top of page

Storietyd: Jou kersvader, Carla Pattison

Hy is al amper dertig dae weg van die huis en sy moet haar gunsteling maand sonder hom deurgaan.


 

Dis die nag net voor Kersfees, alles in die huis is tjoepstil, niks beweeg nie, nie eers die kleine muis.

Die Kerskouse hang by die kaggel in die hoop dat Kersvader 'n besoek sal bring aan die huis.

 

Marie kyk na die skone gesiggie wat op die sagte, pienk kussing met groot oë na haar lê en kyk. Anel luister aandagtig na die gedig soos net 'n vierjarige wat vir die eerste keer die wonder van alles rondom Kersfees regtig beleef en inneem, kan. Sy hou die neutekraker, wat op die eerste dag van Desember in die pakkie gekom het, styf vas. Marie sal dit later saggies uit haar hande probeer verwyder en langs die bed sit, want as die kleintjie eers aan die slaap is gaan die harde speelding nie veel troos bied nie. Inteendeel, dit kan haar dalk net seermaak in die nag.

“Dis vanaand, nè, Mammie?”

“Wat van vanaand, Anel?”

“Hy kom vanaand.”

Marie is op haar hoede. Dit is elke aand dieselfde vraag. Kom hy vanaand? Sy het gou besef die kleinding verwys soms na Kersvader en soms na haar pappa. Die een vraag kan sy antwoord, die ander nie. Nou is dit die aand voor Kersfees en Robert is nog nie terug nie. Maar dis ook die aand, so het sy vir Anel vertel, wanneer Kersvader al die soet kinders besoek en vir hulle 'n geskenk bring. So, na wie verwys sy nou, Robert of Kersvader?

“Wie kom vanaand?”

“Kesvade!”

“Dis waar, as jy soet gaan slaap sal hy vanaand kom.”

“En Pappa? Kom hy saam met Kesvade?”

Marie sluk om die trane uit haar oë te probeer hou. Sy wil nie hê die kleinding moet sien dat sy self nie weet nie. Dis nou 'n week sedert sy met Robert gepraat het. Hulle het geweet daar gaan tye van geen kontak wees nie, veral wanneer Robert-hulle deur gevaarlike areas reis en alle elektroniese verbindings afsit sodat hulle nie op die radars opgetel kan word nie. Maar dis die eerste keer dat daar vir 'n week geen kontak is nie. Hy maak altyd 'n plan om met haar te praat.

“Sal dit nie wonderlik wees as Pappa ook op Kersdag hier is nie?” Dis die beste wat sy nou kan doen. Voor Anel nog verder kan uitvra begin sy haar beddegoed regtrek vir slaap.  

“Kom, dis nou tyd om te slaap.”

Anel strek haar armpies uit en Marie leun in om haar die styfste druk te gee wat sy kan. Sy weet sowaar nie wat sy sou gedoen het as die klein mensie nie in haar lewe was nie. Die klein armpies gaan om haar nek en die gesiggie plant 'n warm, sagte soen op haar wang. Marie kyk hoe sy spartel om met die harde neutekraker in haar arms toegevou haar lê te kry.

Wat het Robert gedink? Sedert die eerste dag van Desember is daar elke dag 'n pakkie by die huis afgelewer. In die pakkie was 'n kersitem vir Anel en iets vir haar van Pandora. Sy was verbaas toe sy hul bure se dogter op die eerste Desember voor die deur kry met die twee pakkies. Elke pakkie het ook 'n kaartjie gehad met ʼn instruksie op van 'n kersliedjie wat hulle na moes luister en 'n storie wat Marie die aand vir slaaptyd vir Anel moes lees. Dis 'n wonderlike, opwindende ervaring vir Anel om elke middag na speelskool die pakkie oop te maak en dan met danspassies en gelag die hele huis deur te hardloop met die nuwe kersverrassing.

Desember is haar gunsteling tyd van die jaar, 'n tyd waarin hulle altyd alles gedoen het om die kerservaring te geniet: elke kerskonsert en mark is bygewoon, etes en kuier met almal wat vir hulle kosbaar is, ontdekkingstogte op soek na die perfekte geskenke en die opsit van die mooiste versierings. Dit was haar sprokiestyd.

Tot dié jaar. Robert het 'n kontrak aanvaar wat hom geneem het na vreemde plekke, op vreemde tye. Hulle het gehoop dat Desember onaangeraak sou bly, maar toe nie. Nou is hy al amper dertig dae weg van die huis en sy moet haar gunsteling maand sonder hom deurgaan. Haar hart klop egter warm met die wete dat Robert steeds moeite gedoen het vir haar.  Hy het duidelik geweet dat hy moontlik nie die maand hier gaan wees nie en het toe vir Bianca omgekoop om hom te help. Vir die hele maand het Bianca elke dag twee pakkies kom aflaai. Sy het net geglimlag, genoem dat alles met tyd duideliker sal word en dat Robert al sy liefde saam met die pakkies stuur.

Marie kyk met groot liefde af na die klein gesiggie wat nou haar pad deur droomland stap, die neutekraker styf teen haar lyfie vasgeklem. Die neutekraker was die eerste persent wat afgelewer is en van daardie dag af het sy dit nog die hele tyd by haar gehou.

Marie sluip op haar tone by die kamer uit kombuis toe om vir haar 'n koppie tee te maak. Alles in haar baklei teen die gevoel om in te gee en haar hart uit te huil. Sy is so kwaad vir die situasie. Dit het so maklik geklink voor Robert weg is, net 'n maand weg en die geld was baie goed. Mens weet net hoe lank 'n maand is wanneer dit wat jy regtig wil hê jou vir 'n maand lank ontwyk.  'n Week se stilte … haar hart klop opnuut in haar keel. Dalk moet sy maar Robert se geskenk van vandag, wat nog net so op die toonbank lê, oopmaak. Sy knyp haar oë styf toe om die trane te keer, maar dis te laat, dit stroom teen haar wange af. Sy gryp die pakkie en die beker tee en stap na haar kamer toe.

In die kamer gaan staan sy voor die spieëlkas en kyk na die klompie geskenke wat op die tafel uitgepak is. Dis 'n klomp gelukbringertjies van Pandora. Party is letters en ander kersfeessimbole: 'n kersboom, geskenkboksie, suikerstokkie, Kerskous, ysskaats, sneeuvlokkie en so gaan dit aan. Dan die letters tussen-in. Sy het geen idee wat die spel nie en nog minder wat sy met al die goed moet doen.  Dit moes hom 'n klomp geld gekos het. Sy is nou kwaad en hartseer gelyk en dis 'n aaklige gevoel vir die aand voor Kersfees.

Marie gaan sit by die tafel en maak die dag se pakkie stadig oop. Die fluweel boksie lê op 'n bed van sagte groen papier. Haar gunsteling kleur vir die Kerstyd. Sy maak die pakkie stadig oop en snak na haar asem. Op die fluweelbed lê twee goue kettingarmbande. Maar dis die woorde op die kaartjie wat haar diep tref.

Elke dag, in elke oomblik is ek by jou. Al my liefde, vir ewig, jou Kersvader.

Marie kyk na die gelukbringertjies op die tafel en dan weer na die twee kettings. So dít was sy plan. Sy begin die blokkies rondskuif. Een ry met al die kersitems en een ry met die letters. Eers sukkel sy om uit te maak wat dit kan spel maar dan, soos 'n straal lig, tref dit haar en sy skuif die letters totdat die woorde duidelik spel: JOU KERSVADER.

Een vir een ryg sy die gelukbringertjies in die twee kettings in. Sy kyk hoe die steentjies in die lig dans en reënboog ligstrepe in alle kleure oor die spieël en kas gooi. Dit is nou haar kosbaarste aardse besitting. Marie sit al twee kettings om haar regter pols. Twee, want Robert weet sy dra nooit net een armband nie. Dan maak sy haar oë toe en met 'n sug bid sy 'n diep, smekende gebed dat haar Kersvader saam met die sonstrale sal kom.

Dit is al baie laat toe sy eindelik haar kop neerlê en haar Kersdroom binnestap.

 

Marie word wakker van 'n geroep in die gang.

“Mammie, mammie. Kom kyk. Kesvade was hie!” Die opgewonde stemmetjie van Anel vul die hele huis.

Marie sukkel om uit die newels te breek en helder te dink. Haar droom was so warm en gerusstellend. Robert was daar, hy het haar sag gesoen. Sy sit regop en forseer haar moeë oë oop. Die beelde in die kamer word stadig helderder.  

Marie skrik eers toe sy iemand in die gemakstoel in die hoek van die kamer sien sit.

Haar hart spring uit haar lyf toe sy hom erken. Hy sit en slaap, sy kop agteroor, stoppelbaard, deurmekaar hare en donker kringe om sy oë, die tekens van lang en uitmergelende dae.

Sy staan op en gaan klim sag op sy skoot. Sy oë gaan stadig oop. Sy kry die mooiste glimlag ooit wat haar hart vol maak.

“More, my Kersvader.”


26 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page