Vir die meeste van ons is die begin van die nuwe jaar 'n geleentheid om ná 'n lang rustyd met hernude ywer te begin skryf. Maar, soos met nuwejaarsvoornemens, gebeur dit alte maklik dat jy met ywer wegspring net om gou spoed te verloor en na 'n paar maande heeltemal moed op te gee. Hier is 5 wenke om weer te begin skryf ná 'n lang rustyd.
![Meisie wat skryf](https://static.wixstatic.com/media/11062b_af1a2904cf214f06aef5c86bf77d37f9~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_653,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/11062b_af1a2904cf214f06aef5c86bf77d37f9~mv2.jpg)
Die vakansie was lank, die kuiermense baie en jy het vir weke niks geskryf nie. Of dalk het jy weens trauma, teleurstelling of kreatiewe uitbranding vir jare nie geskryf nie. Dit is heeltemal geldig – en nodig – om soms behoorlik te rus en jou skryfwerk eenkant toe te skuif. Nou is jy egter gereed is om terug te keer. Jy voel begeester, vol energie en dryfkrag. Stadig oor die klippertjies! Dié aanvanklike energie-inspuiting is nie volhoubaar nie. Al die ander dinge in jou lewe skop ook af in Januarie: skool, werk, sosiale verpligtinge.
1. Begin stadig en rustig
As jy nog nie 'n storie het nie, skryf saans in jou dagboek. Moenie 'n fênsie joernaal koop wat so mooi is dat jy skoon bang is om daarin te skryf nie. Kry 'n gewone notaboek waarin jy kan kerm en kla, en skryf sonder om jou aan al die reëls te steur. Skryf elke dag een ding neer waarvoor jy dankbaar is. Of beskryf 'n insident wat uitstaan in jou dag. Skryf sonder enige verwagting. Skryf bloot omdat jy dit geniet om van woorde sinne, en van sinne stories te maak.
Wanneer jy gereed is om weer 'n storie aan te pak of terugkeer na 'n bestaande manuskrip, begin deur klein, haalbare mikpunte te stel. Hoeveel tyd kan jy realisties afstaan elke dag? 'n Halfuur? Vyftien minute? Jy hoef nie daagliks 'n duisend woorde te skryf nie. Begin met honderd woorde. Skryf elke dag 'n klein bietjie. Jy kan selfs in jou dagboek begin werk aan jou storie!
2. Kies die regte tyd van die dag om te skryf
Terwyl ek jonk en enkellopend was, het ek daarvan gehou om saans laat te skryf. Ek sou begin met 'n storie, skryf sonder om te dink aan kos of slaap, en lank na middernag uit my kreatiewe vloei wakker skrik. Maar noudat ek 'n gesin het, is dié skryfure heeltemal belaglik. G’n mens kan skryf wanneer jou kinders kla hulle is honger, die hond wil uitgaan, die TV jou aandag aftrek en jy die hele tyd bewus is van hoe min ure jy kan slaap voordat jy weer vir skool en werk moet opstaan nie. Jou lewe verander en daarmee saam jou skryfritmes en -rituele. Vind die tyd van die dag waarin jy sonder afleiding kan skryf. Probeer vroegoggend skryf. Indien dit nie werk nie, probeer in jou middagete, na skool wanneer die kinders sport het of saans wanneer almal in die bed is, skryf. Wees geduldig met jouself totdat jy jou ritme vind.
3. Begin met 'n ritueel
Ons almal weet dat 'n liedjie of 'n reuk dadelik sekere herinneringe oproep. 'n Klein ritueel voordat jy begin skryf kan presies dieselfde doen: dit trek jou in jou storie in. Begin jou skryftyd met dieselfde ritueel. Mediteer. Steek vir jou 'n lekkerruik kers aan. Maak tee in jou mooiste teekoppie. Speel spesifieke musiek. Doen iets wat vir jou sinvol is. Navorsing het bewys dat eenvoudige rituele jou selfvertroue 'n hupstoot gee, jou meer in beheer laat voel, jou fokus verskerp, jou motivering laat inskop en jou help om meer uit te rig.
4. Leer uit jou verlede
Waarom het jy voorheen ophou skryf? Wat kan jy hierdie keer anders doen? Dalk het jy vir te lank te hard gewerk sonder om jou kreatiewe batterye te herlaai. Maak seker dat jy hierdie keer tyd maak vir jou eie selfversorging. Miskien het jy voorheen nie haalbare doelwitte gestel nie. Probeer om soos die Ink in my pen-klublede elke Maandag die week se doelwit neer te skryf. Kyk teen die einde van die week terug daarna. Was dit haalbaar of moet jy aanpassings maak? Leer uit jou verlede. Die volgende punt sluit aan hierby.
5. Skep nuwe gewoontes
So jy is reg om geleidelik weer te begin skryf. Jy het 'n klein ritueel waarmee jy afskop. Jy het 'n tyd gevind waarin jy rustig en sonder afleiding kan skryf. Jy het mooi gedink oor die verlede en maak aanpassings sodat jy nie dieselfde foute herhaal nie. Jy is nou besig om nuwe gewoontes te skep. Die belangrikste een hiervan is om gereeld op te daag.
Forget inspiration. Habit is more dependable. Habit will sustain you whether you’re inspired or not. (Octavia Butler)
Waarom wil jy skryf? Hoe graag wil jy skryf? Hoe voel jy wanneer jy skryf? Gebruik jou “hoekom” en emosies om jou aan te moedig om elke dag op te daag. Indien jy nie elke dag kan skryf nie, onderneem dan om elke week op sekere tye te skryf. Maar daag op – al voel jy nie geïnspireerd of gemotiveerd nie. Lees deur wat jy reeds geskryf het. Skryf een sin, een paragraaf. Elke keer wat jy opdaag, raak dit makliker om die volgende keer weer op te daag. As jy sukkel, maak 'n afspraak in jou dagboek. Elke Donderdag skryf die Ink in my pen-klublede in stilte saam. Ons hou mekaar aanspreeklik. Kry vir jou 'n skryfmaat wat jou aanspreeklik kan hou.
Bowenal: Wees geduldig met jouself. Keer terug na skryf omdat dit jou betower. Lees die stories wat jou bekoor. Skryf stories wat jou meevoer, stories wat gek is, stories wat nie binne 'n genre val nie. Vergeet van al die reëls en skryfwenke; skryf eerstens om die storie vir jouself te vertel. En geniet dit!
I’ve written because it fulfilled me. Maybe it paid off the mortgage on the house and got the kids through college, but those things were on the side — I did it for the buzz. I did it for the pure joy of the thing. And if you can do it for joy, you can do it forever. (Stephen King)
Comments