top of page

Storietyd: Waar is Romeo? Petro van Deventer


"Welkom!"

'n Jong lugwaardin, bloedrooi lippe en nekdoekie styf om haar dun nekkie geknoop, staan by die ingang van die vliegtuig.

Amore skuif haar Fendi handbaggasie versigtig bo in die bagasieruimte. Hierdie word weer 'n beproewing. Haar aviofobie. 'n Geslote bliktoestel wat deur die hemel skeur en dit met opgetrekte pote soos 'n sprinkaan. 'n Kulminasie van hoogtevrees, engtevrees, spoedvrees, vrees vir verlies van kontrole en reissiekte. As sy kan, vermy sy dit om te vlieg, maar nou kon dit nie anders nie.

Derek, haar onmisbare assistent, agent, en jarelange vriend het seker gemaak dat sy besigheidsklas reis; dit versag darem haar vliegangs. Sy moet aan die gangpad sit, naby 'n nooduitgang en nie vasgedruk word teen die venstertjie deur 'n wildvreemde wat heeltyd probeer praatjies maak en in haar persoonlike ruimte inbeur nie. Sy het haar swart, gemaklike Pradas aan en 'n rekbare pienk en swart pakkie. Dis nou vir as hulle 'n noodlanding moet maak en sy op die band moer uitgly.

Derek het oor die naweek gebel.

"Amore, hier is 'n wonderlike kans vir jou, iets anders! Dis tog altyd rustiger in Februarie." Hy was in sy manipulerende modus.

"'n Uitnodiging om die openingspraatjie te hou by die Valentynsfees op Nektar van die Gode, jy weet – "

"Ja, Derek, almal in Suid-Afrika ken die wynlandgoed."

Haar TED's, pods en motiveringspraatjies is altyd minder dié tyd van die jaar, ná die kers- en nuwejaarsdrukte. En haar praktyk met kliënte, meestal in die boonste sosiale echelon, verskaf nie veel variasie nie. Meestal dieselfde kliënte  met dieselfde verhoudingsprobleme. Nou nie dat dit 'n getuigskrif is vir haar beradingsvaardighede nie.

"Amore, dink net, één praatjie, één aand en dan 'n hele week vakansie in die Kaapse wynlande. 'n Week gratis verblyf, spa en minibar ingeslote!"

Amore snuif verontwaardig. "Waarom die laat uitnodiging? Is ek dan 'n tweede keuse as spreker?"

Dis 'n bitter pil om te sluk. Dat dit 'n Valentynsfees is, registreer nie dadelik nie. En dat dit binne 'n paar dae is.

"Ja, die spreker het 'n 'situ' gehad en hy voel onder omstandighede nie om op so 'n geleentheid te praat nie. Was jy op sosiale media, sou jy geweet het waarvan ek praat. Buitendien, hy het jou spesifiek as plaasvervangende spreker voorgestel. Ai, hy is só sjarmant; het hope rizz." Derek stoomroller voort.

"Situ? Rizz?" Al die afkortings teenwoordig!

Derek lag ondeund. "Sonder my sal so baie dinge aan jou verbygaan! Dis 'n relasie-situasie. En rizz, charisma. My ovaries klap nog steeds teenmekaar van sy sjarme. Sy heuningstem, sy indigo oë! Maar een héél klein detail: Die program is reeds gedruk en geadverteer en die titel van die praatjie is ‘Romeo en Juliet’."

Amore kreun.

"Ek weet jy verafsku die Valentynsraserny, maar dis tog in die lyn van jou werk, Amore. Liefdesverhoudings. As jy nou van jou advies inwerk, soos in daai een podcast, jy weet? Die een waar jy waarsku van die hormone by verliefdheid wat deur jou lyf en brein raas soos 'n virus ..."

Hy is reg. Sy walg van al die koorsagtigheid, harte, balonne en rooi rose (sonder reuk) van Valentynsdag. 'n Kommersiële set, 'n gewoonte wat oorgewaai het oor die Atlantiese waters. Verlief op die liefde! Soos Romeo en Juliet à la Shakespeare, wat hulle harte en daardeur hulle lewens, verloor het. Drama, tragedie. Alhoewel, dis mos tipies die verloop van halsoorkop liefde, hetsy fisies of emosioneel. Wat het geword van duursame liefde? Liefde en respek van die saamgeëte sakke sout? Sy sê dit soveel keer in haar beradingssessies: liefde is nie 'n sprokie nie, dis 'n werkwoord.

Buitendien, haar ma se groot liefde (met die eerste oogopslag), met haar Italiaanse pa, het nie lank stand gehou nie. Liefdesdrama. Al wat Amore van hom het, is 'n foto as 'n jong man en haar Italiaanse naam, Amore. Liefde.

 

Amore trommel met haar Franse manikuur op haar roosgoud horlosie. Die vlug gaan laat vertrek. Dan is sy laat vir haar lughawevervoer in die Kaap, laat vir haar afspraak met die bestuur op Nektar. Die gewag help ook nie vir haar vliegangs nie. Luister, ruik, kyk, ontspan: vliegmotore. Mense met vroegoggend reuke, te veel naskeermiddel. Onversorgde mense. Doen mense dan nie meer moeite as hulle op reis gaan nie?

"Welkom aan boord. Ons is vertrekklaar – wag nog net op een passassier. Jammer vir die ongerief."

Die sitplek langs haar is steeds leeg en die vliegtuig is stampvol. Dis op dié passasier wat hulle wag. Sy begin onbarmhartige, liefdelose dinge te prewel onder haar asem. Seker weer laaste minuut inkopies; geen respek vir ander nie! Haar oog begin spring. Haar angs neem eksponensieel toe. Na alles is dit vandag die dertiende ... Sy torring aan die naelriem van haar leë ringvinger. Dit begin bloei.

Stemme. Die kabine personeel se gesigte helder op. Rooi mondjie se oë kry 'n blik soos iemand wat dié paar Jimmy Choo's sien.

Dan staan hy daar. Kort donker hare, dagoud baard. Hy straal rou, dierlike aantrekkingskrag uit. Hy knik na haar met donker broeiende oë en trek sy leerbaadjie uit. Breë skouers.

Waarskynlik laat sy persoonlikheid veel te wense oor, soos sy laatkommery.

Drie lugwaardinne snel gelyktydig op hom af om sy leerbaadjie by hom te neem.

"Gee maar hier! Nee hier, hier hoor!"

Soos bakvissies! Maar hy bly koel.

Hy haal 'n selfoon en boek uit sy rooi en swart Ducati rugsak en skuif dit bo by haar handbagasie in. Ducati motorfietse! Italiaans!

'n Gefluister styg bo die geruis van die vliegmotore uit. Van die passasiers  in die voorste drie rye draai om en staar. Casanova bly onverstoord.

"Jammer," hy skuif verby haar om teen die venster te gaan sit. Leer, hout en dennenaalde – aardse reuke, hemelse reuke. Hy maak sy veiligheidsgordel vas en rol sy hempsmoue op. Sterk voorarms en kunstenaarshande, 'n groot duikhorlosie om sy pols.

"Kajuitpersoneel, neem julle sitplekke in, ons het 'n opening gekry en kan vertrek," kondig die kaptein aan.

Die vliegtuig begin rol. Amore pluk die papiersakkie uit die sak voor haar, vir ingeval sy sou naar word. Sy gryp beide armleunings vas, kneukels wit, skouers opgetrek tot onder haar ore. Die gevaarlikste deel van die vlug is altyd die opstyg en landing.

Casanova sê iets in 'n lae stem, maar sy het nie nou tyd om te luister of te praat nie. Houvas en bid. Na 'n ewigheid, kry hulle hoogte en die liggies gaan uit.

Die kajuitpersoneel bedien drankies en Amore laat die armleunings huiwerig los. Sy voel nog naar, maar nie naarsakkie naar nie. Gelukkig maar, nie met Casanova langs haar om dit te aanskou nie.

"Gesondheid," hy hou sy glas uit na haar.

Amore lig haar glas bewerig. "Ek ly aan aviofobie."

"Nie agtergekom nie! Maar die wyn sal help." Sy diepblou oë vonkel.

Sy giggel. Seker maar oplugting na die opstyg. Humor is tog só 'n aantreklike eienskap. Hulle is definitief op dieselfde golflengte.

Hy haal die boek voor hom uit die sakkie.

"Wat lees jy?"

Hy draai die voorblad na haar. Verona. Waar is Romeo?

Wat 'n toeval! Maar sy suig haar mond sarkasties in, weer byna haar ou self.

"Ah, Verona waar almal die tyd van die jaar heen vlok op 'n liefdesbedevaart? Om Romeo en Juliet se nagemaakte liefdesbalkon te sien?"

Hy kyk haar opsommend aan. "Waarom so sinies oor die liefde?"

Hy begryp haar, sien deur haar fasade en bravado. Vra die regte vrae. Hoe kan sy dit weerstaan? Hy is waarskynlik 'n mediese dokter, 'n psigoloog. In elk geval, sy sal hom tog nooit weer sien nie.

Haar verlede tuimel uit. Sy, die produk van 'n halsoorkop verliefdheid wat haar eie pa nooit erken het nie. Hoe haar ma steeds na al die jare alleen is, weifel tussen haat en liefde vir haar pa. En hoe Amore haarself probeer beskerm teen pyn. Wat as nog 'n man nie vir haar kies nie?

 

"... julle Kaptein hier. Ons gaan gereedmaak vir landing. Tafeltjies op, sitplekke regop ... helderblou lug in Kaapstad, met 'n temperatuur van 28°C aan die grond."

Amore skrik op uit haar ontboeseming. Die vlug het verbygevlieg! Maar nou terug na die realiteit: bid en houvas.

Haar kake klem en sy gryp die armleunings vas. Te laat besef sy Casanova se arm lê op die gedeelde armleuning. Sy ruk haar linkerhand terug asof sy 'n elektriese skok gekry het.

Hy vat haar hand vas en lê dit terug op die armleuning. Dan sit hy sy hand bo-op hare neer. Sy hand is warm, gerusstellend op hare. Warmte sprei soos die wyn deur haar lyf. Sy mooi hande ... hoe sou dit voel op haar rug, haar borste?

Sy stem is warm soos sy hand: "Diep asemhaal. Sien, hoor, ruik, voel. Dit is wat 'Kom tot jou sinne beteken'."

Sy weet, maar dit help tog nooit. Buitendie al wat Amore nou sien, hoor, ruik, voel, is Casanova. Hy maak die verskil. Hoe sjarmant om hom so oor haar te ontferm! Die landing kan gerus maar baie langer duur.

Is daar dan tog iets soos ware liefde met die eerste oogopslag? Sy sal moet byskaaf aan haar praatjie en die liefdesvirus-ding miskien uitlos. Sy is nie meer heeltemal so seker nie.

Hy lig sy hand van hare af toe die vliegtuig land. Sy is lus om dit te gryp en terug op hare te sit. Dit was so rég, heerlik, natuurlik.

 

Hulle stap saam die vliegtuigtrappies af en die baggasiesaal binne. “Band 3” staan op die bord. Casanova grawe in sy baadjiesak en haal 'n besigheidskaartjie uit.

"Mynhardt," stel hy homself bekend. “Ek hoop ons paaie kruis sommer gou weer.” Hy kyk intens na haar en laat sy hand afgly tot op haar laerug.

'n Rilling loop saam met sy hand.

Sy klap haar Fendi sak oop en begin naarstigtelik grawe vir haar kaartjies.

"Jammer, ek kry nie nou my kaartjies nie. Ek is Amore."

"Amore, liefde!  Dan verwag ek jou oproep. Miskien nog môre, op Valentynsdag?"

Hy stap nonchalant weg, Ducati sak in sy hand.

Mynhardt, dit is so gepas. Hy het definitief die sleutel tot haar hart.

Gou loer na die kaartjie, want daar kom haar baggasie al op die band.

Mynhardt. Eksklusiewe Eskort.

Ek laat jou sinne ontwaak.


Comments


bottom of page