top of page

Storietyd: Die grys kers, Petro van Deventer

Tannie Maria het, toe sy uitgepak het, weer net één pakkie onder die kersboom gaan sit.


 

Die telefoon lui toe Vicky op die boonste trappie van die leer staan om die kersversierings uit te haal. Dit moet maar weer lui. As sy nou die kersballe laat val, is dit 'n groot gemors. Fyn splinters orals en dit met Benji se kaal voetjies.

Sy hoor hom praat in die gang. Hy is al heel oggend soos 'n vrolike, singende warrelwind deur die huis. As Kallie vanaand tuiskom, gaan hy en Benji die kersboom versier.

"Wie was dit, Ben?" roep Vicky.

"Mamthie," lisp Benji opgeruimd toe hy in die waskamer inkom. "Tannie Thcroogie het gebel. Sy en Whithky kom kuier."

Haar arme kind, dat hy bly is oor die kuier van tannie Maria en Whisky, haar draadhaar Foxterrier, sê veel van hoe opwindend sy kersvakansie tot nou toe was.

Elke jaar vermoor tannie Maria hulle Kersfees. Dan bly sy 'n week; 'n duur week, want alles moet van die beste wees. Daar gaan die kragopwekker se geld! En elke jaar hoop hulle dat sy die volgende Kersfees op 'n lang skeepvaart sal weg wees.

Benji het waarskynlik al vergeet dat tannie Maria hom die vorige jaar so wreed ontnugter het oor die bestaan van Kersvader. Vicky, en selfs Kallie, het gedink dis gemeen van haar. Haar man wat nooit fout in 'n ander sien nie. Veral nie in sy liewe oorlede ma se tweelingsuster nie. Gelukkig het Benji nie verlede jaar by dié ontnugtering in bloustuipe gegaan soos sy twee ouer niggies nie. Hy aard definitief na Kallie.

"Ben, haar naam – "

Benji kraai van die lag en trek sy neusie, presies soos tannie Maria, op asof hy iets sleg ruik. "Wie is ek nou?" por hy.

Liewe hemel, hopelik gebruik hy nie die bynaam vóór haar nie. Benji moes haar en Kallie se sussie hoor praat het. Kleine muisies, grote ore!

Tannie Maria is die vroulike weergawe van Ebenezer Scrooge. Ja, daardie Scrooge. Nog voor Dickens hom 'n wonderbaarlike, kerskarakter verandering laat ondergaan het in die vrygewigheid self.

"Wanneer, Ben?" vra Vicky terwyl haar moed klaar in haar skoene lê.

"Saterdag, vir middagete," trippel hy rond, "en sy wil dan tjippies hê."

Tipies Benji, hy laat nie 'n kans links lê nie. Tannie Maria sou nooit vir skyfies vra nie. Vicky sal haar moet bel om seker te maak van die datum. En 'n kerskalkoen gaan bestel. Die gastekamer gereed kry vir haar en Whisky. En hondekos koop. Maar sy sal nie weer, soos die vorige jaar, een van haar mooiste stel rooi en groen kershanddoeke uitsit nie, want dié is nou nog soek.

 

"Mamsie, Whiskytjie wil nie gaan speel nie," kom Benji verslag doen op oukersaand, sy onderlip uitgestoot. Hy stamp sy voetjie ongeduldig terwyl Vicky die eetkamertafel dek vir die ete. 'n Rooi geruite tafeldoek, groen onderborde en daarop 'n rooi servet met 'n takkie groen op, vasgebind met 'n vet goue strik.

Whisky, die draadhaar hond, het al van hy en tannie Maria aangekom het, by die kersboom bly lê. Miskien was die rit vir hom te veel, of miskien sy goor reisgenoot. In elk geval, Vicky is bly dat hy nie soos ander jare deur die huis skarrel nie.

"Hy is ook al oud, Ben. Nie altyd lus vir speel nie," troos Vicky.

Terwyl Vicky die gerookte salmhappies vul met roomkaas en sprietuitjies, kom tannie Maria haarself by die kombuistafel tuismaak.

"Victoria," begin sy met haar mond onvergenoegd saamgeplooi. Na al die jare noem sy haar nog nie Vicky nie.

"Kan die kind nog nie ordentlik praat nie? Is hy dan vertraag? En die gesingery? Hy klink soos 'n maer vark met 'n spraakprobleem."

Tannie Maria stem is skriller as gewoonlik. Dis moeilik om te glo dat sy vroeër 'n suksesvolle sopraan was. Glo selfs in die Staatsteater opgetree. Maar in hierdie huis het daar nog weinig mooi oor haar lippe gekom, behalwe 'n halfhartige glimlag vir Kallie.

"Sy naam is Benji!" Vicky gooi haar arms vervaard in die lug. "En dis 'n fase, die lisp, dis normaal. Dis Kerstyd en ons sing en probeer die beste daarvan maak ten spyte van – "

"Kan ek met iets help, my lief?" Kallie moes die uitbarsting gehoor het, want hy loer by die kombuis. Benji kort op sy hakke.

Elke jaar het sy haar mond gehou vir die kritiek, hiet en gebied, haar kershanddoeke. Maar aan haar Benji-kind; daar kom sy nie aan nie!

"Dis so swaar as 'n arme ou vrou ook nêrens meer welkom is vir Kersfees nie," bekla tannie Maria haar lot, asof sy die slagoffer is.

Kallie het net een kyk na Vicky gegee en geweet hy moet sy tannie dadelik verwyder. Hy het haar sitkamer toe gehelp waar die kersboom staan en flonker in die hoek en waar Whisky steeds lê, kop op sy voorpote. Onder die boom lê 'n paar beskeie kerspakkies. Benji het selfs vir tannie Maria 'n geskenkie gemaak – 'n worshond van twee leë toiletrolle waarop hy geteken het.

Tannie Maria het, toe sy uitgepak het, weer net één pakkie onder die kersboom gaan sit. Vicky kon al aan die vorm sien dis weer een van haar tuisgemaakte kerse, die van die oorskiet kerswas. Grysbruin van al die gemengde kleure saam te smelt. Vicky het dit laas Kersfees, soos die ander jare, stadig weggemoffel uit die huis uit. Die eerste stap is tuinhuisie toe, en as sy dink Kallie het vergeet, dan was dit vullisak toe. In die winter en met die beurtkrag, het Kallie onthou van dié kerse. Nodeloos om te sê, dit was een van die weinige groot rusies wat hulle in hulle agt jaar saam nog beleef het.

 

Toe dit donker word, skink Kallie vir hulle elkeen 'n glasie vonkelwyn in en vir Benji appelsap. Dit is net hulle vier vanaand. Kallie se sussie en gesin het skielik Covid ontwikkel toe hulle gehoor het van tannie Maria se koms. En Vicky se ouers is in Wenen vir die opera hoogtepunte.

"'n Geseënde en betekenisvolle Kersfees!" Kallie se diep stem vul die sitkamer met sy tipiese liefde en rustigheid. "En dis 'n voorreg dat tannie Maria vanaand hier saam met ons is." Hy lig sy glas op.

Haar wonderlike man. Vicky skaam haar vir haar donker hart; dié is nie in 'n kersstemming nie. Ter wille van Kallie en Benji moet sy haar bes doen.

Sy staan op en gaan haal die happies. Sy moet ook die oond aansit sodat sy die geglaseerde kalkoen kan terugsit om mooi bruin te kleur. En die aartappels begin kook.

Sy hoor 'n kommosie in die sitkamer en haas terug daarheen. Benji lê plat op sy magie op die vloer voor Whisky en hou sy pote vas. Sy gesig is digby dié van Whisky. Tannie Marie se kleur is hoogrooi en haar een hand op haar hart. Dis nou daar waar veronderstel is om 'n hart te wees.

"Whiskytjie wil maar nie wakker word nie!" snik Benji.

Die ligte begin flikker; die krag gaan af. Twee ure voor die bestemde tyd. Ai, die kalkoen!

Uit is die kersboom se liggies, die laaste teken van Kersfees in hulle huis.

Dis doodstil, buiten vir Benji se sagte snikke. Dan begin hy lispend sing.

"Stille nag, heilige nag,

alles slaap, sluimer sag."

Tannie Maria kreun.

Benji kry nie al die groot woorde uit nie en huiwer.

Dis toe dat tannie Maria se klokhelder stem die kamer vul. So suiwer, 'n stem wat rillings langs jou rug en arms laat loop.

"Kindjie lief, o hoe lê jy daar," sing sy saam met Benji.

Vicky se trane begin loop. Kallie se groot hand vou om hare.

"Slaap in hemelse vrede,

Slaap in hemelse vrede."

Kallie staan op en gaan haal tannie Maria se kers onder die boom uit, steek dit aan en gaan sit dit op die kerstafel neer.

Tannie Maria sit daar met 'n hemelse glimlag op haar gesig.

 

 

37 views0 comments

Comments


bottom of page