soos in ’n fancy dress. Daar staan: “Tema: Pluimvee en hulle geveerde vriende.” Sekerlik weer ’n Tarrie inisiatief — want wat is nou makliker as ’n klomp wit kolle op jou swart suit verf?
Dit was toe nou maar ook presies wat ek gedoen het. Wat anders? Die ou kerkpak was seker ook maar my doodspak en Kuifie sal my dalk vergewe as ek die hiernamaals as ’n helmeted guineafowl betreë eerder as wat hy moet herhinner word aan boerekhaki en airguns. Louw sê natuurlik niks van die moeite wat ek gedoen het nie, dit het my ’n hele blêddie dag met die tippex bottel gevat om die pak so te versier.
“Is Oom reg?” is al wat hy vra terwyl hy in sy bruin coattails en strikdas vir my die Isuzu deur oopmaak.
“Wat vir ’n ding is jy dan?”
“Natuurlik die Brahma, Oom. Hy is mos maar die koning van die hane.”
Kom ek sê jou nou een ding, as jy nou ooit gedink het jy het vere gesien, het jy nog nie gesien hoe dit lyk as die Tarries hulle verekussings oor ’n dansvloer gaan staan en oopskeur nie. Selfs die kandelare van die ou gholfklubhuis lyk soos tarentale wat midflight bo ons koppe ontplof het. Soos die voël vlieg kies ek rigting na die kroegarea toe en sluk ’n vinnige glas wyn weg om die senuwees te kalmeer. Ek staan ’n oomblik en gesels met ou Faan oor die verbetering van sy eierproduksie en die musiek het nog skáárs begin toe die eerste oujongnooi, ou Silkie Snyman, swáár in swart uitgevat met ’n wit hoed soos ’n blessêtse bleshoender, my aan ’n arm gryp en so met my struikelend agterna aanstryk dansvloer toe.
“Ek het ‘n voëltjie hoor fluit jy soek vrou?” sê sy toe ons so wieg-wieg om die vloer begin beweeg.
“Ek kort ’n vrou wat kan kóók. Ek het nou eenmaal nie ’n volstruismaag nie.”
Sy lag en die twee rooi kneukels op die hoed skud gevaarlik.
“Solank die voël vlieg, kan enigeen skiet, nie waar nie? Gebraaide duiwe vlieg tog niemand in die mond nie.”
Sy sê dit met ’n knipoog wat my maag sommer so benoud laat draai en sodra die musiek kalmeer vlieg ek van daai dansvloer af reguit bar toe en sluk nog ’n glas wyn af.
Dit is nie lank nie of die driemalige weduwee, Griet Pierewiet, haar kuif so getease soos ’n Poolse hen, begin sommer daar voor die bar met my te cha-cha-cha. Maar ’n mens, selfs ’n vrou, kan nie ’n ou voël met kaf probeer vang nie. Selfs ek weet dat ou Griet moeilikheid beteken — sy sal jou nes skoon onder jou uitskop en probeer jy nog besware maak draai sy heel moontlik jou nekkie vir jou in jou slaap om.
“Jinne, Griet. Vanaand is jy dan so parmantig soos ’n kalkoenhaantjie.”
Ons heupe skuur teen mekaar soos ons heen en weer soos twee witwangganse wikkel.
“En jy, my liewe Ras, is die haantjie onder die henne! Maar jy weet tog wat hulle sê, een voël in die hand is beter as tien in die lug. Laat my tog so bietjie by jou vlerksleep, toe?”
Sy sê dit heel verleidelik, maar ek sien sommer dis ’n skerp snawel wat agter die rooi lipstiffie skuil.
“Ja, dalk wanneer die hoenders tande kry.”
“Onthou, ’n stadige gans verloor sy kans!”
“Nee wat, hou maar verby, ou Griet, ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.”
“Is dit so? Maar jy is nogtans so parmantig soos ’n kalkoenhaantjie!” blaas sy terwyl sy my aankyk asof die hoenders haar kos afgeneem het. Dan draai sy om en trippel daar weg. Ek sug verlig en loop die paar hanetreëtjies kroeg toe.
Die wyn is skaars in toe Minki Ariti, die ou lelike eendjie, skamerig onder my vlerk probeer inklim.
“Oom Ras, sal ons dans?”
Ek kry die arme meisiekind jammer wat alewig so alleen op ’n tak moet sit, en vat haar toe maar vir ’n vluggie oor die vloer. Ons gly verby wildlopende makganse en kouende makoue sodat die vere op die dansvloer waai. Ons gooi mielies verby lang stertvere wat teen ons bene skuur en ek raak bewus van arendsoë wat ons dophou. Ek voel skielik baie warm hier in my nek.
“En nou, oom Ras? Oom lyk dan skielik so rooi soos ’n kalkoen!” sê die eendjie.
Ek skrik my boeglam, want wat soek ek dan nou tussen al hierdie klomp werfhoenders en lêhoenders en koggelende kolganse wat my vanuit die hoeke bekyk? Om ons dans daar bospatryse, en spikkelhoenders maal deur my visie dat jy net kolle sien.
“Oom, Ras? Is alles okei?” ’n Pragtige bruin Brahma haantjie staan nou voor my. “Oom lyk dan nou soos ’n haan wie se stertvere uitgepluk is?” Hy neem my saggies met sy vlerk aan die arm en lei my weg van die eendjie wat nou net so verskrik lyk soos ek voel.
“Nee, ou kapokhaantjie, ek is nou sommer die hoenders in! Is dit daai blêssitste Kuifie wat julle gestuur het om hier in my werf te kom krap? Weg! Ek sê weg met julle almal! Skoert! Julle duiwelse duiwe!”
Dan is dit meteens Kuifie sélf wat voor my staan — ja, ek sal nooit daai lang kuif vergeet nie, die regop, parmantige maniertjie net soos ’n kraai wat kamtig met pouvere spog. Terug uit die doderyk, so groot soos ’n man, met al sy vriende uit die onderwêreld saam. Ek gryp die wynglas by die gekoringde kolgans en mik die wyn oor Kuifie se gevreet.
“Gaan na die hoenders toe, ou Kuifie! Jy het jou gedra soos ’n volstruis — daar waar jy kom maak jy jou sommer tuis, maar ek sê jou nou, elke haan is koning van sy eie mishoop! Ek gaan haal my airgun en skiet sommer wéér jou, en al hierdie spooksels saam, se koppe af!”
En met dié waggel die ou tarentaal en die ou Brahma haantjie huis toe. Mens en voël kuier g’n tot die hane kraai nie.
Comentarii