top of page

Storietyd: Kampeer-herinneringe, 'n aangedikte waarheid, Solet Scheeres

“Julle sorg altyd vir soveel vermaak,” sê hy met 'n glim in die oog.



My ouers was nie kampeerders nie. Ons het in die Waterberge in die veld groot geword. Elke Saterdagmiddag het my pa gaan visvang by een of ander boer se pragtige dam en elke Sondag het ons in die klowe gaan piekniek hou. Al die lekkertes was 'n paar minute se ry van ons huis af. Ek vermoed dit het vir my ouers onsinnig gelyk om in die veld te bly slaap as jy dit sommer by jou huis kan doen. Ons het enkele kere die lang pad see toe aangedurf: altyd saam met vriende en altyd in 'n huis van 'n soort. My oom het in die Wildtuin gewoon: dus was Wildtuin-vakansies vir my sinoniem met Skukuza nr. 1.

Dis nie dat my ma nie kon kampeer nie: Toe sy jonk was, het die hele familie met huis en haard vir drie maande in die winter met 'n ossewa Noord getrek na die Mogolrivier (Mokolo) toe. Sy kon ons ure lank vermaak met stories oor dié tyd. Miskien was sy ná haar huwelik bang dat geen kampeerdery ooit weer haar kinderherinnering sou kon troef nie. Miskien was sy net realisties oor my pa. Hy het op die myne in Engels groot geword en as enige iemand durf navraag doen oor sy kampeer-verlede het hy graag geantwoord dat sy familie met die trein uit die Kaap gekom het. Ek was dus, teen die tyd dat ek die nes uitgevlieg het, 'n volkome kampeermaagd: clueless.

 

Tot voor my huwelik het ek dit besonder goed reg gekry om enige vorm van kampeerdery te vermy. Ek was nooit op enige veldskool nie, sou eerder sterf voor ek 'n Voortrekker word en het op universiteit drama gaan swot. Dramastudente, so het ek geglo, kampeer nie. Dit het vir my voor die hand liggend gelyk dat ek vir die res van my lewe salig onbewus sou bly oor die sogenaamde vreugdes van kampeer. En toe trou ek met 'n stadsjapie. Van die begin af was dit duidelik dat hy 'n toegewyde kampeerder is en niks hom meer plesier sou verskaf as dat die liefde van sy lewe saam gaan kampeer nie.

In Suid-Afrika het ons 'n paar oefenlopies gehad met wisselende sukses. Van 'n naweek met vriende in die Pilanesberg (hulle het van hulle nuwe kampeertoerusting 'n paar duike ingeslaan om dit meer outentiek te laat lyk) tot een van die mees traumatiese kampe van my lewe saam met my Voortrekker-kind op Swartvlei. Want ja, al het die ma hoe walgegooi teen dié tipe organisasies, ek móés saam. Dink: army tente, saam broodjies smeer (tot teen die randjies, mensies) in bitter koue OBS in bekers drink sodat die kinders nie agterkom nie, toekennings uitdeel vir die een wat die hardste snork in die nag, sopnat kinders te laat in die nag uit tente uitvis om toilet toe te gaan, waardelose vlagparades en sand in alles. 'n Koorsagtigheid pak my nou nog beet elke keer as my Voortrekker-kind vir almal wat ore het om te hoor vertel hoe haar jare op Swartvlei en Thaba haar voorberei het op 'n suksesvolle loopbaan by Netflix in Amsterdam.

 

In Nederland aangekom het manlief se begeerte om te kampeer net groter en dringender geword. Hy kon nou immers twee van sy groot liefdes kombineer: kampeer en seil. Toe ek weer sien, het ons, soos die Nederlanders sê, kampeertoerusting waar je u tegen zegt.  Voor ek my kom kry, kondig hy aan dat ons eerste try-out in die hart van Friesland sal plaasvind: tussen die mere op 'n kampeerterein met dieselfde naam. Nader aan die water kan jy blykbaar nie kampeer nie; die volgende stap sal op die boot self wees. Dit is natuurlik die eerste prys, maar in daai stadium ver buite die reikwydte van ons begroting.

  Die kampeerterrein lyk soos enige groot huis in Suid-Afrika se grasperk. Maar dan sonder heuwels en sonder bome. Aan die een kant van die grasperk staan die karavane ingeryg soos hare op 'n hond se rug en aan die anderkant staan net ons in ons tent. Te oordeel aan die taferele wat in die karavaanbewoners se gazebo’s afspeel is dit almal mense wat al dekades lank elke jaar op presies dieselfde plek kom staan. Ons ronde driekamer tentjie, met ons swart Weber wat reg voor die ingang van die tent staan (braai sal ons braai!), lyk soos 'n koringkriek wat plek soek om behoorlik te land.  As daar mense van die karavane verby ons loop, stop hulle eers om die gedoente te bekyk. Niemand oorweeg dit om 'n praatjie te maak nie.

Die eerste aand kas ons ons in op ons opblaasmatrasse en voel danig in ons skik. So af en toe kla 'n kind in die ander “kamer” oor iemand wat vir iemand skop, maar darem nie so dat 'n mens hoef op te staan om vrede te maak nie. Iewers in die nag word ek wakker met die suising van reën wat deur die wind teen die tent aangeblaas word. Ek steek my arm uit en voel hoe die tentseil sopnat is.

“Dit reën in die tent in,” sê ek terwyl ek manlief hardhandig wakker skud, “ons moet iets doen.”

“Moenie aan die wand raak nie, dan bly jy droog,” sê hy en snork lustig verder.

Maar soos dit nou een maal gaan met druppende water in die nag, oorval 'n groot nood my. Ek lê eers op die een sy en dan op die ander maar alles tevergeefs. Uiteindelik seil ek op my maag uit ons “kamer” uit en probeer in die lig van my selfoon die rits van die “woonkamer” se deur oop te maak. Na 'n groot gesukkel en baie lelike woorde kry ek die deur oop genoeg om na buite te strompel. Reg in 'n dam water in wat jolig om my enkels klots. Ek waad daardeur met die dapperheid van iemand in 'n oorstromingsgebied. Teen die tyd dat ek sopnat by die badkamer kom waar jy 'n muntje moet betaal vir alles, hiperventileer ek liggies. Dis nie dat ek iemand belaglik wil maak nie, maar waarom sal jy vrywillig vir die tipe marteling kies? Die res van die nag sit ek kiertsregop in die middel van die tent met vrieskoue voete terwyl ek 'n al groter wordende wrok teen kampeer in my hart vertroetel.

Die volgende oggend lê die dam nog steeds voor ons tent en ook in al die druilerig, waternat  dae daarna. Die arme Weber staan, kniediep, soos 'n verskrikte watergogga in die middel van die dam. Manlief lag my uit as ek voorstel dat ons die vakansie dalk kort moet knip.

Dag na dag sit ons bedremmeld in die “woonkamer” van ons tent en probeer om knakworsies op die gasbrander warm te maak.

ater, veilig tuis, wys ek die skandalige foto’s vir my Nederlandse vriende, hopend dat hulle net so verontwaardig soos ek sal wees oor die massa water reg langs ons tent. Maar al wat hulle almal met groot verwondering vra is: “Waarom hebben jullie jullie Weber meegenomen?”

“Dit was die laaste keer dat ek ooit gaan kamp,” waarsku ek vir manlief toe die son ons uiteindelik, na weke se reën, 'n kans gee om ons tent op die groot veld langs die hoofpad in ons dorp in gaan opslaan om droog te word.

 

Ongelukkig werk stellings soos “die laaste keer” aweregs op my man. Sy volgende sjarme offensief is weer in Friesland en ja hoor, weer tussen die mere. Die eienaars van die kampeerterrein en bootverhuur is immers liewe mense met wie hy die vorige keer land en sand gesels het. Ek onthou net die water voor die tent, maar goed. Dié keer boek hy egter 'n seiljag waarin ons kan oornag. Alleen, sonder die kinders. Die hawe lê aan die voet van 'n kafee met ‘n reuse stoep waar die boot- en die karavaanmense uithang en met groot vermaak kyk na al die “dagjesmensen” se manewales op die water. En hulle lag bulderend as iemand van 'n skuit af val of ure lank sukkel om 'n jag teen die jetty vas te maak. Dis laatmiddag toe ons daar aankom. Manlief stel voor dat ons sommer die nag in die hawe bly slaap en die volgende dag die mere invaar op soek na 'n beter lêplek. So far so good: ek kry dit selfs reg om op die jag te klim sonder om in te val.

 

Die stoep sit al vol mense en die hawe is 'n doenigheid toe manlief die volgende oggend aankondig dat ons nou gaan vertrek. Die jag is skielik vir my baie langer as wat dit die vorige dag in die laat skemer was. Die draaie wat ons sal moet maak om uit ons lêplek te kom en tussen die ander jagte en skuite deur te vaar, lyk vir my na 'n onmoontlikheid.

“Ek het lekker hier in die hawe geslaap,” protesteer ek. “So wiegend in die hawe is ook al 'n fantastiese ervaring.”

Manlief hou hom doof. Hy is haastig en sy geduld min. Ek kry opdrag om voor op die dek te staan en te roep wanneer hy te naby aan die jetty of 'n ander boot kom. Ons beweeg twee tree vorentoe en dan weer twee tree na agter. Die toeskouers aan wal groei aan. Hulle kommentare ook. Ek skree myself hees maar ons kom nêrens nie. Dan sit manlief die motor in ‘n hoër versnelling.

“Links of regs?” bulder hy.

“Links,” bulder ek terug, “of nee wag, regs!”

Maar dis te laat. Soos wat hy uit die lêplek seil, trek die jetty se kant 'n lang egalige streep van die “boeg tot de spiegel” of te wel van die neus tot by die stert van die jag se romp. Die geluid is oorverdowend en sny tot in my gebeendere in.

“Oe en aah” sê die mense op die wal, maar my man hou hom doof en seil sonder enige verdere probleme die hawe uit.

Ek hou my koes op die boeg – ver van hom af.

Net buite die hawe, meer hy aan (sonder my hulp) tussen stokou kotters en vlerk af schoeners en bel ons seun.

“Is jy lus om te kom seil?” is al wat hy vra. Daarna ondersoek hy die skade aan die kant van die boot.

Die res van die naweek sit ek dikbek onder in die kajuit terwyl pa en seun hulself gate uit geniet in die wind.

Toe manlief Sondagmiddag die jag terug gee en oplaas “informeer” hoe omvangryk die skade aan die jag is, skryf die Fries 'n belaglike klein som geld vir die groot skade, op die faktuur.

“Julle sorg altyd vir soveel vermaak,” sê hy met 'n glim in die oog, “dat ek amper lus is om julle te betaal om weer te kom.”

104 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page