Hy wil net visvang en ontslae raak van die stres wat daagliks by die werk verhoog. Ook 'n verdomde vroumens se skuld.
Die son hang laag in die weste toe Werner Meyer, beter bekend as Werries, stilhou by die plaashek en die uithangbord bekyk. Klein Oasis. Wel, hy is op die regte plek. Dan gee hy 'n laggie. Wie ook al iets in die Vrystaat 'n oasis noem, oorreageer totaal. Al wat hy op pad hierheen gesien het, is verskroeide mielies. Hier lyk dit nie anders nie. Hel, die droogte het alles ordentlik bygekom. As een van die boere in hierdie omgewing iets gaan oes, kan hy homself gelukkig ag.
Werries klim uit en stap hek toe.
Maak my asseblief toe. Die springhase sal weghol.
Hy lag hard. Ten minste het iemand sy sin vir humor behou. Hy ry deur die hek, maak dit agter hom toe en volg die paadjie na die wit opstal. Sy oë soek deur die veld. Van die dam en chalets wat op Facebook geadverteer is, is daar geen teken nie. Hel, hy hoop nie hy is vir 'n ride gevat nie; hy moes vooruitbetaal.
Hy hou stil voor die huis. 'n Skel blaffende foksterriër begroet hom toe hy uitklim.
Werries kyk vinnig rond. Daar moet sekerlik ook 'n groot hond wees. Sien dan 'n rottweiler lui opstaan, homself uitrek en al stertswaaiende nader kom. Toe Werries sy hand huiwerig uithou, slaan die hond oor in 'n draf en hou sy kop uit vir 'n krap. Dan druk die foksie tussen hulle in.
“Meneer von Maltitz?” hoor hy 'n bas mansstem en kyk op.
“Werries.” Hy en steek sy hand uit.
“Welkom. Die oord is hier agter.” Die man se hand beduie om die huis. “So een kilo van hier af. Jy sal hom in die laagte kry.”
Werries kry 'n A4-grootte papier met die oord se reëls daarop.
“Dis ‘n baie stil naweek. Daar is reeds een voertuig in en nog een om te kom. Jy kan dus enige plek vat. Maar nommer 35 is baie na aan die water, braaiplek en ablusieblok.”
“Ek sal so maak.”
“Lekker vang. En sê maar as jou dop of vleis opraak. My trokkie loop elke oggend teen negeuur dorp toe.”
“Dankie. Ek het alles.”
Werries ry verby 'n trop drakensbergers. Blinkvet. Hulle wei seker goed aan die halfgegroeide mielies. Sodoende bespaar die boer aan veevoer en stroopkoste. Nie dat dit vir die verlies aan inkomste gaan opmaak nie, maar dis beter as niks. Hy vergaap hom aan die toneel toe hy die afdraande vat. Daar is 'n lowergroen lap mielies onder 'n spilpunt anderkant 'n baie groot dam. Nee, nie baie groot nie, moerse groot. En 'n ewe groen tapyt waarop drie geboude chalets en twee houthutte staan. Die naam, Klein Oasis, klink skielik eufemisties gestel. Hy sê onmiddellik ekskuus vir sy gedagtes van vroeër.
Hy ry opgewonde verder, kry nommer 35 maklik en parkeer sy opvoukaravaan op die sementblad. Hel! Hier sal hy kan ontspan.
Tien minute later, met alles reg vir die nag wat voorlê, dra hy sy visgerei tot by die waterkant. Op pad terug karavaan toe, sien hy die rooi Audi A1 langs een van die houthutte staan. Mmm, die turbo model. 'n Wintie se kar. 0 - 100 in minder as 3 sekondes. Dan vang sy oog die nommerplaat. 350NLY GP. Aai tog. 'n Blerrie vroumens, soos sy nuwe bestuurder, maar tien teen een ouer as vyftig, met 'n goeie lyf, hormone wat nog nie gaan lê het nie en 'n ego wat skrik vir niks.
Gelukkig is die plek groot en die mense min. Gevolglik behoort hulle mekaar nie raak te trap nie. Hy wil net visvang en ontslae raak van die stres wat daagliks by die werk verhoog. Ook 'n verdomde vroumens se skuld. Asof Erna hom nie tydens hulle egskeiding plat genoeg getrap het nie.
Hy tel sy kampstoel en aluminium tafeltjie met een hand op en dra sy koelsak, gelaai met ses biere en biltong, in die ander. Die opwinding tintel in sy vingerpunte. Koebaai kantoorverwante nonsens, hallo ontspanning.
Met twee lyne in die water en gemaklik in sy stoel, knak hy sy eerste bier. Teug behaaglik daaraan en begin dink aan die grotes wat hy wil uithaal. Karpe, barbers en wie weet, dalk 'n geelvis of twee.
Nadat sy eerste vis, 'n karp van 3, 5 kg., in die hounet geval het, volg nog twee Black Labels die eerste een se pad.
Dan hou hy sy asem op. Ruik hy reg? Dit kan nie wees nie! Sy loop sagter as 'n muis met slippers. Maar sy staan nou reg agter hom.
“Iets gevang?”
Werries weet onmiddellik wie die Audi se eienaar is, maar hy het een fout gemaak: Sy is jonger as vyftig.
Hy gaan nié omkyk nie. Die stem agter behoort aan Marinda Nel. Geen wonder hy’t nie die kar herken nie. Sy bestuurder, wat haar titel ernstig opneem, alles weet en alles beter as ander kan doen, bestuur 'n Hyundai i10 kantoor toe.
“Een. Kyk maar daar in my hounet,” antwoord hy en beduie waar sy moet soek.
Hopelik weet sy nie veel van visvang nie en sien sy vanaand minder foute raak as gedurende die twee maande sedert hy aan haar rapporteer.
Hy grinnik terwyl sy water toe stap. Hy kon haar darem een keer ore aansit. Hulle het 'n werknemer van bedrog verdink. Sy het 'n vergadering belê sonder om 'n strategie met hom te bespreek en Gert begin uitvra. Almal vrae wat 'n skelm vooraf kon antisipeer. Hy het later beduie sy moet hom 'n kans gee.
“Gert, jy het pas jou derde groot fout gemaak,” het hy begin, sy lêer oop gemaak en bewysstukke uitgehaal. Na die eerste een het Gert ongemaklik begin lyk. Die tweede het hom laat wegkyk en die derde was die groot vis. Hy het twee velle papier vir Gert gegee.
“Jou volledige verklaring, asseblief, en 'n vrywillige bedanking. Dan gaan praat ons met die baas en vra hy moet jou nie krimineel vervolg nie.”
“En as ek weier?”
“Dan raak dit onmiddellik polisiesake.”
Dit was Gert se doodskoot. En haar reaksie? Stilte. Nie eers iets gesê in die lyn van ‘mooi so’ nie.
Vir die eerste keer merk Werries haar kleredrag op. 'n Sagte top en 'n kortbroek. Dit terwyl sy op kantoor nooit eers langbroeke dra nie. Toe sy buk om die hounet op te tel, weet hy hoekom haar keuse altyd op wye, lang rompe val. Sy steek haar knock knees weg!
En so what? Dis niks. Hy is in elk geval nie 'n beneman nie. Sy fantasie sit heelwat hoër aan 'n vrou se anatomie.
Hy grinnik amper hardop.
Hier kom dit, dink hy en hou sy asem op toe sy die net terugplaas en vir hom kyk.
“Ek het al groter gesien, maar heel mooi.”
Jip, Tipies sy. Eers die kritiek, dan 'n halwe stukkie biltong.
“Uhm, maar die naweek is nog 'n embrio.”
Sy een stok se alarm skree. Dit moet 'n grote wees. Die lyn staan reeds styf. Werries tel die stok op, kap en bring die vis in. 'n Barber van vyf kilo’s, skat hy.
“En dit sommer in die vlak water.”
Verdomp. Hy moet haar tjank aftrap. Sommer nou. Sy is waaragtig nie baas langs die viswater nie!
Hy hou die stok vir haar uit. “As jy kan verder gooi, wys my.”
Haar betekenisvolle glimlag ontsenu hom effens. Toe hy sien hoe behendig sy die aas aansit, begin hy twyfel oor sy voortvarendheid. Hier kom moeilikheid, dink hy toe sy die stok gemaklik terugswaai. Werries hou die aas dop terwyl dit deur die lug trek en trek en trek, en die katrol onophoudelik sing. Gaan dit nooit ophou nie?
Die aas plons doer ver in die water. “Hel.”
“Sal jy omgee as ek gou my stokke gaan haal?” Dit lyk asof botter nie in haar mond kan smelt nie.
“Glad nie. Maar hoekom so ver loop? Vang jy met die een en ek met die ander.”
Werries is dadelik vies vir homself. Vir wat het hy dit gesê?
“Top.” Sy gaan sit plat op die gras agter die een stok.
“Ek kry net my ander stoel.”
“Nee dankie. Ek is gemaklik so.”
As sy 'n gooi en 'n half sien, 'n gooi soos 'n man moet gooi, loop sy dalk. Vol bravade gooi Werries gemaklik verder as sy.
Dan is dit weer haar beurt.
En heel gou raak die vangery 'n kompetisie.
Hulle gooi om die beurt die verste en vang hy twee visse kort na mekaar, vang sy drie. Hy weet later nie wat om te probeer nie. Dit raak blykbaar al lekkerder vir haar.
Hy sal haar moet skok, anders gaan hy haar nie daar wegkry nie, maar vervlaks of hy aan iets gepas kan dink.
Dit is baie laat toe hy besluit om die aftog te blaas en sy gasbraaier aansteek.
“Ek neem aan jy eet jou steak goed gaar?”
Sy skud soos sy lag. “Vir wat sal jy dit dink? Nee dankie, dit kan maar bloederig wees.” Sy bly 'n oomblik stil. “Ek gaan gou vir ons 'n rooie haal.”
Werries skud sy kop toe sy sonder om te wag vir 'n antwoord wegstap. Nog 'n blerrie verloor wat voorlê. Hy drink witwyn. Of bier.
Hy hou haar dop toe sy 'n bottel Groot Constantia cabernet en twee glase op die tafel neersit. Ag hel tog. Dis goeie wyn. Beslis beter as Black Label. Gaan dit nie end kry nie?
“Sal jy vir ons oopmaak?” Sy hou 'n kurktrekker uit.
Dan weet Werries wat hy moet doen. Man, hy moes dit lankal gedoen het.
“Nou-nou. Sit gou neer daai ding. Ek wil jou eers iets wys.”
Hy stap tot by haar en toe sy by die tafel omdraai, trek hy haar teen hom vas. Sy hande is vol speserye, maar hy gee nie om nie. Hy soen haar. Behoorlik.
Haar asem jaag toe hy haar los.
“Jy ... jou ...”
Hy wag vir die klap. Of die uitskel. Dit kom nie.
Sy haal diep asem voor sy praat. “Glad nie sleg nie. Maar ... ” Haar haar gly teen sy bors op, katrol hom in.
Toe soen sy hom.
En hel, Werries kan skaars dink, maar hy weet hierdie een is 'n grote.
Comentarios