top of page

Storietyd: Alles is groen, Carla Pattison

Jy kan nie in die vallei bly en nie van groen hou nie. Hier is alles groen. Al die moontlike skakerings van groen: sagte groen, liggroen, donkergroen, smarag, grysgroen, blougroen, grasgroen en nog vele meer. Groen, die kleur van lewe, van groei, gesondheid, rykdom, stabiliteit en hoop.

Die wit herehuis onder in die vallei kan amper nie gesien word deur al die groen wat dit soos ’n dik kombers omvou nie. Hoe nader mens aan die huis kom, hoe donkerder word die groen, hoe stiller die lug. Totdat net die groen bosloeries, wat nes gemaak het langs die musiekkamer, gehoor kan word. Alles is groen.

En dit was ontsettend mooi.

Wilmie staan stil in die deur en laat haar oë gly oor die groen golwe van die vertrek. Die groen van die landskap buite het sy pad gevind na meeste van die vertrekke in die huis. Haar oë wil nie verder sy pad vind deur die groen vertrek nie. Haar hartklop klim op in haar keel en keer dat sy haar oë kan knip. Nie lank gelede nie was dié vertrek haar gunstelingplek in die groot kasarm van ’n huis, die een plek waar sy graag haar tyd wou deurbring. Maar nou…

Van al die groene was die smaraggroen teen die muur haar gunsteling. Toe Robert dit uitvind, het hy uit sy pad gegaan om die spesifieke kleur vir haar te gee – op elke denkbare manier. Eers was dit die mure van haar musiekkamer wat spesiaal geverf is, toe die opdrag aan die personeel dat elke rangskikking in die vertrek altyd dáárdie groen in moet hê, die groen geweefde tapyt wat eendag onder haar vleuel verskyn het, die groen kristalglase wat hy uit Venesië laat kom het vir haar water en eindelik die reuse smarag steen aan haar ringvinger.

Sy probeer ’n tree vorentoe gee die groen lushof in, maar die kraak wat uit die houtvloer opspring, laat haar wip van die skrik. Sy versteen weer. Sy wens sy kan net op die helder, lemmetjiegroen bank in die vertrek gaan sit, wag en luister. Wag vir sy stem om haar te roep as hy haar kom soek, al weet hy dat hy haar altyd agter die vleuel sal opspoor. Maar om op die bank te gaan sit en wag, moet sy eers tot daar loop. Of spring. Of dalk eerder vlieg. En haar bene wil nie meer beweeg nie.

Haar oë vind weer pad tussen die groen en sy is verbaas dat die rooi bessies in die blougroen muurpanele in druppels verander. Sy vee oor haar oë, kom agter dat sy huil. Die bessies is nou druppels donkerrooi bloed wat stadig die groen skakerings van die uitmuntende kunswerk verwoes. Sy knyp haar oë styf toe en probeer die beeld wat glashelder voor haar opstaan, verdryf.

Maar al wat sy kan sien, is Robert. Op die vloer langs haar vleuel met die donkergroen kol, byna swartgroen, op die persiese mat onder sy kop. Die goorgroen begin kruip oor die patrone van die mat, verwoes die ontwerp in sy baan. Dit grou met lang monstervingers tot by die pote van die koffietafel, dit klim en klou en gaan lê in ʼn boomslagnes.

Wilmie skud haar kop heftig, desperaat om uit die nagmerrie wat haar wil verswelg wakker te word. Maar haar asem word net minder, haar wange net natter en sy moet aan die kosyn gryp om nie in die hekse pot voor haar in te stort nie. Die vertrek word gevul met duisternis en sy sien die donker golf wat die muurpaneel verwoes het nou oor die vleuel klim en spring na elke hoek van haar groen paradys. Sy vou dubbeld toe die braaksel haar lyf aan die brand steek en die houtvloer vieslikgroen vlek. Haar bene kan haar nie meer hou nie. Sy sak inmekaar. Sy hoor die bosloeries ʼn skril gil uit hul nes gee en net voor sy haar oë sluit sien sy hoe die doodse rooi van die kruis die hele vertrek omvou en die lewe uit dit wurg.

Alles wás groen.

22 views0 comments

Comentários


bottom of page