As julle twee 'n kamp kan oorleef, en dit nogal aan die Weskus met sy winde, dan kan julle maar trou.
“Kamp? Is jy ernstig?”
Lisa voel hoe haar keel toetrek. Die vreugde op Johan se gesig laat haar glad nie beter voel nie.
“Ja, ek het hierdie lekker groot tent by Sarel geleen. Ons het altyd as kinders daarin gekamp. En my pa het vir my al die ekstras wat ons nodig sal hê om langs die Weskus te oorleef gegee. Dit gaan wonderlik wees.”
Johan stap vorentoe en trek haar in sy omhelsing in. Lisa moet haarself dwing om haar arms om hom te slaan. Sy is lam tot in haar kern.
“Met al die geld wat ons spaar op verblyf kan ons by elkeen van die restaurante op Paternoster gaan uiteet wanneer jy wil.”
“Paternoster?” Asof die skok nie al klaar groot genoeg was nie.
“Ja, ek sê mos die Weskus. Daar waar die kontinent eindig. Ons gaan kamp op Tietiesbaai!”
Lisa wil sommer flou val. Tietiesbaai! Genade, wat vir 'n naam is dit? As Johan darem dink hy gaan haar in 'n nudistekamp invat beter hy baie gou besin.
“Dit gaan 'n fees wees. Ons slaap onder die sterre, eet uit die see, net swemklere dra en goeie wyn drink. Klink vir my na die hemel. Mens kry nie maklik staanplek op Tietiesbaai nie, dis jare vooruit bespreek, so ons is baie gelukkig om die staanplek by Sarel oor te vat.”
Nou is Lisa oortuig sy gaan maak of sy 'n hartaanval kry en by die huis bly; kamp op Tietiesbaai in haar swemklere en leef van vis uit die see klink soos die teenoorgestelde van hemel.
Haar ma rol op die bed soos sy lag. Lisa word kwater met elke sekonde wat verby tik. Sy moes haar ma noodgedwonge vertel waarheen Johan haar dié Desember-vakansie neem. Hulle is maar 'n maand verloof en haar ma is nog baie gesteld op die tipe situasies waarin haar dogter haarself bevind.
“Dis glad nie so slegte idee nie.” Lisa se ma het beheer oor haarself gekry, maar glimlag steeds hoewel sy nou ernstig probeer praat. “As julle twee ‘n kamp kan oorleef, en dit nogal aan die Weskus met sy winde, dan kan julle maar trou. Ek en jou pa het dit self gedoen voor ons getrou het. In Knysna, tydens die reënseisoen.”
“En hoe was dit? Het dit Ma finaal oortuig om met Pa te trou?” Lisa gaan sit op die bed tussen al die klere wat sy probeer uitsorteer om saam te vat.
“O, genade, nee. Dit was absolute hel en ons laaste kamp ooit. Wat my wel oortuig het, was hoe hy uit sy pad gegaan het vir my ten spyte van die hel.”
Lisa voel hoe haar moed in stukkies breek. Sy wil regtig met Johan trou, maar as kamp haar voorland is, gaan sy eerder tronk as kerk toe.
Daar heers 'n opgewondenheid op die kampterrein toe hulle daar aankom. Almal is besig om soos 'n klomp hoenders nes te skrop. Lisa se kaak pyn al soos sy op haar tande kners. Sy het haar ma belowe sy sal dit 'n kans gee, maar wat sy om haar sien afspeel gaan meer as net 'n kans nodig hê om haar van enige iets te oortuig.
Johan laai opgewonde alles wat hy by sy pa geleen het uit die bakkie. Die tent is egter nie een van dié wat maklik opslaan nie. Dis 'n ouer weergawe met baie pype, toue en tentpenne. Lisa rep steeds nie 'n woord nie; sy weet dié ding gaan hul geduld toets. Dis te veel vir haar en Johan om alleen te doen.
“Johan, is jy seker?”
“Ja, my liefie. Ek het al baie saam met die manne in die tent gekamp. Ons kry hom sommer tjop-tjop op sy bene.”
Hy lyk nie so selfversekerd soos hy probeer klink nie.
Tjop-tjop is toe 'n ramp. Die wind het opgekom en Lisa kan net een hoekpaal vashou. Wanneer hulle nie op hul tande kners nie, word die woord “liefie” deur daai einste tande gesis eerder as om met liefde geuiter te word.
Teen vyfuur staan die meeste tente om hulle. Lisa moet erken van die kampe lyk heel gesellig ingerig. Drie manne begin nader staan en na 'n groetery oor en weer stem Johan in dat hulle wel kan help om die tent staande te kry.
Dit vat toe selfs die gesoute kampers met hul moderne karavane en opspringtente 'n rukkie om die geveg met hulle tent te wen. Lisa glimlag uit dankbaarheid, maar is al moedeloos om die hare uit haar gesig te vee. Sy is seker die wind se krag het nou verdubbel, maar sê eerder niks nie.
Nadat alles in die tent ingedra is, gaan sit Lisa op die matras en haal die padkos uit wat haar ma gepak het. Hoe het sy geweet hulle gaan dit nodig kry? Haar kop wil bars en met die bietjie spasie in die tent besluit Lisa dat 'n vroeë aand vir seker haar plan is. Sy kan nou niks verder uitrig nie. Sy hoor Johan nog buite met iemand praat, maar die wind, wat nou in volle glorie opgedaag het, waai sy woorde weg oor die see.
Miskien sal sy in die Lodge op Paternoster kan gaan slaap as die wind die tent saamneem. Mens kan maar net droom.
Lisa soek die hoofpynpille in haar tas en drink sommer twee. Sy kyk op toe Johan sy kop by die tent insteek. Hy lyk bietjie moeg. Al wil sy bitter graag, sal sy eerder nie nou met hom baklei nie.
“Bier,” vra Johan.
Lisa knik en vat die bier wat hy na haar uithou.
“So, dit was bietjie van 'n uitdaging, maar ons gaan so lekker kamp!”
“As jy so sê.” Lisa drink die helfte van die bier in een teug.
“Okei … als in orde hier?”
“Nee, maar ek gaan nou slaap.” Sy gee Johan 'n kyk wat duidelik kommunikeer dat geen woord uit sy mond hom nou enige guns gaan doen nie.
Die kombinasie van bier en pynpille slaan Lisa vir 'n ses. Sy val vinnig in 'n diep slaap. Teen middernag raak sy vaagweg bewus daarvan dat sy kouer kry, maar trek net die kombers stywer om haar en gee haar weer oor aan die slaap. Haar drome is gevul met woeste winde. Sy sien hoe Johan aan die tentpale klou om te keer dat die wind dit die lug in trek. Die tent flapper in die wind en lyk meer soos 'n vlag aan 'n vlagpaal as 'n skuiling. In die verte hoor sy haar naam.
“Lisa word wakker!”
Sy weet sy moet haar oë oopmaak, maar die newels omvou haar opnuut. Sy sal more hoor wat aangaan.
En sowaar, in die oggendstond word Lisa wakker met 'n ramp om haar. Een kyk na Johan, wat op 'n klip sit met 'n bier in die hand, laat Lisa besef dat haar drome in der waarheid toe realiteit was.
Die tent hang aan die twee oorblywende staande pale. Die meeste van die items in die tent is bedek met 'n lagie sand. Die kampplekke om hulle staan fier en regop en rustig in die oggend ure. Hier en daar hoor jy iemand wakker word. Kamp-Johan, aan die anderkant, lyk of daar 'n orkaan deur is.
“Johan?” Sy staan swaar van die matras af op en strek haar uit. Orals val daar sand uit.
“Hoeveel pille het jy gedrink? Want ek het my longe uitgeskree, maar al wat bykom is jy.”
“'n Paar. Wat het gebeur?”
Hy gluur haar net aan en Lisa moet alles in haar gebruik om nie uit te bars van die lag nie.
“Die wind. Ek’t nie gedink die stories oor die Weskus-wind is waar nie.”
“Watse stories?”
Johan skud sy kop, drink sy bier leeg en staan op. Hy hou sy hand na haar uit en trek haar nader.
“Ek is jammer, Liefie, ek weet hoe graag jy wou kamp. Maar bogger dit. Die Lodge wag vir ons. Ek het klaar die belangrikste goed in die bakkie. Die wind kan maar die res kry.”
Lisa druk hom styf vas, glimlag geheimsinnig teen sy bors. Daai pille wat haar ma ingepak het, was regtig intens. Maar sy weet nou, te danke aan die wind, hulle kan maar trou.
Comments