top of page

Storietyd: Liefde loop deur tyd, Carla Pattison

Net daar begin die liefde loop deur tyd ... Hy is heeltemal te jonk om die implikasies van sy besluit te verstaan.



“Is jy gereed om in die glasbal te kyk?”

Die stem is gelyktydig sag en hard, kalmerend en uitdagend.

Hy besef dit nie, maar hy is heeltemal te jonk om die implikasies van sy besluit te verstaan. Al wat hy weet is dat hy nie die roep van sy naam, wat deur die bome aan die einde van die groot grasperk na hom toe aangegolf gekom het, kon ignoreer nie. Sy oupa het hom gewaarsku: Indien hy dié roep hoor, moet hy alles doen om dit te ignoreer. Moenie die stem volg nie! Wat sy oupa hom nie vertel het nie, is hoe magies die roep is, hoe onmoontlik dit is om nié te luister nie.

Hy hoor weer sy oupa se waarskuwing: “Jy moet die sirkel breek, jy moet jou hart volg. Pasop vir die roep.”

Hy kyk vir oulaas rond. Niks wat hy sien, maak vir hom sin nie. Hy het die stem gevolg deur die bome tot by die vervalle hut in die woud. Maar toe hy die deur saggies oopstoot en ingaan was hy skielik in 'n groot saal met net 'n tafel wat in die middel staan. Bokant die tafel sweef 'n verligte bal. Hoe dít moontlik is maak nie regtig vir hom saak nie. Hy is 'n kind; enigiets is nog moontlik. Hy sien dié soort sale gereeld in sy rekenaarspeletjies. Hoekom kan dit nie ook in die regte lewe bestaan nie? Hy is nuuskierig en waaghalsig. Hy knik stadig; hy moet weet wat sy oupa weet.

'n Groot lig bars uit die glasbal en vul die hele saal. Vir 'n oomblik staan hy nog, maar dan word hy opgelig, sweef hy bo die saal en word in die lig rondgedraai. Hy voel alles, hy voel niks. Uiteindelik word alles duidelik en hy síén. Hy sien sy hele lewe voor hom. Hy sien haar …

Een week later:

Sy is beeldskoon. Haar goue lokke blink in die son. Sy kan vinnig hardloop vir 'n tienjarige en die lag uit haar keel klink soos helder klokke op 'n somersdag. Sy gaan staan en draai om na hom. Sy roep hom op sy naam, sy wink vir hom om saam te kom. Dan trek sy haar skoene uit en begin weer hardloop. Hy voel hoe sy hartklop versnel, maar voor hy agter haar kan aanhardloop word hy weer opgelig en in die rondte getol.

Agt jaar later:

Sy is weer daar, mooier as ooit. Almal hardloop by die skoolhekke uit en gooi skoene en baadjies in die lug. Sy lag en tol in die rondte en hy probeer deur almal druk om by haar te kom. Sy buk af om haar baadjie op te tel en voor hy by haar kan kom, waai sy vir almal en klim in sy gunsteling rooi motor. Voor hy kan sien wie haar kom haal is sy voete weer van die grond af.

Nog vier jaar later:

Daar is 'n groot groep mense wat kuier, lyk soos 'n braai by sy oupa se vakansiehuis. Hy soek haar voor hy dink, maar sy is nie tussen die mense by die fees nie. Sy oog vang 'n klein figuur in die roostuin. Dit is sy, maar iets is fout. Haar lag is weg, haar lyf is kleiner, haar hare dof. Sy hart ruk in sy keel. Hy moet by haar uitkom, hy moet haar help. Sy draai om toe haar naam geroep word. Die trane op haar wang is soos dolke in sy hart. Wie het haar laat huil? Voor hy nader kan staan, stap sy weg en begin hy in die rondte tol. Die gevoel van 'n groot verlies maak nes in sy hart.

'n Verdere tien jaar later:

Hy sien haar in die verte op die sypaadjie loop. Die weer is grou en koud. Hy hou nie daarvan nie. Sy lyk nie meer so maer nie, daar is plooitjies om haar oë. Haar goue lokke is steeds verruklik maar dis korter, hang net onder haar skouers. Sy fokus op haar voetval, maar hy wil haar stop en praat. Hy moet weet of sy gelukkig is, of sy iemand het wat haar liefhet. Of dit hy is. Toe sy amper binne bereik is, loop sy by 'n koffiewinkel in. Hy sien hoe 'n lang man vir haar opstaan en haar druk. Dit is nie hy nie. Sy hart breek. Hy wil skree dat dit moet stop, maar weer word hy verder geslinger, sonder beheer.

Ná twintig jaar se verloop:

Hy ruik die see voor hy dit sien. Die strand strek lank en wit voor hom uit. Daar is niemand in sig nie en hy voel bitter alleen. Dan sien hy haar in die verte aangestap kom. Sy is weer alleen. Hoekom is sy altyd alleen? Dit voel in sy hart so verkeerd dat sy alleen is. Haar hare is nie meer goud nie, die grys het duidelike paadjies tussen die goue lokke uitgelê. Daar is meer plooitjies om haar mond, die jare het sy merk gelaat. Haar lyf lyk steeds goed. Sy het aanhou hardloop, vermoed hy. Sy gaan staan en kyk oor die see. Haar oë blink. Sy vou haarself in haar arms toe. Hy moet by haar kom. 'n Hele leeftyd lê tussen hulle en tog is daar ook niks. Die lig tel hom op en skiet hom vorentoe met 'n geweldige stootkrag.

Nog dertig jaar later:

Dit is 'n sonnige dag, maar die prentjie om hom is vreemd. 'n Wurgende stilte hang in die lug. Die roostuine vloei aaneen en skep 'n see van kleur en geur. In die middel van elke tuin is 'n marmermuur met goue plaatjies. Hy sweef oor die tuine; hy soek haar, maar sy is nêrens te vinde nie. Hy voel leeg, gebroke, in pyn. Dan sien hy die plaatjie: “Sy was geliefd, sy was genoeg.” Haar naam? Hy kan nie haar naam sien nie, maar hy weet. Hy weet sy het op die aarde geloop, meestal alleen, sonder hom. En sy is nou vir altyd vir hom verlore.

Die lig word helderder en hy tol al vinniger in die rondte. Hy kan nie anders as om sy oë styf toe te knyp nie. Sy hart voel of dit gaan bars met die spoed wat dit klop. Dan tref hy die grond met 'n harde slag en alles is donker in en om hom…

 

Dis 'n week ná sy besoek aan die hut en hy staan weer op die rand van die woud. Hy het die hut weer gaan soek, maar daar was niks.

“Kom gou hier!” Sy ma staan op die stoep en waai vir hom.

Hy wil eerder in die woud speel as om nou die nuwe bure te ontmoet. 'n Meisie stap agter sy ma uit en wieg skaam heen en weer. Hy stop in sy spore. Haar goue lokke blink in die son, haar glimlag steek elke senuwee in sy lyf aan die brand, sy asem raak weg. Dit is sy!

En hy weet wat hy moet doen. Hy moet die sirkel breek, want nooit weer gaan sy alleen stap nie.

Hy waai vinning en hardloop die trappe na die stoep op. Sy laat sak haar oë toe hy voor haar kom staan. Hy steek sy hand uit en vou haar klein vingertjies in sy hand toe.

En net daar op die ouderdom van twaalf begin die liefde loop deur tyd.

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page