top of page

Storietyd: Van die kamp tot die lughawe, Elfrieda Havenga



 

Dis laataand toe Elsa inpak vir die vlug terug na Suid-Afrika. Om te kamp in Mosambiek was beslis 'n ondervinding; alles wat kon het in die afgelope twee weke verkeerd geloop. Wat kan tog gebeur in die rit tot by die lughawe, wonder sy toe sy haar kamerasak se rits toetrek.

 

Die wekker se geraas langs haar kop laat Elsa ruk soos sy skrik. Dis drieuur in die oggend en nog donker buite. Sy spring uit die bed en strompel stort toe.

Toe die water haar tref, gil sy. Dis yskoud. O ja, dis seker nog te vroeg om te verwag dat die donkie gestook is vir warm water. 'n Vinnige seep en afspoel, dus.

Sy is heeltemal wakker toe sy aantrek.

Elsa en haar man gryp hul bagasie en met 'n laaste vinnige blik deur die vertrek maak hulle seker alles is gepak. Die klik van die houtdeur agter haar sluit nog 'n avontuur af. Die kopliggie verlig die pad af met die kliptrappe, oor die wit riviersand tot by die area waar die voertuie reeds luier om hulle by die lughawe af te laai.

Hulle het meer as genoeg tyd om die vliegtuig te haal.

Die tasse word agter in die bakkie met die kappie gelaai, want die grondpad is gemaak van rooigrond. Elsa se twee vriende klim saam met hulle gids daarin. Sy en haar man klim in die ander bakkie en hulle trek weg.

Dit is vlugtyd minus twee ure.

 

'n Halfuur later soek die hoofligte deur digte rook na die nou pad deur die Miombowoud. Dis leeuwêreld dié. Om met die pad deur die lang, geel rietgras te stap, moes iemand ontsenu het en dus het hy besluit om van beide die gras en leeus ontslae te raak deur die gras langs die pad aan die brand te steek. Hoë vlamme hardloop deur die gras en spring tot hoog in die droë bome, wat pas deur 'n “groen” besigheid vir koolstofpunte aangeteken is. Die myne doen dit om belasting te ontduik. Elsa wonder of die mynbaas gaan aanmeld dat die bome ongelukkig nou afgebrand het. Hulle kruie pynlik stadig vorentoe.

Die son kom stadig op oor die grasdakke van die grondhuisies. Klein, loopneus kindertjies loer nuuskierig om die deure se kosyne. Daar is geen manier om verlore tyd in te haal nie, want verwarde hoenders hardloop kort-kort oor die pad.

Buite die dorp, by die drif waardeur hulle deur moet ry, sit 'n ou man langs die water. Hy is besig met sy vroegoggend bad. 'n Paar vrouens het so pas begin om hulle klere in die water uit te spoel. Die bakkie se wiele stoot 'n golf vuil modder van die bodem bo-oor hulle hande en die klere word rooibruin verkleur. Die vrouens kom regop en die ou man kyk vies na hulle.

Toe die bakkie deur die drif is, wag die vroue dat die water weer stil word, skoon word. Dan buk hulle geduldig weer vooroor om voort te gaan met hul dagtaak.

Die gids se selfoon lui. Elsa is verbaas, want selfoonopvangs is net plek-plek beskikbaar. Die nuus is sleg: Die voertuig waarin Elsa se vriende en hulle bagasie is, se waterpomp het gebars. Wat nog? Sy voel die spanning in haar opbou. Hulle moet omdraai om hul vriende en die tasse te kry.

Dit is vlugtyd minus een uur.

Die pad is nou en 'n vier punt draai word gedoen. Dan is dit weer deur die drif. Die ou man het klaar gebad, maar die vrouens se klere moet weer gespoel word toe `n groter golf modder oor die bondel wasgoed spoel – die gids is haastig.

Stadiger deur die dorpie; dit is nou besiger. Meer kinders en hoenders hardloop oor die pad. Anderkant die dorp vermeerder die gids spoed.

Na 'n wilde jaagtog oor rooigrond sien sy ligte wat flits. Die kampbestuurder het 'n ander voertuig gestuur. Elsa se vriende en die bagasie is agterop – alles toegestrooi in rooi, vriende inkluis. Gou word alles oorgegooi na hulle voertuig. Daar is nie tyd om te mors nie; die bakkie moet vinnig terugkom by die stukkende bakkie sodat dit kamp toe gesleep kan word voordat dit van wiele en onderdele gestroop word langs die pad.

Wéér ry hulle deur die dorpie. Hoenders, kinders en bokke hardloop oor die pad. Wéér deur die drif – die vroue het gelukkig die klere klaar gespoel en helderkleurige rokke en hemde hang vrolik oor bosse uitgegooi om droog te word.

Buite die dorpie word die rooigrondpad 'n teerpad wat meer gat as pad is.

Dit is vlugtyd minus dertig minute.

Dan hik hulle voertuig deur `n gat. Daar is 'n geluid van yster teen teer. Die agterste wiel is pap. Die gids trek af langs die pad in die laaste dorpie voor die lughawe. Elsa klim saam uit en sien verstom dat 'n ysterpaal reg deur die band gesteek het. Die paal moes net vir hulle gelê en wag het in een van die slaggate.

Nuuskierige kinders bondel nader. Hulle staan skaam en kyk hoe Elsa se vriende die tasse wegskuif om die spaarwiel van die bak af te laai. Die wiele word vinnig geruil.

'n Gezoem vul die lug. Elsa kyk om. Eers dog sy dit is bloot haar verbeelding. Maar nee. 'n Hele swerm bye kom in `n donker wolk nader gevlieg.

Wat de hel? Is hulle deel van die Bybel se sewe plae vandag?

Hulle wil net in die bakkie spring, maar in die sekonde van huiwer, kom 'n vragmotor met die pad afgerol en ry regdeur die swerm bye. Die bye tref die mense agterop die vragmotor. Elsa weet nie wie se skrik is die grootste nie, die bye of die mense. Maar dis gille en uitroepe en 'n gemaal agterop.

Die opgeboude spanning in Elsa ontplof in 'n lagbui. Selfs die kinders om hulle giggel.

Die laaste moere word haastig vasgedraai en hulle waai vir oulaas vir die kinders. Die gids trap die petrolpedaal plat.

Dit is vlugtyd minus vyftien minute.

 

Die lughawe is 'n klein geboutjie en die gids stop met bande wat skuif oor die teer by die deur. Elsa en die res gryp hulle rooi tasse en hardloop in.

Die vliegtuig staan reeds en wag. Hulle tasse word geweeg en te swaar gevind. Hulle moet boetes betaal in 'n klein kantoortjie buite om die hoek. Die rekenaar en optelmasjien is koud en stadig.

Vlugtyd minus vyf minute.

Doeanebeamptes skree in vreemde tale op Elsa-hulle en beduie met groot handgebare na die sekuriteitshek. Die sekuriteitsman met sy AK47 lyk aggressief. Hulle is laaste; die vliegtuig wag net vir hulle.

Op papier was dit reeds vliegtyd. 

Skoene en handbagasie word uitgepluk en op die rubberband gegooi.

Tweet! Tweet, gil die hek.

Belde en gespes word afgepluk en op die band gesit.

Tweet! Tweet, gil die hek weer.

'n Horlosie word van 'n arm afgepluk.

Uiteindelik is die hek stil.

Halfnaak hop hulle deur die voordeur van die lughawe. Skoene word in die hardloop aangetrek. Hulle hobbel-hardloop oor die aanloopbaan na die vliegtuig wat staan en wag. Waai 'n dankie in die rigting van die neus van die vliegtuig.

Op met die ystertrappies, deur die vliegtuig tot agter.

Elsa sak verlig op haar sitplek neer. Die vliegtuig se spoed druk haar terug teen die sagte kussing en haar oë val toe. Sy haal diep asem.

Ná 'n paar minute klingel die waentjie tot langs haar. Sy glimlag vir die lugwaardin.

“Dubbel gin en tonic, asseblief.”

Sy vou haar vingers om die koue plastiekglasie en neem `n sluk.

Aa. Dit is die eerste ding wat vandag reg uitgewerk het, dink sy met 'n glimlag.

 

 

25 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page