top of page

Storietyd: Die feniks se laaste vlug, Carla Pattison

Sy weet die feniks is nie net ’n voël nie; dit is ’n opperse wese wat dood en lewe kan skep uit enige materiaal.



Die skril gelui van haar landlyn laat Ronel regop sit. Sy is nog een van die min mense in die omgewing wat ’n landlyn het. Dis al jare gelede ingesit en toe sy haar ouers se huis geërf het, het sy maar die lyn gehou. Die sein vir die selfone is in elk geval so sleg tussen die berge dat dit haar al menige maal gered het as sy dringend iemand in die hande moes kry. Die een nadeel van die landlyn is dat dit nie ophou lui totdat jy die telefoon opgetel het nie. Sy gryp die foon.

“Hallo!” Sy weet sy klink nie baie vriendelik nie, maar sonder haar oggendkoffie is sy tot niks beter in staat nie.

“Hallo Ronel, dis Hans. Jammer ek bel so vroeg.”

Hans is die buurman, ’n ver weg buurman, want hier in die berge is die bure verseker nie loopafstand van mekaar af nie.

“Dis okei, Hans, jammer. Ek is nog nie heeltemal wakker nie. Wat is die haas so vroeg in die oggend? Is daar probleme?”

“Ek weet nog nie, maar ek het gedink ons moet die woord uitkry na die plase.”

Soms is Hans se paaie baie lank om by die punt uit te kom. Ronel het sowaar nie krag vir dit so vroeg in die oggend nie. Sy boer nie regtig nie, haar voorman doen die werk, maar sy doen beeldhouwerk. Die probleem is egter dat die kreatiewe vonk haar soms eers teen middernag pak en dan werk sy deur die nag, soos gisteraand. Enigiets buite die gewone so vroeg in die oggend is te veel vir haar om te hanteer. Soos Hans vanoggend.

“Hans! Uit daarmee, ek het nog nie koffie gehad nie.”

“Sorry. Die boere oorkant die berg het laat weet hulle baklei al die hele nag om opspring brande onder beheer te kry. Dit is baie vreemd vir dié tyd van die jaar, maar dit lyk nie goed nie en ek dag ek waarsku jou dat jy kan begin voorberei. Hulle dink nie die brande sal oor die berg spring nie, maar as dit doen, is jou plaas eerste in die pad en gaan al die droë bome in die kloof af soos olie en pertol op die vuur wees. Hulle weet nie of die spanne dit dan sal kan keer nie.”

“Genade, Hans, dis nou iets om my mee wakker te maak. Wat beteken dit? Wat moet ons doen?” Sy gaan baie sterk koffie nodig hê vir die dag.

Hans bly al vir ewig in die vallei. Hy het al ’n paar brande gesien en oorleef. Hy laat weet daar is nie veel wat hulle kan doen nie, behalwe om die petrol vir die vlamme so min as moontlik te maak en die huise nat te spuit. Die diere moet ook op ’n veilige plek wees.

Nadat Hans klaar verduidelik het wat sy moet doen, sit Ronel die foon neer en staan op. Die boodskap was duidelik: doen wat jy kan, maar dit gaan dalk glad nie help nie. Sy sal Paulus gaan soek en vir hom vertel wat Hans gesê het, dalk weet hy beter wat hulle kan doen.

Daarna sal sy na die studio toe moet gaan en kyk hoe sy die beeld kan beskerm.


Toe Ronel buite kom is daar ‘n vreemde hitte in die lug. ’n Hitte wat brand, maar seerder as die son. Dit kan dalk al net te laat wees.

“Paulus!” roep sy en sy sien hoe hy oor die werf aangehardloop kom.

“More, Mevrou. Hierdie is nie ’n goeie more nie. Voel jy die lug?”

Sy kyk na die gryskop man. Hy is jonger as wat sy vel en hare hom laat lyk.

“Hans het gebel. Dit brand agter die berg en hulle is bang hulle gaan dit nie kan stop nie.˝

˝Ek voel hom, Mevrou, daai brand is naby en ons het moeilikheid.” Sy oë lyk bang, maar sy stem is nog rustig.

“Wat moet ons doen, Paulus?”

Sy raak nou ook bang, want skielik begin die brande wat sy onlangs op TV gesien het voor haar opdoem. Is dit wat nou vir hulle voorlê?

“Ek gaan die diere loslaat. Hulle het ’n beter kans om te hardloop voor die vlamme as wanneer hulle in die kampe bly. Ons sal dan nie almal verloor nie. Ek en die manne sal die stalle en die huis begin natspuit. En die studio. Ons het baie pype, omdat ons mos die klein tuine begin besproei het. Ons sal bly so lank ons kan.”

Ronel weet Paulus ken van brande veg en sy vertrou sy oordeel. Tog moet sy vra: “Wat van julle huise, Paulus? Ons moet daar ook keer.”

“Daar is nie genoeg hande vir ons huise nie, Mevrou. Ek sal die jonges stuur met die trekker en sleepwa dat ons almal se goed uit die huise kry en dit hierna toe bring. As die vlamme oor die berg kom, sal ons brand hope aansteek. Partykeer help dit om die vlamme net daar te keer dat dit uitbrand. Maar ons doen dit eers as die vlamme amper hier is.”

So bang as wat Paulus is vir die vlamme, so sterk en in beheer is hy met die planne. Ronel knik net.

Sy stap vinnig oor na haar studio. Genade, die plek is soos die kern van ’n bom. Hier is genoeg verf, papier en verdunner om ’n reuse vuur te veroorsaak. Om die studio nat te spuit gaan verseker niks help nie. Hulle moenie eers hulle tyd mors met dit nie.


Gisteraand was ’n deurbraak in haar beeldhouwerk. Vir weke wonder sy al wat sy gaan maak vir die spesiale opdrag wat sy ontvang het. Die opdrag was eenvoudig: skep ’n feniks – ’n simbool van herleweing vir ’n gemeenskap.

En hier staan hy voor haar. Amper twee meter hoog. ’n Vlerkspan van vier meter. Die perfekte vorm. Net reg vir die volgende fase van vlamme wat sy vandag wou begin vorm. Dis by verre die mooiste voël wat sy al ooit geskep het. Haar werke staan al oral in die wêreld: in kantore, konferensie sentrums, lodges, privaat versamelings. Haar unieke voëls, lewensgroot en sonder perke.

Nog nooit het sy ’n feniks aangedurf nie. Daar was ’n heilige vrees vir die voël wat homself in vlamme laat sterf net om weer op te staan en ’n nuwe lewe aan te pak. Dié keer was die geld egter baie, die beloning groot. Sy het haar heilige vrees opsy geskuif, en na weke se beplanning begin om dit te kerf.

En gisteraand eindelik het die voël vir haar sy vorm gewys, lewensgroot.

Sy staan en bekyk die voël van alle kante. Kan dit wees? Dit kan tog nie? Wanneer het Hans gesê het die opspring brande begin? Laas nag agter die berg?

Ronel draai om en kyk uit oor die werf. Sy hoor die stemme wat oor die werf weergalm. Almal hardloop in rigtings en sy sien die reuse rookkolom wat oor die berg aangerol kom. Sy draai terug en kyk weer na die voël wat bo haar uittroon.

“Was dit jy? Was dit … het jy die vlamme ontbied?”

Die voël staar net na haar.

Sy weet die feniks is nie net ’n voël nie; dit is ’n opperse wese wat dood en lewe kan skep uit enige materiaal. Toe sy in Europa studeer het, was daar baie stories oor die kunstenaars wat die feniks probeer skep het – almal wat op een of ander manier aan ’n vlammedood ontkom het. Niemand wou vrywillig ’n feniks-projek aanpak nie.

Het sý die vure veroorsaak? Dis simpel, maar dalk was daar meer waarheid aan die stories. Hoekom anders bestaan daar vandag geen beeld van ’n feniks in enige materiaal nie?

“Ronel! Ronel! Waar is jy?”

Hans se stem kom al nader aan die studio. Wat maak hý hier? Sy skeur haar oë weg van die feniks en wil net buitentoe hardloop toe Hans die deur oopruk.

Sy val agteroor. Hans gryp haar hande, trek haar op.

“Hemel, Ronel, ek soek jou oral. Hierdie vuur is mal. Brand die hele oggend al asof dit pad soek oor die berg na jou plaas toe. Ek weet dit klink heel mal, maar jy moet die vlamme sien. Dit beweeg soos …”

Hy verstar, kyk vir die eerste keer verby Ronel na die halfklaar beeld.

“Maak toe jou mond, Hans, daar’s te veel rook. Wat maak jy hier?”

“Is dié jou werk?”

“Dis my studio, so ja, dis my werk.”

“Dis ’n … feniks.”

“Dis reg. Dit sal een wees as ek hom klaarmaak. Maar ek dink nie hy gaan … ”

“Gaan wat?”

“Gaan die brand oorleef nie.”

Hulle altwee kyk na buite. Die lug is nou donker. Swaar wolke rook veroorsaak dat hulle skaars die res van die plaas kan sien. Die gekraak van takke en blare is skielik kliphard. Die hitte brand haar gesig. Hans trek aan haar arm.

“Dis hier!” Hy wys na die vlamme wat deur die kloof klim.

Ronel staan verstar en kyk hoe die vlamme spring.

“Kom Ronel, ons moet gaan! Jy kan niks verder hier red nie. Die vlamme gaan nou by die studio wees.” Hy gryp haar weer aan die arm en trek haar in die rigting van die plaaswerf.

Uiteindelik kom die lewe terug in haar lyf. Dis afdraand en sy hardloop so vinnig as wat haar bene haar kan dra. Toe hulle onder by die huis kom, hoor sy ’n verskriklike ontploffing.

Ronel gaan staan en kyk terug. Dit moet al die verf wees. Sy begin bewe soos die skok deur haar lyf ruk en haar bene vou onder haar in.

Hans hurk by haar voor sy mooi weet wat aangaan.

Skielik is die lig nie meer donker nie. Daar is nou hemelhoë vlamme wat die studio omvou. Toe sien sy twee reuse vlerke van vlamme bo die studio uitstyg. Sy kyk vinnig na Hans. En sy weet dat hy dit ook gesien het. Die vlammende vlerke.

Sonder enige twyfel sien sy hoe ’n reuse voël van vuur sy vlerke klap en in die lug opvlieg. Hoër en hoër tot sy nie meer die vlamme deur die dik rookwolk kan sien nie.

“Was dit die … ?” Hans kyk met groot oë na haar.

Sy staar vir ’n ruk net voor haar uit. Haar oë brand. Dan kyk sy terug na Hans. “Dit was, maar ek gaan dit vir niemand vertel nie.”

Hans gee ’n verbouereerde laggie, begin hoes en sê kortasem: “Toemaar, ek ook nie.”

Hulle sit en kyk hoe die eens angswekkende vlamme doodgaan, teen die kloof waar die vuur deurgekom het, maar ook in die studio. Toe die rook lig, staan die studio voor hulle. Swart van die rook, maar wonderbaarlik steeds in een stuk.

Ronel staan op en stap terug bult op, Hans kort op haar hakke. By die studio huiwer sy voor sy stadig deur die opening van die deur stap. Alles ruik na rook. Maar die hitte en vlamme is nêrens nie.

Sy trek haar asem in en kyk oor haar skouer na Hans. Hy sien dit ook. In die middel van die studio, waar die half klaar beeld vroeër gestaan het,is daar nou net ’n groot oop spasie.

“Weet jy, Hans, daar was nog nooit ’n beeld van ’n feniks gewees om te sien nie. En nou het my feniks het ook in sy laaste vlug verdwyn.”

34 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page