Almal wil mos ma sien how the other side lives. Of die gras nou rérig groener is en al daai. Die dag toe ek na dertig jaar my final paycheck by Tiny Bubbles Laundromat gaat optel het, het ek ook die results van die biopsie teruggekry. Dit wassie goeie nuusie, ongelukkig. En so het ek toe daai hele paycheck gevat en my agterstewe vierkantig hier in Wyn en Duin, een van Stellenbosch se duurste restaurante, kom neerplak.
Nou, ja, ek het vir myself gesê ou Miena, viddag eet djy nes djou hart begeer. Ons kykie prysie nie. Ek sit alleen en die waitressie gee vir my die soort smile wat wil vra, ‘Auntie, wat soek djy hie? Weet djy dis ’n duur plek die?’, maar ek smile net terug en wys sy kan ma die wynlysie aangee, auntie Miena is reg vir hom. Sjoe-eee ja, ek kon toe nou eintlik nie my oge glo toe ek siet wat daar staan nie, want die bottels begint hier by vierhonderd rand en gaat staan in die duisende. Ek sal ma net ’n glasie vat, want ek kan ok darem nou nie wil kom en my Sondaggewoontetjies in hierie grênd plek wil staat en uithalie. Ek sit my bril op en begint die wynlys so al agter my vinger aan te lees, verby die Cap Classique en die Rosé, tot by die Merlot — David Finlayson Berry Box, 2022. Nou ja, daai klink vir my reg.
“Net ’n glasie vir die auntie, asseblief.”
Die waitressie skryf op en wys my dan die menu. “Dis small plates, auntie, djy kan ’n paar bestel.”
Ek gooi vinnig my oog oor en my hart begint somme wild hier binne in my klop, want ek siet ’n Japanese milk bun kos dan oor die honderd rand.
“Wat is daai?” vra ek, want dit kan seker nie ’n bun soos in ’n PicknPay bakery bun wesie. Ma dit is.
“Dis ’n sagte, varsgebakte broodrolletjie, Auntie, nog lekker warm, so vars.”
Ek smile nou dat my vals tanne klap en knik asof dit alles doodnormaal is.
“Ek gaan haal gou die wyn,” sê sy en loop so swaai-swaai daar weg.
Die res van die menu is alles vir my Grieks. Carpaccio? Wat van ’n ding is daai? ’n Miso cheese espuma? Os is dan nou in die Kaap? Waar is die vars vis en tjips of die skaapribbetjie of Cape Malay kerrietjie?
“Is Auntie reg om te bestel?” vra sy toe sy die glas, of sou ek nou sê halwe glasie, wyn voor my neersit.
“Ek wetie kind, alles lyk dan lekker,” lieg ek ma so bietjie, “wat sal djy viddag aanbeveel?”
“Die bream, die tataki en die die miso yaki kingklip is ons gewildste disse. Dan kan Auntie nog twee groente bordjies ook byvat.”
Ek maak gou die sommetjies in my kop en staat toe somme amper daar en dan op, maar ek sê vir myself: Miena, viddag moet djy deurdruk. Viddag is djy jou eie queen en djy gaat eet soos ene.
“Goed dan, al daai, en die beetroot salad.” Daai gaat darem my nie surprise nie, maar wat die res is remains to be seen.
Soos ek sit en wag en my wyntjie so bietjies-bietjies drink, beloer ek die vertrek van hoek tot kant. Die plekkie is ma klein kan djy ma sê, en die tafeltjies styf teen mekaar ingeprop. Nou nie so fêncy soos ’n mens sou dink nie. Die goeitjies teen die mure is ook ma ’n snaakserige collection — somme so ’n mengelmoesie van prente en plastic flowers en goue goete, alles deurmekaar. Maar dit lyk of die mense wat so agter hulle lang bottels wyne sit nie gepla is nie, want niemand kyk regtig rond nie.
Die kos kom toe somme vinnig en ek moet net keer om nie te vra of dit dan nou al is nie. Mens kan sien die sjef het haastig gewerk, want die bordjies lê besaai met drupsels sous en blaartjies wat seker daar ingeval het toe hy besig was met die anders se slaai. Nou ja, auntie Miena was nog nooit een vir kla nie, so ek hou ma my mond en begint te eet.
Die flavours is daar, ma pratie met my soos my eie flavours by die hysie. ’n Bietjie aan die ryk kant ok nog. Ek kou nogtans stádig, want ek sal elke ding in die fynste moet beskrywe wanneer die mense by die huis uitvra oor my gewine-en- dinery. Ek sit toe nou so, kou-kou, en bekyk my ma aan al die mense om my.
Oorkant my sit ’n couple. Die vrou is fyntjies, van haar neusie tot haar skoeisel soos ’n ballerina s’n. Haar hare is glad gemaak en hang tot net onder haar klein wit ore soos sy dit elke nou en dan met haar dun vingertjies agter toe vee. Die man oorkant haar probeer te hard, dit kan djy sien. So bietjie out of her league seke ook, maar nou dja, ’n mens wiet nooit.
Dit is ’n snaakse begeerte wat toe somme skielik hier in my diepbinneste begint opkom. ’n Wonder, soos ek nog nooit gewonder hettie. Wié is hulle en wát dink hulle? Ek word soos ’n vlieg op die muur, want so strain ek my ore om tot daar te luister. Die wyn gaat seke ok ma ’n bietjie kop toe, want soos ek vir die dame kyk, voel ek hoe die kamer om my begint inkrimp, al kleiner en kleiner en toe skielik is dit asof ek self daar sit, so oorkant die man met sy skewe das en gekreukelde hemp wat hy dink ek sien nie onder die suit jacket nie.
“Dis ’n veilige belegging, maar die opbrengste sal jou verras!”
So, dis hoeka hoekom die mannetjie haar so probeer opbotter, dit gaat al die tyd oor geld. Ga! As djy nie eers djou se hemp kan stryk nie of vir auntie Miena by die laundromat kon kom vra om djou te helpie, wat wil djy met die dame se geld gaat maak, dink ek.
“Nee,” sê sy, maar dis asof my eie mond die woorde sê. Die man lyk verbaas, skoon uit die veld geslaan.
“Hoe dan nou? Ek dog ons verstaan mekaar?”
“Ek het van plan verander.” My stem klink vir my anders, so saggerig en ek sien my wit hand met my mooi, lang, geverfde naels wat nou saam met die vurk op die bord rus.
“Mag ek vra, waarom?” Die man frons diep en lyk glád nie happy nie.
“Jou hemp. Dit is nie gestryk nie.”
Die volgende oomblik is ek nou weer terug hier by my eie borde, nog allietyd aan die kou. Ek vat nog ’n slukkie wyn en kyk dan na die man in die hoek met die krullebol grys hare en die bleskop in die middel soos ’n nar. Hy praat Nederlands, dink ek. Die jong man oorkant hom lyk verveeld. Sy lang, swart kuif is só skeef oor sy voorkop getrek dat dit met ’n lang punt innie wind na die een rigting toe staat. Toe ek nou nader sien, sien ek die piercing, somme so hier innie sagte wang onder sy oog.
“Dus, je vertelt me dat je wilt stoppen met je studie?” So, die klein windgat dink aan opskop. Sy education somme so na die wind gooi en whatnot.
“Ik wil eerst een beetje leven.” Lewe se voet! Djy ka djou agterent in rat kry en dán kan djy djou hare kam en daai lelike piercing uitpluk.
“De voet van het leven! Zet je kont in de versnelling, kam je haar eens en hal die lelijke oorbel onder je oog vandaan!”
Die kind lyk skoon verskrik. Deer in the headlights as djy nou al ooit een gesiet het.
“Is Auntie nog reg hierso?”
Ek kyk op en sien die waitressie en my eie handjies wat nog allie tyd die bream bewerk.
“Nee wat, alles is nog reg, dankie kind, die bream vissie issie te sleggie.”
Maar dan is sy weg en voor my sit ’n lang, netjies vrou met sulke goue hare en lag te lékker.
“Wat bedoel jy bream? Jy eet die kabeljou! Ek dog jy is dan ’n gesoute visserman?”
Ek kyk na my bord en sien dis nog allie tyd vis, ma waar daar ’n paar ertjies en so ’n skuimpie gelê het, is daar nou net so ’n handvol vinkel oor gesaai.
Die volgende oomblik is daar commotion by die tafeltjie langsaan. Die ouerige man gryp aan sy bors en word skoon wit innie gesig. Hy roep uit vannie pyn, so érg dat hy vloer se kant toe gaat. Die waiters en waitressies hardloop nader en sy vrou begint huil, want sy dink dis ’n hartaanval.
“Gaan jy dan nie help nie?” vra goulokkies oorkant my, fronserig. Sy spring skielik op en sê voor almal: “Hier is dokter van der Merwe! Maak plek!”
Ek stap toe nou ma nader. Die man het so ’n sweetjie oppie kop en dit ruik suur hier om en by sy mond net soos my ou man na ’n Sunday lunch.
“Dis ’n galaanval,” stel ek toe ma voor, “die ergste wat ek nog gesien het.”
“Wat kan ons doen, Dokter?” vra die waitressie wat my bedien het, eager om te help.
Nou beginne ek te panic, want ek ken net een raad wat in so ’n erge geval gaat help, maar waar om dié hier in die middel van Stellenbosch te kry?
“Drolletee.”
“Hoe sê dokter nou?” Sy lyk of sy nie mooi gehoor hettie. Die ander waiters staan ook toe somme nuuskierig nader.
“Ons benodig ’n paar bokdrolle. Jy maak ’n aftreksel wat jy deur ’n kaasdoek sif. Help ook vir koors en masels en so. Maar veral vir die gal.” My stem is so mooi diep, net soos daai actor, watsenaam, s’n.
“Bokdrolle wat ons nou moet wa kry, Dokter?” Die waitressie klink benoud, want die man skree nog allie tyd van die pyn.
“Ek weet,” sê ’n kind van agter haar mammie se rokspante. “Daar is ’n bok by die kerk. Oom Marius het hom gebring vir ons konsert môreaand.”
“Kom wys my gou,” sê die waitress en vat die meisietjie se hand sodat hulle saam-saam die pad kan oor na Stellenbosch se Moederkerk. Dis ookie lankie, of hulle is terug met ’n hand vol bokdrolle. Ek vat die goed en haas kombuis se kant toe. Die sjef skiet toe somme byna ’n cadenza oor ek die drolle in die potjie gooi maar die waitressie hardloop nader met die kookwater.
“Doctor’s business,” sê sy.
Nou ja, os het die goete gekook en toe vinnig somme deur ’n skoon vadoek gegooi en vir die man gevat om te drink. Daai gesig toe hy die brousel sluk, sal ek ook nooit vegetie, dit skrik hom skoon reg. Almal is toe baie bly en klap somme hande toe die oom hom van die vloer af regop sukkel. Die vrou met die goue hare vra toe vir die rekening en ek swipe ’n kaart wat ek hier in my hempsak vind. Dit werk!
“Kom,” sê sy, “die vertoning begin al amper.” Ek aarsel ’n oomblik, maar vat toe maar my baadjie en volg haar by die deur uit. Toe ek terugkyk, sit ek nog allie tyd by my tafel en vat klein slukkies van die wyn.
“Bokdrolle, wil jou nou meer?” lag die vrou toe sy hy haar arm in myne inhak en haar mooi blonde kop teen my gespierde skouer leun.
Comments