top of page

Storietyd: Halloween, Madri Victor

Updated: Nov 1, 2023

Sy lag. Want vanaand is alles 'n toneelspel.


kids trick or treating

Vanuit my venster kan ek ’n klein stukkie van die horison sien. Die bome om die huis, nou nog net donker, dreigende figure, maak effens oop. En daar, soos ’n venster binne ’n venster, is die lug. ’n Klein asemteug.

Ek staan en kyk hoe die lug geleidelik van inkswart na blou verkleur, en die lig soos ’n splinter hoop verskyn. Die bome verloor geleidelik hulle skaduwees. Die landskap gloei.

Ek huil. Dis die begin van ’n nuwe dag. ’n Dag van hoop en potensiaal. My dag. Halloween.

Ek druk myself weg van die venster, vee my rok glad. Dis nog heeltemal te vroeg, maar ek moet vandag alles insit. Hierdie jaar moet ek eenvoudig oortuigend wees. My hande bewe. Ek kan voel hoe die paniek van onder in my maag opdruk na bo. Hoe my bors toetrek. Ek haal diep asem. In. Uit. In. Uit. Ek druk die ure wat ek wil aftel, soveel ure, weg van my. Ek fokus net op my asem. Ek sê my mantra vir vanaand oor en oor. Ek haal asem. In. Uit. In. Uit. Vanaand is my aand. Niks gaan dit bederf nie. Miskien moet ek eerder weer gaan lê. Rus tot dit tyd is. Dan opstaan en regmaak. Nie nou al nie. Die dag is lank. Die venster is ’n vierkant van hoop.

Ek hoor hom roep, hoor die opwinding in sy stem. Hy fluit terwyl hy met die trappe afstap. Nie die een noot wat my so irriteer nie, maar ’n deuntjie. Ek verbeel my ek kan sien hoe die note deur sy tande ontsnap, teen die trappe af vlug en om my kom dans. Dis Halloween. Ons dag.

Die deur gaan oop en daar staan hy. Hy kan skaars sy glimlag terughou.

En ek glimlag. Ek weet. Al wil ek nie vir hom wys wat ek voel nie. Die opwinding, die hoop, dit alles borrel deur my lyf.

“Is jy reg, Bokkie?”

Ek vertrou nie my stem nie. Ek knik net.

“Jy lyk perfek. Perfek. Let’s go dazzle them.” Hy glimlag. Sy oë is baie donker vanaand.

Ek staan op, gee een tree vorentoe. Vanaand is my aand.

Hy tree tot teen my, lig die ketting uit sy broeksak. ’n Lang, vuil ketting wat soos ’n slang afglip grond toe. In sy hand is die ysterring.

“Here we go.” Hy vee die hare agter my oor in.

Ek staan baie stil terwyl hy die ysterring om my nek vasmaak. Dis koud teen my vel. ’n Ysterhand. My hande lig vanself op. Ek wil my vingers onder die koue teen my nek indruk, maar ek stop myself betyds. Laat sak my hande, vou liewers my fingers in op mekaar. ’n Gebed.

Hy rus sy hand teen my wang. “Kom, Bokkie. Jy lyk perfek vir die rol. Vanaand is ons aand, of hoe?”

Hy leun vorentoe, sy gesig teen myne. Ek draai nie my kop weg nie. Sy asem is warm oor my wange. “Vanaand kan jy alles insit, Bokkie. Try jou beste. Wie weet wat gebeur?”

Die woorde lê soos ’n seën oor my.

Hy tree terug, draai sy hand om die ketting, pluk my nader. Ek struikel, maar dis net die eerste tree. Die res sal ek doelgerig gee.

Met elke trap wat ek opklim word ek ligter. Teen die tyd dat ons die deur oopmaak en uitstap in die wêreld is my lyf so lig, so vol asem, dat ek net sowel kan sweef aan daardie ketting. Die aand is koud en vol klanke van kinders wat lag. Ek maak my oë vir ’n oomblik toe. Dit is die hemel. Ek het so hard gewerk vir hierdie aand. Ek het hierdie aand gekoop. Dis myne. Nie ons s’n nie. Myne.

“Nou ja, let the show begin.”

Die ketting hang slap tussen ons, sleep soms op die grond. Sy hand is spierwit waar die ketting om dit gedraai is.

Ons huis is aan die einde van die straat, ’n ent weg van die ander huise. Dit lyk hierdie jaar nog meer verlate as voorheen. Ons stap in die grondpad af na die lig van die teerstraat toe. Die grond is koud onder my kaal voete. Ek krul my tone om, voel elke klippie se druk onder my voetsole. Ek wil hardloop na die teer toe, na die mense toe. Ek kan hulle hoor, die kinders in hulle kostuums. Hulle lag en hardloop en gil. Hulle is so verskriklik vry.

“Is jy gelukkig, Bokkie?”

“Ja.” Die woord val soos ’n klippie op die grond tussen ons.

Ons praat nie verder nie.

Wanneer die eerste kinders verby ons hardloop, voel ek die ketting stywer trek. My hart is lig.

Ons stap blokke weg van ons huis. Verby die ligte, die laggende spookmusiek, die oorgrote spinnekoppe in die tuin. Ek sien opblaas vampiere en geraamtes. Kinders. Grootmense slenter. Honde blaf. Kinders lag.

Ek wil praat, ek wil uitroep, maar ek gedra my.

Een of twee kinders stop vir ’n oomblik langs ons, bekyk my op en af en sê dan: “Cool!”

Dit voel asof ons nooit gaan stop nie. Ons stap deur die strate. Hy soek vir die regte huis, ek weet. En uiteindelik is dit daar. Die huis. Die een wat hy kies.

My hande bewe, my hele lyf is klam van die sweet. Ons klim drie trappies op.

“Dis jou kans, Bokkie.” Hy fluister in my nek. Lag.

Hy stamp my liggies vorentoe. Want dit is my voorreg om te klop. Ek lig my hand, maak my oë ’n oomblik toe. Hoop.

Dan klop ek.

Die deur gaan oop. En dank die vader dis ’n vrou. In haar middeljare. Sy kan dalk ’n ma wees.

“Help my.”

Die woorde is uit voordat ek myself kan keer.

Sy glimlag. “Hallo. Sjoe, julle is so oorspronklik!”

Ek weet hoe ons lyk.

Hy sê niks nie.

“Asseblief, help my. Ek word aangehou, ek ... asseblief help my.”

Die oomblik is te groot. Ek huil. Ek lig my hande op en gryp haar mou vas.

En sy lag.

Sy lag. Want vanaand is alles ’n toneelspel. Hoe kan dit werklik wees? ’n Man wat met sy gevangene aan ’n ketting rondloop in die strate?

Hy ruk my terug.

“Sy’s goed, dink jy nie?” Hy vra dit laggend. “Sy hou daarvan om bietjie te oordryf, leef haar totaal in die spel in.”

“Hartjie, jy moet drama gaan studeer.” Die vrou grawe in ’n bak vir lekkers.

“Ek speel nie. Asseblief. Dis regtig. Ek word regtig aangehou. Hy is nie wat hy voorgee om te wees nie. Asseblief. Bel die polisie. Asseblief.”

Ek is besig om heeltemal buite beheer te spin. Ek weet dit. En ek kan voel hoe my geleentheid weggelip. Hoe hoop verder van my wegkwyn.

“Asseblief, help my. Asseblief.”

Dit oorweldig my. Die huil. Die wanhoop. Die woede.

Ek skree.

Deur die trane en die spoeg en die snot. Ek skree na haar toe.

Hy ruk my hardhandig terug.

“Genoeg!” Sy stem is baie laag, baie stil.

Die vrees spoel oor my, verdwerg die wanhoop, die woede. Dis ’n meesleurende golf.

Die vrou in die deur se oë is groot, haar hande nog vol lekkergoed.

“Ek is jammer, Mevrou. Soos ek sê, sy raak meegvoer.”

Hy draai die ketting nog twee keer om sy vuis.

“Ek dink jy skuld haar ’n verskoning, Bokkie.”

Ek sluk. Vee my trane af. Hierdie jaar is verlore. Ek het nie gewen nie. Ek het dit nie reggekry nie. Wat ek nou doen gaan die komende maande beïnvloed. Ek haal diep asem. In. Uit. Maak my oë net ’n oomblik toe voordat ek weer opkyk na haar.

“Ek is so jammer.”

My woorde klink klein in die groot oopte om my.

“Dis beter.” Hy vat self die lekkers en druk dit in sy sak.

Sy maak die deur toe.

Dalk bel sy die polisie. Al weet ek hulle sal my nooit kry nie.

Die snik ruk deur my lyf. Ek probeer dit inhou, onder die vrees toevou.

“Amper, of hoe, Bokkie?”

Sy lag slaan vas teen die huis om ons, groei tot ’n monster om my.

Ons stap in stilte terug. Die pad voel baie korter.

Terug by die huis maak hy die valdeur oop, stap saam met my by die trappe af.

Hy sluit die ysterring om my nek oop. Tel die ketting op, druk dit in sy sak. Sonder ’n woord draai hy om en klim weer die trappe uit.

Ek gaan sit op die bed.

Toe hy bo is, kyk hy terug. “Toemaar, volgende jaar kan jy weer probeer.”

Bo my kop is die venster ’n donker oog.



63 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page