top of page

Storietyd: Die sleutelhouer aan die Kersboom, Marinda Roos

Ek wonder net oor een ding. Hier is 'n sleutelhouer aan die boom wat nie eintlik mooi inpas nie.


 

Amelia trek die laaste kussingsloop oor die kussing en staan tevrede terug. Haar ouers en jonger suster behoort oor 'n uur hier te wees. Sy het nie besprekings geneem in die gastehuis oor Kerstyd nie. Sy wil nog die een kamer se mure nuut uitverf. Haar familie gaan in elk geval die hele huis oorneem. Geen gas sal hier wil ontspan en na haar jolige familie wil luister nie.

Sy stap kombuis toe en haal die deksel van die stoompot af. Die beesstert se geur vul die kombuis. Die rys en nagereg is ook al gaar. Sy sal later die mengelslaai maak.

Die deurklokkie lui skril en sy kyk op haar horlosie. Sou haar ouers vroeër gery het om haar te verras?

Amelia stap voordeur toe en terwyl sy die deur oopmaak roep sy uitgelate: “Surprise!”

  Sy kyk vas in 'n onbekende man. 'n Aantreklike onbekende man. Sy donker hare is netjies gekam en hang tot in sy nek. Sy oë is donker bruin, vol energie. Die stoppelbaard gee 'n ruheid aan sy gesig. Hy lyk goed in die donker pak klere.

“Goeie middag, Meneer. Ekskuus, ek verwag my ouers nou enige tyd,” maak sy verskoning.

“Middag,” groet hy en bekyk haar van kop tot tone.

Sy het nog haar geskeurde denim aan met 'n T-hemp wat beter dae geken het. Bo-oor is haar voorskoot waarop staan: Masterchef Amelia.

“Ek het nie vooraf 'n bespreking gemaak nie. Ek hoop daar is nog plek hier in die gastehuis?” Hy kyk stip na haar.

“Die gastehuis is ongelukkig gesluit oor Kerstyd. My familie kom kuier.”

“Ek benodig net 'n kamer vir myself. Ek het al by vyf plekke gestop en almal is vol bespreek. Asseblief?” Sy oë pleit saam.

Amelie byt haar onderlip vas. Sal  sy hom maar in die leë kamer inboek?

“My familie is baie raserig. As jy kans sien om die huis met ons almal te deel, is jy welkom.”

“Baie dankie, dit is gaaf van jou. Amelia?”

Sy trek aan haar voorskoot en is vir die eerste keer spyt sy lyk so slordig. “Amelia Swiegers, aangename kennis.”

“Hanro Dippernaar, lekker om jou te ontmoet.”

As haar Ma nou hier moet aankom en sien hoe sy lyk, lees sy haar die leviete voor. Maar dit was haar eerste dag in 'n leë gastehuis en sy het al die kamers se beddegoed skoon oorgetrek. Sy stap voorportaal toe en maak 'n groot boek oop. “Hoeveel nagte wil jy bespreek?”  Sy sluk aan die gekriewel in haar keel.

“Tot die tweede Januarie, asseblief.”

“Ontbyt is ingesluit in die prys. Aandete is wel beskikbaar. Jy moet my asseblief net vroegtydig laat weet.”

“Dankie, jy kan my opsit vir aandetes ook.”

“Welkom by Fynbos Gastehuis in Struisbaai,” sê sy en plaas die sleutel in sy groot hand.

“Dankie.”

Hy het 'n mooi glimlag. Haar maag maak allerhande snaakse draaie en vies gooi sy haar vlegsel oor haar skouer.

“Kom ek gaan wys vir jou waar is jou kamer,” sê sy en stap die gang af. Sy kamer is gelukkig ver van die ander kamers. Die kamer spog met sy eie stoep en die uitsig oor die see is altyd 'n trekpleister vir die toeriste.

“My ouers behoort oor minder as 'n uur hier te wees. Verskoon asseblief as hulle baie raas. Ons het mekaar lanklaas gesien. Aandete word van sesuur af in die eetkamer bedien en ontbyt is tussen sewe- en negeuur.”

“Dankie, ek sal betyds wees vir aandete,” sê hy en stap die kamer binne.

Amelia blaas haar asem stadig uit en stap terug kombuis toe. Sy wonder of sy vinnig deur die stort moet spring en netjieser moet aantrek. Sy skud die idee van haar af en stap na haar kamer toe. Sy gooi vinnig ‘n ander hemp oor haar kop en sit weer die voorskoot aan. Net nou dink die mansmens sy dollie haar vir hom op.

 

Amelia moet kort-kort die spul stil maak. Vandat haar ouers hier aangekom het, gesels hulle uitbundig en aanmekaar. Sy moet hulle ook gereeld herinner daaraan dat daar 'n gas in die huis is. Hulle kuier op die stoep, wat gelukkig aan die anderkant van die gastehuis is.

“Amelia, my kind, jy het die laaste paar maande baie verrig in die gastehuis. Al die kamers is uitgeverf en spog met sysagte linne. Verlede Kersfees het jy gemik en weeg of jy alles moet oordoen. En kyk nou, die huis lyk heeltemal anders,” spog haar Ma.

“Dankie Mamma. Dit het baie moed gekos om die eerste kamer klaar oor te doen. Die resultate was so goed, ek het eenvoudig aangegaan.

“Dit lyk heeltemal anders as 'n jaar terug. Het jy al besluit oor die nuwe kombuis?”

“Ek dink nog daaroor. Ek het nie besef kombuiskaste is al so duur nie. Net die stoof alleen is amper veertig duisend rand,” sê sy.

“Genade, is dit wat die stowe al kos?” vra haar Pa geskok.

“Dit is 'n spesiale een, Pa. Hy het drie oonde en twee ekstra warm laaie. Dit is perfek vir die gastehuis. Wanneer ek vol bespreek is, gaan dit maar rof om alles gaar te kry en warm te hou.”

“Is daar nie iets goedkoper nie?”

“Ja, daar is. Daardie stowe het net twee oonde en een warm laai. Dit gaan my weer beperk. Indien ek die kombuis gaan oordoen, wil ek dit deeglik doen.

Agter haar gee Hanro 'n kuggie en stap tot by hulle op die stoep.

“Hanro Dippernaar, aangename kennis,” groet hy hulle.

Oom Stefan skud sy hand en stel homself aan hom voor. Haar sussie rol haar oë vir haar en Amelia weet dit beteken net een ding: Sy hou van wat sy sien.

“Ek is Carlie. Amelia se jonger suster en beskikbaar,” groet sy.

Amelia wens die aarde wil haar insluk. Carlie is weer op haar stukke vandag. Die man dra nie 'n ring nie, maar hy lyk tien jaar ouer as Carlie. Sy skaam haar morsdood vir haar suster se voorbarigheid.

“Ek is tannie Susan, aangename kennis. Is jy met vakansie hier in Struisbaai?”

“Ja, ek is. Het so bietjie gevlug van die stad af,” erken hy.

“So wat doen jy vir 'n lewe?” vra Carlie.

“Carlie, hy is ‘n gas hier in my gastehuis. Respekteer asseblief sy privaatheid,” verdedig Amelia.

Hanro lag lekker en kyk stip na Amelia toe hy uiteindelik praat.

“Ek is 'n argitek. Ek was juis in Kaapstad vir die begroting van my volgende bouprojek.”

“Is jy van Kaapstad?” vra oom Stefan.

“Ek is oorspronklik van Pretoria. My werk bring my deesdae baie Kaapstad toe. Ek is juis besig om na huisvesting te kyk.”

“Waaraan werk jy nou?” vra oom Stefan.

“Ons is besig met 'n nuwe inkopiesentrum. Die nuutste is om deesdae groener te gaan. Ons gebruik ekologies vriendelike materiale en passiewe sonverhitting.”

Amelia sit die hele tyd en luister na almal se vrae. Eintlik weet sy nou meer van hom af, al het sy nie 'n enkele vraag gevra nie.

“Van waar is Oom-hulle?” vra hy uiteindelik.

“Ons is van Mpumalanga. Ek boer naby Delmas.”

Net toe Carlie weer wil begin met haar vrae, staan Amelia op en kyk stip na haar. “Genade, dit is al amper etenstyd. Carlie, kom help my gou om die kos aan te dra. Ek dink ons eet sommer net hier op die stoep. Die weer is lieflik en die uitsig is mooi van hier af.”

Carlie staan op en mompel iets, maar Amelia maak of sy haar nie hoor nie. Sy weet haar jonger suster is al klaar besig om vrae in haar kop bymekaar te maak. Sy het haar oog op Hanro. Sy druk gewoonlik haar neus in waar sy nie moet nie. Carlie het al baie mans voor Amelia se neus weggeraap. Met haar uitbundige persoonlikheid en impulsiewe besluite val die mans oor haar voete. Sy beplan nie die dag van more nie. Sy leef dit.

Amelia is stiller. Op haar plek. Haar dagboek is 'n maand vooruit beplan. Alles wat sy aanpak, doen sy met geesdrif. Wat gewoonlik lei tot 'n sukses. Na matriek het sy hotel- en spyseniering gaan studeer. Sy wou nog altyd haar eie gastehuis besit. Carlie aan die anderkant, is 'n bedorwe brokkie. Sy kom met te veel goed weg.


Na ete ruim hulle die tafel op en elkeen verdwyn in sy eie rigting. Amelia is besig om die oorskiet kos in bakke te skep. Die ete was gesellig en sonder insidente. Nadat sy al die skottelgoed in die wasser gepak het, stap sy sitkamer toe. Sy skrik toe sy amper in Hanro vasloop.

“’Skies, ek het nie geweet hier is iemand nie,” sê sy.

“Als reg, die Kersboom het my aandag afgetrek.”

“Die boom is gewoonlik 'n trekpleister vir mense,” lag sy.

“Ek wonder net oor een ding.”

“En wat is dit?”

“Hier is 'n sleutelhouer aan die boom wat nie eintlik mooi inpas nie.”

“Jy’s oplettend. Dit was 'n sleutelhouer van iemand wat naby aan my was. Die motorfiets verteenwoordig ons vriendskap.” En haar hartseer, maar dit sê sy nie.

“Was?”

“Ja, hy is in 'n motorfietsongeluk oorlede. Sy ouers het die sleutelhouer vir my gegee.”

“Ek is jammer om dit te hoor,” sê hy met empatie in sy stem. “Was julle meer as vriende?”

“Ons het saam geswot.” Sy kyk ongemaklik weg.

“So, hoe het jy hier beland?”

“Ek het by die Capital Hotel Skool in Pretoria geswot. Ek is 'n professionele sjef. Nadat ek 'n ruk by 'n bekende hotelgroep gewerk het, het ek besef dit is nie wat ek regtig wil doen nie. Ek wil in beheer wees van die spyskaart en my eie spesialiteite voorberei.”

“Toe trek jy Struisbaai toe?”

“Hierdie was my Ouma se huis. Sy het dit aan my nagelaat. Ek wou die huis eers verkoop, maar nadat ek 'n week hier deurgebring het, het ek besef die huis het potensiaal. Dit was ideaal om in 'n gastehuis te omskep. Met 'n bietjie verbeelding en baie moeite het ek dit opgeknap.”

“Dit is ‘n pragtige ou huis,” erken hy.

“Ja, dit is. Elke kamer het sy eie badkamer. Die stoep is ideaal vir kuiertjies op lekker somerdae. Ek het niks uitgebreek of verander nie. Net die kombuis is op my lys. Ek begeer groot werk spasie en 'n nuwe stoof,” lag sy.

“Waar pas jou suster in?”

Amelia sug innerlik. “Na skool het sy seker vier keer van studierigtings verander. Sy het geld by my Ouma geërf. Net daar het sy besluit sy wil oorsee gaan. Sy het los werkies gedoen en blykbaar bietjie modelwerk ook. Sy is die kleinsus, 'n bietjie te veel bederf.”

Hanro lag en kyk Amelia ernstig aan. “Ek neem aan jy is die introvert en sy die ekstrovert?”

“Ja, ek is die stil en teruggetrokke een,” lag sy verleë.

Sy vryf met haar hand oor die sleutelhouer en draai om. “Lus vir 'n bietjie koffie?”

“Dit sal lekker wees, dankie. Is daar nog van jou lekker nagereg oor?”

“Ja daar is, kom dan skep ek vir jou in.”

Hy volg haar tot in die kombuis en gaan sit spontaan by die houttafel in die middel.

“Hierdie kombuis het baie potensiaal,” erken hy.

“Aha, jy is mos 'n argitek.”

“Ek hou daarvan om ou plekke ook te restoureer. Dit het ook sy uitdagings.”

“Wat sal jy eerste doen in die kombuis?’ vra sy.

“Ek sal die oorspronklike struktuur behou. Daar is beslis plek vir 'n eiland wat groot werkspasie sal beteken. Die kaste kan jy tot bo installeer. Goed wat jy nie baie gebruik nie, kan jy heel bo in die kaste pak. Ek sal die stoof skuif dat dit nader aan die venster is.”

Hanro staan op en loop tot by die spens. Hy loer in en draai om met 'n glimlag op sy gesig.

“Dit is 'n baie groot spens. Jy kan dalk 'n instapyskas oorweeg. As jy nie baie geld wil spandeer aan een nie, ek het 'n vriend wat spesialiseer in verkoeling.”

“Dankie, ek sal dit in gedagte hou,” sê sy ingenome.

Hy gaan sit weer by die tafel en hap aan die nagereg. “Hmm. Hierdie is 'n wenner.”

Amelia lag en sit die beker koffie voor hom neer. Sy gaan sit oorkant hom en hou elke beweging dop.

“Is jou ouers nog in Pretoria?” Genade, haar eerste vraag aan hom.

“Ja, my pa is ook 'n argitek. Ek het nog 'n broer en een suster.”

“Ek wens party dae ek het eerder 'n broer gehad,” glip dit uit.

“Laat ek raai. Jou suster is baie kompeterend?”

“Ek sal eerder sê my kêrels was nooit veilig in haar teenwoordigheid nie.”

“Afgevry?”

“Ja, elkeen van hulle,” sê sy vieserig.

“Sowaar?” vra hy verbaas.

Sy lag, maar die seer kom steek vas in haar binneste. Op skool was dit nie te erg nie. Dit was kalwerliefde en hulle het gekom en gegaan. Dit was na skool wat Carlie met mening in haar slaai gekrap het. Sy kan enige jong man kry wat haar hart begeer. Maar nee, dit is haar missie om elke vriend en vaste kêrel van haar af te vry.

“Hoe lank bly jy al op Struisbaai?”

“Twee jaar.”

“Dit is ‘n pragtige plek.”

“Ek het dadelik op die plek verlief geraak,” erken sy.

“Dit is ‘n plek waar 'n mens liefde kan vind,”  sê hy opreg.

Sy glimlag vir hom en hy glimlag terug. Haar hart gee 'n woeste pluk. Dit is die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Carlie is ook hier.

Amelia staan op en wens Hanro ‘n lekker nagrus toe. Sy maak haarself eerder uit die voete uit voordat sy hard vir die man val.

 

Dit is Kersdag. Amelia het 'n rustelose nag gehad. Elke keer wanneer sy wakker word, het donker oë laggend na haar gekyk. Sy lê en glimlag. Sy vang haarself gedurig met 'n glimlag op haar gesig. Hoe dan anders? In die kamer langs hare is 'n aantreklike man. Een wat filosofies raak oor 'n ou huis en kan smul aan haar malvapoeding.

Maar Carlie is ook hier. Sy het met tyd al haar selfvertroue by haar kom gesteel. In die twee jaar wat sy op Struisbaai is, was sy nog nie weer in ‘n verhouding berokke nie. Sy het hierheen gevlug van die seer en verraad af. Weg van Carlie se sprankelende persoonlikheid af.

Aan die een kant is sy, Amelia: Hardwerkend en pligsgetrou,besig om haar droom uit te leef. Aan die ander kant is Carlie: Die jonger sussie wat rond val en nie weet wat sy regtig wil doen nie.

Amelia stoot haar gedagtes opsy, gooi die duvet van haar af en spring in die stort. Sy blaas haar hare droog en besluit op 'n vrolike sonrokkie met spatsels rooi. Liggies grimeer sy haarself en staan tevrede terug toe sy in die spieël kyk.

Sy is reg vir die dag.

Haar mond val amper oop toe sy die kombuis instap en Hanro voor die ketel vind. Hy is besig om vir homself koffie te maak.

“Goeie more, Hanro,” groet sy. “Geseënde Kersfees.”

Hy draai om en sy oë is op haar. “More, Amelia, geseënde Kersfees vir jou ook.”

Sy kan sien daar is bewondering in sy oë. Gister het sy soos 'n gedroogde perske gelyk. Vandag het sy bietjie meer moeite as gewoonlik met haar voorkoms gedoen.

“Koffie vir jou?”

“Dit sal lekker wees, dankie. Maar jy is 'n gas hier in my huis,” keer sy.

“Ek doen dit met graagte,” sê hy en haal nog 'n beker uit die kas uit.

Sy hou hom dop. Hy het vandag 'n denim met 'n wit golfhemp aan. Sy hare is nog effens nat. Hy gee die beker vir haar aan en gaan sit langs haar by die tafel.

“So wat is op die spyskaart vir vandag?” vra hy.

“My familie hou van tradisionele kos. So, ek gaan begin met 'n groot boere-ontbyt. Vir vanmiddag is daar skaapboud, koue vleis en verskeidenheid slaaie op die spyskaart.”

“Gaan jy die hele dag staan en kosmaak?”

“Nee, ek het goed voorberei. Ek het gister al die skaapboud en slaaie gemaak. Vanoggend maak ek net die ontbyt en nagereg vir later.”

“Is daar iets waarmee ek kan help?” vra hy.

“Genade, nee. Ek sal dit nooit toelaat nie,” keer sy.

“Hoekom nie? Ek help met graagte. Sê net wat ek moet doen.”

Sy neem 'n klein slukkie van haar koffie en sug gelate. As hierdie man die aanslae van haar suster kan weerstaan, moet hy die een wees. 'n Man wat weet wat hy wil hê. Een wat haar kies en net vir haar lief sal wees Die storms saam met haar sal aandurf. Een wat deur haar sussie sal sien en nie vir haar valsheid sal val nie.

“Goed, jy kan nog koffie maak terwyl ek begin met ontbyt.”


Toe die res van die familie uiteindelik by hulle aansluit op die stoep, kuier hulle al soos ou vriende.

“En as julle twee so lekker alleen sit en kuier?” vra Carlie met 'n bitsige stem.

Amelia ignoreer haar sarkasme en staan op. “Geseënde Kersfees. Ek hoop elkeen van julle word gevul met vreugde en genade,” sê Amelia. Sy gee haar ouers elkeen 'n drukkie en stap kombuis toe om 'n vars fles koffie te gaan maak.

“Het jy jou maniere by die huis vergeet, Carlie? Gaan vra jou suster om verskoning,” hoor Amelia haar Pa raas.

Toe Amelia weer op die stoep kom, is Carlie nie daar nie. “Waar is Carlie?” vra sy toe sy gaan plaasneem langs Hanro.

“Ek het haar gesê om jou om verskoning te gaan vra. Lê seker in haar kamer met ‘' dikmond,” sê haar Pa vieserig.

“Geniet die ontbyt,” sê Amelia en haal rustiger asem.

Hierdie keer gaan dit nie so maklik wees vir Carlie nie. Hanro is 'n oulike man met goeie waardes. Sy kennis strek wyd en hy is nie vol van homself nie. Hy lyk na die lojale tipe wat vas staan by sy beginsels. Maar sy weet ook diep in haar hart Carlie is klaar besig met haar nuwe aanvalstrategie. Die volgende stap is gewoonlik manipulasie of verleiding.

  En dit is ook so. Dit is net voor middagete en almal help Amelia om die kos aan te dra stoep toe. Die tafel is mooi gedek in kleure van rooi en goud. Dit kreun onder die kos. Hulle sit net aan by die tafel toe Carlie ingestap kom. Amelia word bloedrooi, sy weet nie waar om haar kop in te steek nie. Carlie het 'n kortbroek aan wat net die nodigste toe hou en 'n hempie wat stop bo haar naeltjie. So, dít is haar volgende stap: verleiding.

  Hanro sien seker die verleentheid op Amelia se gesig, want hy neem haar hand in syne.

“Sal Oom asseblief vir ons die tafelgebed doen,” vra hy en maak sy oë toe.

 

Na middagete verdwyn Carlie weer na haar kamer toe en die res help Amelia om op te ruim.

“Ek sal alles sommer in die yskas sit. Vanaand kan ons weer smul hieraan. Hier is genoeg vir nog 'n hele weermag,” lag sy.

“Dankie, my kind. Ons waardeer jou harde werk,” sê haar Ma en pak die bakke in die yskas.

Nadat haar ouers ook verdwyn het, neem Hanro haar hand in syne en trek haar by die agterdeur uit. “Kom ons gaan stap op die strand.”

Die wind pluk aan haar hare en sy glimlag vir hom. Vir die eerste keer in 'n baie lang tyd voel sy gelukkig en tevrede. Hier langs haar loop 'n man met die mooiste hart.

“Ek het ‘n klein geskenkie wat ek vir jou wil gee,” sê hy hees.

Sy gaan staan voor hom en sien die geskenksakkie in sy een hand. Sy neem dit by hom en trek haar asem in toe sy dit uithaal. Sy vee 'n lastige haarlok agter haar oor in. Haar hart bons van vreugde.

“Ek het dit gisteraand aanmekaar geslaan. Beslis nie van my beste werk nie, maar my boumateriaal was beperk,” lag hy.

Dit is 'n klein huisie wat aan 'n toutjie vasgemaak is. Die klein deurtjie maak oop en bo dit staan: Amelia se Fynbos Gastehuis.

“Dit is pragtig!”

“Jy kan dit van nou af elke jaar ook aan jou Kersfees boom hang,” sê hy saggies.

“Dit is dierbaar van jou,” sê sy en kyk op in sy oë.

Sy gesig kom nader en Amelia sluit haar oë. Vir twee jaar het sy gesmag na iemand wat net vir haar alleen wil hê. Sy mond soek hare. Sy lippe is warm en sag. Hier in sy arms voel sy veilig. Die branders spoel oor hulle voete. Met elke golf wat oor haar breek, val die skanse van haar af. Al die seer, vernedering, verwerping en agterdog trek saam met die gety weg.

Sy het haar maat gevind.

Later lig hy sy kop maar sy arms bly om haar middel. Sy rus haar kop teen sy bors.

“Kan ek my bespreking maar aanskuif met 'n week of twee?” vra Hanro teen haar hare.

Sy lag en kyk op in sy oë.

“Enige tyd,” antwoord sy en hy druk haar stywer teen hom vas.

 


122 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page