Saans wanneer die mis dig oor Kaapstad lê, beweeg geeste ongesiens tussen die lewendes in die ou strate.
Die kasteel lê knus toegetrek onder 'n miskombers. Koue, wit miswolkies draai in lui sirkels om die warm lugstrome wat uit die straat se dreingate opstyg voordat dit weer stadig terugsak en alles wat vuil is bedrieglik bedek. Saans, wanneer die mis dig oor Kaapstad lê, beweeg geeste ongesiens tussen die lewendes in die ou strate. Vanaf die ou begraafplaas, twee blokke verder af in die straat, sweef hulle ongesiens by die ou kasteel in.
In die leë saal, diep versteek in die binneste van die ou klip kasteel, styg die klank van vrolike stemme, die klingel van glase en orkesmusiek dan op na die kristal kandelare wat swaar van die plafon af hang. Die geeste van seevaarders en pragtige jong meisies in modieuse rokke met halsnoere van diamante en goud dans op die maat van 'n orkes wat in die hoek van die saal staangemaak is. Maar aan sy buitekant omhels donker en stilte die kasteel se klipmuur.
Die nagwag loop vir oulaas stadig om die kasteel en draai aan die ou koper deurknoppe om seker te maak dat alles dig gesluit is vir die nag. Dan stap hy verder af in die straat na die volgende blok waar die dieretuin is. Hy is op pad na die nagwagkantoor dieper in die dieretuin. Hy hoop sy vriend het vir hom warm koffie in die fles gelos.
Die donkergrys mis omring hom, belemmer sy sig.
Voor die hek van die dieretuin vlieg 'n swerm kraaie verskrik op toe hy onverwags hul maaltyd versteur. Die vrot reuk is skerp in die lug en hy vryf gewalg sy neus. Die nagwag gaan staan en buk by die karkas. Soos hy reeds vermoed het – die klossies hare wat verspreid lê tussen bloed en been verraai die ongelukkige hasie.
Hy kom orent en stap na die hek. Hy pons die kode in en die elektriese hek skuif oop om hom in te laat. Die lamppale se lig is klein, spookagtig in die mis. Die dieretuin is stil. Al die diere is in hul slaaphokke vir die nag. Selfs die nagdiere is rustig.
Die nagwag stap verder, verby die houtkaste waar vet slange hulle blink lywe om die hitte van die verwarmers draai. 'n Paar tree verder hoor hy hoe die papegaaie gesteurd opvlieg in die area wat met net toegespan is. Net wat hulle die illusie gee van vryheid, totdat hulle daarin vasvlieg en weer terugval na die grond.
Toe hy onderdeur die groot ou eikeboom stap wat oor die pad waghou, stoot die roep van ’n onsigbare uil in die takke bokant hom 'n rilling teen sy ruggraat tot in sy ou leerstewels af.
Skielik gaan die ligte af.
Die nagwag staan stil. Beurtkrag? Hy skakel die liggie op sy selfoon aan en stap vinnig na die gebou waar die hoofskakelbord is om te kyk of die stroombreker af is. Ja, sowaar. Hy wikkel die skakelaar op en af. Vonke skiet verby sy hand toe die ou elektriese drade aan mekaar vasbrand. Hy ruk sy hand terug.
Hy staan vir 'n oomblik stil.
Agter hom hoor hy hoe die deure van die diere se hokke stadig oop gly.
Die nagwag draai stadig om en kyk na die toegangshek van die dieretuin waar die hooflig deur die mis vir hom wink. Hy is net betyds om te sien hoe hek die laaste meter toeskuif en met 'n finale klik sluit.
Hy moet hier uit!
Hy stap haastig terug na die hek. Skrik vir 'n swart beer wat skielik uit die mis verskyn en oor die pad hardloop. Hy kan hoor hoe die diere om hom rondbeweeg. Die ape kom raserig uit hul slaaphokke en spring uitbundig op die houtpale. Nuuskierig. Hulle gil opgewonde met groot oop bekke. Roep hulle maats om ook uit te kom.
Die nagwag kyk om hom rond en sy oë vang die skaduwee van 'n luiperd wat onder die ligpaal verby sluip. Sy blik volg die luiperd tot hy geruisloos teen die boom se stam opspring en ook in die mis tussen die takke verdwyn. Die nagwag trek sy asem stadig in. Hy is nou langs die hiënas se draadkamp. Nog net 'n paar meter tot by die hek.
Die klank van die diere se bedrywighede en geluide weergalm in die mis om hom en jaag hom aan. Hy hoor die kraak van 'n been waaraan die hiëna lê en kou. Hy gee 'n tree nader aan vryheid en skielik is die hiëna stil. Die nagwag se nekhare rys. Hy kan die karnivoor langs hom aanvoel voordat hy sy oë sien blink in sy selfoon se liggie.
Verlig dat daar nog 'n draad tussen hulle is, stap hy aan. Amper daar.
Die mis voel klam en hy trek sy jas stywer om sy lyf vas. Die sementpad is glad onder sy sole. Die geluid van fyn hoewe wat skuins voor hom op die pad gly, ruk hom tot stilstand. Hy hoor die sagte lyf van 'n bok wat die sementblad tref en haar rukbewegings soos sy sukkel om weer regop te kom.
Hy gee 'n tree nader. Hy vou sy arms om die bok se lyf. Asof hy haar wil beskerm. Hy voel haar hartklop fladder onder sy vingerpunte. 'n Ou bekende lus skiet deur die nagwag se lyf. Hy probeer dit onderdruk, maar dis skerp en brandend. Die drang spoel deur sy spiere. Speeksel vul sy mond en hy lek oor sy lippe. Sy asem kom nou hortend.
Met 'n golf van adrenalien stoot hy die bok teen die klipmuur langs die hek vas. Hy druk sy neus teen haar nek en die salpeter op haar vel vul sy neus. Sy hande vou krampagtig om haar nek. Hy voel die kloppende bloed onder vel.
Die bok verstar. Sy spring.
Die nagwag knyp haar stywer vas. Hy wil nie langer wag nie.
Sy tande sink in haar nek en hy suig. Warm, soet bloed vul sy mond en stroom in sy keel af. Hy voel die hitte daarvan tot in sy maag. Hy hou aan suig tot sy lus versadig is.
Minute later kom hy tevrede regop en laat die bok vry. Haar voorlyf gee mee. Sy val teen die muur, kry dan haar balans en spring weg na vryheid. Hy kyk haar agterna totdat die mis haar vir hom wegsteek.
Die nagwag draai terug na die hek. Hy pluk eers aan die metaal, bult dan sy armspiere. Met 'n skuurgeluid skuif die hek oop en hy stap deur die gaping.
In die straat verskyn 'n groep figure in swart mantels uit die mis. Met 'n kopknik stap die nagwag by hulle verby. Die figure verdwyn deur die oop hek van die dieretuin. Die ape se gille word stiller agter hom.
Die nagwag hou aan stap deur die mis. By die laaste stukkies van die haas vlieg die kraaie weer op. Asof hulle net vir hom gewag het. Hulle vlieg agter hom aan na die ou begraafplaas onder in die straat, twee blokke van die kasteel.
Agter sy rug vou die miskombers toe, asof hy nooit daar was nie.
Oe, grieselrig. Arme bokkie, moet 'n mens dankbaar wees dat dit nie 'n mens is nie? Lekker geskryf, hoor! Op die oomblik saai die BBC weer 'n nuwe reeks oor Dracula uit, is vampiere besig om 'n come back te maak? Het jy ooit die oorspronklike reeks van "What we do in the shadows" gesien?