As sy enige idee gehad het waarvoor sy haarself inlaat sou sy nie so vinnig ingestem het vir Kersfees saam met sy familie nie.
Jakobus sien sy familie se gesigte agter die gordyn toe hy in die oprit stop. Hy draai na Kimberley. As sy enige idee gehad het waarvoor sy haarself inlaat sou sy nie so vinnig ingestem het toe hy haar vertel het van sy oproep met sy ma nie.
“Jakobus, wat bedoel jy dat jy Kaap toe kom, maar nie Kersfees saam met ons sal kan spandeer nie?”
“Ma, Kimberley was nog nooit in Suid-Afrika nie. Ek wil haar só baie plekke wys en ons tyd is beperk.”
“En jy het nie gedink dat een van daai plekke jou ouerhuis moet wees nie?”
“Ma weet ek kan nie dit doen nie.”
“En hoekom nogal nie?”
“Sy is nog nooit blootgestel aan mense soos julle nie.”
“Ekskuus? Mense soos ons? Jy is Afrikaans, my kind. Net omdat jy nie meer in jou geboorteland bly nie beteken nie jy kan sommer net jou rug op jou mense draai nie.”
“Ma, verstaan tog. Ek probeer niemand in die gesig vat nie. Dis net daar kan niks goed hiervan kom nie.”
“Ons sal jou nie in die skande steek nie, as dit is waaroor jy bekommerd is.”
“Miskien nie Ma nie.”
“Ek wil niks verder hoor nie, Jakobus. Weet net ons verwag julle hier Kersdag. Klaar.”
Jakobus wonder of hy die regte ding doen. Jy kan nie jou familie kies nie, maar jy kan beslis kontak minimaal hou. Sy werk in Amerika het sy lewe verander. Dis waar hy vir Kimberley ontmoet het en hy het dadelik geweet sy is die vrou vir hom. Haar familie is baie welgesteld en hulle is alles wat hy in sy eie familie sou wou hê. Almal respekteer mekaar se privaatheid. Daar is geen verpligtinge rondom hoeveel keer jy bel of daar kuier nie. Niemand skryf vir jou voor hoe om te lewe nie. Wanneer hulle mekaar wel sien, verloop alles glad. Niemand baklei nie en almal is beskaafd. Jy ry daar weg en dink dat dit glad nie sleg sou wees om hulle meer te sien nie. Hy kon nog nooit enige van hierdie dinge van sy familie sê nie.
Kimberley sit lipstiffie aan. Hoekom het sy vandag juis rooi gekies? Sy broer het 'n walglike grappie wat hy vertel van 'n prostituut met rooi lippe.
Kimberley sit die doppie van haar lipstiffie op en gooi dit in haar Louis Vuitton handsak.
Jakobus sit sy hand saggies op haar been. “Remember what I said. The minute my family makes you feel uncomfortable, we can leave.”
Kimberley sit haar hand bo-op syne. “I am very excited to meet you family.”
Famous last words.
Jakobus klim uit en stap om die motor om Kimberley se deur oop te maak. Sy loop voor hom uit. Alleen haar uitrusting sit 'n teiken op haar rug. Die noupassende knielengte rok met die hoë hakke beklemtoon gelyk haar piepklein middel en haar lang sexy bene. Sy waai haar hare en swaai haar heupe. Alles wat hy van haar bewonder, sal sy familie sien as windgat.
Hy trek aan die bo-kant van sy hemp se kraag; hy moes nie 'n toeknoop hemp aangetrek het nie.
Die voordeur is oop nog voor Jakobus kan klop, en daar staan die klomp. Sy ma reg voor, haar pers voorskoot vol vetkolle. Agter haar sy broer. Fredrik het ongelukkig die gene geërf wat hom vroeg bles laat raak het. Met amper geen hare bo-op sy kop nie probeer hy dié wat laer groei lank hou en dit dan in 'n poniestert vasmaak. Dit is nie 'n goeie plan nie. Langs Fredrik staan sy vrou, Santie. Hul jongste dogtertjie is op haar heup terwyl hulle ouer dogtertjie haar kop tussen Santie se bene deursteek en hulle vandaar aangaap. Langs Santie is sy pa. Vir solank soos wat hy kan onthou dra sy pa dieselfde rooi hemp op Kersdag. Die hemp het dieselfde grootte gebly het; sy pa nie. Die knopies oor sy pens span so styf dat jy die hare op sy maag daardeur kan sien uitsteek.
Jakobus trek sy asem diep in en probeer sy skouers ontspan toe hy uitasem.
“Hi, everyone. This is Kimberley.”
Niemand sê iets nie. Nie met hulle monde nie. Hulle oë beweeg op en af soos hulle Kimberley inneem.
“Hi, everyone. Jacob has told me so much about you.”
Fredrik laat nie op hom wag nie. “Wie is Jacob?”
“Asseblief, Fredrik, hou jou in. Jakobus is 'n baie moeilike naam vir Engelse mense om uit te spreek.”
“Moet net nie dink ek gaan jou Jacob noem nie.”
Jakobus ignoreer hom en begin almal voorstel.
“This is my mother, Ester.”
Ester vat Kimberley se hand in hare. “You can noem me, Mom.”
“Ma!”
“Wat? Jy sê nou net die kind sukkel met die Afrikaanse name.”
Kimberley red hom uit sy ongemak. “Hallo, Jacob’s Mom.”
Met klein sweetdruppels op sy voorkop sukkel Jakobus voort.
“This is my brother, Fredrik.”
In sy onafgewerkte manier beweeg Fredrik vorentoe, vat Kimberley se hand en soen dit.
Kimberley knik beleef en laat die Afrikaanse naam oor haar lippe rol. “Fredriek.”
“This is his wife, Santie.”
Weer probeer Kimberley. “Santy.”
Jakobus wys na die dogtertjie op Santie se heup. “This is their youngest daughter, Ahnêl”
“Anal,” herhaal Kimberley.
Fredrik maak 'n snorkgeluid.
Sy ma gee hom 'n stamp in sy ribbes met haar elmboog. “Gedra jouself, die kind probeer haar bes.”
Jakobus skiet hom 'n kyk wat dreig met dood. Dan wys hy na die dogtertjie tussen Santie se bene. “And this is their eldest, Ohna.”
Kimberley buk so bietjie af na Ohna toe. “Hallo Onna.”
Ohna kyk na haar ma. “Hoekom praat die tannie so snaaks, Mamma?”
“Die tannie kan dit nie help nie, Ohna. As jy baie ryk is dan praat mens maar so.”
Santie se antwoord grief Jakobus, maar nou is nie die gepaste tyd om haar vooroordele aan te spreek nie.
“And this is my father, Piet.”
Piet steek sy hand uit. “Nice to meet you, Miss.”
Kimberley skud sy hand. “Nice to meet you, Peet.”
Jakobus gee 'n sug van verligting. Een minder ding om oor te bekommer.
“Come in, come in,” beduie Ester met haar hand.
“We will have some tea in the sit room. Lunch will be ready in an hour.”
Jakobus gee vir sy ma 'n bottel sjampanje. “Sal Ma hierdie vir ons in die yskas sit?”
Ester neem die bottel. “Is hier alkohol in?”
“Dis vir saam met ete, Ma. Niemand gaan dronk raak nie.”
Sy ma mompel iets oor hoe dit nie is hoe hulle hom grootgemaak het nie.
In die sitkamer trek Ester die gordyne oop wat vroeër toe was sodat die klomp daar agter kon wegkruip. Die lig wat instraal beklemtoon die uitgebleikte mat en hoe oud die banke werklik is.
Kimberley sit met haar beentjies toe teen mekaar en haar voete wat effe na die kant toe lê. Jakobus gaan sit op die bank se rand en rus sy arm beskermend om haar skouer.
Ester en Santie verskyn met die tee. Santie gaan sit en probeer haar bene ook eenkant toe laat lê soos Kimberley s’n. Santie lyk bitter ongemaklik.
Ester skink. “Do you want some sugar and milk?”
“No, thank you.” Kimberley steek haar hande uit en neem die koppie.
“Het Ma dalk suurlemoen?”
“Hoekom?”
“Kimberley hou daarvan in haar tee.”
Geïrriteerd vra Ester vir Santie om te gaan kyk of daar is.
Santie kom terug met die houertjie suurlemoensap en stop voor Kimberley. “How many squeezes would you like?”
Kimberley kyk verward na Jakobus.
“Don’t worry, my love. Santie misunderstood.”
Santie vererg haar. “Ek het jou niks misverstaan nie. Jy wou suurlemoene hê. Hierdie is dieselfde ding.”
“Sy drink 'n suurlemoenskyfie in haar tee, Santie.”
Santie sit die suurlemoensap hard op die tafel voor Jakobus neer. “Jy hou vir jou verniet so upstairs, Jakobus.”
Jakobus wil iets sê, maar sien hoe sy ma haar oë vir hom rek en besluit daarteen.
“Is julle honger?” Ester besef haar fout. “Did you come with empty tummies?”
“We did not have breakfast. So we are very much looking forward to the lovely lunch that will be presented.”
Piet skuif vorentoe in sy stoel. “Hoekom het julle nie breakfast gehad nie? Bly julle dan nie in 'n hotel nie?”
Kimberley kyk vir Piet en dan vir Jakobus en wag geduldig dat iemand vertaal.
“My father asked why we didn’t have breakfast.”
“Oh, because we do intermittent fasting” sê Kiberley.
“Julle doen wat?” Dis Santie wat vra, maar almal luister aandagtig.
Kimberley kyk weer vir Jakobus.
“They don’t know what that is.”
Kimberley gee die sagste laggie. “That is when you only eat in a period of eight hours during the day and fast the rest of the time. It has been proven to have various health benefits.”
Piet frons. “Is die tarief goedkoper as julle nie ontbyt eet nie?”
“Nee, Pa. Dis mos ons keuse om nie te eet nie. Die hotel se prys bly dieselfde.”
Piet skud sy kop en vou sy arms. “Watse ander wildvreemde maniere het jy by daardie Amerikaners geleer? Sien jy Ester, dis hoekom ek gesê het die kind moet nie in die buiteland werk nie.”
“Bedaar Piet, wat van nog tee?” Ester neem Piet se koppie terwyl sy vra. “Tell us what Christmas father brought you for Christmas, Kimberley?”
Kimberley tel die sak langs haar op. “Jacob bought me a bag.”
Santie spring op. “Give me that.”
Verskrik gee Kimberley gehoorsaam die sak.
“My magtig ma dit lyk presies soos die sak wat ons vir jou by die Kersmark gekoop het.”
Ester is haastig die vertrek uit. Sy kom terug en hou haar sak langs dié van Kimberley.
“Hare is dalk net leer en ma s’n is nie.”
“Ja, maar jy moet regtig naby kyk om dit te sien.”
“Kimberley, you and me we like the same things.”
Warmte straal uit Kimberley se gesig toe sy sê: “Yes we do.”
Jakobus weet nie hoe Kimberley dit regkry om so vriendelik te bly nie. Sy ma het sopas haar baie luukse handsak vergelyk met iets wat jy by 'n mark kan opspoor.
Ester loop verby Jakobus om die sak te gaan bêre en sê sag. “En dan was jy so vinnig om te dink ons het nie klas nie.”
Jakobus is verbaas toe Santie beduie dat Kimberley saam kombuis toe moet kom. “Come Kimberley, we will make the salad.” Kan die handsak-storie 'n alliansie tussen die vroue gevorm het?
“Will the chef not mind?”
“Who?”
“My darling, my parents do not have their own chef.”
“Oh.” Kimberley lyk teleurgesteld.
“Yes, you and me are chef of the salad.” Santie lyk baie ingenome met hierdie stelling. Kimberley staan huiwerig op. Jakobus gee haar hand 'n stywe druk voor Kimberley Santie kombuis toe volg.
Presies vyf en veertig minute later verskyn Ester en kondig aan dat die mans nou hulle plekke by die tafel kan inneem. Al drie gehoorsaam.
“Ta-da!” skree Santie. En daar kom Kimberley trots ingestap met 'n glasbak vol slaai.
“Put it next to the bread,” wys Ester.
Kimberley buig versigtig vooroor en plaas die bak met die grootste sorg op die tafel. Haar geboë posisie is net te veel van ‘n versoeking vir Fredrik om nie voor by haar rok in te kyk nie.
“Jou girlfriend het mooi tiete.”
Kimberley reageer op die woord “girlfriend” en kyk vir Fredrik.
“I say you have the nice breasts.”
Jakobus vou sy oë toe met sy hand. Hoe help jy mense wat nie gehelp wil wees nie?
Kimberley se wange begin verkleur en dit vat haar 'n rukkie om die skok te verwerk voor sy versigtig sê: “Thank you.”
Ester bring die bottel wat Jakobus haar vroeër gegee het tafel toe op 'n plastiek skinkbord met ses glase.
“En dié drank?”
“Dis net 'n klein bietjie Franse sjampanje vir saam met ete. Pa hoef nie te drink nie.”
Jakobus staan op en neem die skinkbord by sy ma. “Ma, het julle nie sjampanjeglase nie?”
Sy rek haar oë. “Hierdie is die enigste drankglase wat ons het.”
Hy laat dit vaar en begin die bottel oopmaak. Toe die prop die lug inskiet, skiet daar 'n baie lelike woord by Fredrik se mond uit.
“Sies, Fredrik! Nie voor die kinders nie,” sê Santie vies.
Fredrik se taal behoort die minste van haar bekommernis te wees as dit kom by die invloed wat hy langtermyn op die kinders gaan hê.
Jakobus skink vir almal 'n bietjie van die sjampanje en gee hul glase vir hulle.
Piet staan op. “Wel, as ons gaan drink dan kan ek seker 'n speech maak.”
“Sal pa Engels praat asseblief?”
Piet trek sy hemp, wat bietjie opgetrek het, af oor sy maag en maak sy keel skoon. “It is a long time when both my two sons was home. My heart and Esters’s heart is very happy today.” Hy sluk moeilik voor hy sê: “Cheers.”
Dan sê almal gelyk “cheers” en klink die lelikste witwynglase wat Jakobus nog ooit gesien het oor die tafel.
“This alkohol is nogal lekker,” sê Ester.
Fredrik kyk vir Santie. “Het ons nie dieselfde goed bedien op ons troue nie, Santie?”
“Ja, Fredrik. Ons het net die JC Le Roux soort gehad.”
Almal begin oor en weer opskep. Vir die kos kan hy hom gelukkig nie skaam nie. Die aartappels en wortels is bruin gebraai in die sous van die boud. Daar is soetpatat en pampoentert. Gebakte brood met konfyt en kaas, en Santie en Kimberely se slaai.
Na 'n paar happies neem Kimberley die papierservet en druk dit liggies teen haar lippe. “The food is impeccable.”
“Huh? What you are saying about the food?” vra Santie met 'n mond vol kos.
“It is very good.”
“Oh, ok. You must talk the normal English.”
As Kimberley al enigsins vandag aanstoot geneem het, het sy dit beslis nie gewys nie.
“Die drank is nogal nie te bad nie, my kind. Is daar nog?”
Jakobus kry lekker toe hy opstaan en die laaste bietjie in sy pa se glas gooi.
Die ervaring om die tafel bring baie herinneringe terug. Sy familie het hulle foute, maar dit vat nie veel om hulle gelukkig te maak nie. Hy kyk hoe Santie vir Ahnél en Ohna voer tussen mondevol van haar eie kos. Sy pa en Fredrik sal die eerste wees om te erken dat lekker eet iets is wat hulle vir niks sal verruil nie. En sy ma, die gom wat die chaos week na week bymekaar hou, wil net haar mense bymekaar sien. Verbeel hy hom of lyk Kimberley tuis? Is hy die enigste een wat nie voel hy pas hier nie?
Na ete dek die vrouens af en neem bestellings vir koffie en tee. Dit word uitgebring met trifle wat Ester self inskep. “How much would you like, Kimberley?”
“Nothing for me, thank you. I couldn’t possible eat another thing.”
“Ok, so just a little bit then.” Ester sit die bak voor Kimberley neer en hou aan uitskep.
Kimberley kyk Jakobus vraend aan.
“It’s a Afrikaans thing. I will explain it later,” fluister hy in haar oor.
“Will I have to eat it?” fluister sy terug.
Hy knik sy kop. Kimberey begin bitter stadig klein happies van die trifle eet. Toe Jakobus s’n op is, ruil hy sy bakkie met hare en eet dit ook op. Sy ma sal dit as 'n belediging beskou as iemand nie haar trifle eet nie.
Jakobus bedank almal vir die dag. “Dis nog 'n ent terug hotel toe, ons sal nou moet ry.”
Kimberley verskoon haarself om badkamer toe te gaan terwyl Jakobus en sy ma stoei oor 'n roomysbak vol leftovers wat sy aandring hulle moet saamneem.
Kimberley sluit weer by hulle aan met 'n nuwe laag bloedrooi lipstiffie. Jakobus stoot haar so effe voor hom uit by die deur omdat hy op Fredrik se gesig kan sien dat hy sopas die konneksie gemaak het tussen haar lippe en die lelike grappie.
“Onthou julle nog die grappie van die man wat huis toe gekom het met rooi lipstiffie op sy –”
“In vaders naam, Fredrik,” val Jakobus hom in die rede.
“Wat,” sê Fredrik verontwaardig.
Jakobus gebruik die enigste verskoning wat Fredrik sal verstaan. “Nie voor die kinders nie.”
Fredrik dink so bietjie hieroor. “Goed, maar vertel dit vir Kimberley in die kar.”
“Ek sal,” lieg hy.
Almal omhels en wens mekaar 'n geseënde nuwe jaar toe.
Jakobus maak die deur vir Kimberley oop dat sy kan inklim.
Eers toe hy sy eie deur toeslaan besef hy hoe vinnig sy hart klop. Hy skuld Kimberley een of ander vorm van verskoning vir sy familie. “About today ... ”
Kimberley kyk op. “Do you think they liked me?”
Comentários